Die Boere-aanval op Majuba – Deel 2: Militêre agtergrond

Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 3
February 4, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 3: Historiese konteks
February 6, 2021

Christo HC Geldenhuys

Tydens die Eerste Vryheidsoorlog was daar vier groot gevegte, naamlik by Bronkhorstspruit, Laingsnek, Schuinshoogte en Majuba. Die eerste drie gaan kripties in die volgende deel beskryf word. Daar gaan egter reeds in hierdie deel na hierdie veldslae verwys word.

 

Die boer as bekwame soldaat

Die Boere van 1880-1 was nie opgeleide soldate nie. Hulle het geen formele militêre opleiding ontvang nie. Hulle was burgerlikes – dorps- en plaasjapies – wat per geleentheid, wanneer nodig, die wapen moes opneem ter wille van veiligheid en oorlewing, of in die geval van die Eerste Vryheidsoorlog, ter wille van vryheid.

Generaal Butler beskryf die Boere se optrede by Majuba later as volg:

“The men composing this leading attack, though few in numbers, were admirably handled, or perhaps it would be more correct to describe the method of their advance not as being due to the will of one acting upon the many, so much as to the instinct of each individual unit acting on the whole body, and producing, without order or command, the best result obtainable. This, indeed, had been the secret of all the successes the Boers had hitherto gained. Their methods of fighting, their fire tactics and knowledge of ground were instincts imbided from early youth upwards in the exercise of daily life amid the storm and sunshine of this wild land.”[1]

Nou hoe nou? Hoe op aarde kan ’n klomp onopgeleide dorps- en plaasjapies op so ‘n manier veg dat ’n Britse generaal sulke komplimente vir hulle gee? Van waar hierdie krygsvernuf en unieke manier van veg?

Natuurlik was die Boere nie onbekend met oorlogmaak nie. Teen 1880 was daar reeds ’n militêre tradisie wat oor vele dekades opgebou was – dit het al van voor die Oosgrensoorloë in die Kaapkolonie begin, was verder tydens die Groot Trek gevestig en ook in die nuutgestigte republieke moes daar telkens na die geweer gegryp word. Met uitsondering van enkele skermutselinge of gevegte soos o.a. by Congella en Boomplaats, was die gevegte nie teen Europeërs met (vir daardie tyd) moderne vuurwapens nie. Hoe het die Boere militêre vaardighede ontwikkel, wat hulle is staat sou stel om ’n professionele Europese leër (met koloniale ondersteuning), gelei deur briljante offisiere, te kon aandurf?

Daar word algemeen aanvaar dat die individuele Boer se vermoëns as soldaat, grootliks daaraan toegeskryf kan word dat hulle jagters was en skietkuns prakties in die veld aangeleer het.

Generaal Colley verwys daarna in ’n skrywe aan die “Secretary of State of War”, na afloop van die slag van Schuinshoogte:

“… our soldiers are not as trained skirmishers and shots as the majority of these Boers, who from their childhood have lived in the country, and to a great extent by their guns, and are used to stalking and shooting deer.”[2]

So wat sou die Boere in die jagveld geleer het, wat hulle later op die slagveld sou kon toepas?

Hoe jag mens? Indien daar ’n trop bokke 1000 m ver staan, vuur ’n jagter ’n mogge-troffe skoot in die trop in en hoop dat daar iets vir die pot val? Nee, die jagter gaan nader. Hier is nou sommer die eerste vaardigheid wat aangeleer word – dink vir jouself! Die jagter moet self besluit met watter roete en hoe daar nader aan die bok beweeg moet word. (Mens kan sê dat in die jagveld is elke jagter sy eie generaal.) Die jagter moet “onder die wind bly” – die wind moet vanaf die bok na die jagter waai, nie andersom nie, anders ruik die bok die jagter. Alhoewel dit seker vir sommige tydens ’n geveg erg benoud gegaan het, was “onder die wind bly” nie dan van toepassing nie, maar die beginsel bly dieselfde – dink vanuit die oogpunt van jou prooi/vyand. Die jagter gaan nader aan die bok deur van natuurlike dekking teen sig gebruik te maak. Die jagter moet dus die “terrein lees” – watter roete, reguit vorentoe, naby links, ver links, naby regs of ver regs, is die beste roete. Daar moet uit die bok se oogpunt gedink word – waar sal die bok my kan sien en waar nie? Daar word agter bome of bosse (of in dooie grond soos by Majuba) nader gestap. Indien die dekking later skraps en/of laag is, word die bok bekruip. Dit is die tweede belangrike les: veldkuns en skietkuns word geïntegreerd aangewend om sukses te behaal.

