Aan die bo-ent van Dorpstraat swaai ’n eenwegstraatjie skielik links na die Braak. Die Braak “sieraad dezer stad” soos dit in ’n skrifstuk van 1855 genoem word, het waarskynlik reeds in die jaar 1703 ontstaan. In hierdie jaar het die krygsoffisiere van die burgerkavallerie en infanterie van Stellenbosch en. Drakenstein verlof gevra om in Stellenbosch te oefen liewer as in Kaapstad. Die Braak is toe as ’n militêre oefenterrein gereserveer en hoewel in die daaropvolgende twee en ’n half eeu dikwels op die plein ingedring of probeer indring is en dit selfs vernoem is, het dit homself nogtans gehandhaaf.
In 1777 is die kruitmagasyn aan die onderkant van die Braak gebou en in 1852 die pragtige klein Anglikaanse kerkie aan die noordekant daarvan. Dit was waarskynlik laasgenoemde gebeurtenis wat ook die gemeente aangespoor het om by die munisipaliteit aansoek te doen om ook hulle nuwe kerk hier te bou. Daarteen het die publiek egter ernstig beswaar gemaak omdat dit die “vryheid en gerief der inwoonders grotelijks zouden belemmeren”, omdat dit die enigste plek is waar die jeug hulle “in onschuldige spelen kunnen vermaken” en omdat ’n kerkgebou “de uitzigt van de Pleinstraat ten eenemaal blokkeren, en een dwars in de weg” sou wees. Die stadsvaders moes dus “boven het groot belang der gemeente” weier om die versoek toe te staan. Dit was dan ook gelukkig die laaste poging deur ’n openbare liggaam om die Braak in sy geheel te skend.
Ook die pogings om die naam te verander het nie geslaag nie. Uit lojaliteit teenoor Engeland is die naam King’s Plain in die eerste helfte van die 19de eeu gebruik. Na die Anti-Bandietebeweging, waarin sir Charles Adderley die koloniste in hulle verset gesteun het, het Stellenbosch sy erkentlikheid teenoor hom betoon deur die Braak tot “Adderleys Plein” te vernoem – waarskynlik in navolging van Kaapstad waar die hoofstraat Adderleystraat genoem is.
In 1908 is formeel besluit dat die ou plein, wat soveel aanslae weerstaan het, ’n ope terrein sou bly en as ’n openbare park gebruik sou word. Jare lank is probeer om sy verbintenis met ’n militêre verlede lewend te hou deur met feestelike geleenthede die ou koperkanonnetjie, wat vandag in die Kruithuis geberg word, af te skiet. Die laaste keer dat dit gedoen is, was tydens die viering van die aanvaarding van die Suid-Afrikaanse vlag in 1928 toe ’n saluut van 21 skote van die Braak gevuur is.
(a) Die Rynse Kerk (Geproklameer 1963)
Aan die suidekant van die Braak staan die pragtige ou Rynse sendingkerk, gebou in ’n onvolmaakte T-vorm met sierlike gewels.
Hierdie kerkie is een van die oudste sendingkerke in Suid-Afrika en is opgerig deur Het Stellenbosch
Medewerkende Zendelings Gertootschap, wat as ’t ware ’n tak van die eerste inheemse sendinggenootskap Het Zuid Afrikaansche Maatschappij ter bevordering van de Uitbreiding van Christus Koninkrijk (1799) was. Die Genootskap het in 1801 ontstaan en is bestuur deur ’n direksie van 12 persone onder wie lede van die ou bekendste Stellenbosse families was: Neethling, Faure, Roos, Joubert, Roux, Cloete en Krige.
Die genootskap het hom op die geestelike bearbeiding en die onderwys van die slawe toegespits. Die eerste sendeling was M.J. Bakker en hy het sy eie huis as skool en oefenhuis gebruik. Aanvanklik het die werk baie moeisaam gevorder, maar in die jare twintig het dit begin vlot en in 1822 is Bakker deur Erasmus Smit, die latere Voortrekkerpredikant, opgevolg. In hierdie jaar is dan ook deur die Genootskap besluit om ’n sendingkerk te bou, en met die doel is die stuk grond hier aan die suidekant van die Braak, wat destyds aan die Stellenbosse Turf Club behoort het, bekom.
