Die Boere-aanval op Majuba – Deel 16: Herorganisering

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 15: Laaste vuurgeveg op die bergkruin
February 15, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 17: Die aanval op die Britte op die nek tussen Majuba en Nkwelo
February 16, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

Agtermiddag, 27 Februarie 1881. Die laaste en bloedige vuurgeveg op Majubakruin was verby.

“Herorganisering” is die laaste fase van ’n geveg. Die belangrikste wat nou moet gebeur is dat die ammunisiestand nagegaan moet word (hoeveel ammunisie is nog beskikbaar); ongevalle moet bepaal word en gewondes moet noodbehandeling ontvang; krygsgevangenes moet hanteer word en voorbereidings moet getref word vir “wat daarna” – wat is die volgende taak wat uitgevoer moet word.

Notas:

Tydens hierdie deel gaan moontlike wangedrag deur van die Boere ook bespreek word, aangesien daar aanduiding daarvan in die vertellings ter sprake sal kom.

Om nie individue se stories onnodig te versnipper nie, gaan dele in vertelling oor wat na die geveg gebeur het, ook hier weergegee word, alhoewel dit natuurlik nie tegnies deel van die aanval was nie.

 

Stephanus Roos vertel:

“Daar is di dag van di Engelse geval 4 offisiere, met Colley daarby, en 86 man, en gewond 8 offisire en 125 man, en 6 offisire, waarby was een Luitnant-Kolonel, en 51 man het ons gevange geneem. Ons siin toen dat Colley amper syn hele mag op di kop bad en dat hulle neerlaag volkome was; want di wat gevlug het, vlug party somar verkeerde koers di Drakensberg in. En di wat halfpad na di Kamp onder by di kanonne was vlug ook party di kamp verby.

“Toen al ons mense by makaar was op di kop, na afloop van di slag, was ons tussen 180 en 200 man.

“Ons maak toen plan om ’n kleine wag by di krygsgevangene op di kop te laat, en di Engelse kamp te gaan bestorm. Mar terwyl ons nog daaro’er planne rnaak, kom daar ’n digte mis op uit Natal, so skilik en so dig as ek nog ni gesiin het ni. Toen sê ons almal: Né, dis di hand van di Here, wat sê: ‘So vêr, mar ni verder ni!’ En ons dank di Here ver syn verlossing op di Sondag aand.”[1]

Nota: Roos se skatting van 180 tot 200 man is nie noodwendig onakkuraat nie. Daar moet onthou word dat die Boere se vuursteungroepe effektief uit die geveg geplaas was toe die stormgroep die bergkruinrant bereik het. Hulle sou self boontoe moes beweeg om weer deel van die geveg te word. Die laaste vuurgeveg was so vinnig verby dat dit geen wonder is dat daar van “die agterste mense/manne” gepraat word nie.

Die mis sak toe oor Majuba. Dit kan baie vinnig gebeur … net soos die agtermiddag van 27 Februarie 1881. MacDonald-koppie agter. (Esmé Geldenhuys, Oktober 2017)

Hermann vertel die volgende:

“Reg voor V/K Roos het Colley gelê. Toe sê ek vir hom ‘Hier lê ’n Generaal’. Die Jager sê: ‘Ja, dit is ’n Generaal’. Dit was nog in die geveg. Toe het ons op die krans gestap. Toe het die agterste mense uitgekom en alles gebuit. Colley se mondering was alles weg toe ons terugkom. Ek kry toe daar twee oorlogskorrespondente, die een was gewond aan sy arm. Die een kon bietjie Afrikaans praat. Hy vra toe dat ek hom na die offisier toe moet neem. Ek bring hom toe by V/K Roos en hy vra verlof om na hulle laer te gaan om ’n rapport weg te stuur na Engeland van die slag. V/K Roos sê toe vir hom: ‘Hier is ’n Generaal. Hulle sê dit is Colley.’ Hy sê toe Colley was by die kommando. Toe het ons met hom na die lyk gegaan en hy sê toe: ‘Ja, dit is Colley’ en gaan aan die huil.

