Die Boere-aanval op Majuba – Deel 6: Die Britte beset Majuba, nag van 26-27 Februarie 1881

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 5: Majuba as terreinvorm
February 6, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 7: Reaksie van die Boere op die Britse besetting van Majuba – Sondagoggend, 27 Februarie 1881
February 12, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

Die Boere was nie op die berg nie

Daar was veronderstel om, in ooreenstemming met generaal Joubert se opdrag, ’n Boerewag van 50 man die nag van 26-27 Februarie 1881 op Majuba te wees. Daardie nag was daar egter nie Boere op Majuba nie …

Generaal Joubert was heel filosofies daaroor. Hy stel dit dat hy elke nag ’n wag van 50 man na Majuba gestuur het. “This was commenced on the Thursday night (Feb. 24th) preceding the eventful Sunday on which Majuba was fought, but by a remarkable act of Providence, the picket, which was told off for duty on Saturday night, being composed of burghers newly arrived from Pretoria, lost the path up the mountain and spent the night encamped midway.”[1]

Christiaan de Wet moes hom egter self duidelik beteuel: “Strenge orders is daar deur generaal Joubert gegee dat daar elke nag ’n brandwag moes uitgaan op die berg, maar op Saterdagaand, 26 Februarie, was die brandwag ontrou, en het maar ’n klein entjie die berg uitgeklim.”[2]

Die laksheid van die Boere ten opsigte van die bewaking van Majuba was waarskynlik te wyte aan die oortuiging van hulle dat die Britte nie die berg sou kon beset nie. Dit is werklik moeilik om te verstaan hoe die Boere hulle so kon misgis. Het hulle moontlik van bo van die berg af, van waar hulle nie die kranse en klofies deur die kranse kon waarneem nie, besluit die berg is vanuit die suide vir die Britte onbegaanbaar? Mens kan maar net wonder hoe die Boere die ooglopende, ook van die bergkruin af sigbaar, kloof aan die westekant, net suid van MacDonaldkoppie (Weskloof), kon ignoreer.

Hoe ook al, die nag van 26 tot 27 Februarie was daar geen Boere bo-op Majuba nie.

 

Die Britte beset die berg

In die nag van 26 tot 27 Februarie 1881 vertrek die Britte onder die persoonlike bevel van generaal Colley, vanaf hul basis te Mount Prospect na Majuba met ’n roete wat omtrent 8 km ver is.

Majoor Fraser beskryf die samestelling van die Britse mag:

“Order were issued at 8 p.m. for the following to parade at 9:30 pm, Viz.:-

3 companies 92nd Highlanders (Major Hay and 180 rifles)

2 companies 3-60th (Captain Smith and 140 rifles)

2 companies 58th (Captain Morris and 170 rifles)

Naval Brigade (commander Romilly and 64 rifles)

The whole was ordered to have greatcoats, waterproof sheets, 3 days’ rations, and 6 picks and 4 shovels per company.”[3]

Die roete wat die Britte gevolg het, gaan via die noordoostelike uitloper van Nkweloberg (ook Imkwela of Imguela genoem). Die twee kompanies 3-60th Rifles, die Husare, al die perde en ekstra ammunisie was daar teen die noordelike hang van Nkweloberg agtergelaat en die twee kanonne was na die kamp te Mount Prospect teruggestuur. Een kompanie van die 92nd Higlanders was op die nek tussen Nkwelo en Majuba agtergelaat (net bo O’Neil se huisie).[4]

Panorama van Majuba (links) en Nkweloberg (regs). In die nag van 26 tot 27 Februarie 1881 volg die Britte ’n roete vanaf die uitloper van Nkweloberg, tot by Majuba (dus van regs na links op hierdie foto). (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

O’Neil se huisie met die uitloper agter dit. Die sonverligte geronde horison regs agter is Majuba. Een kompanie van die 92nd Highlanders word agter O’Neil se huisie gelaat en die res van die Britse mag mars verder aan na Majuba, al met die nek langs (dus van links na regs op die foto). (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Oor hoeveel Britte uiteindelik bo-op Majuba was, is nie absolute sekerheid nie. Volgens Majoor Fraser se getalle was daar omtrent 354 “rifles” (manskappe) plus offisiere en mediese personeel. Hamilton het later verklaar dat daar 365 man op Majuba was.[5] Miskien is die volgende getal deur Hamilton verskaf, dalk die mees toepaslikste: “The whole 370 or whatever their number …”[6]

Die Britte beklim Majuba op die suidwestelike hoek van die berg. Die Britse magte het die kruin vanaf 03:30 tot 04:30 op Sondagmôre, 27 Februarie 1881 bereik. Een kompanie van die 92nd Highlander Regiment het die noordelike en noordoostelike kruin beset (vanaf MacDonaldkoppie tot amper by Haykoppie); een kompanie van die 58th Regiment beset die suidoostelike deel en die Vlootsoldate die westelike bergkruin suid van MacDonadlkoppie. In die laagte/pannetjie agter die rif bo-op Majubakruin was ’n reserwe gehou, wat bestaan het uit een kompanie 92nd, een kompanie 58th en ’n klein reserwe van die Naval Brigade.[7]

Nkweloberg (regs agter), Matrooskoppie/Sailors knoll (ronde koppie in die middel van die foto) en die suidelike kruinrand van Majuba (voorgrond). Die Britte bestyg die berg regs, soos gesien op hierdie foto. (Foto: Esmé Geldenhuys, Oktober 2018)

Die ontplooiing van die Britte op Majubakruin, volgens Butler. “Bluejackets” verwys na die Vlootbrigade.

