Die betekenis van die Groot Trek in die vorming en bestendiging van ’n eie Suid-Afrikaanse kultuur

Die Vrouemonument
March 23, 2017
Die Gelofte
March 23, 2017

(Geskryf deur Faan Rousseau, Colignyskool, soos verskyn in Historia Junior, November 1967)

Ons kan ons voorouers uit die Groot Trek nooit genoeg dankbaar wees vir wat hulle vir ons gedoen het, sover dit die vorming van ’n eie Afrikaanse kultuur betref nie. Dit wat hulle vir ons daar gelaat het in dié opsig, is van onskatbare waarde, en die geleentheid wat ons het om hulle te vergoed, moet ons ten volle gebruik en nie dae soos Heldedag en Geloftedag misbruik nie.

Nadat die Trekkers die Kolonie verlaat het, glo ek, sou enige buitestaander, as hy die woord “Afrikaner” of “Boer” hoor, dit dadelik assosieer met “gasvryheid”.

Gasvryheid was ’n tipiese kenmerk van die Trekkers wat vir ons wys hoeveel respek en agting hulle aan hul medemens getoon het. Hulle gasvryheid het uitgeblink soos ’n skitterende diamant tussen ’n hoop swart steenkool. Hulle het die eienskap gehad en het dit deur die geslagte laat probeer voortleef.

Vandag kan daar egter nie met soveel trots van die Afrikaner se gasvryheid gepraat word nie. Miskien is dit deur vreemde strominge uit ander lande, vreemde verskynsels wat deur immigrante meegebring word bv. misdade en onsedelikhede, wat jou die vertroue in jou medemens laat verloor.

Ten spyte van die vreemde teenwerkinge, is daar egter vandag nog so hier en daar ’n glimmende pêrel o die Transvaalse vlaktes ten opsigte van gasvryheid. Dit het gelukkig nog nie heeltemal uitgesterf nie.

Dit is te danke aan ons eie voorouers dat die eienskap nog so hier en daar voorkom. Dit is daar en dit speel ’n belangrike rol in die bestaan van die Afrikaanse kultuur.

Dan is daar ook nog die volkspele en danse wat vandag nog beoefen word.

Ek kan my voorstel hoe die waens so hier en daar rond staan. Dit is net na sonsondergang. Die sterre vonkel reeds aan die hemeltrans en naas ’n paar helder vure dans en draai leliewit figure en songebrande mans in ’n kring, terwyl helder stemme vrolike deuntjies in die lug laat opstyg. Dit klink soos die gemurmel van ’n waterstroompie by ’n klein watervalletjie.

Hoe smag een en elkeen van ons tog nie om tog maar een uurtjie saam met hulle deur te bring nie!

Vandag bestaan dit gelukkig nog en dit bied geleentheid aan oud en jonk om daaraan deel te neem en om dan net ’n idee te kry van hoe ons voorouers gelewe het. Dit wys aan ons hulle hoop, uithouvermoë en volharding, dat hulle nog die tipe van ontspanning ook gehad het ten spyte van die omstandighede waarin hulle gelewe het.

Dit is ook een van die stene waaruit die muur van die Afrikaanse kultuur opgebou is. Dit het by ons voorouers ontstaan en is daar vir ons gelaat om genot uit te put.

Om bietjie verder uit te brei op die onderwerp van die opstel, kan ons die Godsdiens noem, ’n baie belangrike faktor, nie net op die gebied van kultuur nie, maar op so vele andere terreine.

Dit is eintlik die grondslag waarop ons as Afrikaners voortbou. Dit is per slot van sake die faktor wat elke Afrikaner as sy ideaal moet beskou. Hy moet hom uitlewe vir sy Skepper en Hom gehoorsaam wees.

Aan wie het ons dit deels te danke dat ons vandag ons toevlug kan neem tot God en die Kerk? Is dit nie ons voorouers wat daaraan vasgeklem het dat ons net een God het en net Hom aanbid nie?

Deur hulle ywer en volharding is daar vir ons vandag die kerk, alhoewel daar verskillende gemeentes is, soos bv. die Hervormde en die N.G. kerk.

As die Trekkers nie so standvastig in hulle geloof was en so ’n onwrikbare vertroue in God gestel het nie sou ons vandag heelwaarskynlik heeltemal van die geloof afgewyk het.

