Die Boere en hul taal

Die vliegende drukkerye
January 22, 2015
Die beleid van “verskroeide aarde”
January 22, 2015

Afrikaans was die spreektaal op kommando. Engelssprekendes en ’n groepie geleerde Afrikaners het Engels as skryftaal gebruik, maar die meeste het ’n wye spektrum tussen Afrikaans en Nederlands geskryf. In die hoër gegoede en geleerde groep het sommige suiwer Afrikaans probeer skryf, terwyl ander soos Celliers en Preller ’n baie goeie Nederlands gebesig het. Die oorlogsrapporte was in Nederlands. JP Maré, seun van ’n gewese Transvaalse Volksraadslid, Jacob Maré van die Middelburg-kommando, het Nederlands goed beheers maar aan sy susters Afrikaans geskryf. Sy suster Sarie was getroud met JP Toerien, ’n digter uit die taalbeweging met die skuilnaam Jepete, wat ’n getroue medewerker van Ons Klyntji was. Toerien was moontlik die skrywer van “Sarie Marais”, wat minstens ’n paar keer ook op kommando gesing is op die wysie van die toenmalig populêre “Sweer Ellie Rhee” van die Amerikaanse komponis Septimus Winner.

Fransjohan Pretorius, aan wie die gegewens hieroor ontleen is, maak ook melding van twee handgeskrewe Afrikaanse propagandablaaie met humoris-tiese inslag wat opgestel is deur CFL Rademeyer van Middelburg. Dit is De Glad Zonder Koffie Nieuws wat in Januarie 1900 aan die Tugelafront uitgegee is, en Die Spook wat tussen 25 Augustus 1900 en 10 Oktober 1902 op Woensdae en Saterdae verskyn het, feitlik deurgaans in suiwer Afrikaans.

Briefwisseling het in die guerillafase afgeneem. In uitsonderlike gevalle het rapportryers private briewe van individue saamgeneem. Deur tussengangers wat kontak met kommando’s en toegang tot konsentrasiekampe gehad het, kon party burgers met hul vroue korrespondeer.

Verreweg die meeste briewe en dagboeke is in ’n taal tussen Afrikaans en Nederlands. Pretorius onderskei min of meer drie kategorieë. Die eerste groep is in Nederlands geskryf met doelbewuste invoegings van suiwer Afrikaans om die spreektaal aan te dui. Die tweede groep het onder invloed van die Patriot-beweging geskryf soos hulle gepraat het, maar minder verfynd as JP Maré en CFL Rademeyer. Die derde kategorie het in ’n klaarblyklike poging tot suiwer Nederlands tog vanweë hul gebrekkige geletterdheid ’n verhaspelde vorm van Nederlands geskryf. Dit was die skryfwyse van die meeste.

Maar in die toekomsplanne van Milner het die Afrikaners as ’n volk met ’n eie taal geen plek gehad nie. Op 21 Januarie 1901 skryf hy in ’n persoonlike brief dat hy ten gunste is van ’n “generous treatment” van die Boere nadat hulle eers verslaan is – “if only because that is the sole means of absorbing and ultimately getting rid of them as a separate, exclusive caste”.

Omdat Milner die verdwyning van die Afrikaner as volk beoog het, was hy ook teen taalregte. “Dutch” word in die Kaapkolonie gebruik “purely as a political engine” en daarom was hy teen die erkenning daarvan. Milner het (op 17 November 1901) verklaar dat dit sy beleid was “to make English indispensable in the future, and to prepare the rising generation for that state of affairs by practically compelling them to learn it, but to admit Dutch until the Anglicizing process is consummated.”