Die Boere-aanval op Majuba – Deel 3: Historiese konteks

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 2: Militêre agtergrond
February 6, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 4: Majuba as sleutelterrein
February 6, 2021

Christo HC Geldenhuys

Die ZAR word geannekseer

Sir Theophilus Shepstone het die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) op 12 April 1877 geannekseer en dit tot die “Transvaal Colony” onder Britse beheer verklaar. Die meeste Boere was nie ten gunste van die anneksasie nie. Daar is gepoog om op vreedsame wyse die anneksasie ongedaan te maak. Gedurende die volgende meer as drie jaar was verskeie groot volksvergaderings gehou, deputasies was na Londen gestuur, skriftelike vertoë was gerig, samesprekings met Britse amptenare in Suid-Afrika was gevoer en ’n petisie was opgestel om Brittanje te oorreed om die anneksasie op te hef en die onafhanklikheid aan die ZAR, in ooreenstemming met die Sandrivierkonvensie, te erken. Hierdie pogings was sonder sukses. Die Britte, insluitende Sir George Pomeroy-Colley, was oortuig dat die Boere nie die moed sou hê om met die Britte militêr te bots nie. In Desember 1880 het duisende Boere by Paardekraal (vandag Krugersdorp) vergader. Oor die volgende paar dae word die Volksraad byeengeroep; die regering word opgedra aan ’n Driemanskap (Paul Kruger, Piet Joubert en MW Pretorius) met Heidelberg as die tydelike hoofstad; die Republiek se onafhanklikheid word bevestig; die Vierkleur word gehys; ’n klipstapel word gepak en ’n gelofte word voor God gedoen dat hulle getrou sal bly aan land en volk.[1]

Paul Kruger spreek die burgers te Paardekraal toe. Uitbeelding by Krugerstandbeeld, Kerkplein, Pretoria. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2018)

Die Boere was besonder swak voorbereid vir ’n oorlog. Volgens PC Joubert het die Boere oor ’n groot verskeidenheid gewere beskik, insluitende voorlaaiers en pangewere. Daar was gemiddeld slegs elf skote per man beskikbaar.[2]

Die eerste skote van die Eerste Vryheidsoorlog het op 16 Desember 1880 te Potchefstroom geklap. Generaal Cronje en sy burgers het die Britse garnisoen daar in ’n fort vasgekeer en beleër.[3]

Eerste Vryheidsoorlog-gedenkteken te Volksrust. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Eerste Vryheidsoorlog-gedenkteken te Volksrust. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

Die Boere se strategie

Die Boere se strategie in die Eerste Vryheidsoorlog was om militêre mag in die tradisie van Von Clausewitch aan te wend, naamlik om ’n politieke oogmerk daarmee te bereik – om hulle politieke vryheid te herwin. Hulle ontneem die Britte hulle militêre handelingsvryheid deur die Britse magte wat binne die ZAR is te beleër en om te verhoed dat verdere Britse magte die land inkom deur onder andere die kortste roete vanaf Durban, naamlik oor Laingsnek, te beveilig. Daardeur dwing hulle die Britte om ’n politieke oplossing vir die situasie te vind. (Die Boere het nie noodwendig al hierdie terme geken nie, maar dit was die strategie wat hulle tot uitvoer gebring het.)

Op operasionele vlak het die Boere ’n mag onder generaal Joubert na die ZAR-Natal grens gestuur om ’n Britse aanmars vanaf Durban te stuit.

 

Die Britte se strategie

Die Britte se strategie was om die ZAR vanuit Natal oor Laingsnek in te val en die Britse garnisoene wat beleër was, te ontset en om die Britse gesag in die “Tranvaal Colony” te herbevestig.

In sy verslag oor die Slag van Laingsnek, gedateer 1 Februarie 1881, skryf generaal Colley:

“I have also reported to you the measures taken to organize and concentrate a force with which to attempt the relief of the besieged garrisons of the Transvaal, and the re-establishment of Her Majesty’s authority in that province.”

