Die Boere-aanval op Majuba – Deel 11: Die aanval teen die noordoostelike helling van Majuba (Fourie en De Wet)

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 10: Verdere waarnemings deur en persepsie van die Britte van bo van Majuba af tot 11:00
February 14, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 12: Gordonkoppie word deur die Boere beset
February 14, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

Nou eers weer terug na Kilian toe. Hy het nog laas vertel van “… op ’n galop in die rigting van Amajuba!”[1]

Nou vertel Kilian verder:

“Ons jaag op die middelrif langs wat na die kop toe lei, en skaars het ons die voet van die berg bereik of koeëls van die Martini-Henry’s reën op ons neer. ‘Regs in die kloof in’, roep ’n kommandant en met die wegswaai word ’n blou perd onder sy baas doodgeskiet – die eerste ongeval in die slag van Amajuba. Ons jaag toe nader tot aan die bopunt van die kloof onder die krans (Noordkloof). Hier bemerk ons dat Fanie Roos se manskappe reeds onder die tweede krans hoër op posisie ingeneem het. Ons maak onmiddellik gereed om by Roos te gaan aansluit. ’n Paar manne word by die perde gelaat om hulle op te pas, en ons hardloop onder die vyand se koeëls vorentoe om by ons makkers te kom waar ons van agter die krans op die rooibaadjies begin te vuur. Dit was geen maklike taak nie, want op ’n distansie van omtrent vier honderd tree kon ons die Engelse, wat daar bo tussen die gras sit en lê, nie mooi onder skoot kry nie.”[2]

Daar kan aanvaar word dat “die tweede krans” waarna Kilian hier verwys is die hoofkrans.

“Ons jaag toe nader tot aan die bopunt van die kloof onder die krans” (Kilian). Noordkloof word aangedui deur die boomlyn in die middel van die berg op. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Noordkloof, gesien vanaf Oos-Koppie. Weer maklik uitkenbaar aan die boomlyn. Dit is met hierdie kloof langs wat Fourie en De Wet na die berg gery het, en waarin Killian sy waaghalsige rit onderneem het om versterkings te gaan haal. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

“Hier bemerk ons dat Fanie Roos se manskappe reeds onder die tweede krans hoër op posisie ingeneem het” (Kilian). (Roos en sy manne was dus regs op die foto, onder die kranse). Let hoe breed die eerste terras is, vir skaal, kyk die klein figuurtjies regs op die foto. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

“… ons hardloop onder die vyand se koeëls vorentoe om by ons makkers te kom waar ons van agter die krans op die rooibaadjies begin te vuur” (Kilian). Killian-hulle hardloop oor die eerste terras. Let op hoe die bergkruin hier uitsteek bo die kruinrant van die tweede terras. (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

Bogenoemde vertelling moet saamgelees word met Kilian se vertelling aan die A.G. Visserskool:

“Ons het onder kmdt. Fourie gestorm, maar die Engelse het ons kwaai onder die lood gesteek. Ons spring van ons perde af en skuil in ’n sloot (Noordkloof) en hou toe al onder ’n lys van die berg langs. Groenewald, van Potchefstroom, is hier gekwes.[3]

Luitenant Hamilton beskryf bogenoemde soos hý dit gesien het:

“Soon afterwards a large number of the enemy crossed a field some 1 200 yards distant into a ravine which ran up in dead ground to a point less than 500 yards from the picquet.”[4]

 

Notas:

Luitenant Hamilton se posisie was omtrent 15 tree voor die berg se kruinrant. Die “point less than 500 yards from the picket” is by die kruinrant van die eerste terras.

“… a ravine …” – ’n smal kloof met styl kante. Hierdie is sonder twyfel die kloof in die noordoostekant van die berg, wat deur die spruit wat op die eerste terras ontspring, uitgekerf is: “Noordkloof”.

 

Boereversterkings

Petrus Kilian vertel by die A.G. Visserskool: “Kmdt. Fourie stuur my toe om hulp te gaan haal en ek is die natte berg daar af, oor die kransies of lyste en deur die moddervleie. Ja, ek hoor hoe my perd se pote die modderpoele klap.”[5]

In Laat ons veg vertel Petrus Kilian in meer detail:

“Ek kyk rond en merk op dat die manne hier rondom my almal vreemdelinge is. Daar staan kommandant Fourie. Hy het ophou skiet en vryf sy hande, soos dit my lyk, in radeloosheid.

Ek verlaat my posisie en stap na hom toe en sê: ‘Kommandant, ek is hier, ’n vreemdeling. Nie een van my kommando is hier nie. Nou wil ek net vir u sê: ek gaan by u staan waar ons miskien nou ’n vuurproef moet deurmaak. Ek vra u net vriendelik: As die Engelse my doodskiet, laat my lê, maar as hulle my stukkend skiet, kyk na my.’