“Die generaals was toe nog nie daar nie. Toe se V/K Roos aan hom hy moet wag, die generaals sal kom dan sal hy hom by die generaal bring en die kan met hom praat. Toe die generaals op die slagveld kom, was die slag al meer as twee uur afgeloop. Toe kom Genl. Smit en Joubert. Die het toe ook vir die korrespondent gevra of dit werklik Colley was wat hy toe bevestig het. Toe kom ’n Meneer Uys en sê: ‘Broers, die Here het ons so gehelp laat ons hom eer en dank.’ Toe roep hulle die mense bymekaar en Meneer Uys haal sy Bybel uit en lees daaruit en doen ’n dankgebed. Daar het oor die honderd dood en gewond op een klomp gelê, en sewe-en-twintig krygsgevangenes. Toe die diens verby was het die Generaal gesê dat die burgers wat geveg het maar kan terug gaan na die kamp. Ons het die dag nooit geëet nie. Toe sak daar skielik ’n wolk op ons neer dat dit ’n dik mis was en ons geen tien tree ver kon sien nie. V/K Roos roep toe sy mense bymekaar, hulle was almal, net een was gewond, G.E. v.d. Merwe, ’n vleis wond bokant sy knie. Van kom. Ferreira was een dood en een gewond. Die dode was Groenewald. Ons is toe na die kamp terug – waternat gereënt. Toe moes ons eers vleisbraai om te eet. Die volgende more is V/K Roos met ’n klomp van sy manne weer die berg op. Ons was toe te perd. Toe ons op die berg kom het die troepe ook daar gekom om die gewondes van die berg af te dra. Hulle is toe onder die berg in die huis van O’Niel gebring toe loop ons en ons vyand saam op die berg rond om die gewondes te soek. Hulle het toe op die berg ’n groot graf gemaak en al die dooies daarin begrawe. V/K Roos en ons is toe die berg aan die kant, waar die Engelse die nag uitgekom het, af tot by die huis van O’Niel. O’Niel was weg en die huis was leeg maar toe lê die huis vol gewondes. Ons het in die huis gegaan en gaan kyk. Die Engelse het niks gedoen om ons teen te gaan. Ons het vry daar rond geloop. Toe was dit stilstand van wapen. Die dag het generaal Wood gekom en met hom is toe onderhandel wat tot die vrede gelei het, ook oor die lyk van Coley.[2]

Opmerking: Glen Louwrens het verklaar dat sy oupagrootjie, Jacobus Louwrens, generaal Colley se knope afgesny het. Hy was egter opdrag gegee om dit weer aan te werk en is ook daaroor gestraf. Daar word gespekuleer dat hy gedink het hy geregtig op die knope as ’n aandenking was, aangesien hy Colley geskiet het.[3]

Die plek waar Generaal Colley gesneuwel het. MacDonald-koppie agter. (Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

 

Kilian vertel die volgende:

“Ons stap terug en kyk na mekaar, byna nie herkenbaar nie, so swart is ons van die kruitrook. Ek stap nou terug deur die pannetjie na die gewonde Muller in die verlate skans van die Engelse. Daar lê ’n hele aantal Skotte, dooies en gewondes. Veral word my aandag getrek deur ’n mooi man met grys hare daar aan die westekant van die pannetjie. Hy leef nog, en sy groot wit helm het eenkant toe weggerol.

“Ek sê vir myself: Dit is g’n gewone soldaat of gewone offisier nie. Moontlik ’n predikant, ’n kapelaan.

“En ek kry vir hom so jammer dat ek die helm op sy gesig sit om die warm son te keer.

“Die koeël is skuins bo die regteroog in en agter die linkeroor uit. Die hoof beweeg heen en weer sodat die helm telkens afval. Drie keer het ek dit op sy gesig teruggesit. Maar toe stap ek na die put aan die kant van die pan wat blykbaar vroeër die oggend deur ’n (swart man) gegraaf is op soek na drinkwater. Toe ek daar kom, sê die manne dat die sterwende man volgens die (swart man) die Britse generaal is. Ek het dit nie geglo nie, en na ek ’n bietjie water gedrink het gaan ek terug na die ‘predikant’. Ek neem weer die helm om dit oor die man se gesig te hou. Toe ek sien hier kom Generaal Piet Joubert en sy oom Frans.

“‘Petrus,’ sê die Generaal, ‘neem bietjie die hoed van die man se gesig weg.’ Ek doen dit en toe sê Joubert: ‘Ja, dit is generaal Colley: Ek het hom tevore ontmoet.’ ’n Paar oomblikke staan ons so stil. Toe sê die Generaal: ‘Oom Frans, dit is Sondag, hou vir ons ’n kort diens: hier staan ’n hele aantal manne.’

