Die Boere-aanval op Majuba – Deel 20: Slot

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 19: Direkte gevolge van die Slag van Majuba
February 16, 2021
Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 4
March 2, 2021

Christo HC Geldenhuys

Die Boere-aanval op Majuba was suksesvol, as gevolg van die redes wat hieronder genoem en kortliks bespreek sal word. Hierdie redes moet geïntegreerd met mekaar beskou word, omdat dit so ’n nou verband met mekaar het.

Die rede vir die Boere se opneem van die wapen in 1880-1, wat die aanval op Majuba ingesluit het, was ’n versugting na vryheid. Dit was ’n veel sterker motiveerder as die Britte wat eerstens ter wille van roem en eer geveg het.

Die Boere se benadering van “minimum verliese” en “wen van die vuurgeveg van agter dekking”, kon en is effektief by Majuba toegepas. Veral die Boere, ervare jagters, se benutting van dekking teen sig (die lae grassies op Majuba), was grootliks bydraend daartoe.

Die Boere se unieke, onmilitêre styl van bevelvoering, wat swak of geen vooraf beplanning ingesluit het, kon by omstandighede aangepas word. Die “Republikeinse gees” wat onder die Boere geheers het, het daartoe gelei dat die Boere nie afhanklik was van die leiding van bevelvoerders nie, maar, in ’n sin, elkeen sy eie generaal was. In ligter luim kan ’n mens dit stel dat die Britte nie teen ’n klomp plaas- of dorpsjapies geveg het nie, maar teen honderde generaals! Dit was veral junior offisiere soos veldkornette Stephanus Roos en Christiaan de Wet wat leiding geneem het in die afwesigheid van ’n oorhoofse bevelvoerder en vooraf beplanning. Ironies genoeg het dit ook swak gevegsdissipline ingesluit, toe laervlak-bevelvoerders ’n direkte bevel van generaal Smit, wat laat in die geveg gegee is, om die aanval af te gelas, verontagsaam het en die aanval suksesvol deurgevoer het. Die aspekte hierbo genoem is totaal strydig met “die boek”/konvensionele militêre denke, maar daardie dag, by Majuba, het dit vir die Boere gewerk.

Die fisiese indruk wat Majubaberg skep, het generaal Joubert (verkeerdelik) oortuig dat dit sleutelterrein ten opsigte van die beveiliging van die padoorgang by Laingsnek was. Dit het hom vasberade gemaak dat die Britte “daar af(ge)haal” moes word.

Die Boere kon hulle aanvanklike skok en gepaardgaande verwarring, met die ontdekking dat die Britte op Majuba is, oorkom. Dit word miskien die beste geïllustreer deur generaal Joubert se oorgang van “Daar is die Engelse nou op die berg en nou is alles verlore!” tot “Julle moet hulle daar gaan afhaal!” Toe die Britte hulle posisie op Majuba verraai en van die Boere besluit het dat hulle “moet ’n berg gaan uitklim” (Stephanus Roos), het die inisiatief na die Boere oorgegaan en hulle het die inisiatief tot aan die einde van die geveg behou.

Bepaling en handhawing van die doel.  Hierdie beginsel van oorlogvoering is op eiesoortige wyse deur die Boere toegepas.  Die Boere het hulle doel vaag omkryf.  So byvoorbeeld het generaal Joubert gesê:  “Julle gaan en haal hulle daar af.” Stephanus Roos het weer gesê:  “Ons moet die berg gaan uitklim!”  Christiaan de Wet weer:  “Ons moet vorentoe as ons iets wil doen!” Alhoewel hulle dit nie so duidelik in woorde uitgedruk het nie, het hierdie Boere wat Majuba bestyg het, geweet wat hulle wou gaan doen … en hulle het dit gedoen …[1]

