Die Boere-aanval op Majuba – Deel 12: Gordonkoppie word deur die Boere beset

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 11: Die aanval teen die noordoostelike helling van Majuba (Fourie en De Wet)
February 14, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 13: Aanval op die bergkruinrant (Roos, Ferreira en De Wet)
February 15, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

In die verhaal keer ons nou terug na Stephanus Roos en Joachim Ferreira. Hulle het daar onder in die kloof ’n plan geformuleer. Sou hulle daardie plan kon uitvoer?

Nota: Lesers sal merk dat die verskillende tye soos deur die vertellers versterk, nie heeltemal klop nie. Ons kan egter aanvaar dat wat in hierdie deel beskryf word, vanaf ongeveer 11:00 tot 13:00 plaasgevind het.

Gordonkoppie geneem vanaf Noordwes-koppie. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Hermann vertel (opmerkings deur skrywer in hakies):

“Ons is toe die eerste bank uit. Van die weste kant het ons toe noord uitgeklim na die 2de bank. Toe was ons ook al naby die Engelse troepe. Ons het agter die bank (kruinrant, tweede terras) gelê en skiet met tweehonderd versier, so naby was ons.”

“Daarbo by die laaste bank het ons lank gelê en skiet.” Dis hier! Kruinrant van die tweede terras (middel van die foto) met v.l.n.r. op die horison: Hamiltonkoppie, Noordwes-Koppie en Gordonkoppie. Die Boere gebruik die kruinrant as dekking. Wat mens op hierdie foto sien, is wat die Boere sou sien toe hulle so daar geskiet het. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

“Die geveg was toe aan die gang. Die mense het baie agtergebly sodat ons nie baie was nie, maar daar het nog altyd manne van onder die eerste bank gekom (vanaf die eerste terras). Daar was wat ek gesien het net drie offisiere, Joachim Ferreira, V/K Roos en Sarel Mare asook die Vrystater L. de Jager met ’n klomp van sy manne. Ek was altyd by V/K Roos. Daarbo by die laaste bank (tweede terras) het ons lank gelê en skiet. Die Engelse skiet al oor ons want ons was agter ’n bank. Omtrent 11 uur het V/K Roos sy jonger broer gestuur om die mense te sê om nie daar van onder te skiet nie, hulle moet opkom tot waar ons is. Piet Roos moes deur die koeëls na onder en weer terug na ons.

Toe Piet Roos daar teen die berg af is, en hy sien die wye eerste terras, soos wat ons dit op hierdie foto sien, en hy weet hy moet weer daaroor … en terug … Die eerste terras is die liggroen strook in die middelgrond. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

“Toe hy terugkom was die drie offisiere en ook De Jager bymekaar. Piet bring toe ’n boodskap van Veggeneraal N. Smit dat ons nie moet verder gaan nie, maar die posisie hou tot die aand, dan sal hy meer manne stuur. Die boodskap het Piet van die adjudant, van Genl. Smit self gekry, want Piet was ook Adjudant van V/K Roos. Toe die boodskap daar kom sê V/K Roos aan my: ‘Nee ons moet nou die Engelse storm.’

“Toe kom die drie offisiere weer bymekaar en sê: ‘Hieraan kan ons nie veel doen nie, ons moet die Engelse storm of vlug.’ Toe besluit hulle om te storm. Hulle het die posisies bekyk en besluit om van drie kante te storm en aan te val. Kom. Ferreira neem toe die westekant en kom. Mare die oostekant. V/K Roos moet toe op die hoofkommando van die Engelse aanval.”[1]

Die Britte had geen idee wat aan die kom was nie …

Luitenant Wright van die 92nd Highlanders vertel die volgende:

“In this position we remained till about twelve noon, the Boers climbing towards us step by step, and I may almost say unsuspected by any but Hamilton and myself, who could see them. Twice I went to the General and told him we couldn’t hold our position with so few men if any serious attack were made. All he said was Hold the place three days.”[2]

Cameron skryf die volgende:

“Between twelve and one the fire slackened, and it seemed as if the Boers were drawing off. This, however, as we afterwards learnt, was not the case; the enemy had been very strongly reinforcing his fighting line in preparation for an assault, and shortly after one o’clock a terrific fire broke forth from the right lower slopes of the hill.”[3]

Thomas Carter berig o.a. die volgende:

“I estimate 2 000 Boers around the hill: they are keeping up average of 60 shots per minute … the firing lately has been to our front and left. I see the Boers have inspanned their cattle and are evidently ready to trek at a moment’s notice from the famous Nek.”[4]

Nota: Hierdie afname in Boerevuur is o.a. as gevolg van Roos se vuursteungroep wat ophou skiet het van die kruinrant van die eerste terras af, en die berg opgeklim het na die tweede terras, sowel as Ferreira se groep wat in dooie grond gereedgemaak het vir die aanval op Gordonkoppie.

