Die Boere-aanval op Majuba – Deel 1: Die vertellers

Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 2
February 2, 2021
Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 3
February 4, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

Die Boere-aanval op Majuba word “vertel” deur persone wat self daar was. Die skrywer rangskik net die vertellings en vertolk waar nodig (deurdat bv. verskillende terme gebruik word om die terrein te beskryf).

 

Generaal Piet Joubert

Generaal Petrus Johannes (Piet) Joubert was die kommandant-generaal van die ZAR en persoonlik in bevel van die Boeremagte te Laingsnek.

Hy word deur verskeie skrywers en vertellers aangehaal. Hy skryf na die slag ’n verslag aan Paul Kruger. In Augustus 1886 voer JW Matthews met hom ’n onderhoud oor Majuba en publiseer dit in 1887 in sy boek Incwadi Yami or Twenty Years’ Experience in South Africa.

Volgens Joubert was “daar … Engelse nou op die berg en nou het ons alles verloor!”[1]

Genl. Piet Joubert, 1881 (Foto: Pretoriana Majuba 100 jaar, Nr. 81 Julie 1981, p. 18)

 

Mevrou Hendriena Joubert

Mevrou Hendriena Joubert was die eggenote van generaal Piet Joubert. Sy is in die kommandant-generaal se laer tydens die slag. Sy was een van die eerstes wat besef het dat die Britte Majuba beset het.

Mevrou Joubert was die dryfkrag agter die kommandant-generaal. Daar word vertel dat generaal Joubert na die Britse anneksasie in 1877 verslae was en die land wou verlaat. “Ek wil weer weg, ek sal vir ons ’n wa maak, ek kan nie onder ’n vreemde vlag lewe nie”. Daarop sou sy gesê het: “En waar wil jy dan gaan? Daar is mos nie meer plek nie. Nee man, ons moet Engelse uitveg.”[2]

“Maar man, vat jou kijker, het ons mense dan rooi baatjes?”[3]

Mevrou Hendriena Joubert (Foto: Pretoriana Majuba 100 jaar, Nr. 81, Julie 1981, p. 14)

 

Kommandant Joachim Ferreira

Kommandant Joachim Johannes Ferreira was een van die prominente Boere-offisiere tydens die geveg. Hy veg op die Boere se regterflank.

Hy skryf sy verhaal kortliks aan De Zuid-Afrikaan. Dit word aangehaal in Weilbach en Du Plessis se boek:

“Veldcornet Roos en ik gingen bij de middelste bank van elkander. Ik had de kopjes te bestormen, terwijl Roos met zijne manschappen recht voor zieh uit sou klouteren, want dit was zeer steil.”[4]

 

HBK Hermann

HBK Hermann was 24 jaar oud toe hy aan die slag van Majuba deelgeneem het. Hy skryf sy herinneringe in sy eie handskrif op die ouderdom 78 jaar. ’n Getikte weergawe van sy verhaal word in Pretoriana van Julie 1981 gepubliseer.

Volgens Hermann was “V/K Roos en ek en de Jager … die eerste op die laaste bank uit. Toe skiet ons op die bol …”[5]

HBK Hermann (Foto: Pretoriana. Majuba 100 jaar. Nr. 81 Julie 1981. p. 7)

 

Pieter C Joubert

Pieter C Joubert was deel van die Boerewag op Majuba die nag van 26 en 27 Februarie 1881. Hy neem nie persoonlik aan die aanval op Majuba deel nie, maar bekyk die geveg deur generaal Piet Joubert se verkyker vanaf Langkrans. Sy persoonlike waarnemings, sowel as wat hy later gehoor het by familie en vriende wat aan die aanval deelgeneem het, is ten boek gestel in Volksaltare of ’n veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog, deur HJC Pieterse.