Hoe akkuraat moet ’n jagter skiet? ’n Jagter wil ’n bok ’n enkelskoot-doodskoot gee, om etiese redes – om nie ’n bok te kwes en te laat ly nie – maar ook om praktiese redes – om nie ammunisie te mors nie en ook om nie agter ’n gekweste bok te hoef aan te stap nie. Die jagter wil dus die kritiese organe van ’n bok met een skoot raakskiet. Behalwe vir die voortvarende jagters wat kop- of nekskote waag, is dit die bok se hart-long-area. Mens kry klein en groot bokke en die grootte van die hart-long-area wissel. Baie veralgemeen kan mens egter sê dat die hart-long-area van ’n klein bokkie (soos ’n springbok) omtrent so groot is soos ’n man se kop, dié van ’n middelklas bok (soos ’n rooi- of blesbok) so groot soos ’n man se kop en skouers en dié van ’n groot bok (bv. ’n koedoe) so groot soos ’n man se kop en bors is. Die Boerejagter moet dus naby genoeg kom om ’n akkurate skoot na so ’n grootte teiken te skiet.

Tot hoe naby gaan die jagter? Indien mens “onder die wind bly” en die bokke is nie buitengewoon verskrik nie, “staan” bokke meestal op ’n verbasende kort afstand – 200 m en korter. Die bokke bemerk onraad, kyk nuuskierig in die rigting van die jagter, maar hardloop nie weg nie. Die Boer as jagter, wat met “oop visiere” (dus nie ’n teleskoop nie) met ’n swartkruitgeweer jag, sou daarom in die jagveld skote van 200 m en korter, na ’n stilstaande teiken, vuur. Dit is die afstand waarop die Boerejagter sy geweer sou ken en vertrou. Maak geen fout nie, moet die jagter ’n skoot van 300 m ver skiet, en hy mik nie af nie of stel nie sy geweervisier nie, sal die skoot onderdeur die bok wees of die bok se voorbene tref – dit is hoeveel ’n koeël as gevolg van ’n verdere 100 m in afstand “val”.

Die Boere se optrede tydens die slag van Bronkhorstspruit en in ’n mindere mate by Schuinshoogte en Laingsnek, het getoon dat die Boere verkies het om op afstande van 200 m of korter te vuur. Hulle het nader na die Britte gegaan om binne hierdie afstand te kom. Die Boere was nie, soos hulle Britse eweknieë, 1000-treë-in-die bondel-in-skieters nie. Die Boere was kortafstand-een-skoot-doodskoot-skuts. Op daardie afstand kon hulle kop-, of kop-en-skouers- en kop-en-bolyf-skote na ’n stilstaande teiken vuur, met ’n goeie kans vir ’n eerste-skoot-raakskoot.

 

Verskille tussen die Boere en Britte se benadering tot oorlogmaak

Die Boere was burgerlikes. Oorlog moes dus so min as moontlik inbreuk op hulle burgerlike lewens maak. Minimum verliese moes gely word, want na die oorlog moes dit terug plaas of dorp toe en ’n gesin moes gaan versorg word. Die Boere het geglo hulle saak is reg en het gebid en geglo dat God hulle sou help.

In ’n toespraak te Birmingham op 7 Junie 1881 beskryf Joseph Chamberlain die Boere so:

“The Boers are not naturally a warlike race. They are a homely, industrious, but somewhat rude and uncivilised nation of farmers, living on the produce of the soil. They are animated by a deep and even stern religious sentiment, and they inherit from their ancestors – the men who won the independence of Holland from the oppressive rule of Philip II of Spain – they inherit from them their unconquerable love of freedom and of liberty.”[3]

Vir die Britte het oorlogmaak met hulle professionele soldate, eerstens oor roem en eer gegaan – die roem en eer van die Koningin en die “Empire”, die eer van die soldate en, veral in 1880-81, die roem en eer van die offisiere.[4]

Die verskillende benaderings tot oorlog, en spesifiek die Eerste Vryheidsoorlog, word treffend geïllustreer tydens ’n onderhoud wat JW Matthews in 1886 met generaals Piet Joubert en Nicolaas Smit gevoer het. Generaal Joubert het vertel van ’n informele gesprek wat hy met generaal Wood, generaal Colley se opvolger as militêre bevelvoerder in Suid-Afrika, vyf dae na die slag van Majuba gevoer het. (Op daardie dag was dit nog onduidelik of ’n vredesooreenkoms gesluit gaan word en of die oorlog sou voortgaan of nie.) Nota: die “Nek” waarna verwys word is Laingsnek.