Oor die roete oor Laingsnek, skryf hy:

“As my objectives were the dispersion of the Boer forces in the field, and the earliest possible relief of the garrisons of Standerton, Pretoria, and Potchefstroom, I selected the direct Standerton road for my advance, though the character, and in the defensive position it affords, this road compares unfavourably with that by Wakkerstroom.”[4]

Nota: Generaal Colley was dus deeglik bewus van die moontlikhede wat Laingsnek (op die direkte roete na Standerton) vir die Boere bied om te verdedig.

 

Slag van Bronkhorstspruit: 20 Desember 1880

’n Britse mag, onder bevel van luitenant-kolonel Anstruther, wat vanaf Lydenburg (Oos-Transvaal) na Pretoria op pad was, was deur die Boere onder bevel van kommandant Frans Joubert by Bronkhorstspruit ingewag. Die Boere was die eerste keer op ’n afstand van omtrent 400 treë (366 m) deur die Britte opgemerk. Die Boere se versoek dat die Britte nie verder moes aanmars nie, is deur kolonel Anstruther verwerp. Die Boere het te perd tot langs die Britse konvooi beweeg en vandaar van agter beperkte dekking op die Britte begin vuur. Die vuurgeveg het oor ’n afstand van ongeveer 100 tot 150 m op ’n slagveld met baie min natuurlike dekking, plaasgevind. Die Britte se vuur was oneffektief – hulle het te hoog geskiet. Dit vuurgeveg het volgens die meeste getuies minder as 15 minute geduur totdat die Britte oorgegee het. Die Boere het gevind dat die Britte se geweervisiere op 400 treë (yards) gestel was – die afstand waarop die Boere die eerste keer gesien is – en dit was nie later afgestel nadat die Boere nadergekom het nie.[5]

Boereverliese was twee dood en vyf gewond, teenoor die Britse verliese van ongeveer 71 dood, 99 gewond en 60 ongewond gevang.[6]

Dit is duidelik dat die Boere, ten spyte van verouderde wapens en min ammunisie, oor dodelike vuurkrag beskik het, spesifiek oor kort afstand en veral indien die Britte nie oor goeie dekking beskik het nie. Aan Britse kant het ’n oënskynlike klein flater, naamlik die nalaat van die offisiere om opdrag te gee dat die geweervisiere afgestel moet word, tot ’n ramp gelei.

Britse gedenkteken op die slagveld te Bronkhorstspruit. (Foto: Christo Geldenhuys, Januarie 2019)

Gedenkteken op die slagveld te Bronkhorstspruit. (Foto: Christo Geldenhuys, Januarie 2019)

Bord op die Gedenkteken op die slagveld te Bronkhorstspruit: “SLAG VAN BRONKHORSTPRUIT. Op 20 Desember 1880 het ’n Boerekommando van ongeveer 250 man onder bevel van Kmdt. Frans Joubert, ’n Britse mag van 257 man met 34 waens onder Lt. Kol. P.R. Anstruther hier verslaan. Tydens die kortstondige geveg het Lt. kol. Anstruther en 66 van sy manskappe en twee Boere gesneuwel. Nasionale Monumentekomissie, 1966.” (Foto: Christo Geldenhuys, Januarie 2019)

 

Beleëring van Britse magte

Britse magte in die ZAR was beleër in Pretoria, Potchefstroom, Standerton, Lydenburg, Wakkerstroom, Rustenburg en Marabastad (in Noord-Transvaal, nie in Pretoria nie). Die Boere wou nie onnodige verliese ly deur hulle aan te val nie – hulle het gehoop die Britte sou oorgee wanneer hulle kos op is. Verskeie skermutselings het plaasgevind wat tot die volgende verliese gelei het: Boere – dood: 17; gewond, maar herstel: 43; Britte –dood: 53, gewond maar herstel: 117.[7]

 

Britse aanmars na Laingsnek

Generaal Colley, die Britse bevelvoerder, moes besluit of hy dadelik gaan aanmars, of eers vir versterkings gaan wag. Hy het besluit om dadelik te gaan. Hy versamel sy troepemag by Newcastle en vertrek in die rigting van Laingsnek op 24 Januarie 1881 met 1 400 man, ses kanonne, twee Gatling-masjiengewere en twee vuurpylwerpers. Hy het tot by Mount Prospect aangemars en daar ’n basis ingerig.