Blank en nie-blank het tot die fonds bygedra sodat daar vroeg in 1823 met die bouwerk begin kon word. Die kerk wat in hierdie jaar gebou is, het alleen bestaan uit die agterste deel, d.w.s. uit deel wat oos-wes loop en ’n klein kloktorinkie. Dit is gebou in die delikate boustyl, met sterk Renaissance-invloed, wat so kenmerkend van die vroeë jare van die 19de eeu was, en die gewel wat die oprigtingsjaartal 1823 dra, moet as een van die mooiste voorbeelde van sy soort beskou word.
Die kerkie is op 5 Februarie 1824 ingewy. Die goewerneur, lord Charles Somerset, en verskeie ander hooggeplaaste persone uit Kaapstad en Stellenbosch was aanwesig. Die predikant van Stellenbosch, ds. Meent Borcherds, het die inwydingsrede gelewer, terwyl ds. Abraham Faure van die Groote Kerk, Kaapstad, eerw. Evans van die Paarl, en eerw. James Archbell, die later so bekende Wesleyaanse sendeling, ook aan die verrigtinge deelgeneem het. Belangwekkend is dat Erasmus Smit, wat in 1836 te Thaba ’Nchu so bitter teenoor Archbell te staan gekom het, hom reeds hier moes ontmoet het.
Die kerkgeboutjie kon hoogstens 400 mense bevat en dit was weldra te klein, want die lidmaattal het vinnig toegeneem veral nadat eerw. P.D. Lückhoff in 1831 Erasmus Smit opgevolg het. In 1838 is dus besluit om die muur wat die konsistoriekamer van die res van die gebou afgesny het, uit te breek en om ook ’n galery te bou. Die werk is die volgende jaar voltooi, maar dit het nie veel verligting gebring nie met die gevolg dat die direksie tot die vergroting van die kerk besluit het. In 1840 is dus die noordelike vleuel aangebou. Argitektonies is noukeurig met die oorspronklike gebou rekening gehou sodat die nuwere deel pragtig daarmee harmonieer.
Die vergrote kerk is op 1 Desember 1840 ingewy. Ds. T.J. Herold, predikant van Stellenbosch, het die wydingsrede gehou, terwyl ds. P.E. Faure van Wynberg en ds. P.K. Albertyn die dienste, wat deur tussen 1 100 en 1 200 mense bygewoon is, gelei het. Eers byna tagtig jaar hierna sou die sierlike kloktorings aan die westekant van die Kerk opgerig word. Dit is deur die stadsklerk, mnr. W. Blerch, ontwerp.
In dieselfde jaar wat die kerk vergroot is, het die Rynse Sendinggenootskap die werksaamhede van die Stellenbosse Genootskap oorgeneem en die kerkgebou het voortaan as die Rynse kerk bekend gestaan.
Die Rynse Kerk • Joy Collier : Stellenbosch Revisited
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 71.
(b) Die preekstoel in die Rynse Kerk (Geproklameer 1948)
Die Rynse kerk op die Braak is nie slegs uit hoofde van sy geskiedenis en argitektoniese skoonheid bekend nie, maar ook om die pragtige preekstoel wat daarbinne pryk.
Die Preekstoel in die Rynse Kerk • S.A. Spoorweë en Hawens
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 72.
Om die oorspronklike deel van die Rynse kerk in 1823 te bou, moes die direksie van die Stellenbosse Sendinggenootskap ’n aansienlike som geld leen. Geld vir ’n preekstoel was daar dus nie. In die Kaap was daar egter die Groote Kerk se ou preekstoel wat in 1703 gemaak is en wat in 1789 deur die beroemde preekstoel van Anton Anreith vervang is. Die direksie het dus die Kaapse kerkraad om die gebruik van hierdie ou preekstoel genader. Dit is geredelik toegestaan en in Januarie 1824 is dit na Stellenbosch gebring, opgeknap en in die kerkgebou geplaas. Daar het dit tot 1863 diens gedoen toe dit op sy beurt deur die ou preekstoel van die N.G. kerk van Stellenbosch vervang is, ’n preekstoel waarvan die skoonheid slegs deur enkele ander in Suid-Afrika oortref word.
Die N.G. kerk van Stellenbosch het vir 150 jaar van ’n preekstoel gebruik gemaak wat deur die stamvader van die Albertyn-familie geskenk is. In 1852 is begin met die insameling van geld vir ’n nuwe preekstoel en daar is met ’n sekere Kaapstadse timmerman met die naam van Londt ooreengekom dat hy ’n preekstoel vir R220 sou maak. Teen Augustus 1853 was dit gereed en ouderling Faure het dit tesame met ’n lessenaar of “Voorlezersknaap” met sy eie wa gaan haal. Op Sondag, 21 Augustus, is die preekstoel deur ds. Herold in gebruik geneem.