“As we were standing outside the tent while this document was being prepared, General Wood told me I should have to get away from the Nek, because it was English territory, but I said: ‘We don’t fight for ground, we don’t claim any; why should I go ? If you mean to make peace, the closer we get the better. General Wood replied, ‘I shall have to force the place then and drive you away,’ and pointing to his breast, and counting his medals one after the other, said: ‘Look, there are one, two, three, four, five, six, seven, eight, nine medals, and if I pitch you out, another, which will make ten.’ I answered: ‘I must defend my country at all risks and stand the consequences.’ He then looked straight at me and said: ‘Per chance you may kill me, but that is nothing; England has sixteen generals more. ’I then turned up my coat, and pointing to my breast, which was perfectly plain, said: ‘General, there is nothing here, and thank God, I want nothing behind that Nek there. I have not one single man to be killed for that. (I pointed to a medal on his breast.) We do not fight for glory, we fight for liberty, and for liberty every English general, I know, would also yield his life. We have not many generals, but although I and General Smit lead our men, each man knows he fights for himself and his country.’ General Wood then continued: ‘But what do you think of Colley going up the mountain?’ I answered: ‘I don’t know what to think; all I know is that I received letters from Brand and Colley only the day before, which tended to throw me off my guard, and while I was in the very act of writing answers Colley took the opportunity to go up the mountain.’ ‘And you drove him down?’ ‘I don’t say that, and I am glad no one behind that Nek says that either, but this I will say, that every man of mine when he looks at Majuba, when he looks at the top of that mountain there, thinks of nothing but the wondrous work of the Almighty. ’Wood seemed touched. ‘I am not an unbeliever; I also say my prayers,’ he ejaculated. ‘I am glad,’ I said, ‘to hear you say that, but do you know what we pray for? We don’t pray to conquer nations and annex countries; what we pray for is that Almighty God may so open the eyes of the gracious Queen of England that she and her counsellors may see what justice is and what is right, then we shall feel sure of our case and know that freedom to our country must come.”[5]

Nog ’n onderhoud wat die vasberadenheid van die Boere duidelik illustreer, was tussen die joernalis Cameron en generaal Joubert op 28 Februarie 1881, die dag na die slag van Majuba. Cameron het die voortsetting van die oorlog deur die Britte ondersteun. Generaal Joubert se reaksie was o.a. die volgende: “We Boers want peace, and we would never try to fight England or her troops; but we will die, all, every one of us, for our liberty, we will die for our liberty.” En “… will fight to the end. I know England will fight for honour, for predominance and we will fight for liberty till we die.”[6]

Die verskil tussen die Boere en Britte se manier van oorlogmaak op taktiese vlak, kan kortliks, maar aangrypend geïllustreer word met ’n kort aanhaling uit generaal Colley se kleurryke verslag oor die Slag van Laingsnek. Hy beskryf die Britse infanterie se aanval op die tafelkop (Dean se Heuwel/ Engelbrechtkop):

“But the climb was a very trying one, and when the men got near the top they were too fatigued and breathless for a charge, while the fire from the ridge behind continued to fell heavily, and the Boers on the brow shot down on the men as they struggled up. The officers led nobly, and Colonel Dean, with splendid gallantry, tried to carry the hill by a rush. His horse was shot, but he extricated himself, and dashing forward on foot, fell, riddled with bullets, 10 yards in front of the foremost man.”[7]

Lesers moet maar hierdie aanhaling weer kom lees nadat militêre terme en gevegsdrils bespreek is – hierdie aanhaling sê ’n mondvol oor taktiek: die Britte wat net instorm, die Boere wat op die koppies lê en (raak) skiet. Veral van belang hier is die gebrek aan waarde van menselewens van hulle eie magte deur die Britte – die Britse offisiere het hulle manne doodsveragtend onder Boerevuur ingelei om doodgeskiet te word. Hulle laat hulle manne, wat op grond van hulle doktrine so afhanklik van hulle offisiere is, leierloos, om ook doodgeskiet te word. Hulle bevelvoerder (Colley) dink hulle optrede is “nobly” en “plendid galantry” …

 

Bevel en beheer

Die Boere se manier van bevelvoering was in skrille kontras met dié van die Britte. Die Britte het ’n tradisionele bevelstruktuur gehad – opdragte van offisiere was wet. Manskappe moes nie inisiatief neem nie, maar bloot bevele gehoorsaam. Selfs geweervisiere is slegs op bevel van ’n offisier verstel … Daar was meer as net gesagsverskille tussen offisiere en manskappe nie, maar ook ’n klasverskil – daar was ’n baie groot statusverskil. Generaal Colley het sy optredes deeglik oorweeg en beplan. Hy het deeglik verkenning gedoen en dae lank beplan aan die besetting van Majuba. Hy het op ’n outokratiese manier besluit dat Majuba beset moet word – hy het slegs een ander Britse offisier vooraf daaroor ingelig en by sy beplanning betrek. Daar was ook absolute geheimhouding – met die aanvang van die nagmars na Majuba, het slegs drie Britte geweet waarheen hulle op pad was, en slegs een, Colley self, het geweet wat die oogmerk was wat bereik moes word.

