DIE BOER EN SY ROER IN DIE ANGLO-BOEREOORLOG

DIE OORLOG VAN 1899-1902
February 20, 2017
DIE LONG TOM-KANONNE VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG: WAT HET VAN HULLE GEWORD?
February 20, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

deur Ron Bester

Een van die algemeenste vrae wat my gevra word is die volgende: Hierdie geweer wat ek geërf het, is dit ’n Boereoorlog-geweer? Die antwoord, hoewel nie baie bevredigend nie, is baie maklik, naamlik: as die geweer voor die uitbreek van die oorlog êrens (veral Europa en VSA) beskikbaar was, kon dit in die oorlog gebruik gewees het.

Hoekom is dit so? Die-rede hiervoor is te vinde in die kommando-wette wat toentertyd in die twee Boererepublieke geheers het. Onder andere het die wette bepaal dat weerbare burgers hulleself moes bewapen. Hoewel die regerings wel in die vroeë dae klein hoeveelhede gewere amptelik aangekoop het, het die onus op elke burger gelê om self ’n geweer aan te skaf.

Na die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881), het die Transvaal in 1884 met Thomas Barnsley van Grahamstown ’n kontrak gesluit. Volgens hierdie kontrak moes Barnsley verskeie tipes gewere teen vasgestelde pryse by depots in die groter dorpe aanhou, sodat die burgers dit kon koop. Nadat hierdie kontrak na drie jaar met Barnsley verstryk het, is ’n kontrak eers met George Rynoch, daarna met TW Beckett en laastens met Z.A.F.O.S. gesluit. Met verloop van tyd het elke kontrak minder bindend geword. Waar Barnsley byvoorbeeld alleenreg op die invoer van wapens gehad het, het Z.A.F.O.S. slegs ’n weieringsreg gehad.

Laat in 1887 het genl. P Joubert op ’n inspeksietoer deur die Transvaal gegaan. Al die kommando’s is besoek en skietbyeenkomste is bygewoon. Die Kommandant-Generaal het gou agtergekom dat daar groot fout was met die bewapening van die burgers. Eerstens was daar ’n geweldige verskeidenheid gewere, wat in ’n tyd van oorlog, logistiese nagmerries sou besorg en tweedens was baie van die wapens verouderd.

Om die probleme reg te stel, is aan die Volksraad voorgestel dat die regering self wapens op grootskaal aankoop om teen ’n baie billike prys aan die Burgers beskikbaar te stel. Verder moes reëlings getref word om arm burgers te help om ’n wapen te bekom. Hierdie voorstelle is aanvaar en daar is oor die volgende twee jaar 1 300 Martini’s [1] van Rynoch gekoop. Hierdie Martini’s het bekend gestaan as (vier pond) Martini’s want dit was hulle prys. Ons moet onthou dat handelaars deurentyd nog opgetree het as agente vir die groot vervaardigers van Europa en die VSA en ’n groot verskeidenheid gewere het nogtans in Boerehande beland, nieteenstaande die Regering se pogings om standaardisasie.

In 1893 is die Guedes[2] aan genl. Joubert bekendgestel. Hoewel, soos die Martini, al klaar teen die tyd verouderd was het genl. Joubert nogtans baie van die Guedes gehou en tot 1896 sowat 7 500 aangekoop. Weens sy voorliefde vir die Guedes is die geweer ook bekend as die “Joubert-geweer”. Die eerste paar maande van 1896, net na die Jameson-inval is gekenmerk deur ’n geskarrel om wapens te bekom. Die Boere het besef dat oorlog met Engeland onvermydelik is en dat hulle self swak bewapen was. Alle beskikbare Martini’s en Guedes is, ongeag hoe klein die besending was, opgeraap.

Terselfdertyd is na aankope van groot getalle gewere gekyk. Verskillende stelsels is oorweeg. Daar is byvoorbeeld weer gekyk na die Guedes, maar daar was nie meer as sowat 2 200 beskikbaar nie en dit sou te veel tyd en geld gekos het om hulle weer te begin produseer. Daar is ook na die Krag-Jorgensen[3] gekyk. Hierdie geweer het die komitee baie beïndruk, maar Noorweë het al die gewere wat deur Steyn in Oostenryk vir haar vervaardig is, nodig gehad. Met die gevolg, slegs dié wat deur die inspekteurs afgekeur was, is aan ander instansies beskikbaar gestel. Hoewel ek oortuig is dat die Transvaal baie meer Krags sou gekoop het as hulle meer kon kry, het hulle tot en met 1900, slegs sowat 300 gewere en ’n handjievol karabyne aangeskaf.