In 1853 is die nuwe N.G. kerkgebou, wat in Gotiese styl gebou is, voltooi en toe is gevoel dat Londt se preekstoel nie in die kerk met sy spits boë en vertikale lyne sou pas nie. Daarom is ’n nuwe preekstoel gemaak en is die bestaande een aan die Rynse kerk geskenk. “So,” skryf dr. Andre Hugo, “het hulle dan die eienaars geword van die pragtige stuk werk van timmerman Londt, ontwerp in die beste tradisies van die laat 18de eeu, met swaar krullende konsoles, mooi paneelwerk, en pragtig-opgehaalde blomslinger teen die voorkant. Die ‘knaap’ is so ornaat, so elegant gesny, dat dit net sowel van die jaar 1753 … sou kon gedateer het.” Geen wonder dat mense gemeen het dat dit die werk van Anreith was nie.
Die preekstoel staan eintlik daar as simbool van die verkondiging van die evangelie aan blanke en nie-blanke aanbidders.
(c) Ou Rynse Skool (Geproklameer 1969)
Aan die westekant van die Braak nie ver van die bekende ou Rynse kerkie nie, staan die Rynse Koshuis, die oudste meisiekosskool in ons land.
In die geskiedenis van die onderwys op Stellenbosch en trouens in Suid-Afrika vul hierdie gebou ’n besondere plek. Op 1 Mei 1860 het die plaaslike Rynse sendelinge ’n skool vir die dogters van die Rynse sendelinge in Suid-Afrika in ’n geboutjie aan die noordekant van die Braak gestig. Die geboutjie het as skool en koshuis gedien en was binne twee jaar te klein. Bowendien het ander inwoners van Stellenbosch nou ook blyke gegee dat hulle graag hul dogters in die skool wil sit. Daar moes dus na ander huisvesting omgesien word. Eerw. G. Terlinden, die destydse Rynse sendeling te Stellenbosch, het met die oog hierop ’n erf met ’n woonhuis daarop aan die westekant van die Braak van eerw. F. Carlyon, die Anglikaanse predikant, gekoop. Enkele noodsaaklike veranderinge is aan die voorhuis aangebring en in Mei 1862 het die eerste twaalf skoliere die gebou betrek. Net soos die eerste geboutjie is dit ook as skool en koshuis gebruik.
Weldra was die skool weer te klein en veranderinge en uitbreidinge moes aan die gebou gemaak word. Die ou woonhuis wat met sy rugkant na die Braak gestaan het, is so verander dat dit nou op die Braak gefront het en daar langsaan is sistematies aangebou totdat die skool en koshuis in die jare tagtig of negentig die huidige omvang bereik het.
Nie slegs het die skool in grootte toegeneem nie, maar op die gebied van die onderwys van dogters het dit baanbrekerswerk gedoen. Hier is trouens Huishoudkunde as skoolvak vir die eerste maal in Suid-Afrika ingevoer. In die loop van ’n eeu het die skool dan ook ’n onderwys- en opvoedkundige tradisie opgebou wat in ons land bykans ongeëwenaard is.
Afgesien van die historiese betekenis van die gebou verleen sy interessante boustyl ’n besondere karakter aan die Braak as ’n vroeg 19de-eeuse dorpsplein. Tesame met die Rynse kerk, die Kruithuis, die Burgerhuis, die St. Mariakerkie, die Koetsiershuis, Laetitia en ander geboue vorm dit ’n unieke argitektoniese kompleks.
(d) Die Kruithuis (Geproklameer 1940)
Die Braak ontleen sy unieke karakter aan die geboue wat hom omring en een van hierdie geboue is die so bekende Kruithuis.
Die Burgerkrygsraad van Stellenbosch het reeds op 5 Oktober 1686 by die Politieke Raad op die verskaffing van ammunisie aangedring vir die verdediging van die nuwe kolonie en die versoek is toegestaan. Die landdros en heemrade is in kennis gestel dat ’n arsenaal of magasyn in die distrik opgerig sou word en dat hulle behulpsaam moet wees by die keuse van ’n geskikte terrein. Daar is vervolgens “oculaire inspectie” gehou en die terrein aan die laagste kant van die braak of die “exercitie veld” van daardie dae het algemene byval gevind “vermits deszelfs vrye en afgelegene doch tevens in het oog dezes dorps zijnde …”
Weens oormaat van werk aan openbare geboue in Kaapstad en elders het byna ’n eeu verloop voordat tot die bou van die magasyn oorgegaan is. Die Kompanje sou die houtwerk en sekere stene voorsien, maar die landdros en heemrade moes self tenders vra en vir die bouwerk verantwoordelik wees. Hulle is gewaarsku om uiters spaarsaam te werk te gaan.