Hy vra: ‘Sien jy kans om hier uit te kom na die generaal toe?’

Ek antwoord: ‘Ek kan probeer.’

‘Nou toe’, is sy bevel, ‘gaan sê aan die generaal ons kry swaar: ons is te min vir die vyand.’ Ek spring weg en begin die berg af hardloop terwyl die Engelse koeëls ‘sip-sip-sip’ rondom my speel. Ek klouter teen die krans waaragter die perde was, af, en gryp die vosperd. Dit is ’n kort-ponie, maar ’n goeie en getroue dier. Ek lei die perd oor die ruwe afdraande tot ek die hoogte waarop die Engelse is, weer in die oog kry en die koeëls weer begin gons. Ek spring in die saal en dit was die moeilikste rit wat ek ooit gehad het, daardie afjaag teen die steilte van die bergvoet, eers so op ’n dalende rif en toe skuins in die rigting van die vallei.

Nou storm ek af op ’n krans van vier voet hoog; ek maak my oë toe, en toe ek hulle weer oopmaak, loop die vosperd skoon onder die krans. Dan is ek voor ’n modderpoel, maak weer oë toe, en as ek kom kry, hoor ek net hoe Vossie se agterpote die modder laat spat om daar skoon verder te loop. Gedurig gons Martini-koeëls nog rondom my. Eindelik is ek onder en jaag in ’n westelike rigting weg totdat ek nie meer koeëls hoor nie. Toe maak ek ’n halfmaan-draai in die rigting van die laer.

’n Perderuiter kom my tegemoet. Dit blyk oom Frans Joubert te wees. Hy vra: ‘Waar gaan jy heen? Wat gaan aan?’ Terwyl ons op ’n kort galoppie die laer nader, vertel ek hom van die noodboodskap van Fourie aan die generaal, dat versterkings gestuur moet word. Hy sê toe: ‘Ek sal dit aan die generaal sê. Jy lyk totaal uitgeput, man. Gaan na jou wa en soek iets om te eet en drink.’”[6]

Kilian vertel hierdie stukkie by A.G. Visserskool so:

“Toe ek in die laer kom, ontmoet ek vir Wit-Frans Joubert en toe ek by genl. Joubert kom, kom adjudant Schutte ook net daar, en sê dat elke veldkornet vyf en twintig man moes stuur. Veldkornet se woorde was dadelik: ‘Volg my!’”[7]

Kilian vertel verder in Laat ons veg:

“Terwyl ek besig is om iets te sluk, is daar ’n beroering in die laer. Ek hoor generaal Joubert hard praat. Sy adjudant kom verby gehardloop en sê: ‘Die generaal sê ’n paar veldkornette moet elk met vyf en twintig man by die vegters teen die berg gaan aansluit.’

Die eerste wat klaar is, is Christiaan de Wet. Sy blouperd maak so ’n paar boksprongetjies, en die ruiter roep uit: ‘Vriende wat my liefhet, volg my.’ Ek was gou klaar, en ’n rukkie later ry ek langs De Wet. ‘Oudste’, sê hy vir my, ‘jy moet nou sê waarlangs ons moet gaan.’

‘Kyk’, sê ek, ‘die beste sal wees om by die kloof se ingang te kom en dan op te gaan. Maar sien jy daardie drie bosse? As ons daar kom, sal die koeëls ons tegemoet kom.’

Dit was ook so. De Wet bevel: ‘Ons jaag tot by die rooi randjies en skuil daar om die perde bietjie te laat rus’. Maar dit blyk dat die rooi randjie geen skuiling vir die perde bied nie, en ons klim weer op en jaag vorentoe, teen die styl rif op waarlangs ons ook vroeg die more gegaan het. Ons laat ons perde in die sorg van Willem Jansen by Fourie hulle se perde, en De Wet skreeu: ‘Voorwaarts, burgers, maar versprei en hardloop uit mekaar.’

Hier sluit ons weer by Loutjie Fourie aan, en saam met sy manskappe borrel ons agter die kranse uit en hardloop na ’n ander krans, nader aan die vyand, waar ene Groenewald met ’n smartlike wond neersak.

Ons hou haastig krygsraad en besluit dat ons drie aanvalsgroepe sal opruk – Roos se manne aan die regterflank, Fourie aan die linkerkant en Christiaan de Wet, by wie ek was, in die middel.

‘Voorwaarts’ roep verskeie monde, en nou is daar g’n klip of skans meer om agter te skuil nie, net die hoë gras waardeur die manne vorentoe beur. Die hele berg dawer en beef van die geweervuur. Af en toe weerklink ’n uitroep: ‘Voorwaarts.’ En kyk hoe lastig laat die Martini-Henry koeëls die grassate en grond in ons oë spat.