 

Slag van Laingsnek: 28 Januarie 1881

Generaal Piet Joubert en ’n mag het Laingsnek beset. Generaal Colley het probeer om deur die Boere se stellings te Laingsnek te breek.

Die Britse artillerie het vooraf ’n artilleriebestoking gedoen. Dit was veel minder effektief as wat hulle gehoop het dit sou wees. Hulle het nie gepoog om eers die vuurgeveg te wen nie, maar het te voet en te perd die Boere se verdedigingstellings op die hoë gronde oos van Laingsnek bestorm. Die Britse kavallerie het die Boerestellings op Brownlowskop en die Britse infanterie die Boerestellings op Dean se Heuwel/Engelbrechtskop, bestorm. Die Britte is met hoë verliese teruggedryf.

Brownlowskop (regs op foto), Laingsnekslagveld gesien van die Laingsnek afdraai by die N11. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

Laingsnek, gesien vanaf die noorde (Boere se kant). Tafelkop/Enbelbrechtskop/Dean se Heuwel is hier links van die pad. (Foto: Esmé Geldenhuys, Desember 2020)

 

Tafelkop/Enbelbrechtskop/Dean se Heuwel gesien van die Laingsnek-afdraai by die N11 (gesien van die suidwestekant (Britse kant)). Let op hoeveel steiler dit van dié kant af is as van die noordekant. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

Ook in hierdie geveg was die Boere se geweervuur meer effektief as dié van die Britte. Dit is sekerlik verstaanbaar deurdat die Boere hoofsaaklik staties was en uit verdedigingstellings gevuur het, terwyl die Britte beweeg het tydens die aanvalle en nog nie tegnieke soos vuur-en-beweging of direkte vuursteun ontwikkel het nie.

Die meeste Boereverliese was deur die Britse artillerie veroorsaak, veral toe hulle van hul stellings verlaat het om die Britte te agtervolg.

Die Boere se verliese was 16 dood en 27 gewond terwyl die Britse verliese 83 man dood en 108 tot 110 gedood, en twee gevang was.[8]

Name van Boere gesneuwel tydens die geveg te Laingsnek, op die Eerste Vryheidsoorlog-gedenkteken te Volksrust. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

Slag van Schuinshoogte (deur die Britte Ingogo genoem): 8 Februarie 1881

Generaal Nicolaas Smit is met ’n mag gestuur om die Britte se logistieke roete tussen generaal Colley se kamp te Mount Prospect en Newcastle af te sny.

In ’n poging om sy logistieke roetes vanaf Newcastle te beveilig, het generaal Colley ’n mag suidwaarts gelei. By Schuinshoogte het ’n vuurgeveg met die Boeremag onder leiding van Smit plaasgevind. Albei kante het dapper geveg.

Alhoewel daar kleiner aanvalle en teenaanvalle tydens die geveg plaasgevind het, het die geveg in ’n urelange skietwedstryd ontwikkel – ’n statiese vuurgeveg waar albei kante beskikbare dekking optimaal gebruik het. Die Boere het na die amper wit helms van die Britte gemik en dié het weer na die Boere se hoede geskiet. ’n Boer steek sy hoed op ’n stok bo die rotse uit om vuur te trek terwyl ander Boere gereed lê om terug te skiet wanneer die rook van die swartkruit die posisie van die skut verraai. Die Britte het later dieselfde taktiek gevolg. Na die geveg is verskeie Britse helms met koeëlgate op die slagveld opgetel – tot vyf gate per helm. Die Boere kon akkuraat genoeg skiet om kopskote te neem …

’n Hewige donderstorm en die donkerte het ’n einde van die geveg gebring. Die Britte kon daarin slaag om die slagveld ongesiens te verlaat en terug te keer na Mount Prospect.

