Die Boere-aanval op Majuba – Deel 5: Majuba as terreinvorm

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 4: Majuba as sleutelterrein
February 6, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 6: Die Britte beset Majuba, nag van 26-27 Februarie 1881
February 12, 2021

Christo HC Geldenhuys

Majuba is ’n alleenstaande berg suid-wes van Laingsnek. (Tegnies seker ’n “kop”, maar vir duidelikheid gaan hier na Majuba as ’n “berg” verwys word). Die hoogste punt op die kruin is ongeveer 2 099 m bo seevlak. Waar die huidige voetpad begin, is dit ongeveer 1840 m bo seevlak – die bergkruin is dus ongeveer 259 m hoër.

 

Berg met vele gesigte

“Boers invading Natal: opposite the historial Majuba.” November 1899. Wanneer mens ou foto’s vergelyk met hoe die berg vandag lyk, is dit duidelik dat daar vandag veel meer bome teen die hange van die berg en die onmiddellike omgewing groei. Verder is die berg nog dieselfde. (Foto: Nico Moolman. Geplaas op die Facebook-groep “The Anglo-Boer War (South African War)” op 10 Junie 2019)

Vergelyk hierdie foto met die 1899-weergawe. Geneem vanaf die N11 tussen O’Neil se huisie en Laingsnek. (Foto: Esmé Geldenhuys, Desember 2020)

Die Boere het Majuba ook “Spitskop” genoem. Majuba lyk soos ’n spitskop. Foto geneem vanaf die N11 naby Laingsnek. (Foto: Esmé Geldenhuys, Desember 2020)

Majuba is ’n tafelkop. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Foto geneem vanuit die Majuba-kampterrein. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

Vorm van die berg

Wanneer mens na ’n topografiese kaart van Majuba kyk, dui die kontoere duidelik aan dat die bergkruin bo driehoekvormig is. By die voet van die berg is dit meer ovaalvormig.

Driehoekvormige kruin

Ovaalvormig aan die voet van die berg

As gevolg van hierdie verandering van vorm van die berg, is dit is nie so maklik om rigtingbeskrywings van Majuba te gee nie. Die meeste Britse kaarte dui die vorm van die bergkruin nie akkuraat aan nie, en die rigtingwysing (noord) is verkeerd. Vir duidelikheid, gaan in rigtingbeskrywings van die kruinvorm meestal gebruik word.

 

Koppe met name

Wanneer ’n mens na Majuba vanuit die huidige kampterrein (dus vanuit die noordweste) kyk, is daar twee prominente koppe by die bergkruin. Die eerste is MacDonaldkoppie/MacDonalds’ Knoll (vernoem na Luitenant MacDonald), ’n uitstaande klipperige spitskoppie met baie styl kranse op die westelike bergkruin. Die Oudstryders-gedenkteken is hierop. Die tweede is Gordonkoppie/Gordons’s Knoll (vernoem na die Gordon Highlanders – eintlik die 92nd Higlanders), ’n kleiner ronde koppie net onder die noordwestelike bergkruin. Verder terug, nie sigbaar van hier af nie, is Haykoppie, vernoem na majoor Hay. Haykoppie is die hoogste punt op die berg. Dan is daar ook Matrooskoppie/Sailors’ Knoll, aan die suidekant, waar die Britte opgekom het. Hierdie name is algemeen erkende name. Die skrywer gaan egter vir nog koppe “name gee” soos wat die verhaal ontvou.

Koppe met name

 

Klowe aan die voet van die berg

Aan die voet van Majuba is daar verskeie prominente klowe. Die klowe is van belang, aangesien die Boere onder andere hierdie klowe as toegangsroetes na die berg gebruik het. Dié wat te perd na Majuba beweeg het op 27 Februarie 1881 het hulle perde in hierdie klowe gelaat en met van die klowe ’n gedeelte teen die berg op beweeg. Net vyf klowe word hier genoem.

Van die klowe aan die voet van Majuba: 1) Noordkloof, 2) Kleinkloof, 3) Breëkloof, 4) Weskloof en 5) Diepkloof

(Nota: Hierdie klowe se name is deur die skrywer toegeken om omslagtige verduidelikings uit te skakel).

Noordkloof. Daar is ’n diep kloof direk noord van die berg wat noordwaarts strek. In hierdie kloof vloei die spruit wat op die tweede terras van die berg ontspring. Aan die bopunt van die kloof is ’n krans. Hierdie is die kloof waarna Petrus Killian en luitenant Hamilton in hulle vertellings verwys. (Foto: Google Earth)

Direk wes van Noordkloof is ’n kleiner kloof waarin daar ook ’n rivierloop is. Hierdie kloof word slegs vermeld deur dit nie met ander klowe te verwar nie.