Joubert verduidelik: “Langkrans lê ’n rapsie hoër as Majuba, en met genl. Joubert se uithaler-verkyker tot my beskikking kon ek die slag van Majuba in sy fynste besonderhede volg van begin tot end.”[6]

Pieter C Joubert (Foto: Pieterse, Volksaltare of ’n veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog)

 

Assistentveldkornet Stephanus Johannes (Fanie) Roos

Stephanus Roos lei die Boere-aanval in die noordweste van Majuba. Kort na die oorlog vertel hy sy verhaal aan ’n huisvriend, wat dit onmiddellik daarna op skrif stel. Dit word in die eerste Afrikaanse tydskrif, Ons Klyntji se eerste uitgawe, Maart 1896, onder die opskrif “DI SLAG VAN AMAJUBA”, gepubliseer. Daar bestaan vandag verskillende weergawes in moderne Afrikaans, in Engels en ook in Nederlands hiervan. Hier word die oorspronklike verhaal, in “1896-Afrikaans”, insluitende spelling en taalgebruik, direk uit Ons Klyntji aangehaal:

“Ek was di voorste van myn manskap en tel myn kop op om o’er ’n klipkoppi bo op di kop te kyk. Mar ek skrik toen ek di mag van Engelse bo op di kop siin … ” en: “En ek wil ni ontken ni, toen het ek gebruik gemaak van ’n leeun. Ek hoop onse liwe Here het my dit vergewe! Ek wenk toen met myn hoed en ek skré: ‘Kerels, kom nou! Kom gou! Di Engelse vlug!’”[7]

Aangesien hierdie so ’n belangrike bron in hierdie reeks is, word die inleiding van die verhaal, soos gepubliseer in Ons Klyntji, hier volledig verskaf (ook in die oorspronklike “1896-Afrikaans”).

“Skrywer hiirvan het net na di vryheidsoorlog 6 jare lank Transvaal in syn lengte en breedte deurgerij, en is met alle manne van enige betekenis, van di hoogste tot di laagste, in persoonlike anraking gewees, byv. met alle kommadante en veldkornette en di voormanne wat an al di veldslage teen di Engelse deel geneem het. Hy bet hom dit van verskillende persone o’er en o’er laat vertel, sodat by di ding van alle kante kon bekyk, en daarvan het hy antekeninge gehou ver latere geskidenis-beskrywing, wat hy nou hiir gé.

“So ’n beskrywing van di lippe van ooggetuige het di voordeel dat dit ons di gebeurtenisse lewendiger voorstel. Mar dit bet daarom oek 2 nadele: 1) di hoofpersone lewe nog, en ’n mens moet ontsiin om alles ronduit te beskrywe, want ver party is dit tot eer en ver party tot oneer, en as di geskidenis na waarheid opgeteken word, dan blyk dit dat dikwils di verkeerde persone al di tyd di eer gekry het; en 2) ’n ooggetuige bekyk ’n saak altyd van syn standpunt, dus van een kant af, en daarom is syn verhaal gewounlik een sydig. Dit kan nou egter ni anders ni, en ons sal perbeer om di lewendighyd van di verhale te behou en daarby so veul as molik is di 2 nadele te vermy.

“Kort na di vryheidsoorlog sit skrywer hiervan een oggend an ontbyt met syn famili te Pretoria, toen o’erlede veldkornet Stefanus Roos inkom. Vollens gebruik neem hij op uitnodiging as huisvrind plaas an di tafel en eet same. Skrywer biirvan had toen al van verskye ooggetuige gehoor dat hij yntlik di man was wat met Gods hulp Spitskop of Amajuba ingeneem het, en neem dadelik di geleenhyd waar om ver hom di gebeurtenis te laat vertel, wat hy op so ’n eenvoudige en lewendige maniir doen, dat ons na ete na di studeerkamer gaan om enige antekeninge daarvan te maak, soos ons dit nou hiir ’n bitji uitvoeriger afskrywe.