Daarteenoor het die Boere in 1880/81 ’n krygstradisie gehad wat baie verskil het van tradisionele militêre bevelvoering. Bevelvoering was tot ’n groot mate ’n deursigtige, demokratiese proses, gebaseer op ’n republikeinse gees.

Mr. Aylward, wat die Boerelaers agter Majuba en Laingsnek besoek het, beskryf dit as volg:

“It must further be noted that every act of the Generals and of his officers, is done in public. There is neither secrecy nor privacy in the camp or laager, and every burgher, however humble, is welcome to every tent or wagon, to sit and smoke as he will, however high the rank of the Chief he visits. There is true Republicanism in the Boer camp.”[8]

Generaal Joubert, die kommandant-generaal en persoonlik in bevel van die Boeremag in Noord-Natal, het min gesag en aansien gehad. Na afloop van die geveg by Laingsnek, was daar groot ontevredenheid onder die Boere oor sy bevelvoering gedurende die geveg. Adjunkpresident Paul Kruger het toe van Heidelberg na Laingsnek gegaan om die netelige situasie te probeer beredder. Hy het die situasie opgelos deur voor te stel dat die Boere ’n veggeneraal verkies om Joubert tydens gevegte by te staan. Nicolaas Smit is toe as veggeneraal verkies.[9]

Tydens die Eerste Vryheidsoorlog was die Boere, wat geen formele militêre opleiding ontvang het nie, totaal onbekend met gestruktureerde militêre waarderings en beplanning. Die voorkeurwyse van beplanning was om ’n krygsraad te hou, waartydens insette en breë planne bespreek kon word. Verder is besluite geneem soos wat die situasie ontwikkel het, gebaseer op gesonde verstand en oordeel, eerder as ’n gestruktureerde denkproses.

 

Militêre terme en gevegsdrils

Om die Boere-aanval op Majuba na waarde te skat, is dit nodig dat lesers sekere militêre agtergrond en militêre konsepte moet verstaan. Vir die nie-militêre leser (of nie-infanteriste!) gaan enkele aspekte en terme baie bondig hier verduidelik word. Dit is deels om te voorkom dat die storielyn later deur verduidelikings onderbreek word, maar ook om ’n mate van konteks te verskaf waarbinne die Slag van Majuba plaasgevind het.

Tydens die Slag van Majuba het die Boere van taktiek gebruik gemaak wat op daardie stadium nog nie in doktrine geformaliseer was nie. Daar was ook nie terme om daardie taktiek mee te beskryf nie.

In hierdie reeks gaan terminologie gebruik word, soos 100 jaar later in Suid-Afrika deur die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) gebruik was – die 1980’s, die toppunt van militêre intensiteit in Suidelike Afrika.

“Bevel en beheer”

Daar moet “eenheid van bevel” wees, dit is, daar moet duidelikheid aan almal wees wie oorhoofs in bevel is en wat die bevelskanale is – wie kan aan wie opdragte gee. Die bevelvoerder moet ook tydens ’n geveg beheer kan uitvoer ten einde te verseker dat sy plan tot uitvoer gebring word.

“Engte”

’n “Engte” is waar die terrein of plantegroei beweging van militêre magte inperk deurdat dit in ’n noute gekanaliseer word.

“Hindernis” en “Bres”

’n “Hindernis” is iets wat beweging of mobiliteit aan bande lê, soos byvoorbeeld ’n rivier of ’n berg – of die kranse by Majuba. ’n “Bres” is ’n deurgang of ’n oorgang deur of oor ’n hindernis – soos die klofies deur die kranse by Majuba. Die volgende was as ’n algemene beginsel aanvaar: “’n Hindernis is nie ’n hindernis as dit nie met vuur gedek word nie.” Was die kranse van Majuba deur Britse vuur gedek? Was daar dalk ook ander hindernisse vir die Boere (wat wel deur Britse vuur gedek was)? ’n Terrein sonder dekking, gedek deur vuur, is ook ’n hindernis …

“Kruinvryheid”

Baie breedweg beskou – is daar iets in die pad van jou wapen se koeëlbaan? Meer spesifiek, kan ek bo-oor die kruin voor my skiet? Daardie kruinrant van die tweede terras van Majuba …

“Voor- en agterhellingstelling”

Vir verdedigers op ’n berg of hoë grond, is dit nie gewens om op die kruinrant stelling in te neem nie, aangesien hulle vir die aanvallers van onder af teen die lug afgeëts sal uitstaan. Daarom word daar eerder voor- of agterhellingstellings ingeneem. ’n Voorhellingstelling het die voordeel dat mens die vyand van ver af kan waarneem en op die vyand vuur. Die nadeel is natuurlik dat die vyand ook die stelling van ver af kan sien en daarop vuur. ’n Agterhellingstelling het die voordeel dat mens buite sig en vuur van die vyand van onder is, maar ook nie die vyand kan sien of op die vyand kan vuur totdat hulle baie naby aan mens is nie – reeds oor die kruin gekom het nie.

