Die begin van die einde

Die ridderlike De la Rey
January 22, 2015
Op pad na Vereeniging
January 22, 2015

In Maart is Steyn na De la Rey, onder meer omdat hy in dié se kommando dokter Von Rennenkampf dringend wou raadpleeg oor sy verswakkende gesondheid. Hy het een môre gevind dat daar iets fout is met sy oë. Dit het dag na dag erger geword – hy het alles dubbeld gesien en sy ooglede was slap. Hy het ook gevoel dat sy bene nie meer so sterk is as vroeër nie.

’n Proses was toe al aan die gang wat tot vrede sou lei. FW Fox, ’n Britse Kwaker, het in November 1901 met die pasgekose Nederlandse premier, doktor Abraham Kuyper, gaan praat. Op 25 Januarie 1902 het die Nederlandse regering in ’n nota aan die Britse regering aangebied om die twee partye vir vredesonderhandelinge saam te bring. Brittanje het geweier, maar afskrifte van die notawisseling aan Kitchener gestuur. Dié het dit op 4 Maart 1902 aan die Transvaalse regering en Botha besorg. Kitchener het die Vrystaat nie genader nie; hy was bewus dat Steyn en De Wet nie daarvoor te vinde sou wees nie.

Toe waarnemende president Schalk Burger Kuyper se voorstel te lese kry, het hy Kitchener meegedeel dat hy bereid is om vredesvoorstelle te doen, maar eers met Steyn wou praat. Terwyl Steyn by Von Rennenkampf was, het hy verneem dat die Transvaalse regering graag met hul Vrystaatse kollegas oor vrede wou praat.

Nóg Steyn, nóg De la Rey, nóg De Wet was ingenome met Burger se optrede. Weens die behandeling van sy oë het Steyn gevra dat die byeenkoms naby Potchefstroom of Klerksdorp plaasvind, en die twee regerings het mekaar op 9 April 1902 op Klerksdorp ontmoet. Steyn se gesondheid het toe al erg agteruitgegaan. Van Transvaal was teenwoordig Burger, Reitz, Botha, De la Rey, LJ Meyer en JC Krogh. Die Vrystaters was Steyn, De Wet, Hertzog, CH Olivier en WJC Brebner.

Drie generaals het ’n oorsig van die toestand gegee. Botha, wat nog 5200 man onder hom gehad het, was pessimisties maar De Wet en De la Rey het ’n gunstiger prentjie geskets. Hertzog het op 10 April daarop gewys dat die grondwette van die twee republieke nie aan die regerings die reg gee om aan die onafhanklikheid te torring nie. Net die volk kon die regerings magtig om die onafhanklikheid prys te gee. Daarom moet hulle ’n konferensie met Kitchener vra op basis van onafhanklikheid. Die twee regerings is daarna met ’n vrygeleide in afsonderlike treine na Pretoria.

Daar is die Vrystaters en Transvalers geskei. Laasgenoemde is na ’n huis langs dié van Kitchener, die Vrystaters elders in die stad. Steyn het aan Kitchener gesê dat hulle gekom het om geen ander doel te bereik nie as dié waarvoor die volk nog steeds stry. Verwonderd en vererg het Kitchener hom gevra of hy onafhanklikheid wil behou. Steyn: “Ja. Die volk moet nie in so ’n toestand gebring word dat hy sy selfrespek verloor en in ’n posisie beland waarin hy hom verneder sal voel in die oë van die Britte nie.” Kitchener: “Maar dit kan tog nie wees nie. Dit is onmoontlik dat ’n volk wat gestry het soos die Boere sy selfrespek kan verloor, en ewe onmoontlik sou dit wees dat Engelse op hulle neersien.”