Ons hou maar aan klim.”[8]

Kilian vertel dit ook so:

“Toe ons naby die bome kom, reent die koeëls op ons, maar die Engelse raak niemand en niks nie. Nadat ons ’n halfuur geveg het, sê Christiaan de Wet aan kmdt. Fourie: ‘Ons moet vorentoe as ons iets wil doen!’ Onder dekking van die lys het ons toe teen die berg op beweeg. Roos en die ander offisiere gaan toe effens opsy en hou gou krygsraad. Weer sê Christiaan de Wet: ‘Broertjies, voorwaarts!’ en daar gaan ons. Die koeëls die blits, maar ons gaan vorentoe teen die steil berg uit. Ons skiet die Engelse terug en dan gaan ons maar weer voorwaarts. Drie keer het ons dit gedoen. Toe is ons bo …”[9]

Christiaan de Wet het dit só vertel:

“Ons het vir ons in drie verdeel. Ek was met die klompie wat noordoos opgeklouter het. Dit was steil-so steil soos ek seIde ’n berg beklim het. Somtyds moes daar aan polle gras gegryp word om op te kan kom. Maar ons klim – en dit onder die gedurige skiet van bo, ons klim al hoër en hoër. Op die platte van die kante, bo-op die berg, het die troepe klein klipskansies gepak, en daaruit het hulle vir ons, toe ons amper bo was, geweldig bestook – maar niks kon ons keer nie, en ons is ten laaste op die berg.[10]

“Dit was steil-so steil soos ek seIde ’n berg beklim het.” – De Wet (Foto: Christo Geldenhuys, Desember 2020)

 

Samevatting en evaluering

Kommandant Fourie en sy manne het die lang Noordkloof gebruik om teen die hange van Majuba uit te klim. Dit was in alle waarskynlikhei hulle en hierdie kloof waarna mev. Joubert verwys het. Toe kommandant Fourie en sy manne by Majuba aankom, was Roos en sy manne reeds ’n ent teen die berg uit. Kommandant Fourie het besef die Boere is te min om die aanval suksesvol deur te voer en het vir Petrus Killian teruggestuur na die laer om vir versterkings te gaan vra.

Generaal Piet Joubert was toe terug in sy laer vanaf Laingsnek. Kommandant Frans Joubert is ook daar rond (dus nie naby aan Majuba nie). Dit is nie bekend waar generaal Smit hom op daardie stadium bevind het nie. Generaal Joubert het opdrag gegee dat veldkornette elk met 25 man die aanval moet gaan ondersteun. Christiaan de Wet was eerste gereed en Kilian lei hom en sy manne op dieselfde roete as wat Fourie gevolg het en hulle sluit by kommandant Fourie aan. ’n Halfuurlange vuurgeveg volg. Dit was vir De Wet duidelik dat ’n vuurgeveg alleen nie ’n beslissende uitslag sou lewer nie. Christiaan de Wet se stelling aan Fourie dat “ons moet vorentoe as ons iets wil doen!” is die derde keer wat ons hoor dat ’n meer junior offisier leiding neem (naas generaal Smit wat aan generaal Joubert laat weet het om na Laingsnek te kom, en Stefanus Roos wat in kommandant Ferreira se teenwoordigheid ’n plan maak oor hoe aangeval moet word). Hierdie is strydig met die tradisionele outoritêre bevelstyl, maar in ooreenstemming met die Boere se manier van bevel voer – dat enige persoon ’n inset kan lewer in besluitneming. Op hierdie stadium het die Boere steeds nie ’n oorhoofse bevelvoerder nie, dit was veldkornette wat in die geveg leiding geneem het.

 

Bronne:

Hamilton, Ian B.M. 1960. The happy warrior. A life of General Sir Ian Hamilton, GCB, GCMG, DSO. London.

Kestell, John Daniel. 1920. Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing. Johannesburg: Nasionale Pers. Beskikbaar by: https://repository.up.ac.za/handle/2263/12672

Kilian, J.D. 1975. Laat ons veg. Johannesburg: Perskor Uitgewery.

Roberts, Deon B.S. 1959. Die rapportryer van Majuba. Historia Junior, Desember. Beskikbaar by: https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/?p=13117

 

[1] Kilian, Laat ons veg, p. 25.

[2] Kilian, Laat ons veg, p. 25.

[3] Kilian, aangehaal in Roberts, Die rapportryer van Majuba, p. 11.

[4] Hamilton, The happy warrior, p. 42.

[5] Kilian, aangehaal in Roberts, Die rapportryer van Majuba, p. 11.

[6] Kilian, Laat ons veg, p. 25-26.

[7] Kilian, aangehaal in Roberts, Die rapportryer van Majuba, p. 11.

[8] Kilian, Laat ons veg, pp. 27-28.

[9] Kilian, aangehaal in Roberts, Die rapportryer van Majuba, p. 11.

[10] Kestell, Christiaan de Wet: ’n lewensbeskrywing, p. 27.