Breëkloof. Daar is ’n breë kloof op die noordwestelike hoek van Majuba wat suidooswaarts strek tot by die eerste terras (net regs van die huidige voetpad wanneer mens die berg bestyg). Hierdie is die mees opvallendste kloof vir besoekers, omdat dit so opvallend van die kampterrein is. (Foto: Google Earth)

Breëkloof, Diepkloof en Weskloof. Let op die N11 in die agtergrond waar dit oor Laingsnek gaan, en die grondpad voor in Majubanek. (Foto: Google Earth)

Weskloof. Aan die westekant van die berg is daar ’n kloof wat tot op die bergkruin strek net suid van MacDonaldkoppie. Dit is vanuit hierdie kloof wat kommandeur Romeley geskiet is. (Foto: Google Earth)

Diepkloof. Net suid van Breëkloof is daar ’n diep kloof. Hierdie is waarskynlik die kloof waarna Stephanus Roos en Hermann in hulle vertellings verwys. (Foto: Google Earth)

 

Hellings, terrasse en kruine

Vanuit die noordweste (of meer spesifiek, soos wat mens met die voetpad opstap) het die berg drie hellings en drie kruine.

Die eerste helling is van die voet van die berg tot by die eerste terras se kruinrant.

Satellietfoto van die eerste helling.

Die eerste helling – in dooie grond. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

Einde van die eerste helling – kruinrant van die eerste terras – hier is mens nie meer in dooie grond nie. (Foto: Tiaan Geldenhuys, Oktober 2018)

Satellietfoto wat die tweede en derde hellings en twee terrasse aandui.

Die eerste terras is ’n breë (tot 200 m breed) gelyk terras met kort gras. Hierdie terras is op sy breedste vir omtrent die helfte van die noordelike aansig (aan die noordwestekant). Hierdie terras word op die noordwestelike hoek van die berg deur ’n breë kloof onderbreek, maar hervat dan weer aan die westekant tot by die groot kloof net suid van MacDonald-koppie.

Die eerste terras. (Foto: Tiaan Geldenhuys, Oktober 2020)

Tweede helling met kranse – weer in dooie grond. Die tweede helling begin kort onder die kranse en lei tot ’n tweede terras se kruinrant. Die kranse vorm in effek deel van hierdie helling. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Tweede helling – let op hoe styl is dit. Kranse regs. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Tweede terras en derde helling. Die tweede terras het ook kort gras, maar is baie smaller as die eerste terras (tot 100 m breed). Aan die oorkant van die tweede terras is die derde en finale helling na die berg se kruinrant. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

 

Kranse en toegangsroetes na die kruin

Tussen die eerste en tweede terras is indrukwekkende, feitlik aaneenlopende kranse, wat oënskynlik ’n hindernis is vir ’n mag wat van onder na bo, of omgekeerd, wil beweeg. Die kranse vorm ’n baie prominente “hoek” in die noordweste en strek dan na weerskante toe. Die kranse strek langs die hele noordoostelike aansig. Aan die westekant strek dit tot by die kloof net suid van MacDonaldkoppie. Aan die suidoostelike kant van die berg hou die kranse op, maar die helling is baie styl – selfs styler as aan die noordekant.

Nêrens in primêre bronne word dit vermeld dat die Boere teen hierdie hoofkranse uitgeklim het nie. (Daar is wel by die “eerste kranse”, aan die bopunt van die noordelike kloof, uitgeklim.) Die kranse is feitlik orals ooglopend onbegaanbaar. Daar kan met sekerheid aanvaar word dat die Boere nie teen die hoofkranse opgeklim het nie, maar van klowe of hellings as toegangsroetes na die kruin gebruik gemaak het. (Hierdie klofies is dus “bresse” in die hindernis – ’n mag kan daar ’n hindernis oorsteek.)

Die kranse (hindernis) en klofies (bresse) is duidelik sigbaar van onder af (dus vir die Boere), maar is in dooie grond gesien vanaf die bergkruin (dus vir die Britte). Dit sou dus maklik wees vir die Boere om te bepaal watter toegangsroetes (klofies) hulle moes volg tussen die eerste en tweede terras, terwyl dit vir die Britte, sonder deeglike terreinverkenning, onmoontlik was om te kon voorsien waar die Boere die berg sou bestyg. Hierdie kranse en klofies gaan verder bespreek word soos wat die storie ontvou.

Tweede terras (voor) en hoofkranse (agter) vanuit die noorde gesien. Dit is op hierdie noordwestelike punt waar die kranse die “hoek” maak. (Foto: Tiaan Geldenhuys, Desember 2020)

Aan die westekant is die berg is daar slegs enkele sulke toegangsroetes, naamlik ’n smal, styl klofie ongeveer 110 m suid van die “hoek van die berg” amper regoor Gordonkoppie en dan die groot, meer geleidelike kloof suid van MacDonaldkoppie wat tot by die bergkruin strek. (Hierdie twee klowe was die toegangsroetes vir die Boere wat van die weste aangeval het.)

Kranse en klofies en die groot Weskloof aan die westekant van Majuba. (Foto: Google Earth)

Aan die noordekant is daar ’n klofie waardeur die huidige voetpad loop, ongeveer 150 m oos van die “hoek van die berg”. Vanaf hierdie klofie ooswaarts met die noordoostelike aansig, is die kranse vir ongeveer 220 m minder indrukwekkend, met enkele klein klofies, voordat die kranse weer naby die suidoostelike hoek wit en baie indrukwekkend hoog word. (Hierdie klofies was die toegangsroetes vir die Boere wat vanuit die noordooste aangeval het.) Die kranse strek om die oostelike hoek van die berg waar dit dan vervang word met ’n baie styl helling, wat wel met moeite begaanbaar is (toegangsroete vir die Boere wat van die suidoostekant aangeval het).

