Die Boere-aanval op Majuba – Deel 9: Vuursteun vanaf die kruinrant van die eerste terras en ’n breë hindernis word oorgesteek

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 8: Roos en Ferreira se aanvalsplan
February 12, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 10: Verdere waarnemings deur en persepsie van die Britte van bo van Majuba af tot 11:00
February 14, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

By Majuba was die helling tot by die kruinrant van die eerste terras grootliks in dooie grond, soos gesien vanaf die bergkruin. Oor die kruinrant van die eerste terras, op die eerste terras, is dit egter nie meer dooie grond nie. Die eerste terras is lekker gelyk – mens kan maklik daaroor stap of hardloop, maar … dit word deur vyandelike vuur gedek en daar is geen dekking nie – dis ’n hindernis, ’n baie breë hindernis (tot 200 m).

Hierdie foto gee so ietwat van ’n kykie in hoe groot die eerste terras is. As hierdie besoeker (klein figuurtjie in die middel van die foto) nou van links na regs oor hierdie terras moet hardloop, onder vuur … en dan nog verder – mens sien nie eers die tweede helling van die berg aan die regterkant van die foto nie … Dit is ’n groot hindernis hierdie! (Foto: Tiaan Geldenhuys, Desember 2020)

Die eerste terras is wyd …. en daar is nie dekking nie … en dit word deur vuur gedek …

Stephanus Roos vertel:

“Ek sê toen ver myn manskap: Party moet met myn same opkruip tot agter di vollende afset of rant, en party moet hiir by di eerste afset agter bly om di Engelse terug te skiit as hulle te vêr uitkom om ver ons te belet om di vollegede rant te neem; want di Engelse skiit toen al pylskote op ons bo van di kop af. Daar kom toen ook nog gedurig enkele persone agterna, wat party agter Ferreira an gaan en party sig by myn manne voeg.”

Die verskillende kruinrante. Op hierdie foto lyk dit asof mens baie lekker agter die kruinrant dekking kan neem. ’n Mens moet mooi na hierdie foto kyk. Daar is drie kruinrante. Voor, tot in die middel van die foto, is die kruinrant van die eerste terras. Dan sien mens die helling en hoofkranse, met daaragter die kruinrant van die tweede terras. Die horison bo is die bergkruinrant. Waar die drie besoekers is, is van waar ’n deel van Stephanus Roos vuursteungroep gelê en direkte vuursteun gelewer het op die kruinrant om die 92nd Highlanders se koppe laag te hou. Foto geneem langs die huidige besoekerspaadjie. (Christo Geldenhuys, Oktober 2018)

Die realiteit van die kruinrant van die eerste terras – dit het op plekke ’n baie geleidelike ronding. Hierdie is ’n profielfoto van die kruinrant – kyk die kampterrein regs. Mens kan dus nie hier agter dekking lê, bietjie oplig, aanlê en vuur en dan weer agter die dekking insak nie. ’n Mens sal ’n klomp meter agtertoe moet skuif om in dekking te kom, en weer ’n klomp meter vorentoe om kruinvyheid te kry. Dit is nie prakties nie. Die Boere het dus in werklikheid ook staat gemaak op dekking teen sig – die gras. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Dit is wat Stephanus Roos se vuursteungroep vanaf die kruinrant van die eerste terras sou kon sien. Van voorgrond tot agtergrond: Kruinrant van die eerste terras (maklik herkenbaar aan die lyn wat die grassade vorm); kruinrant van die tweede terras; bergkruinrant – die boggeltjies v.l.n.r. is Hamiltonkoppie, Noorweskoppie en Gordonkoppie. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

“Mar van nou af had ek amper gen tyd meer gehad om om te kyle ni. Ek was maar altyd besig om myn manne an te moedig en vort te help, sodat hulle gen tyd kry om moed te verloor ni. En ons manskap was wel min, mar ons had di dapperste kerels by ons.