“Laat ons hiir vermelde, dat di man wat di heldestuk gedoen bet, sig oek later in di Mapog-oorlog buitegewoon dapper gedra het, en daar gesneuwel is deur di verradelike kogel van ’n (Swarte) uit ’n klipskeur. Syn verhaal, wat deur vele andere ooggetuige bevestig werd, is soos volg: (en dan volg die vertelling van Stephanus Roos, soos wat in die reeks weergegee gaan word).[8] 

“O’erlede veldkornet Stephanus Roos, Di Ware Held van Amajuba.” (Foto: Ons Klyntji, Maart 1896, p. 11)

 

JC Bekker

JC Bekker neem aan die Slag van Majuba deel. Sy broer sneuwel tydens die geveg. Hy vertel sy storie in ’n brief aan Die Transvaler:

“Ons spring uit die skans en hardloop na die knoppie – omtrent 40-50 tree vooruit. Helaas net vier van ons, ek, my broer Hans, Willem Steenkamp en nog ’n persoon wat ek nie geken het nie.”[9]

 

Petrus Kilian

Petrus JJD Kilian neem aktief aan die geveg te Majuba deel. Hy is aanvanklik saam met kommandant Fourie halfpad teen die berg op, maar word deur laasgenoemde terug na die Boerelaer gestuur om versterkings te gaan kry. Van daar ry hy saam met veldkornet Christiaan de Wet na Majuba en veg saam met laasgenoemde die berg uit, tot by die oorkantste (suidelike) bergkruinrant. Na die geveg neem hy generaal Joubert se verslag met ’n epiese perderit van 29 uur na Paul Kruger.

Voor sy dood in 1941 vertel Petrus Kilian sy verhaal aan sy jongste seun, Nico, wat aantekeninge daarvan maak. Hierdie aantekeninge word aangevul uit eie herinneringe, en ten boek gestel deur nog ’n seun, ds. JD Kilian, in Laat ons veg.

Petrus Kilian en drie ander veterane van Majuba, het die A.G. Visserskool in Heidelberg op 27 Februarie 1938 besoek. Oom Petrus het sy storie ook hier vertel, waarna dit deur BS Roberts opgeskryf is as “Die Rapportryer van Majuba”:

“Ek sê vir myself: dit is g’n gewone soldaat of offisier hierdie nie. Moontlik ’n predikant, ’n kapelaan,” en “… ek kry hom so jammer dat ek die helm op sy gesig sit om die warm son te keer.”[10]

Petrus Kilian (links), saam met drie mede-oudstryders, Peet Bronkhorst, Koos Nel en Scraader, tydens ’n besoek aan die A.G. Visserskool in Heidelberg op 27 Februarie 1938. (Foto: BS Roberts, “Die Rapportryer van Majuba”)

 

Veldkornet Christiaan de Wet

Christiaan de Wet, die latere beroemde generaal, vertel bondig oor sy deelname aan die geveg aan Kestell. Hy word ook aangehaal in Killian se vertellings. Hy was deel van die Boereversterkings wat later die oggend na Majuba gestuur is. Hy en sy burgers beklim Majuba aan die noordoostekant

Volgens De Wet het hulle geklim “ – en dit onder die gedurige skiet van bo, ons klim al hoër en hoër.”[11]

Christiaan de Wet (Foto: Kestell, Christiaan de Wet – ’n Lewensskets, tussen pp. 48 en 49)

 

Generaal-majoor Sir George Pomeroy-Colley

Generaal-majoor Colley was die Britse Hoë Kommissaris in Suider-Afrika en die Britse bevelvoerder op Majuba. Hy skryf verskeie verslae en briewe voor die geveg en seine word op sy instruksie gedurende die slag gestuur.

Pomeroy-Colley skryf: “I know that by the time this reaches home I shall have broken the back of military resistance, and that my word may carry more weight than they would just now.”[12]

Sir George Pomeroy-Colley. Foto geneem in O’Neill se huisie (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2018)

 

Luitenant-kolonel Herbert Stewart

Kolonel Stewart (later generaal-majoor) was generaal Colley se hoofstafoffisier en die enigste wat eersgenoemde vooraf in sy vertroue geneem het oor sy plan om Majuba te beset. (Majoor Fraser is eers om 15:00 op 26 Februarie 1881 ingelig oor die plan.) Kolonel Stewart skryf na die tyd ’n verslag oor gebeure rakende Majuba.