Ironies genoeg het die terrein die Boere in vele opsigte bevoordeel, al was dit op die oog af, a.g.v. die Britte se oënskynlike dominante posisie bo-op die berg, nie die geval nie. Klowe aan die voet van die berg het toegangsgroetes en wegsteekplekke vir die perde gebied. Die “dooie grond” het dit vir die Boere moontlik gemaak om groot dele van Majuba in veiligheid te bestyg en het ook veiligheid geskep sodat die Boere tydens die geveg kon beplan, organiseer en koördineer. Die indrukwekkende hoë kranse van Majuba was nie vir die Boere ’n wesenlike hindernis nie, aangesien dit, en die kruinronding bo die kranse, nie deur Britse vuur gedek was nie (dit was in “dooie grond”).

Die Boere se taktiese benutting van terrein en vuurkrag. Veral Roos en Ferreira se groepe wat afwisselend as vuursteun- en stormgroepe opgetree het (“mekaar los te skit” – Roos), was indrukwekkend. So ook Roos se aanwending van sy groep in beide ’n vuursteun- en stormgroep. Die belangrikste hindernisse vir die Boere, naamlik die eerste en tweede terrasse wat geen of min dekking gehad het en grootliks deur Britse vuur gedek was, kon oorkom word deur die benutting van vuursteun. Die kruinrante van die eerste en tweede terrasse het natuurlike vuursteunbasisse gebied. Die uniekheid van die terrein het oorhoofse direkte vuursteun moontlik gemaak, binne redelike veiligheidsrisiko’s. Die besetting en daarna die benutting as vuursteunbasis van Gordonkoppie, was moontlik deurslaggewend in die aanval.

Een van die beginsels van die aanval is: “Behoud van momentum”. Die Boere het aanvanklik vir ure lank gesukkel om momentum in die aanval te kry. Die verowering van Gordonkoppie het egter daardie momentum verskaf. Toe momentum eers verkry is, is dit behou en het die intensiteit van die geveg dramaties en tot voordeel van die Boere verhoog. Dinge het daarna vinnig gebeur – verowering van die bergkruinrant, wen van die vuurgeveg met die Britse reserwe en die finale vuurgeveg op Majubakruin.

Die groot kontras tussen die akkuraatheid en effektiwiteit van Boere- teenoor Britse vuur. Die Boere het effektiewe vuursteun gelewer en die vuurgevegte gewen. Tot so ’n mate dat die finale geveg op die bergkruin self, deur ’n vuurgeveg alleen beslis was – dit was nie vir die Boere nodig om te storm nie. Die Boere, as “een-skoot-doodskoot-jagters oor kort afstand”, was dodelike skuts in die geveg. Die Boere het baie raak geskiet en baie van die misskote was amper raak. Oor langer afstande was die vuursteun steeds effektief wat die Britte se koppe laag gehou het. Daarteenoor het die Britte deurlopend te hoog, en met uitsondering van slegs ses skote, mis geskiet.

Die Britte het flaters begaan. Soos reeds aan die begin genoem, is dié aspekte reeds deur ander skrywers bespreek en nie in hierdie reeks herhaal nie.

Die Boere se verliese was twee dood (een aan die hand van “vriendelike vuur”) en vyf gewond; die Britte 92 dood en 134 gewond. Ten spyte van alles wat mens waargeneem en beredeneer het, lyk dit steeds nie moontlik dat so iets kon gebeur het nie. Mens kan nie help om onvergenoegd te voel in die soeke na antwoorde en verklarings nie …

Miskien soek ons verkeerd – lê die antwoord nie in die benadering tot oorlogmaak, wen van die vuurgeveg van agter dekking, taktiese benutting van die terrein en aanwending van vuurkrag nie, ook nie in kruinrante en dooie grond, kranse en klofies nie; ook nie in die stel van geweervisiere en koeëltrajekte nie …

As ons regtig wil weet hoe dit wat by Majuba op 27 Februarie 1881 gebeur het moontlik was, moet ons vir oulaas luister na een van hulle wat daar was en een van die héél voorstes – Stephanus Roos:

“Ons liwe Here moet ver ons bewaar hê.”[2]

 

Bronne:

Hermann, H.B.K. 1981. Slag van Laingsnek en Amajuba 1881 soos opgeteken deur H.B.K. Hermann. Pretoriana. Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria. Majuba 100 jaar. 27 Febr. 1881 – 27 Febr. 1881. Nr. 81 Julie.

