DIE BRITSE BLOKHUISSTELSEL IN SUID-AFRIKA

CHIRURGIESE BEHANDELING VAN GEWONDES TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG
February 27, 2017
DIE GEVEG TE SANNASPOS, 31 MAART 1900
February 27, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

 

deur Johan Hattingh

Op 5 Junie 1900 is die Britse vlag voor die Pretoriase Raadsaal gehys. Weens die vinnige Britse opmars is weinig beskerming aan die spoorlyne, wat die belangrikste kommunikasiemiddel was, verleen. Die Boere het die belangrikheid van die vernietiging daarvan besef en begin om die spoorverbindings te verbreek, voorraadtreine te saboteer en te plunder.

Ten einde beskerming aan die treinspore en brûe te verleen, het die Britte begin om skanse en loopgrawe by strategiese posisies op te rig. Die maatreëls het egter nie effektiewe beskerming aan die spoorlyne gebied nie, want vanaf Desember 1900 tot Februarie 1901 is Britse spoorverbindings erger as tevore ontwrig; daarom het die Britte blokhuise langs die spoorverbindings begin oprig. Die oprigting van die blokhuise was die verantwoordelikheid van die Royal Engineers in samewerking met van die ander afdelings van die Britse leër.

Aanvanklik is blokhuise hoofsaaklik vir die beskerming van die spoorwegroetes gebruik, maar teen die middel van 1901 moes die uitgestrekte blokhuislinies ook as versperrings dien om die bewegings van die Boerekommando’s te beperk. Blokhuise is toe ook langs paaie en ander strategiese punte opgerig en dié blokhuise het as die sogenaamde “cross-country” blokhuislinies bekend gestaan. Tot November 1901 het blokhuislinies nie veel invloed op die gang van die oorlog gehad nie. Die Boerekommando’s kon nog vryelik van een gebied na ’n ander beweeg. Vanaf November 1901 tot Januarie 1902 is aansienlike vordering met die bou van blokhuislinies gemaak en teen Januarie 1902 was die meeste van die blokhuislinies voltooi.

Verskeie tipes blokhuise is in Suid-Afrika opgerig waarvan die bekendstes vervolgens bespreek sal word. Reghoekige blokhuise was die eerste tipe wat opgerig was. Dit het bestaan uit twee rye pale wat 61 cm vanmekaar ingeplant was, wat gedien het as raamwerk vir die dubbele laag sink wat die binne- en buitemure van die blokhuis gevorm het. Die spasie tussen die twee lae sink is gevul met gruis en grond waardeur skietgate gemaak is. Die skietgate was staalplate van 61 cm wyd en 22,8 cm dik waarin die skietgate uitgesny was. Dit is in ’n houtraam geplaas wat weer in ’n opening wat in die sinkplaatmure gesny was, geplaas is. ’n Dak van sinkplaat is dan bygevoeg terwyl ’n deur ook aangebring is. Die watertenk was gewoonlik buite terwyl die hele struktuur deur doringdraad omring was.

Gedurende Februarie 1901 ontwikkel maj. SR Rice van die 23rd Field Company, die agtkantige blokhuis. Dit het bestaan uit sinkplate wat aan beide kante van houtrame vasgespyker was. Die spasie tussenin is deur gruis gevul. Agt rame is gebruik waarvan die kante afgeskuins was sodat die rame teenmekaar kon pas. Tydens oprigting is die rame op ’n gelyk oppervlakte geplaas waarna dit aanmekaar vasgebout is. Omdat die ontwerp agtkantig was, is daar op elke hoek van die oktagoon houtpale geplaas waaraan die rame vasgemaak is sodat dit vertikaal kon staan. Daarna is die sinkplate vasgespyker en terselfdertyd is die openinge tussen die sinkplate met gruis gevul. Aanvanklik is elke blokhuis van ’n sambreelvormige dak voorsien wat later met geweldakke, wat koeler was, vervang is.