Di twede rant of afset beryk ons dan oek in tamelik korte tyd en sonder enige nadeel deur di pylskote wat o’er ons koppe vliig, en op di maniir later een van ons manne gedood het, naamlik Johannes Bekker, en 6 gewond het; ni van ons voorste mense ni, maar van ons agterste, sodat ons voorste manne ni eens daarvan geweet het ni. (En dis al ons verliis van di dag).”[1]

Aan die oorkant van die eerste terras, waar die tweede helling begin. Nou weer in dooie grond. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2018)

 

Ian Hamilton vertel: “From this position (“…a point less than 500 yards from the picquet” – die kruinrant van die eerste terras) they opened a most accurate fire, under cover of which small parties advanced in rushes across the open ground into the dead ground immediately below. (“..across the open ground…” : Oor die eerste terras).[2]

Stephanus Roos vertel: “Toen ons agter di tweede afset was, gaan ons ‘n bitji rus agter di krans, dat ons agterste manne kan bykom.”[3]

Nota: Stephanus Roos en sy stormgroep het teen die berg opbeweeg en het ’n bietjie in die dooie grond onder die hoofkranse gerus.

Rus ’n bietjie onder die kranse, veilig in dooie grond. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2018)

 

Majoor Fraser skryf later:

“At about 11:30 or 11:45 a.m. Hamilton of the 92nd, who were in charge of the shooting line on part of the crest, told me thay could no longer see the Boers, who had walked up out of sight. I knew what that meant, and at once told him to look out for a rush.”[4]

Nota: Fraser bevestig hier dat die Boere (of dan Roos en Ferreira se stormgroepe) in dooie grond (agter die kruinrant van die tweede terras) was.

 

Samevatting en evaluering

Roos het sy groep in ’n vuursteungroep (waarskynlik ongeveer 20 man) wat direkte vuursteun lewer vanaf die kruinrant van die eerste terras en ’n stormgroep (waarskynlik ongeveer 20 man) wat die berg verder reguit vorentoe bestyg, verdeel. Die vuursteungroep het oorhoofse vuursteun (vuur oor die koppe van die stormgroep) gelewer. Oorhoofse direkte vuursteun is gewoonlik ongewens, as gevolg van die veiligheidsrisiko wat dit inhou. In unieke terrein, soos wat mens hier by Majuba aantref, kon dit egter met groter veiligheid gedoen word.

Hierdie organisering en aanwending van Stephanus Roos se mag was in ooreenstemming met die taktiese beginsel van “een voet op die grond” – een deel van die mag was in vuurstelling en lewer vuur of is gereed om onmiddellik vuur te lewer, terwyl die ander deel van die mag beweeg.

Mens moet nie hier dink aan ’n hewige vuurtempo nie – die Boere het maar gemiddeld 30 rondtes per man gehad. Dit was stadige, akkurate vuur. Die Boere kon hier takties beter gevaar het deur die stormgroep almal gelyktydig te laat oorhardloop het, in plaas van in klein groepies. Hulle was agter bloot nie goed genoeg georganiseer daarvoor nie, aangesien daar nog deurlopend manne van agter af aangekom het.

Terwyl die Boere “the most accurate fire …” op die Britte lewer, skiet die Britte te hoog …

Dit is nie toevallig dat Roos vermeld dat hulle onder die kranse gerus het nie – na so ’n baie vinnige hardloop oor ongeveer 200 m, sou die asems maar geblaas het!

 

Bronne:

Hamilton, Ian B.M. 1960. The happy warrior. A life of General Sir Ian Hamilton, GCB, GCMG, DSO. London.

Porter, Withworth. 1889. History of the Corps of Royal Engineers. Volume 2. London: Longmans, Green and Co.

“S” (Skrywer onbekend). 1896. Die Slag van Amajuba, Ons Klyntji, Deel 1, No. 1. Maart. Paarl: D.F. du Toit en Co. Beperk, Drukkers en Uitgewers.

 

[1] Stephanus Roos in Ons Klyntji, p. 12.

[2] Hamilton, The happy warrior, p. 42.

[3] Stephanus Roos in Ons Klyntji, p. 12.

[4] Porter, History of the Corps of Royal Engineers, p. 39.