“Oom Frans haal ’n Bybeltjie uit sy sak, lees ’n paar verse, en gaan toe voor in die gebed. En onder die gebed bemerk ek dat Colley, oor wie se gesig ek die helm hou sy laaste asem uitblaas.”[4]

Christiaan de Wet vertel:

“Bo was daar ’n holtetjie op die gelykte van die berg, en daar was water. Toe ek terugkom, was die Engelse wat nie gewond was nie (’n hele klomp het hulle as lyke aangestel toe ons die vlugtende soldate ja) besig om water vir die gewondes aan te dra. By een van die skansies lê daar ’n dode – ‘Daar is Colley’, hoor ek. Hy het nog ’n paar maal na sy asem gehyg en toe was hy dood. Dapper het hy aan sy dood gekom, want hy lê by die voorstes wat doodgeskiet was.

“Die troepe kon nou die dooies begrawe, maar die lyk van generaal Colley het ons laat afdra na die laer. Op versoek van die Engelse bevelvoerende offisier het ons kommandant-generaal die lyk aan die Engelse afgegee.”[5]

Nota: Mens kan aflei dat De Wet nie die instruksie, op bevel van Roos, gehoor het dat die Britte wat wil oorgee moet gaan lê nie – dié dat hy dink hulle het hulle dood gehou!

Dokter Mahon vertel as volg:

“When about half-way across we were surrounded by Boers, who were with great difficulty prevented from shooting the Commander as he lay, they being under the idea that he was either Sir Garnet Wolseley or Sir Evelyn Wood. Having assured them to the contrary I asked to see their Commander, who was pointed out to me (I think it was Ferriora). (Nota: Spelling soos deur Dr. Mahon). I asked him protection for the wounded, which, was immediately granted. In fact, after the heat of the action, the Boers, especially the elder ones, were most kind in their attention to the wounded, getting them, water, and some helping to bind up their wounds. I saw no Boers killed or wounded. It was now about 2.30 P.M., and Bevis and myself with the two A.H.C. men who were unwounded, set to work to dress the wounded. All who could walk were allowed by the Boers to make the best of their way to camp, and many did so, but I am unable to estimate the number. The prisoners who were taken by the Boers were made to assist in carrying the wounded from various parts of the hill to the hospital. But they were taken away to the Boer laager at about 6 P.M.”[6]

Na afloop van die geveg. (Nico Moolman, Facebook The Anglo-Boer war (South African War), 16 November 2014)

 

Britse massagraf op Majuba. (Tiaan Geldenhuys, Desember 2020)

 

Luitenant Wright het later vertel waar hy besig was om teen Majuba af te vlug:

“I got down the hill a bit when a man said from some thick bushes, ‘I say, Wright, have you a handkerchief?’

“Thinking the man was wounded, I said, ‘Yes, can I do anything for you?’

“‘Oh, he replied, I’m not wounded, but put it on your bayonet as a flag of truce.’ I politely told him to go to the devil, and that I meant going home.

“All this time there was a scattering fire from the Boers.

“Another fifty yards, and I heard another voice – ‘For Heaven’s sake I help me here with these men.’

“This time it was Macgregor, who was in some bushes with several men who were wounded by the firing while in hiding. I went in, and Macgregor said, ‘Go out with your handkerchief and wave it as a sign we’ve had enough of this carnage.’ So I put it on my bayonet and went out, but immediately they fired at me, and one bullet went through the stock of the rifle and must have killed me otherwise.

“So I went in again and said, I go out for no one again,’ stuck the gun on a bush with the flag up, and then got behind a stone.

“The Boers still fired, so I told Smith, the Colonel’s servant, that he might like to try conciliation with the flag. But he didn’t see it, so we lay where we were till the firing stopped. Then the Boers came down and said they would not hurt us if we came out. So out we went. They immediately rushed at us and began dragging our belts off.

“The first thing they said to me was, ‘Why do you fight us on Sunday?’

“‘I don’t care whether it’s Sunday or Monday,’ I replied. I don’t want to fight you at all; but I just do as I am told.’

“The fellow then wanted my watch, which I would not give him. He said it was for Joubert. I said I would give Joubert the watch when he asked for it. Eventually he got it. Going through a thicket of castor oil plants, he placed his rifle to my ear, and told me to deliver it while he counted ten or die. I gave up the watch.”[7]

Kaptein MacBean, het die volgende vertel:

“The Boers would not let us take anything from the bodies of those who had fallen. They took all the rifles and belts, but what they seemed to prize most were the poor fellows’ sporrans, and I was afterwards told by a man, who had been in their country, that these trophies of victory had the place of honour in their houses.”[8]

Luitenant Hamilton se vertellings oor hoe hy as gewonde na die geveg deur die Boere behandel was, is teenstrydig.