Verliese. Die meeste bronne skat die Britse verliese op 55-70 dood, asook ’n aantal verdrink (6-8); 53-63 gewond, een gevang. Die Boere se verliese was 10 dood, agt gewond.[9]

Verdere pogings van generaal Nicolaas Smit en andere om die aanvoer van Britse versterkings verder suidwaarts te ontwrig, was grootliks onsuksesvol en die Boere het na Laingsnek teruggekeer.

Van die Britse grafte te Schuinshoogte. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

Britse gedenkteken te Schuinshoogte. Van links na regs op die horison links van die gedenkteken: Nkweloberg, Majuba, Laingsnek. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

Name van Boere gesneuwel tydens die geveg te Schuinshoogte, op die Eerste Vryheidsoorlog-gedenkteken te Volksrust. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

 

Vredesinisiatiewe

Reeds na die Slag van Laingsnek was die moontlikheid van vrede, eerder as voortsetting van militêre optrede, in Brittanje oorweeg.

President Brand van die Vrystaat het as bemiddelaar opgetree om vrede te bewerkstellig. Hy het onder andere met Kruger, Joubert en Pretorius, sowel as met die Britte geskakel. Daar was briefwisseling tussen die Boere en Britte ten opsigte van vrede. Daar was ook verskeie telegramme tussen generaal Colley en die Britse regering gestuur.[10]

 

Britse versterkings

Die Britte het vanuit die res van die Britse Ryk, insluitende Indië, versterking na Natal gestuur. Die eerste hiervan het reeds op 25 Januarie 1881 in Durban geland. Sir Evelyn Wood en ander bekwame Britse offisiere het ook in Natal aangekom. Dit sou egter geruime tyd duur vir hierdie versterkings om vanaf Durban tot in die noorde van Natal aan te mars.[11]

’n Deel van hierdie versterkings was die ervare 92nd Higlanders. (Die Boere het sommer na hulle as “Bergskotte” verwys.) Na hulle sukses in Afganistan, op pad terug na Engeland, was hulle moreel hoog. “They … looked forward to a picnic with the Boer farmers.”[12] Churchill sê die volgende: “It was not to be dreamed of that a parcel of ragged Boers should stand against the famous soldiers of Kabul and Kandahar. They discussed beforehand the clasps which would be given upon the medal for the campaign. They were to be Laing’s Nek, Relief of Potchefstroom, and Pretoria 1881. No one had then ever heard the name of Majuba Mountain. Yet there was to be the first encounter between Highlanders and Dutchmen.”[13]

 

Generaal Colley se militêre oogmerke

Generaal Colley wou baie graag die nederlaag wat hy by Laingsnek gely het, ongedaan maak. Te midde van kommunikasie oor vrede, het hy voortgegaan met militêre beplanning en voorbereidings. Sy plan was om die Transvaal met twee kolonne binne te val, hyself in bevel van die kolon wat by Standerton die Vaalrivier sou oorsteek op pad na Pretoria en generaal Wood wat met die tweede kolon Wakkerstroom en Lydenburg sou ontset. Generaal Wood het dan ook op 19 Februarie 1881 verkenning tot by Wakkerstroom (ongeveer 30 km noordoos van Laingsnek) gedoen.[14]

Generaal Colley het sy plan in ’n brief aan generaal Wood, gedateer 4 Februarie 1881, verduidelik. Hy sluit af met: “You will also, I am sure, understand that I mean to take the Nek myself!”[15]

Generaal Colley het nie met die Britse regering se idees oor vrede met die Boere saamgestem nie. Ten spyte van, en ten tyde van die kommunikasie oor vrede, was hy vasbeslote om ’n militêre oorwinning te behaal.

