Die Boere-aanval op Majuba – Deel 19: Direkte gevolge van die Slag van Majuba

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 18: Effektiwiteit van vuur tydens die slag
February 16, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 20: Slot
February 16, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

Daar is vandag nog mense wat glo dat die Britte, na hulle nederlaag op Majuba, in O’Neil se huisie “oorgegee” het. Dit was natuurlik nie so nie.

In ’n vorige deel was reeds genoem dat daar direk na die slag ‘n wapenstilstand ingestel is ten einde geleentheid te gee dat gewondes versorg en gesneuweldes begrawe kon word. Hierdie wapenstilstand is dan ook later verleng tot middernag, 14 Maart, na samesprekings op 6 Maart tussen generaals Joubert en Wood.

Dit is interessant om daarop te let dat op hierdie stadium daar nie eens onder die Boere ooreenstemming was oor watter vredesvoorwaardes vir hulle aanvaarbaar sou wees nie. Generaal Joubert vertel aan dr. Matthews van sy gesprek met generaal Wood op 6 Maart 1881:

“General Joubert’s description of his interview with Gen. Sir Evelyn Wood, 5 days after Majuba was very graphic. There were myself, General Smit and Mr Dirkhouse, as clerk on our side, and General Wood, General Buller and Mayor Fraser on the English. When I arrived, after wishing each other ‘Good morning’, General Wood asked me: ‘Have you authority to make peace?’ I answered, ‘Yes, on one condition.’ He said, ‘What is that?’ I replied, ‘the annexation of our country been withdrawn’, then, I added, ‘Her Majesty’s troops can leave with honour, I want no more.’ ‘But if I sign such a peace, will all agree,’ enquired the general. ‘Yes,’ said I, ‘all must in accordance with our law.’ After some moments’ deliberation general Wood asked me whether or not I would make peace according to the terms offered in a letter send by Mr. Kruger to general Colley through president Brand. I answered distinctly, ‘No.’ At last general Wood begged that the armistice might be extended to 20 days to give Mr. Kruger time to arrange about terms, when, after discussing the matter for some time, a further cessation of hostilities for 8 days was agreed upon between us and we left Buller and Fraser to draw up a document to that affect.”[1]

Op 14 Maart is die wapenstilstand tot ’n verdere vier dae, tot middernag van 18 Maart, verleng. Daar is ook ooreengekom dat die Britte waens met voedsel en voorrade na hulle beleërde magte kan stuur. Intussen het daar ook voortdurend verdere Britse versterkings in Noord-Natal aangekom wat generaal Wood vertroue gegee het dat hy die Boere maklik sou kon verslaan. Hierdie toedrag van sake het groot ongemak onder van die Boere veroorsaak, wat begin glo het dat generaal Joubert in die vyand se hand speel. Daar is tydens ’n krygsraadsvergadering besluit dat indien daar nie vordering met die vredespoging teen 21 Maart sou wees nie, die oorlog voortgesit sou word, waarby die Vrystaters betrek sou word – hulle moes naamlik die Britte se logistieke roetes na Newcastle vanuit die Vrystaat bedreig.

Ook in Brittanje was daar uiteenlopende mening van wat volgende moes gebeur. Daar was sterk menings, insluitende van Koningin Victoria, dat daar eers ’n militêre oorwinning behaal moes word voordat vrede gesluit word. Die Britse Eerste Minister, Lord Carnarvon en van die lede van sy kabinet, was egter ten gunste van ’n onderhandelde vrede sonder verdere geweld.

Belanghebbendes het na Laingsnek vertrek om te poog om ’n onderhandelde skikking te bereik. President MW Pretorius en Vise-President Paul Kruger, sowel as President Brand van die Vrystaat, se reise is egter vertraag deur swak paaie en vol riviere.

Die lang wag en oplaai van spanning na die Slag van Majuba het vir die Boere in die kampe laagte- en hoogtepunte ingehou:

“4 Maart 1881. Een jonge man onvoorzigtig met een geweer omgaande, liet dit bij ongeluk afgaan, kreeg den kogel door de hand, en werd naar het hospitaal gebragt”, ook “Nu waren de dagen vrij vervelend. Men kent de manier van den Boer. Hij kan niet stil liggen, hij moet werken; anders “huis toe!”