Kestell, John Daniel. 1920. Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing. Johannesburg: Nasionale Pers. Beskikbaar by: https://repository.up.ac.za/handle/2263/12672

Roberts, Deon B.S. 1959. Die rapportryer van Majuba. Historia Junior, Desember. Beskikbaar by: https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/?p=13117

“S” (Skrywer onbekend). 1896. Die Slag van Amajuba, Ons Klyntji, Deel 1, No. 1. Maart. Paarl: D.F. du Toit en Co. Beperk, Drukkers en Uitgewers.

 

“AMAJUBA VEGTERS. ’n Groepfoto van sittende en staande figure waarskynlik geneem voor die agterkant van die huisie van O’Neil waar die onderhandelinge tussen die Boere en Engelse plaasgevind het. Datum van foto is onbekend en die figure ongeïdentifiseerd.” (Foto: Pretoriana, Majuba 100 jaar, p. 31)

Name en gesigte het in die vergetelheid van die verlede verdof geraak … maar nie wat hulle gedoen het nie!

 

Naskrif

Dit is goed en wel om van die Boere-aanval op Majuba te lees en foto’s te kyk, maar dit is eintlik maar net ’n lusmaker. Mens kan nie met foto’s en woorde vasvang wat mens eintlik self moet sien en beleef nie. Mens moet Majuba self gaan uitklim …

Party mense probeer Majuba uitklim, maar kom dan nie tot bo nie. Dis ’n hartseersaak. Ek neem vrymoedigheid om ’n wenk te gee aan dié, wat soos die skrywer, nie meer so viets, flink of fiks is nie:

Ons moet mos leer uit die geskiedenis – die Boere het tot heel bo gekom – hoe het hulle dit reggekry? Hulle het hulle tyd gevat! Onthou ook wat Stephanus Roos vertel het: “Toen ons agter di tweede afset was, gaan ons ’n bitji rus agter di krans …” Die geheim om bo te kom is dat jy “’n bitji rus” voordat jy te uitasem is. Veral daar teen die eerste lang helling uit … Buitendien, dit is wanneer jy gaan staan en rondkyk en terugkyk terwyl jy so blaas, dat die berg met jou begin praat … o ja, en vat ’n lang kierie saam – dit help veral met die afkomslag …

Dit is hoe dit voel om bo-op Majuba te staan. Mag dit ook vir u beskore wees op dit te beleef. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2018)

 

Dankie

Dankie, Here, dat ek nie doodgegaan het toe ek so siek was nie. Dankie dat ek weer gesond en sterk geword het, sodat ek Majuba weer kon uitklim.

Dankie aan my gesin dat ons Majuba toe kon gaan. Dankie dat julle saam met my Majuba en ook my eie Majuba, uitgeklim het.

Bo-op Majuba. MacDonald-koppie in die agtergrond. (Foto: Carina Geldenhuys, Oktober 2018)

 

Bo-op Majuba by die Oudstryders-gedenkteken op MacDonald-koppie. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

 

“Met moed om teen die môrekim meer as net Majuba uit te klim.” – G.A. Watermeyer. Majubagedenkteken in die kampterrein onder Majuba. (Foto: Tiaan Geldenhuys, Desember 2020)

 

[1] Hermann in Pretoriana Majuba 100 jaar, Nr. 81, Julie 1981, pp. 9-10; Christiaan de Wet aangehaal in Kestell, Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing, p.27; Kilian in Roberts, Die rapportryer van Majuba, p. 11.

[2] Stephanus Roos in Ons Klyntji, p. 12.