Stewart skryf: “To the advance of the Boers being unseen and hence unreported, the consequent retirement, and the fact that the efforts of the officers were fruitless to check the demoralization ensuing thereon, I attribute the loss of the position.”[13]

Generaal Sir Herbert Stewart (Foto: Wikipedia)

 

Majoor T Fraser

Majoor Fraser, Royal Engineers, was die adjunk-assistent-kwartiermeester-generaal van generaal Colley. “First in, last out”: Hy was die eerste Brit wat Majubakruin die oggend van 27 Februarie 1881 bereik het. Hy was die mees senior Britse offisier wat van Majuba kon ontsnap, maar het verdwaal, moes vir die Boere wegkruip en bereik Mount Prospect eers om 14:00 op 29 Februarie 1881. Na die tyd skryf hy ’n verslag met ’n kaart gedateer 5 Maart 1881, sowel as ’n persoonlike brief, gedateer 2 Maart 1881.

Fraser skryf: “As we neared the top, remembering we had seen the night before a piquot on the point we were approaching, I took a rifle from a 58th man behind, and got on top at 3:40a.m., feeling rather foolish to find no one.”[14]

 

Majoor George Stewart White

Majoor (later veldmaarskalk Sir George White VC) was die senior majoor in die 92nd Highlanders. Hy was nie persoonlik op Majuba nie. Hy het die “Regimental Records” geskryf:

“Men were falling all round and cries of maddened despair rose from the baffled troops.”[15]

Veldmaarskalk George Stewart White (Foto: Wikipedia)

 

Major Hay

Majoor Hay (later generaal Hay) was in bevel van die kompanies van die 92nd Highlander op Majuba. Hy word aangehaal in Cromb se boek, The Majuba Disaster. A Story of Highland Heroism Told by Officers of the 92nd Regiment.

Hay sê: “Hamilton asked Sir G. Colley to allow the men to charge, but Sir George refused to do so, and, in my opinion, was right in refusing. There was nothing to charge. There was not a Boer to be seen,” asook “I have met people who thought that the Boers had charged and driven us off the hill. Such is not the case. It was the crushing fire which compelled us to retire, and until we had retired not a Boer was to be seen.”[16]

 

Luitenant Wright

Luitenant Wright was saam met luitenant Hamilton in bevel van die 92nd Highlanders op die noordelike kruinrant. Hulle twee is die enigste Britse offisiere wat die uitklim van die berg deur die Boere korrek na waarde geskat het. Hy skryf na die tyd ’n verklaring soos weergegee in Cromb se boek The Majuba disaster. A story of Highland heroism told by officers of the 92nd Regiment.

Wright skryf: “Twice I went to the General and told him we couldn’t hold our position with so few men if any serious attack were made. All he said was ‘Hold the place three days’.”[17]

 

Kaptein Macgregor

Kaptein Macgregor was generaal Coley se aid-de-camp op Majuba. Hy was veral gemoeid met die inneem van stellings bo-op Majubakruin. Kaptein Macgregor word aangehaal in James Cromb se boek: The Majuba disaster. A story of Highland heroism told by officers of the 92nd Regiment.

Macgregor skryf: “The line was exposed to fire from these three sides, and the men were dropping in all directions.”[18]

 

Luitenant Ian Hamilton

Luitenant (later generaal) Ian Hamilton was ’n offisier in die 92nd Highlanders. Saam met Luitenant Wright in bevel van die 92nd Highlanders op die noordelike kruinrant. Hy vertel sy storie aan verskeie persone en skryf ook self daaroor. Sy vertellings sal uit verskillende bronne aangehaal word.