Die een vertelling gaan so:

“The firing stopped. The Boers began to occupy the position. Two discovered the wounded man. The younger, being much excited, would have shot him. The elder restrained him. ‘Are you officer, you damned Englishman?’ said they.

‘Yes.’

‘Give your sword.’

Now Hamilton’s sword had belonged to his father before him. He replied by offering them money instead.

‘Money!’ they cried; ‘give it up at once,’ and were about to snatch it away when a person of authority – it is said Joubert himself – arrived. ‘Voorwarts,’ he said to the burghers, and in spite of their desire to plunder he drove them on.

Hamilton thanked him. ‘It is a bad day for us.’

‘What can you expect,’ was the answer characteristic of the Boer-the privileged

of God – ‘from fighting on a Sunday?’

“Then they collected the prisoners and helped Hamilton to walk back to the British position. Colley lay dead on the ground. The Boers would not believe it was the General. ‘Englishmen are such liars.’ Hector Macdonald – grim and sad – hero of the Afghan war, now a prisoner in the enemy’s hand, watched the proceedings sullenly. The Boers picked out the surrendered prisoners. They looked at Hamilton. He was covered with blood from head to foot. They said: ‘You will probably die. You may go.’ So he went; staggered, and crawled back to camp, arrived there delirious the next morning.”[9]

Luitenant Hamilton se ander weergawe klink so:

“The next thing he remembered was two small Boers, aged about fourteen but fully accoutred, rolling him over and removing his equipment. A big, dirty Boer with a black beard chased them away and took his sword from them. At this he sat up, for it was his father’s claymore. He offered money for it and doubtless the money would have been taken as well as the sword had not Joubert himself, the Boer commander, come up and ordered his men towards the camp, where the guns were still firing. Left alone, very sick in mind and body, Hamilton dragged himself to the shade of a thorn bush on the narrow ledge where he had fallen, about eight feet below the crest. Presently, a young Boer picking up cartridges came along this ledge. On seeing the wounded man he put up his rifle to shoot and doubtless would have done so, had not an old Boer with a venerable white beard gently pulled the rifle to one side.”[10]

Dit is baie ooglopend dat Hamilton enige moontlike geleentheid benut om die Boere in ’n negatiewe lig te stel. Enkele voorbeelde word hieronder genoem:

“… characteristic of the Boer – the privileged of God – …” – poging om die Boere se Godsbeskouing belaglik voor te stel.

“The Boers picked out the surrendered prisoners. They looked at Hamilton. He was covered with blood from head to foot. They said: ‘You will probably die. You may go.’”

Dit skep die indruk dat hy toegelaat is om te gaan omdat die Boere gereken het hy gaan sterf. Vergelyk dit met Dokter Mahon se verklaring dat alle lopende gewonde gevangenis deur die Boere toegelaat is om te gaan.

“A big, dirty Boer with a black beard …” Poging om die Boere as vuil en agterlik te tipeer – vergelyk met Killian se vertelling oor hoe swart hulle gesigte was a.g.v. die kruitrook.

Luitenant Hamilton het ook in hierdie vertellings nagelaat om te noem dat ’n Boer sy pols gespalk en met sy rooi nekdoek verbind het. In 1911, tydens ’n inspeksietoer in Suid-Afrika, het generaal Hamilton na hierdie rooi sakdoek verwys. Een van die gehoor, JHJ Wessels, staan toe op en roep uit dat hy die skenker was. Later het Hamilton aan hom ’n nuwe sakdoek in ’n gegraveerde silwer houer gestuur.

Op grond van bogenoemde moet die negatiewe opmerkings en bewering van veral Hamilton maar met ’n knippie sout geneem word, sonder om dit totaal te verwerp. Wangedrag deur individue tydens oorlog was sekerlik nog altyd daar – selfs ook by die Boere.