Gelukkig egter:

“Op den 8sten Maart kwam een zekere jonge dame (Uijs) met hare familiebetrekkingen in de lagers met een wagen, met muziek er in. Zij jongejufvrouw Uijs) was reeds algemeen bekend als eene zeer schrandere en aanvallige jonge dame. Zij schroomde niet om in het publiek een zeer aanhoorenswaardige aanspraak te houden, waar een verstandige aanhoorder wel gaarne naar luisteren zou. Zij gaf ons muziek op de serafine, en haar zoo liefelijke stem, die zich zoo juist paarde aan de toonen der muziek, deed den commando-menschen pleizier en ook hartzeer aan. Gedurende eenige dagen heeft jongejufvrouw Uijs deze diensten aan ons bewezen. Wij noemden het diensten, want wie zou zich niet kunnen voorstellen, hoe mooi, hoe aangenaam deze dingen zijn op eene zoo woeste plek als de Drakensbergen, waar honderden mannen het zwaar en bitter hadden, en in koude, ongemak, verlangen, angst en smart verkeerende, het voorregt mogten hebben om een serafine met de stem van een mooije ‘nooi’ te hooren?”[2]

Ongeduld onder sommige Boere het egter hoogty gevier. Dar was Boere wat vas van plan was om Mount Prospect te gaan aanval indien daar nie gou tot vrede gekom word nie. Die situasie was op ’n mespunt.

Op 21 Maart 1881 kon al die belanghebbendes uiteindelik in O’Neil se huisie bymekaarkom. Op amper onvoorsiene wyse word beduidende vordering met die onderhandelinge gemaak, tot so ’n mate dat ’n vredesooreenkoms op 23 Maart 1881 gesluit is.[3]

Dit was maar ’n baie onbevredigende ooreenkoms vir die Boere, aangesien hulle nie hulle onafhanklikheid ten volle teruggekry het nie. Vir baie Boere is hierdie net ’n halwe oorwinning.

O’Neil se huisie. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2018)

Die Boere kom op 24 Maart 1881 ’n paar kilometer vanaf Laingsnek bymekaar. ’n Dankdiens word gehou en Joubert, Kruger en Pretorius spreek hulle toe. Hulle bedank die burgers vir hulle opofferinge en dapper gedrag. Die oorlog was verby.

Bymekaarkoms van die Boere waar Joubert en Kruger hulle toegespreek het.

’n Interessante perspektief van die invloed wat die Slag van Majuba op vrede gehad het, is dié van Grobler. Dit kom daarop neer dat vrede nie gesluit is as gevolg van die Slag van Majuba nie, maar ten spyte van die Slag van Majuba. Die redenasie is dat Brittanje reeds na die Slag van Laingsnek inskiklik tot vrede was en dat die vernedering wat met Majuba gepaard gegaan het, die risiko kon inhou dat die Britte die vernedering sou wou wreek en dus ’n militêre oorwinning sou wou behaal. Dit kan nie betwyfel word dat so ’n risiko wel bestaan het nie.[4]

Bogenoemde sinvolle redenasie gee ’n vars perspektief op die mis wat so toegesak het …

Waaroor daar egter wel van mening verskil kan word, is die impak wat die Slag van Majuba op die inhoudelike van die vredesooreenkoms gehad het. Die Britte se idees oor vrede na afloop van die Slag van Laingsnek was in breë trekke dat vrede gesluit sou word deur die situasie voor die oorlog te herstel, naamlik Britse beheer oor die “Transvaal”. Die inhoudelike van die vredesooreenkoms van 23 April 1881 was baie meer gunstig vir die Boere as dit.

Onderhandelinge in O’Neil se huisie. Uitbeelding by die Krugerstandbeeld, Kerkplein Pretoria. (Foto: Christo Geldenhuys, Oktober 2018)

Die vredesooreenkoms is opgevolg deur die Pretoria Konvensie van 3 Augustus 1881 wat eintlik net ’n bekragtiging van die vredesooreenkoms was. Die Boere het voortgegaan om met Brittanje te onderhandel en op 27 Februarie 1884, presies drie jaar na Majuba, is die Londense Konvensie onderteken. Wat die Transvaalse Boere aanbetref, was hulle nou weer onafhanklik in hulle eie staat.

Kom ons onthou – dit is nie net manne wat doodgeskiet word wat helde is nie. Hulle wat die vuurgevegte van agter dekking gewen het, is ook helde – hulle wat nie vir hulle land gesterf het nie, maar geleef het!

 

Bronne:

Grobler, Jackie. 2018. Die Eerste Vryheidsoorlog. 1880-1881. Centurion: Kraal Uitgewers.

Matthews, J.W. 1887. Incwadi Yami or Twenty year’s personal experience in South Africa. London: Sampson Low, Marston, Searle & Rivington.

Prior, Melton. 1912. Campaigns of a war correspondent. London: Edward Arnold.

Weilbach, Kommandant J.D. en Du Plessis, C.N.J. 1882. Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog. Kaapstad: Saul Solomon & Co.

 

[1] Matthews, Incwadi Yami, pp. 320-324.

[2] Weilbach en Du Plessis, Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog, pp. 276-277.

[3] Prior, Campaigns of a war correspondent, p. 136.

[4] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, p. 367.