Die Boere-aanval op Majuba – Deel 4: Majuba as sleutelterrein

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 3: Historiese konteks
February 6, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 5: Majuba as terreinvorm
February 6, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

Voordat daar na Majuba as terreinvorm gekyk word, is dit nodig om Majuba te evalueer in konteks van die breër terrein, asook die militêre situasie. Dit moet deurlopend in gedagte gehou word dat dit hier vir beide Boer en Brit oor die beheer oor die padoorgang by Laingsnek gegaan het.

Majuba is deel van die Drakensbergreeks. Majuba is ’n uitstaande kop suid-wes van Laingsnek, wat met ’n nek verbind is met die hoë grond aan die westekant van Laingsnek. Dit was ooglopend dat die Boere se stellings aan weerskante van die nek van bo van Majuba af met sig gedomineer kon word, omdat dit soveel hoër is as die hoë grond aan weerskante van Laingsnek.

Was Majuba die sleutel tot die verdediging van Laingsnek (deur die Boere), of daarteenoor, die opruiming van Laingsnek (deur die Britte)?

Waaroor die Slag van Majuba eintlik oor gegaan het – beheer oor die padoorgang oor Laingsnek. Op die foto, geneem vanaf Oos-Koppie op Majuba, kan ’n mens duidelik die huidige N11 sien. Waar dit na links wegraak, is Laingsnek. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

Die Boere se persepsie

In Augustus 1886 voer generaal Piet Joubert saam met generaal Nikolaas Smit ’n onderhoud met JW Matthews, wat dit as volg rapporteer: “General Joubert at once began the conversation by telling me that for some time he had considered it dangerous to allow the English forces the chance of obtaining the key to the position, which the occupation of Majuba certainly afforded, and acting on this idea he had determined to occupy the mountain, ‘but’ he said, ‘before taking this step I was determined with the other commandants to make a thorough examination of the locality.’ ‘All came to the opinion,’ continued General Joubert, ‘that the occupation of the mountain by the English was impossible, but I thought otherwise, and after this sent up a picket of fifty men each night.’”[1]

Hermann en Pieter Joubert bevestig generaal Joubert se vertelling oor die Boerewag.

Hermann vertel:

“V/K Roos en Kom. Ferreira moes die wag op Amajuba saamstel. Die wag moes 3 dae op die berg bly, Dan word hulle afgelos deur ’n ander klomp. Die Heidelbergers onder Kom. Sarel Mare moes aan die anderkant waghou. Ek was Korporaal van die brandwag onder V/K SJ. Roos. Op 26 Februarie is my wag afgelos.”[2]

Pieter Joubert bevestig dat hy self die aand van 26 tot 27 Februarie deel van die Boerewag op Majuba was: “Weliswaar het niemand minder as genl. Frans Joubert juis die nag toe Colley deurgetrek het, die reëlings vir die uitsit van die brandwagte onder sy sorg gehad. Ek weet, want ek was een van die baie brandwagte wat dié nag diens gedoen het.”[3]

Die insiggewendste aanduider van die Boere se persepsie oor Majuba as sleutelterrein, kan egter afgelei word van generaal Joubert se reaksie die oggend van 27 Februarie 1881, toe daar besef is dat die Britte op die berg is. Sy reaksie was: “Daar is die Engelse nou op die berg en nou het ons alles verloor!”[4]

 

Generaal Colley se persepsie

In sy verslag oor die gebeure te Majuba, skryf luitenant-kolonel Stewart:

“Some days previous to the above-mentioned date (February 27) Sir George Colley informed me that he proposed to endeavour to seize and occupy Majuba Hill, upon which the right of the Boer position rested. It was not, I believe, in the first instance the General’s intention to have endeavoured to obtain possession of the hill until considerable reinforcements had reached him, but upon his return to Mount Prospect from Newcastle, the rapid strides that had been made by the Boers in throwing up entrenchments on the right flank of their position, and the continuance of these works in the same direction upon the lower slopes of the Majuba Hill during the days subsequent to his return, induced him to believe that if the hill was to be seized before it was occupied, and probably fortified, by the Boers, it must be done at once.

“I would here mention that the most careful study of the hill, so far as it could be observed from neighboring heights, had been made by the General on several occasions. The distance of the hill from the road and the extent of its table-topped crest had been estimated, whilst a cavalry reconnaissance was carried out upon February 24 to a height on the left bank of the Buffalo River, with the object both of distracting the attention of the Boers from their right flank, and also more especially with a view to observe the eastern face of the hill. From his previous knowledge of the country the General was aware that the character of the hill was somewhat similar on all sides, and full inquiries had been made by him as to the northern slopes.”[5]

Generaal Colley het dus tot die gevolgtrekking gekom dat Majuba ’n sleutelterrein was en ten einde ’n beslissende militêre oorwinning oor die Boere te behaal, die Britte Majuba moes beset.