Dokter Mahon skryf oor die hospitaal (in dieselfde pannetjie as die reserwe): “Surgeon Landon and myself then chose a position for the hospital, near the center of the plateau, behind a ridge of rocks, and calculated to be out of the enemy’s fire. A well was immediately dug near the spot and water was obtained at the depth of three feet.”[8]

Slegs ’n paar man was op Gordonkoppie geplaas – volgens Spiers slegs vyf of ses Highlanders.[9] Gordonkoppie is ’n bietjie laer geleë as die res van die bergkruin en was deur die Britte as te ver van die res van die ontplooiing geag. Hulle het nie die vorm van die berg, spesifiek die terrasse wat dooie grond vorm, geken nie. Aangesien Gordonkoppie bietjie meer noord as die res van die ontplooiing is, het mens van hier af sig oor dooie grond onsigbaar vanaf die bergkruin self.

MacDonaldkoppie se waarde was wel ingesien: “… on the opposite face of the Majuba there was just such another conical hill, jutting up like a pinnacle above the level of the mountain summit. This offered a point of vantage for a party of our men and was occupied; like a turret at the angle of a fort, it gave us the advantage of a crossfire on the avenues of approach.”[10] Volgens Spiers was Tweede Luitenant Hector MacDonald van die 92nd daar geplaas.[11]

 

“A thin red line”

Een kompanie van die 92nd Highlanders (dus omtrent 60 man), was getaak om ’n baie lang front te dek. Praat van ’n “thin red line”! Dit beteken noodwendig dat soldate nie oor die hele front versprei was nie. Hamilton verwys na ’n “picket” wat hy met sy 18 man geskep het: “Hamilton was in command of an advance picquet outside the saucer on the east side of the hill. By the time he had disposed his men and made them collect stones to form some kind of cover it was broad daylight, and on the plain we could see the Boers streaming from their trenches back to their laagers.”[12]

’n Offisier van die 92nd Highlanders. Let op die khakikleurige baadjie. (Foto: A. May 1980. Gepubliseer as “Commemorative illustrations – South African Military History Society – Journal 1981”.)

 

’n Sersant van die 58th Regiment. Let op die rooi baadjie! (Foto: A. May 1980. Gepubliseer as “Commemorative illustrations – South African Military History Society – Journal 1981”.)

 

Die Britte berei nie oorwoë verdedigingstellings voor nie

Behalwe vir die Vlootsoldate wat enkele skanse gebou het, was daar slegs ’n paar klippe op mekaar gestapel as skanse (soos hierbo deur Hamilton beskryf), of ’n paar sooie op mekaar geplaas as dekking teen vuur. Majoor Fraser skryf: “The General thought the troops were too exhausted for any systematic entrenchment, but the extended men made cover of stones and turf, &c, and two wells were dug as shown”.[13]

’n Lid van die Vlootbrigade. Let op die blou baadjie. (A. May 1980. Gepubliseer as “Commemorative illustrations – South African Military History Society – Journal 1981”.)

Carter vertel: “It has been stated somewhere that the General thought the troops were too exhausted for any systematic entrenchment.’ Well, the General was all over the field, visiting every point constantly, and I cannot believe that Sir George Colley, seeing the men engaged in entrenching themselves without ‘system,’ would hold such an opinion for more than three seconds. If I were to give my impression candidly, I would say that every staff officer on the Majuba felt certain the Boers would never face the hill, entrenchments or no entrenchments on the summit, as long as the British soldier was there.”[14]

 

Die Britte op die berg was vol bravade

Carter beskryf dit so: “The Boers were going to do nothing but run today; and I believe there were more than myself who pitied the miserable fate in store for them, to be accomplished in a few hours.”[15] En verder: “The idea of the enemy creeping from terrace to terrace, or up the gullies, and reaching the crest, occurred to no one.”[16]

Hamilton beskryf dit so: “… when the day broke in the morning of 27th February, 1881, the handful of British soldiers and sailors who had climbed the precipitous flanks of Majuba Hill were greatly and justly elated. The key to the enemy’s position was holding their hands just as firmly as if they had surprised the citadel of a besieged city. From the lofty summit towards which during the whole night they had been climbing they now look down upon the Boer laagers from the rear and it was plain for everyone that the enemy had been out-maneuvered. All that remain was for the main force at mount Prospect to advance and ‘make good.’”[17]

Geen poging word aangewend om hulle teenwoordigheid geheim te hou nie.