Op 7 Oktober 1776 word die tender van 9 000 guldens van Philip Hartog en Lambert Fick aangeneem, onderhewig aan goedkeuring deur die regering. Die gebou moes voor 1 Oktober 1777 afgelewer word en strenge toesig sou deur landdros en heemrade gehou word. Die werklike bouer van die ou kruithuis, met sy 66 cm-mure en sy dubbelverdiepingmagasyn, was Michael Rambusch, ’n Duitser uit Danzig en messelaar in diens van die Kompanjie. Nadat die fondamente in November 1776 gereed gemaak was, is die gebou binne 182 dae voltooi en op 5 Mei 1777 afgelewer.
Jare lank is die gebou gebruik vir die doel waarvoor dit gebou is. Maar teen die helfte van die 19de eeu was sy status reeds verlaag tot die van ’n markhuis. Nogtans het dit nie die respek van die inwoners verbeur nie en nadat dit tot historiese monument verklaar was, het die stadsraad dit deeglik herstel en opgeknap. Dit is omgeskep in ’n klein museum waarin oudhede uit die militêre verlede van Stellenbosch gehuisves word.
A. F. Trotter • Die Kruithuis • William Fehr-versameling
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 73.
(e) Die Burgerhuis (Geproklameer 1961)
Rondom die Braak is daar nog ander besondere historiese geboue. Van hierdie geboue trek die Burgerhuis met sy pragtige vroeë pilastergewel al dadelik die aandag. Dit dateer uit die laat 18de eeu en is een van die verskeie huise deur Anthonie Fick gebou. Fick het die grond in of net voor die jaar 1796 bekom en die volgende jaar was die huis reeds daarop gebou. Met verloop van tyd is daar ongetwyfeld verskeie veranderinge aan die gebou gemaak, maar dit is oorspronklik in die vorm van ’n H gebou en die so kenmerkende steen en pleister argitraaf bokant die voordeur is behou.
Anthonie Fick is in 1808 oorlede en in 1815 het die destydse landdros van Stellenbosch, Ryno Johannes van der Riet, dit gekoop ten bate van sy skoonsuster, die vrou van P.A. van der Riet. Sy het hierna die huis bewoon en aan die suidekant ’n waenhuis sowel as buitehuisie laat bou. In 1821 is hierdie huisie ooswaarts verleng om in ’n holbol-gewel te eindig. Hierdie deel het as die Van der Riet-huis bekend geraak.
Teen die einde van die dertiger jare het die Rynse Genootskap die sendingwerk onder die Kleurlinge en slawe op Stellenbosch van die Stellenboschse Medewerkende Zending Genootschap oorgeneem. Ds. P.D. Lückhoff, die Rynse sendeling, was reeds sedert 1831 hier werksaam. In 1839 word die Burgerhuis op sy naam oorgedra. Byna 40 jaar lank dien dit dan as die pastorie van hierdie eerbiedwaardige evangeliedienaar en stamvader van die Lückhoffs in Suid-Afrika. In 1878 tree hy af en die jaar daarop koop die Rynse Sendinggenootskap die huis van hom om dit verder as pastorie te gebruik. Jare lank bly dit in besit van die Genootskap, maar word uiteindelik deur ’n hele aantal Kleurlingfamilies bewoon. In 1952 kom dit in besit van die Staat wat dit in 1959 aan die Munisipaliteit Stellenbosch skenk. Die huis is toe met groot versigtigheid gerestoureer hoewel die sogenaamde Van der Riet-huis in die slag gebly het. Die Burgerhuis dien tans as hoofkantoor van Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk. Dit huisves ook ’n keurige klein museum wat deur die Rembrandt-groep byeengebring is en onderhou word.
J. H. Pierneef • Die Burgerhuis • Vers. Mev. Rupert, Stellenbosch
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 74.
(f) Die “Koetsiershuis” (Geen toegang) (Geproklameer 1966)
Reg teenoor die Burgerhuis aan die ander kant van die straat, langs die Afdelingsraadkantore, staan hierdie bekoorlike ou grasdakhuisie met dakvensters en sy sierlike holbolsygewels.
