Die beleid van “verskroeide aarde”

Die Boere en hul taal
January 22, 2015
“Methods of barbarism”
January 22, 2015

Een van die skitterendste oorwinnings wat die Boere in die oorlog behaal het, was dié van generaals De la Rey en Beyers op 13 Desember 1900 by Nooitgedacht in Wes-Transvaal. Hulle het ’n kamp aan die voet van die Magaliesberge aangeval; die Britse soldate het op die vlug geslaan en hul kamp net so in die hande van die Boere gelaat. Dié oorwinning het die Transvaalse burgers met nuwe moed besiel. Vir die Engelse was die oplewing in die stryd onaangenaam veral nadat lord Roberts aan die einde van November 1900 bevel neergelê en vertrek het, oortuig daarvan dat die land binne enkele maande totaal onderwerp sou wees. Kitchener het hom as opperbevelhebber van die Britse magte opgevolg. Dit was vir hom en sy ondergeskiktes duidelik dat hulle dit vir die Boere onmoontlik moes maak om die oorlog voort te sit.

Van die begin van 1901 af het hy ’n nuwe strategie gevolg. Sy eerste maatreël was om te sorg dat die Britse magte die twee republieke verwoes. Dit was ’n stelselmatige verwoesting soos wat nog met min lande geskied het, skryf Scholtz. Die Britte het dorpe afgebrand en saam daarmee soms die kerke. Verder het hulle boerewonings totaal verniel of afgebrand. Alle kosvoorrade soos mielies of koring is tot niet gemaak. Vee wat die Britte nie self kon saamneem nie, is op groot skaal doodgemaak. “Kortom, die Vrystaat en Transvaal is binne enkele maande verander in een groot wildernis waarin daar haas geen voedsel meer vir mens of dier te vind was nie,” skryf Scholtz.

Verskeie mense het nog tydens die oorlog getuig van die verwoesting. Kaptein L March Phillips het oor die Vrystaat geskryf: “Farm Burning goes merrily on, and our course through the country is marked as in prehistoric ages, by pillars of smoke by day and fire by night. We usually burn six to a dozen farms a day. I do not gather that any special reason or cause is alleged or provided against the farms burnt … We find that one reason or other generally covers pretty nearly every farm we come to, and so to save trouble we burn the whole lot without inquiry. The fire bursts out of windows and doors with a loud roaring and black volumes of smoke roll overhead. […] The women, in a little group, cling together, comforting each other or hiding their faces in each other’s laps. In the background a number of Tommies are seen chasing poultry, flinging stones, and throwing themselves prostrate on maimed chickens and ducks. Further off still, herds and flocks and horses are being collected and driven off.”

De la Rey skryf in Desember 1901 dat die land in ’n puinhoop verander het. Daar was niks meer te vinde nie as die mure van geboue, behalwe waar ook dié met dinamiet opgeblaas is. Dorpe is heeltemal afgebrand. Waar die vee nie weggevoer kon word nie, is hulle by mekaar gejaag en doodgeskiet of met sabels en messe doodgesteek. Graan op die lande is vernietig. Die verwoesting van huise en voedselvoorrade het die burgers swaar getref. Hulle moes alles wat hulle wou hê, van die vyand buit. Boere het gevange Britte “uitgeskud” en hul klere gedra.