Carter: “The Highlanders stood watching, and pointing at the camp below them, shook their fists in exultation, and laugh ingly challenged the enemy, ‘Come up here, you beggar!’ The Boers could not hear the challenge, but, as subsequent events proved, they did ‘come up here.’”[18]

Die Britte het vanaf Majuba ’n dominerende uitsig oor die Boerestellings gehad. Met so ’n dominerende uitsig oor jou vyand is dit geen wonder dat die Britte so vol bravade was nie: ‘Come up here, you beggar!’ (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

Teen omtrent 05:30 vuur die Britte (waarskynlik luitenant Lucy) die eerste skoot van die geveg – op ’n Boerepatrollie aan die voet van die berg.[19]

Fraser gee die tyd wanneer die skoot gevuur was as “… at about 5:45 A.M.”[20]

Nie Boer of Brit het dit toe besef nie, maar die initiatief het oorgegaan van die Britte na die Boere…

Majoor Fraser se kaart. Saam met sy verslag oor die Slag van Majuba, het majoor Fraser ook ’n kaart aangeheg. Die kaart is ook saam met ’n artikel in die Illustrated Londen News gepubliseer. Dit blyk ook dat van die ander Britse offisiere hulle vertellings op hierdie kaart gebaseer het. Alhoewel hierdie kaart waardevolle inligting bevat, is dit ook in sekere opsigte onakkuraat. Indien mens in ag neem dat die drie koppies op/by Majuba (links op die kaart) omtrent in ’n reguit noord-suid-lyn lê, wys die noordpyl op die kaart eintlik oos. Rigtingaanduidings deur die Britse vertellers moet met omsigtigheid oorweeg word.

 

Samevatting

Daar was die nag van 26 tot 27 Februarie 1881 nie ’n Boerewag op Majuba soos generaal Joubert opdrag gee het nie. Die Britte het die kop ongesiens gedurende die nag beset. Die bergkruinrand was ’n baie lang front om met die beperkte getal manne te dek. Daar is ’n sterk reserwe in die pannetjie agter die rif bo-op Majuba gehou. Die Britte was vol bravade op die bergkruin. Hulle het nie oorwoë verdedigingstellings voorberei nie en het hulle teenwoordigheid voortydig aan die Boere laat blyk – daardeur het hulle die inisiatief verloor.

 

Bronne:

British Government Publication. The London Gazette.  TSO (The Stationery Office) under the superintendence of Her Majesty’s Stationery Office (HMSO), part of The National Archives.  (Datum van publikasie soos in die voetnota aangedui.)

Carter, Thomas Fortescue. 1896. A narrative of the Boer War: its causes and results. New edition. London: John Macqueen.

Cromb, James. 1891. The Majuba disaster. A story of Higland heroism told by officers of the 92nd Regiment. London.

Hamilton, Ian. 1921. The soul and the body of an army. London: Edward Arnold & Co.

Hamilton, Ian B.M. 1960. The happy warrior. A life of General Sir Ian Hamilton, GCB, GCMG, DSO. London.

Kestell, John Daniel. 1920. Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing. Johannesburg: Nasionale Pers. Beskikbaar by: https://repository.up.ac.za/handle/2263/12672

Matthews, J.W. 1887. Incwadi Yami or Twenty year’s personal experience in South Africa. London: Sampson Low, Marston, Searle & Rivington.

Norris-Newman, Charles L. 1882. With the Boers in the Transvaal and Orange Free State in 1880-1. London: WMH Allen and Co.

Spiers, Edward M. 2004. The Victorian soldiers in Africa. Manchester University Press.

 

[1] Genl. Piet Joubert aangehaal in Matthews, Incwadi Yami, p. 335.

[2] Kestell, Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing, p. 26.

[3] Fraser in The London Gazette, May 8, 1881, p. 2106.

[4] Cromb, The Majuba disaster, pp. 10-11; Norris-Newman, With the Boers in the Transvaal and Orange Free State in 1880-1, pp. 200-201.

[5] Hamilton, The happy warrior, p. 41.

[6] Hamilton, The soul and body of an army, p. 150.

[7] Fraser in The London Gazette, May 3, 1881, p. 2106.

[8] Mahon, The London Gazette, May 3, 1881, p. 2106.

[9] Spiers, The Victorian soldier in Africa, p. 69.

[10] Carter, A narrative of the Boer War, p. 261.

[11] Spiers, The Victorian soldier in Africa, p. 70.

[12] Hamilton, The happy warrior, p. 42.

[13] Fraser in The London Gazette, May 3, 1881, p. 2106.

[14] Carter, A narrative of the Boer War, p. 264.

[15] Carter, A narrative of the Boer War, p. 259.

[16] Carter, A narrative of the Boer War, p. 261.

[17] Hamilton, The soul and body of an army, p. 150.

[18] Carter, A narrative of the Boer War, p. 262.

[19] Cromb, The Majuba disaster, p. 14; Carter, A narrative of the Boer War, p. 265.

[20] Fraser in The London Gazette, May 3, 1881, p. 2106.