Generaal Colley het, in die woorde van Lion Cachet, besluit om “… een stoute stap te wagen n.l. de Amajuba te beklimmen.”[6]

 

Wat was Generaal Colley van plan om te doen nadat Majuba deur die Britte beset is?

Een van die grootste onopgeloste raaisels in militêre geskiedenis, is wat generaal Colley se militêre planne was met die besetting van Majuba en daarna, aangesien hy dit met niemand bespreek het of aan enigiemand geskryf het nie. Oor wat sy plan kon wees, is al baie bespiegel. Daar gaan nie gepoog word om die raaisel hier op te los nie, maar om bloot net konteks ten opsigte van die Slag van Majuba te verskaf.

Daar gaan slegs kortliks na enkele aspekte verwys word.

Beide die laers en die meeste van die Boere se stellings, was buite effektiewe vuurafstand van gewere van bo van Majuba af. Van Majuba af kon die Boere se verdediging van Laingsnek dus nie met geweervuur geneutraliseer word nie.

Van die Boere se stellings en laers was wel binne artillerie-trefafstand vanaf die bergkruin van Majuba. Generaal Colley was van plan om artillerie bergop te neem, maar dit het geblyk nie prakties uitvoerbaar te wees nie. In daardie tyd was artillerie-vuurleiding ook nog nie sover ontwikkel dat vuurleiding van ’n waarnemer (bv. op Majuba) gebruik kon word om vir artillerie onder die berg gegee kon word nie. Artillerie is daardie tyd met visiere op die kanonne gerig.

In die lig van die voorafgaande, was die blote besetting van Majuba (sonder artillerie), nie van veel waarde anders as ’n observasiepos nie.

Die moontlikheid bestaan dat generaal Colley daarop gehoop het dat ’n Britse besetting van Majuba so intimiderend vir die Boere sou wees, dat hulle sou moed verloor en Laingsnek sou ontruim.[7]

Selfs al het generaal Colley die bogenoemde gehoop, het hy duidelik ook ’n ander plan gehad, wat binne drie dae uitgevoer sou word, soos blyk uit sy opdrag dat drie dae se rantsoene saamgeneem moes word en dat die kop vir drie dae gehou moes word. Hierdie plan sou waarskynlik die aanwending van versterkings vanaf Newcastle ingesluit het. Watter rol die Britte op Majuba in so ’n operasie sou vertolk, is egter nie duidelik nie.

Luitenant Hamilton het die volgende vertel: “The idea attributed to our General (it was never given to the troops, so no one can say for certain) was that we were to remain thus hidden about a mile from the Boer right flank, behind it and overlooking it, until a force attacked them in front when we would rush down, take them between two fires and roll them up. A very pretty plan, quite on the Hannibal lines.”[8] Dit sou egter veel moeiliker wees om bergaf as bergop te veg (later meer hieroor).

 

Was Majuba ’n sleutelterrein?

Alhoewel beide generaals Joubert en Colley Majuba as sleutelterrein beskou het, is dit onduidelik hoekom hulle dit so beskou het. Natuurlik was Majuba baie waardevol as observasiepos, maar was nie geskik as ’n opstelplek vir ’n aanval nie. Deur Majuba deur ’n Britse mag te beset, het generaal Colley inderdaad daardie mag geïsoleer en aan die Boere die geleentheid gebied om die Britse mag stuksgewys te vernietig. Generaal Colley is dan ook na die tyd skerp hieroor gekritiseer, o.a. deur generaal Bellairs.[9]

 

Langkrans en Majubanek

Laingsnek was die hoofdeurgang deur die Drakensberg vanaf Natal na die ZAR. ’n Aanval direk by die nek het misluk (Slag van Laingsnek). Sou die Britte ’n ander terrein (anders as Majuba) kon beset of benut wat dit vir die Boere moeilik of onmoontlik sou maak om Laingsnek verder te beset of te verdedig?

Wanneer mens na die terrein suid van Laingsnek kyk, is die Drakensberg aan die westekant en die Buffelsrivier wat hier ’n diep skeurvallei vorm, aan die oostekant. Die Drakensberg en die Buffelsrivier vorm hier ’n hoek na die noorde – ’n engte. Dit bevoordeel die verdediger (die Boere) wat vyandelike beweging na die noorde wil verhoed (die Britte), deurdat daar slegs beperkte deurgange is (bv. Laingsnek) en die moontlikheid van omvleueling bemoeilik as gevolg van die onbegaanbaarheid van die terrein (Drakensberg of die Buffelsrivier se skeurvallei).

Reliëfkaart wat die ligging van Majuba en Laingsnek aandui, sowel as die hindernisse wat die Drakensberg en die skeurvallei van die Buffelsrivier vorm.