Dit is dus met dankbaarheid in die gemoed dat ons telkens aan. hulle terugdink. Alhoewel ons dit miskien nie as deel van ons nasie se kultuur beskou nie, kan ons dit tog beskou as die fondament van die muur wat die kultuur van die Afrikaner vorm.

Die Godsdiens is iets dieper en ernstiger en daarby kan ons aansluit met die Taal.

Taal?

Wat verstaan party van ons onder die woord “Taal”? ’n Mengelmoes van Engels, Grieks, Afrikaans en Portugees? Nee. Die woord Taal is soos ’n goue erfstuk wat met die grootste sorg bewaar moet word.

Daar kan ons weer nie anders as om met bewondering en dankbaarheid aan die Trekkers terug te dink nie. Soveel moed, volharding, ywer en hoop laat mens partykeer wonder of ons dit werklik werd is.

Dan kom ons maar net tot die gevolgtrekking wat mens soos ’n sweepslag deur die gesig tref. Ons is dit nie ’n kwart werd nie.

Gelukkig is daar nog talle wat aan die tradisie kleef, en hulle taal suiwer probeer hou. Hoe het ons voorouers nie geveg om die behoud van ons Afrikaanse Taal nie? By tye was dit soos ’n drenkeling wie se kop kort-kort onder die water verdwyn maar dan telkens weer na bo spartel.

Die Trekkers het teen die “Engelse gevaar” geveg, wat gedreig het om ons taal te verswelg, deur middel van die verengelsing van al wat Afrikaans is. Ten spyte van die oormag het hulle tog as oorwinnaars anderkant uitgekom. ’n Taal vir die nageslag het behoue gebly.

Met tye het toestande hopeloos gelyk, maar die deursettingsvermoë van die Trekkers het vir ons die skatkis van die Afrikaanse Taal bewaar, die Moedertaal.

Daarom moet elkeen poog om dit suiwer te hou en met eerbied te gebruik. Ook moet ons dit bewaar om die rede, dat dit deel is van ons lewe, ons tradisie, ons kultuur. Verbrou ons dit, vorm ons ’n swak skakel in die sterk ketting wat ons voorouers so geswoeg het om op te bou.

Nou kleredrag. Nie so belangrik nie, maar tog iets wat ’n deel van die Afrikanertrots vorm.

Kan ons nog van “trots” praat in die opsig van kleredrag? Die jeug beslis nie. Ons behoort aan te trek soos ons voorouers, eenvoudig, maar netjies. Hulle het wel velklere gedra, maar met materiaal wat vandag verkrygbaar is, kan ons net so aantrek en nie allerhande uitspattighede navolg nie.

Vreemde klerederag wat deur vreemde lande in ons land gebring is, behoort ons met afsku te vervul en ons behoort daarvan weg te bly soos ’n koeël wat van ’n klip wegskram.

Alhoewel ons voorouers miskien nie bedoel het dat die kleredrag wat hulle gehad het vir ons ook moet bly voortbestaan nie, behoort ons as Afrikaners dit as ’n deel van ons tradisie of kultuur te beskou.

Juis deur ons dankbaarheid aan ons voorouers te toon vir die talle dinge wat hulle tot ons beskikking gestel het, behoort ons ons te klee volgens die drag van die Trekkers. Nou nie ’n velbroek of iets na ’n teater of geselligheid aantrek nie. Trek net sindelik aan namate die tipe onthaal of geselligheid of wat dit ook al vereis. Geen uitspattigheid nie.

Jou kleredrag is deel val jou kultuur en dateer uit die jare van die Groot Trek. Trek dus aan sodat jy kan trots wees en kan sê: “Ek volg nie ander nie. Ek volg my eie tradisie en kultuur, soos my voorouers dit ingestel het. Ek is ’n Afrikaner.”

Dit, in kort, is ’n paar van die belangrikste dinge wat die Groot Trek, d.w.s. ons voorouers, vir ons daar gelaat het om op voort te bou. Dié dinge, as ’n geheel, vorm ons kultuur wat noodwendig van ander nasies s’n verskil.

Die Groot Trek was eintlik die fondament van die Afrikaanse kultuur en dus moet ons ons gedra soos ons voorouers, sodat ons ’n trots kan ontwikkel wat hoër as die van ander nasies is. Op grond van ons kultuur moet ons as Afrikaners uitgeken kan word.