Hamilton skryf: “It was not to be dreamed of that a parcel of ragged Boers should stand against the famous soldiers of Kabul and Kandahar. They discussed beforehand the clasps which would be given upon the medal for the campaign. They were to be Laing’s Nek, Relief of Potchefstroom, and Pretoria 1881. No one had then ever heard the name of Majuba Mountain. Yet there was to be the first encounter between Highlanders and Dutchmen.”[19]

Sir Ian Hamilton (Foto: https://collectionimages.npg.org.uk/large/mw238509/Sir-Ian-Standish-Monteith-Hamilton.jpg)

 

Thomas Carter

Thomas Carter was ’n Britse oorlogskorrespondent. Op die jong ouderdom van 22 jaar was hy op die kruin van Majuba tydens die slag. Hy skryf ’n boek A narrative of the Boer War: its causes and results in 1882. ’n Nuwe weergawe van die boek word in 1896 gepubliseer.

Carter skryf: “In a few seconds that camp at our feet changed from a quiet to an animated scene. In less time almost than it takes to tell, the whole of the plain was dotted with horsemen in open order; they seemed to rise out of the camp and spread like a swarm of flies …”[20]

 

John Cameron

John Cameron was ’n joernalis vir die “Standard”. Hy is saam met die Britse magte op Majuba tydens die slag. Sy verslag oor die Slag van Majuba word aangehaal in Melton Prior se boek, Campaigns of a war correspondent.

Cameron skryf: “At this moment I was knocked down by the rush and trampled on, and when I came to my senses the Boers were firing over me at the retreating troops, who were rushing down the hill.”[21]

 

Dr. Edward E Mahon, chirurg, Royal Navy

Dr. Mahon was op Majuba tydens die geveg. Hy skryf ’n verslag wat in die London Gazette van 3 Mei 1881 gepubliseer is. Hy skryf:

“The Boers gained the rocks just above the hospital in great numbers, and poured a tremendous fire indiscriminately on everybody they saw.”[22]

 

Onderluitenant Augustus l Scott, Royal Navy

Luitenant Scott was saam met die grootste deel van die Vlootbrigade op die suidwestelike kruinrant van Majuba ontplooi. Hy skryf na die tyd ’n verslag wat in die London Gazette van 3 Mei 1881 gepubliseer is. Hy skryf:

“The enemy poured a tremendous fire down the sides of the mountain, so that we were obliged to scatter, and make the best of our way out of range.”[23]

 

Majubaberg

Die heel belangrikste “verteller” is egter nie ’n mens nie, maar ’n berg! Die “mensvertellers” is nie meer met ons nie – hulle vertellings kan nie meer aangevul word nie. Die berg en omliggende terrein is egter steeds daar … indien mens nie weet waarna om op te let nie, is die berg heeltemal stom, maar as mens weet … en verstaan … dan praat die berg met mens … en dit is ’n ongelooflike verhaal!

Majuba (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

Bronne:

Butler, W.F. 1899. The life of Sir George Pomeroy-Colley K.C.S.I C.B. C.M.G. 1835-1881. Including services in Kaffraria, in China, in Ashanti, in India and in Natal. London: John Murray.

Carter, Thomas Fortescue. 1896. A narrative of the Boer War: its causes and results. New edition. London: John Macqueen.

Churchill, Winston Spencer. 1900. Ian Hamilton’s march. London and Bombay: Longmans, Green and Co.

Cromb, James. 1902. The Highland Brigade: its battles and heroes. Edited and brought down to the end of the Boer war, and other essays, by David L. Cromb. Sterling: Eneas Mackay.

Cromb, James. 1891. The Majuba disaster. A story of Higland heroism told by officers of the 92nd Regiment. London.

Hermann, H.B.K. 1981. Slag van Laingsnek en Amajuba 1881. Pretoriana. Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria. Majuba 100 jaar. 27 Febr. 1881–27 Febr. 1881. Nr. 81 Julie.

Kestell, John Daniel. 1920. Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing. Johannesburg: Nasionale Pers.

Kilian, J.D. 1975. Laat ons veg. Johannesburg: Perskor Uitgewery.