Op 18 Februarie 1881 skryf hy aan sy vou:

“I don’t know if you think I have written too strongly, but I would rather resign than carry out the scheme I understand to be contemplated….. I know that by the time this reaches home I shall have broken the back of military resistance, and that my word may carry more weight than they would just now.”[16]

Op 21 Februarie 1881 het hy aan Sir Garnet Wolsley geskryf:

“I am now getting together a force with which I think could command success, but the Home Government seem so anxious to terminate the contest, that I am daily expecting to find ourselves negotiating with the ‘Triumvirate” as the acknowledged rulers of a victorious people; in which case my failure at Lang’s Nek will have inflicted a deep and permanent injury on the British name and power in South Africa which is not pleasant to contemplate.”[17]

Op 21 Februarie 1881 het hy aan sy vrou geskryf:

“Sir Evelyn is just about to start down country again and I up country. I don’t know if I shall have another fight this time, but at any rate I have a good fighting column and, what I care most for, a fair cavalry force.

“I suppose I shall vibrate between this and Mount Prospect for some time, until our forces are more concentrated. I am not inclined to make another move until I have cavalry enough to make it decisive. Whether another move will ever be made, indeed, seems to me questionable, for the Government seem so anxious to come to terms that I expect to hear of their giving in to everything the Boers demand.

“The regiments now here are certainly splendid ones, but they won’t fight more gallantly than my young soldiers did at the Nek and at Ingogo.”[18]

Ses dae voor die Slag van Majuba, te midde van vredesinisiatiewe, is generaal Colley vasberade om ’n beslissende militêre oorwinning te behaal met behulp van veral kavallerie.

 

Generaal Colley se persepsie van die Boere

Generaal Colley het deeglik kennis geneem van die voorafgaande gebeure en sy persepsie van die Boere blyk uit sy brief aan generaal Wood, gedateer 16 Februarie 1881: “I may warn you that you will find them fairly drilled and in hand, with some excellent leaders; not at all wanting in courage, either galloping boldly under fire to seize an advantageous position, or in creeping close up to our skirmishing line wherever the ground gives any chance; and very accurate shooters.” Hy sê ook: “I don’t think you will miss artillery much, they generally keep good cover or move to rapidly and in too lose order to give it much chance. I believe some of our shells killed a few horses in the valley the first day, but I doubt if any damage to speak of was inflicted by them on the men, and I fear the Boers are beginning to discover this.”[19]

In sy verslag oor die Slag van Laingsnek, het generaal Colley onder andere die volgende geskryf:

“I must do my adversaries the justice to say that they fought with great courage and determination. A good deal of the fighting was at short range 10 to 100 yards, and the Boers showed no fear of our troops but rather advanced to meet them. I have also to acknowledge the courtesy shown by some of their leaders in giving facilities for the care and removal of the wounded.”[20]

Mens sou dink generaal Colley het ’n baie realistiese persepsie van die Boere gehad. Wat bedoel hy egter met: “… the Boers showed no fear of our troops but rather advance to meet them”? Bedoel hy dat die Boere die Britte bestorm? Dalk gee hy vir die Boere te veel “krediet”, deur te dink dat die Boere soos die Britte veg. Is dit wat hy gedink het, in daardie kritieke laaste minute op Majubakruin?

 

Die Boere op die vooraand van die stryd

So hoe gereed en lus was die Boere vir oorlogmaak op die vooraand van die Slag van Majuba?

Sedert Paardekraal het die Boere drie militêre oorwinnings behaal. Dit het hulle baie selfvertroue gegee dat hulle die Britte in ’n geveg kan aanvat. Tydens hierdie gevegte het hulle ook gewere en ammunisie by die Britte gebuit. Tog was die Boere se vuurkrag einde Februarie 1881 maar nog baie beperk.

Generaal Piet Joubert skryf op 26 Februarie 1881 aan Paul Kruger. Hy is pessimisties – hy verwag om enige oomblik aangeval te word en beskik maar oor 1200 tot 1300 man om ’n lang linie te verdedig. Hy kla oor versterkings vanaf Heidelberg wat swak toegerus by hom aankom. Van die laaste veertig man wat aangekom het, was twintig sonder gewere en twaalf sonder patrone. Van die eerste versoeke wat na sy kant toe kom is: “(G)enneraal, een geweer, genraal, Patroone: genraal, schoene, broeke, combaarze, koffi, zuiker, – ens. ens.”[21]

Natuurlik was daar Boere wat nog vuur en vlam vir die stryd was, maar by sommige het dit begin knaag – oorlogsmoegheid. Die oorlog was al twee en ’n halwe maande aan die gang, die boerdery wag, drie oorwinnings is behaal maar die Britte bring maar net nog versterkings aan.