Die Mauser[4] is ook as amptelike geweer oorweeg. Interessant is dat die Spaanse Mauser (wat so te sê identies aan die Boere Mauser is) so vroeg as 1894 aan genl. Joubert bekend gestel is. Hy was nie beïndruk nie, moontlik omdat hy nie die moderne tipe geweer vertrou het nie en moontlik omdat die Transvaal toe besig was met grootskaalse aankope van Guedes.

Dr. Leyds wat vroeg in 1896 in Europa was, het pamflette oor en voorbeelde van die Spaanse Mauser aan genl. Joubert laat stuur.

Hierdie keer het die Transvaalse regering die deugde van die Mauser raakgesien en in 1896 is daar 20 000 gewere en 5 000 karabyne bestel. In 1897 is ’n verdere 10 000 gewere en 2 000 karabyne bestel. In 1898 en 1899 is 100 en 400 Sporting Mausers onderskeidelik bestel. Die laaste 4 000 Mausers wat in 1899 bestel is, het, soos ’n besending van 1 000 Vrystaatse Mausers, weens die Britse blokkade van Delagoabaai, nooit die Boere bereik nie. Dit is ook interessant dat, terwyl die ZAR Mausers aangekoop het, hulle ook ’n verdere 30 000 plus Martini’s vanaf Westley Richards in Brittanje aangekoop het. Hoekom, sal ons nooit weet nie. Nie net was die Mauser ’n magasyngeweer, wat laer en verder as die Martini kon skiet nie, maar dit was ook heelwat goedkoper.

Die Oranje Vrystaat se situasie het grootliks met die van die ZAR ooreengestem. Die Vrystaat het egter al in 1871 besluit het om weg te doen met die tenderstelsel. Uit die aard van die saak het handelaars dus ’n groter rol gespeel. Die staat het ook mettertyd besluit om self gewere aan te hou en het so gewere teen billike pryse aan burgers verkoop. Soos in die ZAR, is arm burgers op verskeie wyses gehelp om gewere te bekom.

Gedurende die tydperk waarin ons belangstel, het die Vrystaat slegs Martini’s en Mausers aangekoop. Trouens, die OVS het vóór die ZAR die eerste besending Mausers bestel. In 1897 het hulle gestaak met die aankoop van die verouderde Martini, maar tot 1899 voortgegaan om Mausers te koop. So het die OVS altesame 7 900 Mausers gekoop. Die burgers kon ook die pragtige Sporting Mausers by hulle landdroste bestel. Amptelik het die OVS sowat ’n honderd van die gewere ingevoer, hoewel baie ook deur private handelaars verkoop is.

Ons kan dus sien dat burgers die keuse gehad het om of ’n amptelike geweer by die regerings van die twee Republieke aan te koop, of om by ’n handelaar uit ’n wye verskeidenheid gewere te kies. Vandaar die groot aantal verskillende wapens wat veral in die eerste deel van die oorlog gebruik is toe almal nog ammunisie vir hul gewere gehad het.

[1] Martini of Martini-Henry is ’n enkelskoot, onderhefboom geweer met ’n kaliber van .450 dm. Dis in 1871 deur Brittanje aangeneem en teen 1888 was dit reeds verouderd en het Brittanje die Lee-Metford in gebruik geneem.

[2] Guedes, ook `n onderhefboom enkelskoot geweer is in 1886 deur Steyn vir Portugal vervaardig. Omdat dit toe reeds verouderd was het die Portugese die bestelling gekanselleer nadat sowat 8 000 gemaak is. Hierdie gewere is tussen 1893-1896 aan die ZAR verkoop.

[3] Krag-Jorgensen. Magasyn geweer van 6.5mm kaliber. Die magasyn sit aan die regterkant en hou 5 patrone. In 1896 was dit `n baie moderne geweer.

[4] Die 7mm kaliber Boere-Mauser se magasyn het 5 patrone gehou en was in 1896 `n moderne geweer.