Namate die aanvraag na blokhuise toegeneem het, het maj. Rice besef dat die agtkantige blokhuise nie aan die nodige vereistes voldoen het nie. Daar het ’n behoefte ontstaan vir ’n baie eenvoudige, dog veilige blokhuis. Majoor Rice het die idee vir so ’n blokhuis gekry terwyl hy toegekyk het hoe die Royal Engineers ’n sinkdam vervaardig het. Dit het bestaan uit twee silinders van gegolfde sinkplaat wat 90 mm van mekaar geplaas is. Die een silinder was kleiner as die ander sodat dit aan die binnekant van die groter een kon pas. Daarna is die ruimte tussen die twee lae sinkplaat gevul met gruis en grond. Binne het dit ’n deursnee van ongeveer 3,6 m gehad met 12 skietgate wat verdediging toegelaat het. ’n Sambreelvormige dak is gebruik. Dit was gewoonlik beman deur ’n onder-offisier en ses infanteriste. Om die blokhuis is ’n loopgraaf vir die skildwag gegrawe en doringdraad-versperrings is opgerig.

Dubbelverdieping blokhuise is deur generaal-majoor E Wood ontwerp. Dit was gewoonlik vierkantig en van klip gebou. Weens die grootte van die blokhuis en hoeveelheid materiaal benodig, het dit lank geneem om op te rig en die kostes verbonde was tussen £800 tot £1000. Dit is meestal by belangrike punte soos spoorbrûe opgerig en danksy die feit dat dit so stewig was, het die meeste van hulle behoue gebly.

Mobiele blokhuise was nie baie algemeen nie en min is daaroor bekend. ’n Ossewa het die basis van die blokhuis uitgemaak en bo-op dit is dan ’n blokhuis van staalplate of sinkplate aangebring. Dié op die Rice-vorm geskoei, het van 2 100 kg tot 3 300 kg geweeg terwyl dié wat van 1,27 cm dik staalplate vervaardig, was 1 400 kg geweeg het. Mobiele blokhuise het veral nuttig te pas gekom in konvooie waar hulle gebruik was ter beskerming van laasgenoemde en ook by punte waar Boere gedreig het om deur die blokhuislinies te breek. Hierdie blokhuis was die voorloper van die tenk wat in die Eerste Wêreldoorlog gebruik is.

Blokhuise alleen het nie as genoegsame afskrikmiddel gedien om die Boere se pogings om deur te breek, te verhoed nie. Derhalwe is verskeie beskermingsmaatreëls aangebring. Hierdie maatreëls het gewoonlik bestaan uit doringdraadversperrings, alarmgewere en chemiese alarms.

Die blokhuise is met ’n dubbele draadheining verbind om te verhoed dat die Boere tussen die blokhuise deurbreek. Toe gevind is dat die Boere maklik die draad kon knip, is spesiaal versterkte draad ingevoer en gebruik. Dit was nie geslaagd nie aangesien die ankerpale uit die grond getrek is om die drade plat te laat lê sodat daar makliker oor die hindernis gekom kon word. Alarmgewere het bestaan uit gewere wat op verskillende posisies aan die doringdraadversperring aangebring was. ’n Dun pooitjiedraad, gekoppel aan gewere, het parallel met die draadversperring geloop. Wanneer die pooitjiedraad versteur was, het dit veroorsaak dat die gewere vanself afgegaan het. Verder is die sneller van die gewere ook met draadjies aan die doringdraadversperring gekoppel sodat wanneer die draadversperring geknip was, dit teruggespring het en die gewere vanself afgegaan het.

Chemiese alarms is ook somtyds as alarm ingespan. Verskeie patente is ontwikkel en gebruik maar hulle het basies almal op dieselfde beginsel gewerk. Wanneer die drade geknip is, het dit ’n klein flessie laat breek waarvan die inhoud dan in ’n ander chemiese vloeistof gevloei het om sodoende ’n knalgeluid te maak of om ’n fakkel aan te steek. Laasgenoemde is ook somtyds afgevuur deur ’n slagdoppie wat kruit laat ontbrand het, wat op sy beurt weer ’n fakkel met ’n mengsel van katoenwatte en hars laat ontbrand het. Teen die einde van die oorlog was altesaam 8 000 blokhuise opgerig oor ’n afstand van 5 920 km. Die onkoste verbonde het ongeveer £1 000 000 beloop. Vandag bestaan nog net 46 volledige blokhuise in Suid-Afrika, stille getuienis van een van die merkwaardigste fortifikasiebou-aksies in Suid-Afrika.

 

Saamgestel deur Johan Hattingh uit: Britse fortifikasies in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 deur Johan Hattingh en André Wessels. Uitgewer: Oorlogsmuseum, Posbus 704,