 

Met generaal Colley se militêre oogmerke in gedagte gehou, naamlik om ’n beslissende oorwinning te behaal waarin sy kavallerie deurslaggewend sou wees, sou ’n beter opsie vir die Britte gewees het om die Boere in hulle stellings by Laingsnek deur middel van skynaanvalle te bind, maar dan die Boerestellings aan die westekant, via Majubanek (tussen Majuba en Langkrans) te omvleuel en ’n kavallerie-aanval op die Boerelaers te doen. Goeie verkenning sou nodig wees. So ’n omvleueling sou ondersteun kon word deur ’n observasiepos op Langkrans (wat nie deur die Boere beset was nie).

Generaal Joubert was deeglik bewus van die toegangsroete wes van Majuba oor Majubanek. Hy het tydens die slag van Schuinshoogte met ’n kommando hierdie roete gebruik om vir generaal Smit-hulle te gaan help.[10] Hy het ook die oggend van 27 Februarie 1881 aan twee burgers opdrag gegee om ’n observasiepos op Langkrans te stig om teen ’n moontlike omvleueling van die Boerestellings vroeë waarskuwing te verskaf. (Later meer hieroor.)

Majubanek, gesien vanuit die noorde. Majuba is links en Majubanek regs. Indien die Britte die Boere in hulle stellings te Laingsnek kon bind en met hulle kavallerie oor hierdie nek gekom het om die Boerelaers te gaan aanval … (Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

Alternatiewe Britse opsie: stig ’n observasiepos (OP) op Langkrans, bind die Boere in hulle stellings te Laingsnek d.m.v. skynaanvalle; omvleuel linksom deur Majubanek en vernietig die Boerelaers agter die hoë gronde d.m.v. kavallerie.

 

Skuinslugfoto wat Majuba, Majubanek, Langkrans en Nkweloberg uitwys.

 

Samevatting en evaluering

Dit lyk asof beide generaals Joubert en Colley hulle misgis het deur Majuba as sleutelterrein te beskou. Langkrans, en veral Majubanek, was egter die sleutel, veral in terme van generaal Colley se oogmerk om ’n beslissende militêre oorwinning te behaal. Ironies genoeg, was dit generaal Joubert se siening oor hoe belangrik Majuba was, wat hom vasberade gemaak het dat die Boere die Britte “daar (moet) afhaal”, wat die dryfkrag agter die Boere se optrede was.

 

Bronne:

Bellairs, B. 1885. The Transvaal War, 1880-1881. Edited by Lady Bellairs. London: William Blackwood.

Butler, W.F. 1899. The life of Sir George Pomeroy-Colley K.C.S.I C.B. C.M.G. 1835-1881. Including services in Kaffraria, in China, in Ashanti, in India and in Natal. London: John Murray.

Grobler, Jackie. 2018. Die Eerste Vryheidsoorlog. 1880-1881. Centurion: Kraal Uitgewers.

Hamilton, Ian. 1921. The soul and the body of an army. London: Edward Arnold & Co.

Hermann, H.B.K. 1981. Slag van Laingsnek en Amajuba 1881 soos opgeteken deur H.B.K. Hermann. Pretoriana. Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria. Majuba 100 jaar. 27 Febr. 1881 – 27 Febr. 1881. Nr. 81 Julie.

Lion Cachet, F. 1892. De Wortelstryd der Transvalers, verkort voor kinderen door Jonkheid. Vryheid: K. Drujjery van A. von Levetzo.

Matthews, J.W. 1887. Incwadi Yami or Twenty year’s personal experience in South Africa. London: Sampson Low, Marston, Searle & Rivington.

Pieterse, H.J.C. 1940. Volksaltare of ’n veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog. Kaapstad: Nasional Pers Beperk.

 

[1] Matthews, Incwadi Yami, p. 335. Die feit dat die kommandant-generaal nie ’n opdrag kon gee dat, wat hy as sleutelterrein beskou het, permanent beset moet word nie, getuig van sy gebrek aan gesag.

[2] Hermann, Pretoriana Majuba 100 jaar, p. 9. Roos en Ferreira en van hulle manne was dus vertroud met die terrein van Majuba. Dit sou daarom later hulle taak makliker maak om ’n aanvalsplan te formuleer en die terrein van Majuba optimaal te benut.

[3] Pieterse, Volksaltare, pp. 78-79.

[4] Hermann, Pretoriana Majuba 100 jaar, p. 10.

[5] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, pp. 361-362.

[6] Lion Cachet, De Wortelstryd der Transvalers, p. 49.

[7] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, pp. 361-362.

[8] Hamilton, The Soul and Body of an Army, p. 171.

[9] Bellairs, The Transvaal War, p. 380.

[10] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, p. 253.