“Die bitter einde”

Einde van die republieke
January 22, 2015
Oom Gert vertel
January 22, 2015

Op 2 Junie het die volksverteenwoordigers van Vereeniging vertrek. Elkeen is na sy eie kommando om die besluit aan die burgers mee te deel. So was generaal De Wet op 5 Junie by die eerste wapenneerlegging naby Vredefort. Op 7 Junie het hy by Reitz aangekom, waar die kommando’s van Vrede, Harrismith, Heilbron en Bethlehem die wapens neergelê het. Hy kon egter nie die foltering verduur om dit telkens te aanskou nie en het elke keer vertrek voor die wapen-neerlegging self. “Oral het ek ontevredenheid en onbeskryflike neerslagtigheid gevind,” skryf hy.

Brebner moes president Steyn gaan inlig. “President, die vrede is geteken.” “Jack, magtig, Jack! Julle het die volk vir drie miljoen verkoop!” Hy het sy magtelose arms onstuimig rondgeswaai. Die drie miljoen pond was die kompensasie wat die Britse regering sou betaal. Hy het veral sleg gevoel omdat die Kaapse rebelle in die steek gelaat is. “Want dit was ’n daad van ontrouheid, waarvoor die volk nog later sal moet boet.”

Baie mense het vertel hoe seer die tyding van die verlore vryheid hulle gemaak het. Sarah Raal, wat ’n tyd lank op kommando was, was aan die einde van die oorlog in die konsentrasiekamp van Uitenhage. Die kampkommandant het kennis gegee dat al die kampbewoners moes bymekaarkom. “Toe ons daar kom, staan hy op ’n kar, waarvoor twee muile gespan was. Hy staan regop op die bankie van die kar, met ’n siprestak in sy hand. Toe nege-uur klaar geslaan het, sê hy net die woorde: ‘Dit is vrede, dit is vrede, die Boere het hul land verloor.’ Toe spring hy van die bankie af en gaan sit, trek die muile op en jaag weg.

“Seker vyf minute lank was daar ’n doodse stilte. Toe hoor jy hier en daar een snik. Dit was asof die snikke die waarheid deurgedryf het tot aan almal se verstand, en dit was asof hulle toe eers besef het wat die kommandant gesê het. Party vrouens kruip op die grond rond en ween, in elke hut is ’n gekerm en geween. Ander weer roep hard uit: ‘Hy lieg, hy lieg!’ Ou moeders stap met geboë hoofde en ween in stilte. Ander weer skeur hul Bybels stukkend en skree: ‘Ek glo aan niks meer nie. Hierdie slag is te onregverdig.’ Die ‘joiners’ gooi hul hoede in die lug en skree ‘Hoera!’”

Jan FE Celliers beskryf onder die titel “Die bitter einde” hoe hy die nuus van die vrede op 6 Junie 1902 verneem het. Hy het aan generaal De la Rey gevra: “Oom Koos, is dit waar, moet ons wapens neerlê? Ek glo dit nie of ek moet dit uit u eie mond hoor!” Celliers vertel verder: “Dis die eerste maal dat ek dié oë sien neerslaan, dié hoof sien sak. ’n Hoofknik van ‘ja’ is sy enigste antwoord. Toe ek my weer kom kry, staan ek buite die kring met betraande oë oor die veld en kyk. ’n Vlym-hoofpyn skiet deur my hoof. Hoe lank ek so gestaan het, weet ek nie. Ek voel meteens ’n hand op my skouer. Kyk om. Dis die Generaal. Ek kyk in die medelydende oë van oom Koos. En ’n sagte stem – soos van ’n besorgde moeder – vra my: ‘Hoe gaan dit nou?’ Hy het my in die oog gehou toe ek daar half verdwaas weggesteier het. Hy het geweet wat ek gevoel het.”