Die Boere-aanval op Majuba – Deel 8: Roos en Ferreira se aanvalsplan

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 7: Reaksie van die Boere op die Britse besetting van Majuba – Sondagoggend, 27 Februarie 1881
February 12, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 9: Vuursteun vanaf die kruinrant van die eerste terras en ’n breë hindernis word oorgesteek
February 14, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

Die verhaal vervat met die Boere in ’n kloof aan die voet van Majuba – ongeorganiseerd, sonder ’n plan en sonder ’n oorhoofse bevelvoerder.

Stephanus Roos vertel verder:

“Toen ons omtrent tussen 40 en 50 man by makaar was, kyk ons hoeveul krygsoffisire daar was. Toen was dit net Kommadant Joagim Ferreira, van Nuwe Skotland, en ek; en ek was mar assistent-veldkornet. Ek sê toen ver hulle: Ek voel an myn hart dat ons di kop moet neem; want as ons di kop ni dadelik neem ni, en ons gé di Engelse tyd om ver hulle te versterk, dan is ons verlore. Hulle sê, hulle denk oek so.

“Toen sê ek ver hulle: Mar hiir moet ons met makaar ’n verbond maak om di kop te neem of om almal te val. Want as ons ‘n aanval maak, en di kop ni neem ni, sal Generaal Joubert baing kwaad wees ver Ferreira en ver my, dat ons teen syn orders di kop bestorm bet, (want syn order was om ni di kop te bestorm ni). Hulle sê toen almal: Dis goed; hulle sal my volg en ons sal same di kop neem, of almal same val. Ek sê toen ver hulle: Onse God sal ver ons help, en ons sal di kop neem; want ons kan ni anders ni.”[1]

Nota: Dit is nie duidelik hoekom Stephanus Roos hier verklaar dat generaal Joubert opdrag gegee het dat Majuba nie bestorm moet word nie – alle ander getuienis dui daarop dat hy wel opdrag gegee het dat Majuba aangeval moes word.

Roos gaan verder:

“Ek sê toen verder ver hulle: Ek siin net mar een plan om di kop te neem. Ons moet ver ons in 2 klompe verdeel. Di een klomp moet reg teen di kop opklim, van di een afset na di ander; en di ander klomp moet ’n koppi neem wat eenkant van di groot kop uitsteek. Dan kan ons perbeer om o’er en weer skuins makaar los te skiit en so al hoger op te klim. Ek vra toen ver Ferreira watter van di twe klompe hy wil anvoer. Hy se hy sal di koppi neem.

“Ons deel toe di manskap, soveul molik vrywillig, tussen ons 2; hulle was toen angegroei tot sussen 70 en 80 man, vollens myn skatting.”[2]

Watter “koppi’ (enkelvoud) is hier ter sprake? Die beskrywing pas MacDonalkoppie die beste.

“… di ander klomp moet ’n koppi neem wat eenkant van di groot kop uitsteek.” (Roos). Dis MacDonaldkoppie. Foto geneem aan die begin van die huidige besoekersvoetpaadjie. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Tog verwys Roos later na Gordonkoppie as die koppie wat kommandant Ferreira moet neem.

Kommandant Ferreira bevestig die plan, maar klaar ook die vraag oor die koppie op:

“Veldcornet Roos en ik gingen bij de middelste bank van elkander. Ik had de kopjes te bestormen, terwijl Roos met zijne manschappen regt voor zich uit zou opklauteren, want het was zeer steil. Wij deden volgens afspraak.”[3]

Meervoud: “kopjes”! Daar kan min twyfel bestaan dat die plan was dat kommandant Ferreira beide Gordon- en MacDonalkoppies moes aanval.

“Ik had de kopjes te bestormen,” – Ferreira. Dis MacDonald- en Gordonkoppies! Foto geneem aan die begin van die huidige besoekersvoetpaadjie. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

“ … terwijl Roos met zijne manschappen regt voor zich uit zou opklauteren, want het was zeer steil.” – Ferreira. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

Samevatting en evaluering

Vir die eerste keer, met die Boere reeds ’n ent op teen die berg, was beplanning gedoen oor hoe Majuba aangeval moes word en word die aanvalsmag georganiseer.

Hierdie plan van Roos het voorsiening gemaak vir twee groepe wat uit twee verskillende kante sou aanval – met ’n hoek van amper 90 grade – en wat afwisselende as storm- en vuursteungroepe opgetree het deur “… mekaar los te skiet …”

Die Boere het die dooie grond, wat die grootste deel van die eerste terras en die helling na die tweede terras insluit, optimaal benut. Die unieke terrein, spesifiek die dooie grond wat die terrein bied, het aan die Boere die tyd en geleentheid gebied om in veiligheid te beplan en te organiseer.

Hierdie was die begin van een van die mees merkwaardigste taktiese beplanning en benutting van die terrein, vir daardie tyd. Waar die Boere-aanval op chaotiese wyse begin het, was daar nou, vir ten minste die eerste fase van die aanval op die noordwestelike deel van die berg, ’n plan, organisering en beheer.

 

Bronne:

“S” (Skrywer onbekend). 1896. Die Slag van Amajuba, Ons Klyntji, Deel 1, No. 1. Maart. Paarl: D.F. du Toit en Co. Beperk, Drukkers en Uitgewers.

Weilbach, Kommandant J.D. en Du Plessis, C.N.J. 1882. Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog. Kaapstad: Saul Solomon & Co.

 

[1] Roos, Ons Klyntji, p. 12.

[2] Roos, Ons Klyntji, p. 12.

[3] Weilbach & Du Plessis, Geschiedenis van de Emigranted-Boeren en van den Vrijheids-oorlog, p. 268.