Die geskiedenis van hierdie ou huisie is geensins duideIik nie. Die grond waarop dit staan, is in 1786 aan H.L. Bletterman, die destydse landdros van Stellenbosch, toegeken. Die volgende jaar het hy dit aan ’n sekere Martin Beyleveld verkoop. Laasgenoemde het die een en ’n half morg grond in erwe opgesny en een daarvan aan Jan Georg Lankhoff, ’n kleremaker, verkoop. Op hierdie erf het Lankhoff kort daarna die ou huisie gebou.
In die loop van jare het dit in verval geraak. Die Munisipaliteit van Stellenbosch het die eiendom aangekoop en die huisie, met behulp van bydraes deur die publiek, gedeeltelik gerestoureer. Later is dit aan die Anglikaanse Kerk verkoop, wat toe die restourasie voltooi het.
Die huisie was waarskynlik nooit ’n koetsiershuis nie, maar die foutiewe benaming doen niks af aan sy bekoorlikheid nie. Inteendeel dit verleen ’n sekere romantiese geheimsinnigheid aan die geboutjie.
Die Koetsiershuis • Joy Collier: Stellenbosch Revisited
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 75.
(g) Laetitia (Geen toegang) (Geproklameer 1970)
Net bokant die sogenaamde “Koetsiershuisie” staan Laetitia, ’n dubbelverdieping-platdakhuis wat op die Braak uitkyk.
Die grond waarop hierdie gebou geleë is, was oorspronklik deel van ’n baie groot erf wat in 1770 aan ’n sekere Christiaan Krijnauw toegeken is. In 1786 het Hendrik Lodewyk Bletterman, destyds landdros van Stellenbosch, die hele stuk grond van hom gekoop, maar daar het ’n dispuut oor die grense ontstaan sodat Bletterman dit weer moes laat opmeet en opnuut ’n toekenning moes verkry. Kort daarna het hy dit aan Marthinus Beyleveld verkoop, wat dit in erwe opgesny het. In 1791 het hy die erf waarop Laetitia staan aan Johan Christiaan Heyneke verkoop wat waarskynlik nog in dieselfde jaar ’n enkelverdiepinghuis daarop gebou het. In 1803, na die groot brand wat soveel pronkhuise van Stellenbosch in puin gelê het, het Heyneke die huis herbou, en ooreenkomstig die voorgeskrewe veiligheidsmaatreëls het hy dit verander tot ’n dubbelverdieping met ’n platdak wat minder vatbaar vir brand was.
In 1810 het die eiendom in besit van Johannes Daniel Hugo gekom. Laetitia het in die ware sin van die woord ’n woonhuis geword, want hoewel dit nou en dan vir spekulasie-doeleindes gekoop en verkoop is, het eienaars soos Floris Johannes van Niekerk en Jacob Davidse, snr., lank en onafgebroke daarin gewoon. Sedert die begin van hierdie eeu, egter, is dit as losieshuis gebruik en deur die toevoeging van ’n onooglike betonbalkon, waarop dubbeldeure uitgegaan het, is die oorspronklike gebou onherkenbaar mismaak.
In 1968 is Laetitia deur Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk gerestoureer. Verteenwoordigend van ’n bepaalde boustyl en geleë in ’n prominente posisie op die noordwestelike hoek van die Braak, verleen dit verdere betekenis en bekoring aan hierdie unieke plein in Stellenbosch.
Don Adair • Laetitia
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 75.
(h) Die Afdelingsraadkantore en Drostdyherberg (Geproklameer 1967)
Net bokant die sogenaamde Koetsiershuis lê agtereenvolgens die Afdelingsraadkantore en die Drostdyherberg. Eersgenoemde is ’n betreklike nuwe gebou, terwyl die Drostdyherberg ’n ou gebou met sy eie geskiedenis is. Hul geskiedenis sowel as hul argitektuur regverdig egter nie die verklaring van hierdie geboue in hul geheel tot historiese monumente nie, maar hul vooraansigte is in harmonie met die Braak. Om te verhoed dat hierdie harmonie verbreek word deur die oprigting van hoë geboue, het die Historiese Monumentekommissie dus die fasades van die geboue geproklameer.