Kranse om Majubakruin

 

Dooie grond

“Dooie grond” is dele van die terrein wat vanaf ’n spesifieke punt nie sigbaar is nie. Vir ’n persoon wat van die bergkruin af kyk (dus soos die Britte destyds), is groot dele van die berghang in dooie grond, aangesien die kruinrante van die terrasse sig van bo af belemmer. Kyk in hierdie verband die kaart van Butler, wat met behulp van deursnitte en skakerings, dit uitbeeld. Dit beteken dat persone wat die berg vanuit die noordooste bestyg, slegs sigbaar vanaf die bergkruinrant sal wees reg aan die voet van die berg, en dan weer vir ’n stukkie op die eerste terras. Vanaf die kruinrant van die tweede terras, is daar nie dooie grond nie. Die dooie grond het dit vir die Boere moontlik gemaak om in veiligheid die eerste en tweede hellings van die berg te bestyg. Daar sal later in meer detail vertel word oor hoe die Boere die dooie grond in hulle guns benut het.

Dooie grond aangedui met die donker skakering. (Butler, tussen pp. 394 en 395)

 

Bo-op Majuba – die kruin

Vir besoekers wat die berg die eerste keer besoek (waarskynlik dus ook vir die Britte die oggend van 27 Februarie 1881) is die Majubakruin groter as wat mens verwag. Die buite-omtrek van die bergkruin is omtrent 1200 m. Die buiterand is klipperig en hoër as die middel van die bergkruin. Daar is ’n oos-wes-rif bo op die berg, vanaf MacDonnaldkoppie. Kyk die kaart van Butler wat die hoogtes aandui en ook die ligging van die rif. Die eerste deursnit (van A na B) is die mees relevantste – dit is naastenby die rigting waaroor Stefanus Roos en sy manne oor die Majubakruin geveg het.

Bo-op die bergkruin. Vir mense wat die eerste keer hier kom, is die bergkruin verbasend groot – soos vir die Britte, die oggend van 27 Februarie 1881. (Foto: Tiaan Geldenhuys, Oktober 2018)

 

Die weer

In Januarie en Februarie 1881 het dit besonder baie in Noord-Natal gereën. Verskeie bronne maak daarvan melding.[1] Ook Christiaan de Wet, waar hy van sy ondervindinge in die Vryheidsoorlog vertel, vestig gedurig die aandag op die groot reëns wat toe geval het.[2] Dit blyk egter dat dit vir ten minste twee dae (25-26 Februarie) voor die Slag van Majuba, nie daar gereën het nie.[3] Dit beteken dat die berghange nie so glad en glibberig sou wees sodat dit nie bestyg sou kon word nie (deur beide Boer en Brit). Dit beteken egter ook dat die grond klam sou wees. Koeëls wat die grond tref (misskote) sou daarom nie stofwolkies opskop sodat skuts kon sien waar hulle skiet en verstellings maak nie.

 

Samevatting en evaluering

Majuba is ’n unieke terreinvorm wat beide geleenthede en uitdagings aan ’n aanvaller (van onder af) of verdediger (van bo-af) bied. Dit is baie makliker om Majuba as terreinvorm toepaslik van onder af te waardeer, aangesien die hindernisse (kranse) en bresse (klofies deur die kranse) van onder duidelik sigbaar is; ook omdat die waarde van die dooie grond makliker begryp word deur self daardeur te beweeg. Die prominente aard van MacDonaldkoppie en Gordonkoppie is meer ooglopend wanneer van onder gesien. Van bo-op die berg vertoon Gordonkoppie egter baie klein en word die belangrikheid daarvan maklik onderskat.

Majuba bevoordeel aanvallers van onder deurdat daar groot dele is wat in dooie grond is (soos gesien vanaf die bergkruin); toegangsroetes na bo (klofies en hellings tussen die kranse) is ooglopend soos gesien van onder, maar buite sig van die bergkruin af en die twee terrasse se kruinrante vorm natuurlike vuursteunbasisse.

Soos wat die verhaal ontvou, sal daar na die impak van die terrein op gebeure verwys word en sal dit verder met foto’s toegelig word.

 

Bronne:

Emery, F. Soldiers’ letters from the First Anglo Boer War, 1880-81. Natalia, Vol. 11. The Natal Society Foundation.

Kestell, John Daniel. 1920. Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing. Johannesburg: Nasionale Pers. Beskikbaar by: https://repository.up.ac.za/handle/2263/12672

Marling, Colonel Sir Percival. 1931. Rifleman and Hussar. London: John Murry.

 

[1] Emery, Soldiers’ letters from the First Anglo Boer War, 1880-81, pp. 16-26.

[2] Kestell, Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing, p. 24.

[3] Marling, Rifleman and Hussar, pp. 53-53.