Pieterse, H.J.C. 1940. Volksaltare of ’n veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk.

Porter, Withworth. 1889. History of the Corps of Royal Engineers. Volume 2. London: Longmans, Green and Co.

Pretoriana. Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria. Majuba 100 jaar. 27 Febr. 1881–27 Febr. 1881. Nr. 81 Julie 1981.

Prior, Melton. 1912. Campaings of a war correspondent. London: Edward Arnold.

“S” (Skrywer onbekend). Die Slag van Amajuba, in “Ons Klyntji”, Deel 1, No. 1. Maart 1896. Paarl: D.F. du Toit en Co. Beperk, Drukkers en Uitgewers.

Spies, F.J. du T. 1981. Generaal Piet Joubert en Majuba. Pretoriana. Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria. Majuba 100 jaar. 27 Febr.1881–27 Febr. 1881. Nr. 81 Julie.

The London Gazette. 1881. Tuesday, May 3, pp. 2105-2210. British Government.

Weilbach, Kommandant J.D. en Du Plessis, C.N.J. 1882. Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog. Kaapstad: Saul Solomon & Co.

https://en.wikipedia.org/wiki/Herbert_Stewart#/media/File:Major_General_Sir_Herbert_Stewart.jpg

https://en.wikipedia.org/wiki/George_White_(British_Army_officer)#/media/File:George_Stewart_White-001.jpg

Voetnotas:

[1] General Piet Joubert aangehaal in Hermann, Pretoriana Majuba 100 jaar, Nr. 81, Julie 1981, p. 10.

[2] Spies, F.J. du T. “Generaal Piet Joubert en Majuba”, Pretoriana Majuba 100 jaar, Nr. 81, Julie 1981.

[3] Mev. Hendriena Joubert aangehaal in Pretoriana Majuba 100 jaar, Nr. 81, Julie 1981, p. 22.

[4] Ferreira aangehaal in Weilbach & Du Plessis, Geschiedenis van de Emigrante-Boeren en van den Vrijheids-Oorlog, p. 268-269.

[5] Hermann, Pretoriana. Majuba 100 jaar. Nr. 81, Julie 1981, p. 10.

[6] Pieter C. Joubert aangehaal in Pieterse, Volksaltare, of ’n veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog, p. 82.

[7] Stephanus Roos, aangehaal in Ons Klyntji, Maart 1896, p. 18.

[8] Ons Klyntji, Maart 1896, p. 11.

[9] JC Bekker se brief aan die Transvaler, soos aangehaal in Pretoriana. Majuba 100 jaar. Nr. 81, Julie 1981. p. 42.

[10] Kilian, Laat ons veg, p. 29.

[11] Christiaan de Wet, aangehaal in Kestell, Christiaan de Wet, ’n Lewensskets, p. 27.

[12] Generaal Colley, aangehaal in Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 343.

[13] Luitenant–kolonel Stewart aangehaal in Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 405.

[14] Majoor Faser, aangehaal in Porter, History of the Corps of Royal Engineers. Volume 2. 1889. pp. 39-40.

[15] Majoor White aangehaal in Cromb, The Higland Brigade: its battles and its heroes, 1902, p. 292.

[16] Majoor Hay, aangehaal Cromb, The Majuba disaster, pp. 20-22.

[17] Luitenant Wright, aangehaal in Cromb, The Majuba disaster, p. 15.

[18] Major Macgregor aangehaal in Cromb, The Majuba disaster, p. 24.

[19] Luitenant Hamilton aangehaal in Churchill, Ian Hamilton’s March, p. Xlviii.

[20] Carter, A narrative of the Boer War, pp. 262-263.

[21] George Cameron aangehaal in Prior, Campaigns of a war correspondent, p. 131.

[22] Dr. Mahon se verslag in The London Gazette van 3 Mei 1881, pp. 2019-2020.

[23] Onderluitenant Scott se verslag in The London Gazette van 3 Mei 1881, p. 2019.