Luitenant MacDonald was die laaste Brit wat nog op Majubakruin weerstand gebied het. Hierdie verwoede Skot het aan die einde vuis geslaan! Party Boere wou hom maar skiet, maar ander het gekeer – dat so ’n dapper man nie geskiet moes word nie. Sy swaard was van hom afgeneem. Generaal Joubert het hiervan te hore gekom en sy swaard aan hom teruggegee, met die woorde: “A brave man should not be separated from his sword”. Vir sy optrede op Majuba het luitenant MacDonald welverdiend die eretitel “Fighting Mac” gekry. Die selfbeheersing aan Boerekant het egter vir sommige vergete geraak. Luitenant MacDonald sou later as ’n generaal weer teen die Boere veg. Hy sou egter telkens vir die Boere opkom, met die woorde: “These men are gentlemen!”

Dit is ooglopend dat die mite oor generaal Nicolaas Smit se rol tydens die Boere-aanval op Majuba, ondersteun en moontlik selfs ontstaan het uit sy optrede op die berg tydens herorganisasie en ook tydens sy gesprekke met Britse offisiere en nuuskorrespondente, na die geveg. Dit is onduidelik hoekom hy die Britte hieroor, asook oor die getalsterkte van die Boere, mislei het.

“General Schmidt, who commanded the Boers’ attacking party that day, told Major Douglas and Captain Dick Cunyngham that he had 2 000 rifles employed in the attack.”[11]

Die dag se geveg was egter nog nie afgehandel nie:

“Na ontvangst van het rapport van Commandant Malan, zond Generaal Joubert onmiddelijk omtrent 150 man regts om den Kop, onder geleide van den Commandant J. Uijs als generaal, den Commandant A Vorster en den Veldcornet C Engelbregt. Er verliep omtrent anderhalf uur voordat de 150 ruiters in de nabijheid van het kamp kwamen.”[12] Hieroor sal in die volgende deel vertel word.

 

Opsomming en evaluering

Na afloop van die laaste vuurgeveg op Majubakruin was dit nie die einde nie. Die verskriklike toneel op die bergkruin en suidelike hange moes gehanteer word – Britse dooie en gewondes, krygsgevangenis, joernaliste… en ook die “wat daarna …” – die Britse stellings op die nek tussen Majuba en Nkwelo … die basis by Mount Prospect.

Die Boere het hulle eie enkele gesneuwelde en gewondes (ses, waarvan een later oorlede is) na hulle laers afgevoer. Die toneel op Majubakruin moes vir die Boere baie ontstellend gewees het: al die Britse lyke en gewondes. Vir die Britte moes dit nog soveel meer ontstellend gewees het – in die woorde van Dr. Mahon: “I saw no Boers killed or wounded.”[13]

Net twee name. Eerste Vryheidsoorlog-gedenkteken in Volksrust. (Christo Geldenhuys, Oktober 2017)

 

Die feit dat generaal Colley self gesneuwel het, het natuurlik groot belangstelling gewek. Van sy uniformstukke was deur Boere geroof, maar die knope van sy baadjie is deur dieselfde Boer wat dit afgesny is, weer aangewerk.

In hierdie deel is daar gepoog om na al die klagtes van Britse kant af, te verwys. Daar word twee insidente vermeld waar jong Boere gewonde Britse offisiere wou skiet, maar in beide gevalle het ouer Boere hulle verhinder. Daar was ook beweringe van roof van persoonlike besittings deur Boere. Daar is egter ook, aan die hand van ’n voorbeeld, daarop gewys dat die Britte se klagtes wel met ’n tikkie sout geneem moet word. Hierdie oënskynlik negatiewe insidente word spesifiek vermeld, en wel om die volgende rede. Oorlog, selfs ’n roemryke oorwinning soos by Majuba, moet nie verromantiseer word nie. Lelike dinge gebeur tydens oorlog, insluitende wangedrag deur eie magte. Die Boere-helde van weleer was nie hemelse – of superwesens nie – hulle was gewone mense, wat ook bang was in ’n geveg, soms misgeskiet het, by tye swak oordeel aan die dag gelê het en in enkele individuele gevalle selfs wangedrag geopenbaar het. Dit is nie ’n negatiewe nie, bloot ’n realiteit. Dit is juis die feit dat feilbare mense kon verrig wat by Majuba gebeur het, wat dit so besonders maak.

