Die Barry-kerkie, Port Beaufort

Oor ’n paar van ons ouer volksliedere
June 27, 2018
Kapstylhuise, Puntjie, dist. Riversdal (Geen toegang)
June 27, 2018

Trebot Barry • Die Barry-kerkie

Aan die mond van die Breërivier lê Port Beaufort. Hier staan die Barry-kerkie as aandenking aan die groot bedrywigheid wat hier eertyds geheers het.

Om die vervoer van die Overbergse produkte na Kaapstad te vergemaklik, het landdros Faure van Swellendam in 1800 en Dirk Gysbert van Reenen in 1803 by die Kaapse owerheid daarop aangedring dat die mond van die Breërivier as hawe benut word. In 1817 het lord Charles Somerset die mond laat opmeet en sy familienaam aan die hawe gegee—Port Beaufort.

Pogings om die mond as hawe te gebruik, het weinig sukses gehad, maar met die koms van Joseph Barry het daar ’n kentering in die lot van Port Beaufort gekom. Barry het in 1819 as drie-en-twintigjarige jongman na die Kaap gekom. In 1822 is die tender vir die vervoer van koring en rys na die droogtegeteisterde Overbergse bewoners aan hom toegeken en met die kotter Gloucester het hy die vrag veilig in Port Beaufort afgelaai. Dadelik het hy die handelsmoontlikhede deur die hawe besef, en het aldaar ’n winkel opgesit. In 1823 het sy broerskinders John en Thomas hulle by hom gevoeg. Die firma Barry en Neefs het tot stand gekom en met Swellendam as hoofkwartier is dit tot ’n magtige handelsaak uitgebou. Met hulle eie sowel as met gehuurde skepe het hulle alle moontlike handelsware deur Port Beaufort ingevoer en plaaslike produkte soos aalwee, vrugte, velle, volstruisvere en later veral wol uitgevoer. So druk het die verkeer geword dat die regering Port Beaufort tot ’n ope hawe verklaar het en ‘n doeane-amptenaar aldaar aangestel het.

Intussen het bo-op die rand ’n dorpie ontstaan. Die Barry’s het hier ’n grasdakwinkel met sierlike gewels, pakhuise en ’n twintigtal huise gebou. In 1849 het Thomas Barry hier ook ’n fraai rietdakkerkie as interkerklike kapel vir die inwoners opgerig. Dr. Robertson, predikant van Swellendam, het gereeld die dienste hier kom waarneem en die sakramente bedien.

In die sestiger jare het die firma Barry & Neefs weens teenslae en veranderde omstandighede begin kwyn en in 1882 opgehou om te bestaan. Saam met die firma het Port Beaufort as hawe ondergegaan. Dit is eers aan ene Carlsson en toe aan Ohlson van Ohlson-Bierbrouery verkoop. In 1917 het Alfred Barry, kleinseun van Joseph Barry, dit weer in besit gekry.

By die verkoop van Port Beaufort aan Carlsson het Tom Barry, seun van Joseph, die kerkie met ’n stukkie grond daaromheen gekoop en dit aan die N.G. gemeente van Swellendam geskenk. In 1905 is dit aan die gemeente van Heidelberg oorgedra. Toe Alfred Barry in 1917 Port Beaufort in besit gekry het, het hy die kerkie van Heidelberg teruggekoop en dit in stand gehou, maar met sy dood het dit in verval geraak. Deur die bemoeiinge van die heer Dennis Barry is daar egter in 1955 ’n trust gestig; die kerkie en preekstoel is herstel en die instandhouding verseker.

(Bronsplaat 1959)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 116-117.

Trebot Barry • Die Barry-kerkie