“Dekking”

Dekking beskerm teen vuur en/of sig. “Dekking teen vuur” is byvoorbeeld ’n klip, waardeur die vyand nie kan skiet nie; “dekking teen sig” is byvoorbeeld lang gras, waardeur die vyand kan skiet, maar nie kan sien nie. Die Boere wat gejag het, het veldkuns prakties aangeleer – om maksimaal van dekking teen sig gebruik te maak ten einde ’n bok te kan bekruip. Gebruik van dekking was vir die Boere tweede natuur. In teenstelling het die Britte nie veel waarde aan dekking, veral dekking teen sig, geheg nie. By Laingsnek het van die Britse offisiere oop en bloot op hulle perde tydens die infanteriestormloop gery om hulle manne aan te moedig. ’n Offisier wat te veel van dekking gebruik gemaak het, kon van ’n gebrek aan dapperheid (en dus eer) verdink word.

“Stormgroep” en “vuursteungroep”

Dit is ideaal dat ’n infanterie-aanval deur beide ’n ”stormgroep” en “vuursteungroep” uitgevoer word. Die “stormgroep” “storm” op die vyand/doelwit af, terwyl die “vuursteungroep” vuursteun gee – verkieslik met ’n 90°-hoek van die kant af ten opsigte van die stormgroep se aanvalsas. Meer praktiese toeligting word later verskaf.

“Vuursteun”

“Vuursteun” kan aan die stormgroep gelewer word, deur ’n vuursteungroep vanaf ’n vuursteunbasis. Die primêre doel van vuursteun is om die “vyand se koppe laag te hou”. (Die vyand bly agter dekking, hulle tel nie hulle koppe op om te mik en, veral op die stormgroep, te vuur nie.) In die 1980’s is dit op seksievlak (10 man sterkte) deur die Ligte Masjiengeweer Groep (LMG-Groep) gedoen. So ’n vuursteungroep lewer “noue vuursteun” (skiet naby voor die stormgroep – 7 grade of vier kneukels/vuisbreedte gemik met een oog, voor die linie van die stormgroep). Die vuursteungroep skuif hulle vuur soos wat die stormgroep vorentoe beweeg – heeltyd 7 grade voor die stormgroep. Aangesien daar nie by Majuba van artillerie gebruik gemaak is nie, was alle vuursteun “direkte vuursteun” (in teenstelling met “indirekte vuursteun”). Watter rol het “vuursteun” in die Boere-aanval op Majuba gespeel?

“Een voet op die grond”

Dit is ’n algemene beginsel dat wanneer ’n militêre mag takties beweeg (d.w.s. in ’n geveg, of in ’n situasie waar ’n geveg kan plaasvind), daar “een voet op die grond” moet wees. Dit beteken dat een deel van die mag in vuurstellings moet wees en vuur, of gereed wees om te vuur, terwyl die ander deel van die mag beweeg. Op mikrovlak is dit wat gebeur wanneer twee skutters “vuur-en-beweging” doen – een vuur (voet op die grond) en een beweeg. Op bietjie groter skaal – ’n vuursteungroep is die “voet op die grond”, die stormgroep beweeg.

“Veiligheid”

“Veiligheid” in die taktiese konteks verwys na die bestuur van die risiko dat eie magte mekaar kan raakskiet. Dit is byvoorbeeld die ideaal dat die vuursteungroepe en stormgroep ’n hoek van 90° vorm. Met ’n hoek kleiner of groter as dit, kan veiligheid in gedrang kom (gevaar van eie magte wat mekaar raakskiet – “vriendelike vuur” genoem).

Dit is ongewens dat oorhoofse direkte vuursteun gelewer word (d.w.s. dat die vuursteungroep van agter die stormgroep oor hulle koppe vuursteun gee) as gevolg van veiligheid. Slegs in baie unieke terrein kan dit veilig gedoen word. Majuba is unieke terrein …

 “Wen van die vuurgeveg”

Sekerlik die belangrikste gevegsdril vir die infanterie is: “Wen eers die vuurgeveg en storm dan.” ’n Vuurgeveg is gewen wanneer die vyand se vuur nie meer effektief is nie. Dit gebeur onder andere wanneer die vyand reken eie magte se vuur is te hewig en akkuraat, dat hulle nie meer kans sien om hulle koppe bo hulle dekking te lig ten einde deur hulle visiere aan te lê en akkurate vuur te lewer nie. “Wen van die vuurgeveg” beteken dus nie noodwendig dat die kant wat die meeste verliese veroorsaak, die vuurgeveg wen nie. ’n Ervare offisier van 32 Bataljon het eenkeer aan die skrywer gesê dat hy oortuig is dat die kant wat die meeste lawaai maak, die vuurgeveg wen!