Die enkele moontlike gevalle van individuele swak oordeel of gedrag was totaal oorskadu deur die empatie waarmee die Boere die verslane Britte gehanteer het. Kommandant Ferreira het op versoek van Dokter Mahon die veiligheid van Britse krygsgevangenes verseker. Die Boere het die gewonde Britte ondersteun en ook gehelp om die Britse gewondes tot by ’n sentrale mediese pos in die pannetjie op Majubakruin te dra. Gewonde Britte wat kon loop, is toegelaat om bergaf te gaan na O’Neil se huisie, wat in ’n tydelike Britse mediese pos omskep is. ’n Wapenstilstand is gesluit ten einde die gewondes vanaf Majubakruin te kon afvoer en die gesneuweldes te begrawe. In die woorde van Hector MacDonald: “These men, are gentlemen.”

Te midde van die mislikheid wat die skrikwekkende toneel op Majuba veroorsaak het, het die Boere, in geheel gesien, goeie besluite geneem en eerbaar opgetree. Veral die teenwoordigheid van die twee generaals het ’n groot bydrae gelewer – die goeie oordeel van generaal Joubert en die dinamika van generaal Smit. Daar was geen “Hip-Hip-Hurray” nie – net daadkragtigheid om die gewondes te versorg, orde te skep en dan … om dankie te sê.

Dit noop mens opnuut om te besin oor die ware rede vir oorwinning …

Intussen moes daar nog verder geveg word …

 

Bronne:

Bristish Governement Publication. The London Gazette. TSO (The Stationery Office) under the superintendence of Her Majesty’s Stationery Office (HMSO), part of The National Archives. (Datum van publikasie soos in die voetnota aangedui.)

Churchill, Winston Spencer. 1900. Ian Hamilton’s march. London and Bombay: Longmans, Green and Co.

Cromb, James. 1891. The Majuba disaster. A story of Higland heroism told by officers of the 92nd Regiment. London.

Grobler, Jackie. 2018. Die Eerste Vryheidsoorlog. 1880-1881. Centurion: Kraal Uitgewers.

Hamilton, Ian B.M. 1960. The happy warrior. A life of General Sir Ian Hamilton, GCB, GCMG, DSO. London.

Hermann, H.B.K. 1981. Slag van Laingsnek en Amajuba 1881 soos opgeteken deur H.B.K. Hermann. Pretoriana. Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria. Majuba 100 jaar. 27 Febr. 1881 – 27 Febr. 1881. Nr. 81 Julie.

Kestell, John Daniel. 1920. Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing. Johannesburg: Nasionale Pers. Beskikbaar by: https://repository.up.ac.za/handle/2263/12672

Kilian, J.D. 1975. Laat ons veg. Johannesburg: Perskor Uitgewery.

Louwrens, Glen. Facebook plasing op die Anglo Boer War (South African War), 6 November 2016.

“S” (Skrywer onbekend). 1896. Die Slag van Amajuba, Ons Klyntji, Deel 1, No. 1. Maart. Paarl: D.F. du Toit en Co. Beperk, Drukkers en Uitgewers.

 

[1] Stephanus Roos in Ons Klyntji. Die Britse verliese gelei op Majuba word aanvaar as die volgende: Gesneuwel 91, oorlede aan wonde 1; gewond maar herstel 134, krygsgevangene 59. Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, pp. 383-387.

[2] Hermann in Pretoriana, 1881, p. 11.

[3] Louwrens, Glen. Facebook-plasing op die Anglo Boer War (South African War), 6 November 2016. Jacobus Louwrens was sy oupagrootjie.

[4] Killian, Laat ons veg, p. 29.

[5] De Wet in Kestell, Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing, p. 27.

[6] Dokter Mahon, The London Gazette, 3 May 1881, p. 2110.

[7] Luitenant Wright in Cromb, The Majuba disaster, pp. 30-33.

[8] Kaptein MacBean in Cromb, The Majuba disaster, p. 39.

[9] Churchill, Ian Hamilton’s march, pp. L-Li.

[10] Hamilton, The happy warrior, p. 44.

[11] Regimental Records, aangehaal in Cromb, The Majuba disaster, pp. 15-16.

[12] Weilbach & Du Plessis, Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog, p. 267.

[13] Dokter Mahon, The London Gazette, 3 May 1881, p. 2110. Dr. Jackie Grobler vermeld die Boere se name in sy boek, Die Tweede Vryheidsoorlog, p. 373.

Gesneuwel: Johannes Bekker.

Oorlede aan wonde: Johannes Groenewald.

Gewond en herstel: Koos Labuschagne, Samuel Muller, Karel (of Abrham) Pretorius, Gabriel van der Merwe; Theunis Vermaak.