Stephanus Roos sê die volgende: (opmerkings deur die skrywer in hakies)

“Ons siin toen dat Ferreira en syn manne al an di veg was, want daar was al Engelse op di kopi (Gordonkoppie), wat by moes neem. Gelukkig kon ons di Engelse wat op di koppi was skuins van agter beskiit (vanuit die noordooste), terwyl hy hulle van voor beskiit (vanuit die weste). Hulle vlug dan oek gou toen hulle di vuur van 2 kante kry, want daar was ni veul skuiling op di kopi ni.”[5]

“… daar was nie veul skuiling op di kopi ni.” – Roos

Nota: Vanuit die beskrywing is dit baie duidelik dat Ferreira en Roos vanuit amper teenoorgestelde kante op Gordonkoppie gevuur het. Dit is net moontlik indien Ferreira van die weste aangeval het. Die terrein bevestig dit. Die kranse net noord van Gordonkoppie is vir omtrent 125 m vanaf die “hoek” van die berg van die indrukwekkendste kranse op die berg. Vanaf die klofie weswaarts is die kranse minder indrukwekkend. Die kranse aan die westekant van die berg is ook indrukwekkend. Daar is ’n klofie deur die kranse aan die westekant (omtrent 110 m suid van die “hoek”), feitlik reg langs (wes van) Gordonkoppie. Ferreira sou hierdie klofie as toegangsroete gebruik het vir sy aanval op Gordonkoppie.

Toegangsroetes tot Gordonkoppie

Die volgende het moontlik ook omtrent hierdie tyd gebeur:

“Een boerenknaap, die zich dapper weerde, de Bergschotten meer nabij in het gezigt krijgende, riep tegen zijn kameraads: ‘Maar is hier dan vrouwens ook wat schiet, dan zal ik haar ook maar schiet!’ Hij was in de war geraakt door het koddige costuum der Hooglanders, die hij voor vrouwen had aangezien.”[6]

 

Samevatting en evaluering

Stephanus Roos en Joachim Ferreira se stormgroepe het in dooie grond teen die berg op beweeg. Stephanus Roos se stormgroep het ’n bietjie onder die hoofkranse gerus en daarna na die kruinrant van die tweede terras beweeg. Van daar word ’n lang vuurgeveg met die Britte op Gordonkoppie en die bergkruinrant gevoer. Die Britte het te hoog geskiet.

Stephanus Roos het sy vuursteungroep wat by die kruinrant van die eerste terras was, boontoe laat kom tot by die kruinrant van die tweede terras.

Generaal Nicolaas Smit het nou vir die eerste keer by die geveg betrokke geraak – met die Boere wat reeds besig was met die vuurgeveg vanaf die kruinrant van die tweede terras. Generaal Smit se opdrag was om die aanval vir die dag af te las.

Die Boere-offisiere hoër op teen die berg het ’n impromptu krygsraad gehou. Hulle het swak gevegsdissipline geopenbaar, deurdat hulle hul senior offisier, veggeneraal Nicolaas Smit, se opdrag blatant verontagsaam het. Ironies genoeg het dit ten goede uitgewerk. Die offisiere het besluit om as volg aan te val: Ferreira in die weste, Roos in die middel en Mare van die ooste.

Teen 12:00 het die aanval op die bergkruin nog nie begin nie.

Joachim Ferreira se groep het vanaf die westekant van die berg en Stephanus Roos se groep vanaf die noord-westekant van die berg op Gordonkoppie gevuur. Die paar lede van die 92nd Highlanders op Gordonkoppie wat nie getref word nie, vlug na Noordwes-koppie. Die feit dat enkele dit ongeskonde kon doen, is nie ’n kompliment vir die Boerevuur se akkuraatheid nie. Joachim Ferreira se stormgroep beset Gordonkoppie. Van Gordonkoppie af sou Ferreira se groep nou weer vuursteun aan Roos se stormgroep kon lewer wanneer laasgenoemde die bergkruinrant aanval.

Verloop van gebeure – die Boere beset Gordonkoppie. Op hierdie skuinslugfoto word dit aangedui hoe die Boere Gordonkoppie aangeval het, terwyl vuursteun verskaf is vanaf die kruinrant van die tweede terras.

Hierdie deel word kernagtig deur Joachim Ferreira opgesom: “Ik had de kopjes te bestormen … Wij deden volgens afspraak.”[7]

Die nekkie tussen Gordonkoppie en Noordwes-koppie.

 

Bronne:

Cromb, James. 1891. The Majuba disaster. A story of Higland heroism told by officers of the 92nd Regiment. London.

Hermann, H.B.K. 1981. Slag van Laingsnek en Amajuba 1881 soos opgeteken deur H.B.K. Hermann. Pretoriana. Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria. Majuba 100 jaar. 27 Febr. 1881 – 27 Febr. 1881. Nr. 81 Julie.

Jordan, Rob. 1980. The Battle of Majuba: Telegrams of 27 February 1881. The South African Military History Journal, December, 5(2). Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging.

Prior, Melton. 1912. Campaigns of a war correspondent. London: Edward Arnold.

“S” (Skrywer onbekend). 1896. Die Slag van Amajuba, Ons Klyntji, Deel 1, No. 1. Maart. Paarl: D.F. du Toit en Co. Beperk, Drukkers en Uitgewers.

Weilbach, Kommandant J.D. en Du Plessis, C.N.J. 1882. Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog. Kaapstad: Saul Solomon & Co.

 

[1] Hermann, Pretoriana, Majuba 100 jaar. p. 10

[2] Cromb, The Majuba disaster, p. 15.

[3] Prior, Campaigns of a war correspondent, p. 130.

[4] Jordan, The Battle of Majuba: Telegrams of 27 February 1881, Military History Journal.

 

[5] Stephanus Roos in Ons Klyntji, p. 12.

[6] Weilbach & Du Plessis, Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog, p. 266.

[7] Weilbach & Du Plessis, Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog, p. 268.