’n Vuurgeveg is dikwels nie genoegsaam om die vyand beslissend te verslaan nie. Dit is veral wanneer die vyand in goeie dekking is dat vuur vanaf ’n afstand nie genoegsaam is nie. Dit is daarom dikwels nodig dat die vyand bestorm moet word. Dit word eers gedoen nadat die vuurgeveg gewen is. Dit is nie so maklik om te bepaal wanneer die vuurgeveg gewen is nie – die plaaslike bevelvoerder in die geveg moet daar oordeel gebruik. Begin die stormloop te gou, kan dit tot verliese van eiemagte lei, begin dit te laat, kan dit daartoe lei dat die geveg nie beslissend is nie deurdat die vyand grootliks ongeskonde kan onttrek. Dit kan een van die moeilikste besluite wees wat ’n laevlak- taktiese bevelvoerder tydens ’n geveg moet neem … soos op Majuba …

“Vuur-en-beweging”

Nadat die vuurgeveg gewen is, word die vyand deur die stormgroep bestorm. In die 1980’s se SAW het “storm” vir infanteriste nie beteken dat almal op hulle voete kom en in die rigting van die vyand hardloop nie – en dalk nog soos Rambo outomaties uit die heup vuur nie. Nee, “storm” was gedoen deur middel van “vuur-en-beweging”. Die mees algemene vorm van vuur-en-beweging, was individuele vuur en beweging. Die stormgroep is in ’n linie opgestel (is langs mekaar en front na die vyand). Skutters vorm tweemanspannetjies wat self hulle vorentoe beweeg koördineer – wanneer die voorste skutter (Skutter 1) gereed is om te begin vuur, roep hy “Ja/Yes!” en begin vuur; die agterste skutter (Skutter 2) spring op en storm vorentoe totdat so omtrent 5 m voor Skutter 1 is, gaan in ’n vuurhouding, en wanneer hy gereed is om te begin vuur en “Ja/Yes!” roep, dan storm die agterste Skutter 1 weer verby.

’n Mens kry ook “onderlinge vuur-en-beweging”. Dit is waar die bevelvoerder (bv. Seksieleier) “Alpha” en “Bravo” uitroep en ’n ongelyke nommer skutters op “Alpha” en ’n gelyke nommer skutters op “Bravo!” vorentoe storm.

Let op dat so ’n stormgroep ’n frontbreedte het. In geval van ses Skutters in die stormgroep, 10 m uit mekaar, is die frontbreedte van die aanval 60 m.

Notas: Daar is al dikwels geskryf dat die Boere “vuur-en-beweging” tydens die aanval op Majuba gebruik het, maar wat dan beskryf word as “vuur-en-beweging”, is iets anders as wat hierbo toegelig is. Nêrens word daar spesifiek beskryf dat “vuur-en-beweging”, soortgelyk as hierbo verduidelik, tydens die Majuba-aanval gebruik is nie. Tog kan mens seker wees dat ’n vorm van vuur-en-beweging wel gebruik is, alhoewel meer ongekoördineerd en ongeoefend. Vuur-en-beweging by Majuba sou waarskynlik as volg daar uitgesien het: een Boer skiet ’n skoot, twee ander is in dekking besig om te laai, ’n derde beweeg vorentoe na die volgende dekking. Omdat mens verstaan hoe “vuur-en-beweging” werk, al is dit informeel, kan ons sekere afleidings maak oor die Boere se optrede tydens die Slag van Majuba.

 

“Wen van die vuurgeveg” teenoor “Charge!”

Nou eers weer die uitwys van die kontras tussen die manier van oorlogmaak van Boer en Brit, na aanleiding van wat hierbo bespreek is. In 1880/1 het die Boere en Britte se idees oor “wen van die vuurgeveg” en “storm” radikaal van mekaar verskil, beide op grond van wapentuig, maar ook as gevolg van militêre tradisie en psige.

Die Boere se wapen was die geweer – waarmee daar gevuur word. Die Boere het daarom verkies om vanuit goeie dekking die vuurgeveg te wen en so ’n einde aan die geveg te maak. Tydens die Slag van Bronkhorstspruit het die Boere nie gestorm nie – die vuurgeveg alleen was beslissend. (Nota: Die naderbeweeg te perd, soos by Bronkhorstspruit en Schuinshoogte, is nie “storm” nie. Dit is net beweeg tot op ’n afstand vanwaar ’n vuurgeveg effektief gevoer kan word.) Tydens die Slag van Laingsnek het die Boere eers gepoog om te storm nadat die Britte begin terugval het. By Schuinshoogte was daar enkele klein, onsuksesvolle pogings om te storm, maar die geveg was hoofsaaklik ’n nie-beslissende vuurgeveg. Ten spyte van hewige verliese aan Britse kant, was die vuurgeveg volgens die oordeel van die Boere-bevelvoerder nie tot so ’n mate gewen dat dit nie raadsaam sou wees om te storm nie. Uit die voorafgaande is dit is duidelik dat die Boere eintlik net wou storm nadat die vyand reeds verslaan is – dit wil sê nadat die vyand begin het om te onttrek.