’n Swaarmoedige bevelvoerder, steeds baie beperkte vuurkrag, sommiges wat begin praat van “huis toe”… Dit was teen 26 Februarie 1881. Die volgende dag was 27 Februarie 1881 …

Die veldslae van Laingsnek, Schuinshoogte en Majuba. (Bron: Duxbury, G.R. 1980. The Battle of Majuba, 27 February 1881. Military History Journal, December 5(2). Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging. (http://samilitaryhistory.org/vol052gr.html))

 

Samevatting

Die Slag van Majuba het ’n lang aanloop gehad – ten minste vanaf 1877 toe die Britte die ZAR geannekseer het. Pogings van die Boere om die situasie vreedsaam te beredder, oor die loop van meer as drie jaar, was onsuksesvol. Majuba was die vierde en laaste groot geveg in wat vandag as die Eerste Vryheidsoorlog bekend is. Die Boere se optredes tydens die ander drie gevegte het aanduidings gegee oor hoe die Boere by Majuba sou veg. Die Britte se optrede, spesifiek dié van generaal Colley, verskaf konteks aan die Boere se aanval op Majuba.

 

Bronne:

Butler, W.F. 1899. The life of Sir George Pomeroy-Colley K.C.S.I C.B. C.M.G. 1835-1881. Including services in Kaffraria, in China, in Ashanti, in India and in Natal. London: John Murray.

Carter, Thomas Fortescue. 1896. A narrative of the Boer War: its causes and results. New edition. London: John Macqueen.

Churchill, Winston Spencer. 1900. Ian Hamilton’s march. London and Bombay: Longmans, Green and Co.

Grobler, Jackie. 2018. Die Eerste Vryheidsoorlog. 1880-1881. Centurion: Kraal Uitgewers.

Hamilton, Ian B.M. 1960. The happy warrior. A life of General Sir Ian Hamilton, GCB, GCMG, DSO. London.

Pieterse, H.J.C. 1940. Volksaltare of ’n veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog. Kaapstad: Nasional Pers Beperk.

Supplement to the London Gazette of Tuesday, March 8, Thursday, March 10, 1881, pp. 1129-1133. British Government, 1881.

Van Zyl, M.C. 1981. Majuba. Die Onafhanklikheidsoorlog van die Transvaalse Afrikaners 1880/81. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.

 

[1] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 12-44; Van Zyl, Majuba, pp. 9-31.

[2] Pieterse, Volksaltare, pp. 9-10.

[3] Van Zyl, Majuba, pp. 33-38.

[4] Genl. Colley aangehaal in Supplement to The London Gazette, 10 March 1881, p. 1129.

[5] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 46-72; Pieterse, Volksaltare, pp. 16-32; Van Zyl, Majuba, pp. 38-46.

[6] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 61; 370; 373-375.

[7] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 370-387.

[8] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 229; 372; 379-381.

[9] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 229, 262-263; 372-3.

[10] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 276-281; Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, pp. 330-348.

[11] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 239 -240.

[12] Hamilton, The happy warrior, p. 41.

[13] Churchill, Ian Hamilton’s march, p. xlviii. Ironies genoeg is daar geen medaljes of balkies toegeken aan alle Britse soldate wat aan die Eerste Vryheidsoorlog deelgeneem het nie. Dit is eintlik ’n onreg aan hulle wat so duur betaal het vir andere se flaters.  

[14] Carter, A narrative of the Boer War, p. 236; Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 341.

[15] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, pp. 295-298.

[16] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 343.

[17] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 343.

[18] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 344.

[19] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 334.

[20] Genl. Colley aangehaal in Supplement to The London Gazette, March 10, 1881, p. 1132.

[21] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, p. 288.