(i) Die St. Mariakerk (Geproklameer 1966)
Op die hoek van die Braak, reg teenoor die Drostdyherberg, staan die St. Mariakerk. Hierdie ouderwetse kerkie met sy strooidak het as ’t ware deel van die historiese Braak geword en verleen net soos die Rynse kerk en die Kruithuis ’n besondere karakter daaraan.
Alreeds gedurende die eerste Britse besetting van die Kaap is die noodsaaklikheid gevoel dat in die geestelike behoeftes van Britse troepe en amptenare op Stellenbosch wat tot die Anglikaanse Kerk behoort het, voorsiening gemaak moes word. Van tyd tot tyd is daar dan ook vir hulle dienste gehou. Nadat die Kaap in 1806 ’n permanente Britse besitting geword het, het die ledetal geleidelik aangegroei. In die jare dertig is behoeftige Engelse kinders as immigrante na die Kaap gebring. Heelwat van hulle het op Stellenbosch en by boere in die distrik gaan werk. Van 1838 tot 1840 het ’n Anglikaanse predikant van die Children’s Friends Society onder hulle gearbei.
Omdat die getalle so klein was, sou dit egter tot 1848 duur voordat daar tot die stigting van ’n gemeente van die Anglikaanse Kerk op Stellenbosch oorgegaan word. Op aanbeveling van die goewerneur het die Britse regering verlof verleen dat ’n gemeente gestig word en dat ’n skenking gedoen word om ’n predikant te onderhou. Ds. Frederick Carlyon, M.A., het die eerste predikant geword. Hy het in Desember 1849 uit Engeland by die Kaap aangekom en is op 11 Januarie 1850 amptelik aan Stellenbosch toegewys.
Carlyon het sy eerste dienste blykbaar in ’n skoolvertrek gehou, maar het spoedig planne vir die bou van ’n kerk beraam. Vir die oprigting van so ’n Engelse Episkopaalse kerk is by die regering aansoek gedoen om ’n stuk grond 594,2 m2 groot, “being part of Adderley Square” (Die Braak). Terselfdertyd is met die insameling van geld vir die bou van die kerk begin. Die goewerneur en kerklike genootskappe in Engeland het o.m. tot dié boufonds bygedra, maar daar moes uiteindelik nog R500 van die trustees van die Guardian Fund geleen word.
Op 15 November 1851 het die regering amptelik die gevraagde stuk grond aan die Kerk oorgedra, maar reeds op 30 September 1851 is in Kaapstad ’n kontrak onderteken met W. Martin, ’n skrynwerker en bouer, om die kerkgebou op te rig. Kort na die oordrag is ook ’n kontrak met die messelaar William Shrugg gesluit om sekere werk aan die gebou te doen.
Die kerkgebou van 15 m lank is met baksteen gebou, met kalk afgepleister en van ’n rietdak voorsien. Dit is in die loop van 1852 voltooi en het uiteindelik R1 415 gekos.
Reeds op 23 Augustus 1852 het die eerste kerkraadsvergadering van die gemeente plaasgevind. By die geleentheid is die bekende Robert J. Crozier, destyds hoofklerk van die siviele kommissaris en resident-magistraat van Stellenbosch, en George Blatchford tot kerkopsieners verkies. Op 28 Desember van daardie jaar is die kerk amptelik geopen. Dit is aan die Heilige Maria opgedra en op 18 Oktober 1854 deur Robert Gray, biskop van Kaapstad, gewy.
In die loop van die eeu wat op sy voltooiing gevolg het, is die kerkgebou op drie geleenthede vergroot. In 1884 is teen ’n koste van ongeveer R1 200 die midde-skip effens weswaarts uitgebou, die kloktoring op die westermuur aangebring en ’n portaaltjie aan die suidekant aangebou. In 1898 is die kerkgebou teen ’n koste van R1 860 verder vergroot. Die reguit oostermuur is deur ’n sirkelvormige muur vervang waarin die glaswerk van die ou westermuur teruggeplaas is. ’n Orrelkamertjie is aangebou en die harmonium is met ’n klein pyporrel vervang. ’n Paar jaar gelede is die kerkgebou nogeens vergroot: ten noorde van die voorste gedeelte van die middeskip is ’n uitbousel gemaak wat egter die ou dakstruktuur onaangetas gelaat het.
Verskeie bekende Engelssprekende families van Stellenbosch het in hierdie kerk se geskiedenis ’n prominente rol gespeel, bv. die Croziers, die Merrimans en die MacKenzies.
Nerine Desmond • Die St. Mariakerk • C.S. Grobbelaar
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 76.
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 70-77.