Die Boere se voorkeurmanier van veg. Beweeg te perd nader tot op ’n afstand wat hulle hul gewere akkuraat kan aanwend en wen die vuurgeveg van agter dekking. “Vechtwijze der Boeren” (Skets uit: Van Majuba tot Krugersdorp. Transvaalche landscappen, Volkstypen en Portretten, 1896).

 

Die Britte het wel die waarde van vuurkrag besef, maar het dit op ’n heeltemal ander wyse as die Boere aangewend. Op 4 Julie 1879, minder as twee jaar voor die Slag van Majuba, het die Slag van Ulundi plaasgevind. Dit was die laaste en beslissende slag in die Anglo-Zulu-oorlog. Die Britte het oop en bloot (dus nie agter dekking nie) in ’n hol vierkant opgestel. Die infanteriste was vier diep – die voorste twee knielende, die agterste twee staande. Die Zulu’s het oor relatief min vuurwapens beskik en kon dit nie akkuraat aanwend nie. Die Zulu’s het in massas gestorm, en is deur massavuur gestuit. Tydens hierdie slag was volume vuur vir die Britte belangriker as akkuraatheid. Nadat die Zulu’s gestuit was, het die berede Britse lansiers die vlugtende Zulumag vernietig.[10]

Die Britse infanterie het behalwe gewere (en rewolwers vir die offisiere) ook oor bajonette (en swaarde vir die offisiere) beskik. Die Britte het gedink die toppunt van oorlogmaak, is om doodsveragtend die vyand te storm. Niks (behalwe ’n kavallerie-aanval!) kan so roemryk wees as ’n doodsveragtende bajonetstormloop nie … (Dink weer aan die Britse aanval by Laingsnek).

Die Boere se voorkeurmanier van veg was om van agter dekking die vuurgeveg te wen en eers te storm nadat die vyand reeds begin vlug het. So hoe het die Boere by Majuba geveg waar hulle moes aanval deur teen ’n berg uit te storm? Het hulle teen die berg uitgestorm?

 

“Uitbuiting”

Die stormgroep hou nie op veg wanneer hulle op die doelwit kom nie. Die stormgroep veg deur die doelwit en buit dan verder uit (d.w.s beweeg nog verder, in gevegsformasie, gereed om verder te veg). In geval van ’n klein infanterie-aanval (bv. seksievlak – 10 man in die 1980’s) word daar vir ten minste nog 300 m uitgebuit (die effektiewe aanwendingsafstand van ’n aanvalsgeweer). Die rede vir uitbuiting is om die vyand te verhoed om te herorganiseer en die doelwit weer te bedreig. Het die Boere by Majuba uitgebuit?

“Herorganisering”

Herorganisasie is die laaste fase van ’n aanval. Herorganisering behels onder andere dat verliese en die ammunisiestand en aantal krygsgevangenes (KG’s) bepaal en hanteer word. Die aanvalsmag maak gereed vir verdere optredes. Hoekom was herorganisasie by Majuba so belangrik vir die Boere?

 

Die verloop van ’n aanval

Die verloop van ’n aanval gaan nou deur middel van taktiese kaartsimbole vereenvoudig geïllustreer word. Lesers kan later, wanneer die geveg te Majuba met taktiese kaartsimbole geïllustreer word, dit vergelyk met hoe dit ooreengestem of verskil het met die teoretiese ideale manier van aanval.

Vereenvoudigde taktiese kaartsimbole. Die rooi lyn op hierdie topografiese kaart dui die verdedigingstelling van Rooimagte aan. Die gebied waarop hulle ontplooi is, is die “doelwit” vir die aanvallers (Bloumagte).

 

Die vuursteungroep van Bloumagte het nou ’n direkte vuursteunbasis geskep (aangedui met die reghoekhak). Die vuursteungroep vuur binne ’n skootsvak wat aangedui word met die blou lyne vanuit die twee hoeke van die reghoekhak. Die doelwit word dus nou met vuur gedek.

 

Bloumagte se stormgroep beweeg nie-takties (dus nie in gevegsformasie nie) soos aangedui deur die blou kronkelstreep regs en stel op vir die geveg in ’n opstelplek – dit is, kom in ’n gevegsformasie soos wat hulle gaan aanval. Die opstelplek is verkieslik buite sig en vuur van die vyand. By Majuba was die “gevegsformasie” telkens ’n uitgespreide linie, d.w.s. die manne is langs mekaar met tussenspasies. Daar was soms wel “diepte”, maar dit was bloot omdat sommige burgers meer en ander minder haastig was om bo te kom.

 

Die breë blou pyl dui aan hoe die stormgroep storm en deur die doelwit veg tot by die uitbuitingsgrens. Die breedte van die as van die pyl is die frontbreedte van die aanval. Die stormgroep kan aanvanklik stap of hardloop totdat hulle effektiewe vyandelike vuur trek en dan deur middel van “vuur-en-beweging” verder vorentoe storm. Let daarop dat die vuursteungroep hulle vuur sal skuif soos wat die stormgroep voor hulle verbyveg. In geval van geweervuur bly die vuursteun 7 grade voor die stormgroep – vuisbreedte soos met een oog gemik oor ’n gestrekte arm. “Veiligheid” is hier belangrik! By Majuba … moet lesers maar geduldig wees vir die storie om sy loop te neem!

 

Samevatting

’n Basiese militêre agtergrond sal baie help om gebeure te Majuba op 27 Februarie 1881 te interpreteer en in konteks te sien. Die Boere, alhoewel burgerlikes, het oor vaardighede beskik, veral skiet- en veldkuns, wat van hulle bekwame soldate gemaak het. Hulle was gemotiveerd om vir hulle vryheid te veg. Hulle benadering het klem geplaas op minimum verliese aan eie kant en hulle voorkeur manier van veg, was om die vuurgeveg van agter dekking te wen en, indien dit nie die geveg beslis nie, eers te storm wanneer die vuurgeveg gewen is, tot so ’n mate dat die vyand reeds besig was om te onttrek of te vlug. Die Boere het ’n “republikeinse”/demokratiese styl van bevelvoering gevolg – enige persoon kon insette lewer in beplanning. Krygsrade is gehou om breë beplanning te doen.

Die militêre terme en doktrine wat kortliks bespreek is, alhoewel nie in gebruik in 1881 nie, sal verseker dat skrywer en leser dieselfde begrip het van gebeure en beskrywing daarvan.

 

Bronne:

Barthorp, Michael. 1980. The Zulu War. Dorsit: Brandfort Press.

Butler, W.F. 1899. The life of Sir George Pomeroy-Colley K.C.S.I C.B. C.M.G. 1835-1881. Including services in Kaffraria, in China, in Ashanti, in India and in Natal. London: John Murray.

Carter, Thomas Fortescue. 1896. A narrative of the Boer War: its causes and results. New edition. London: John Macqueen.

Matthews, J.W. 1887. Incwadi Yami or Twenty year’s personal experience in South Africa. London: Sampson Low, Marston, Searle & Rivington.

“Morning Leader” Leaflets. No. 9. Mr. Chamberlain on Majuba. (From the authorized edition of his speeches). From the speech of Mr. Chamberlain at Birmingham, 7 June 1881. Leaflet Dept, “Morning Leader”, Stonecutter Street, London. In W.J. Leyds collection.

Norris-Newman, Charles L. 1882. With the Boers in the Transvaal and Orange Free State in 1880-1. London: WMH Allen and Co.

Onbekend. Bladsye uit Ons Geskiedenis. Tot nou toe Onbeskrewe of Verkeerd Beskrywe. Ons Klyntji, Deel 1, Volume 6, Augustus 1896. Paarl: D.F. du Toit en Co. Beperk, Drukkers en Uitgewers.

Supplement to the London Gazette of Tuesday, the 8th of March, Thursday, March 10, 1881, pp. 1129-1133. British Government, 1881.

Visser, G.E. 1981. Die Eerste Vryheidsoorlog: enkele aspekte m.b.t. die Britse siening van die Boere en die verskille tussen Boer en Brit. Science Militaria. South African Journal of Military Studies, 11(1).

 

[1] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 399.

[2] Genl. Colley aangehaal in Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 318.

[3] Mr. Chamberlain on Majuba. “Morning Leader” Leaflets. No. 9, p. 2.

[4] Visser, Die Eerste Vryheidsoorlog: enkele aspekte m.b.t. die Britse siening van die Boere en die verskille tussen Boer en Brit, p. 71.

[5] Matthews, Incwadi Yami or Twenty years’ personal experience in South Africa, pp. 238-9.

[6] Genl. Piet Joubert aangehaal in Carter, A narrative of the Boer war, p. 310.

[7] Genl. Colley aangehaal in Supplement to the London Gazette, March 10, 1881, p. 1131.

[8] Mr. A Aylward se verslag aan die “Express”, soos aangehaal in Norris-Newman, With the Boers in the Transvaal and Orange Free State in 1880-1, pp. 171-172.

[9] Onbekend. Bladsye uit Ons Geskiedenis. Tot nou toe onbeskrewe of verkeerd beskrywe. Ons Klyntji, Deel 1, Volume 6, Augustus 1896.

[10] Barthorp, Anglo Zulu War, pp. 156-164.