Die Anglo-Boereoorlog: ’n Terugblik

Anthonie Bougas se ster skitter steeds
August 29, 2018
‘n Meestersgraad oor melktert
August 30, 2018

Dwarsdeur die 19de eeu was daar, aan verskillende fronte, wrywings in Suid-Afrika. Een van die gevolge hiervan was die Groot Trek, die uittog uit die Brits-beheerde Kaapkolonie van ’n aantal groepe en groepies Afrikaners wat hulle, in hul eie geboorteland suid van die Oranje, nie meer tuisgevoel het nie.

Hierdie doelbewuste uittog het gelei tot statestigtings in die binneland, kortstondig in Natal, van langere duur in die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier en in dié gedeelte van ons land wat tot vandag toe as Transvaal bekend is.

Een van die groot dryfvere van hierdie statestigtings was om, in alle opsigte, getrou aan die ou tradisies, vry en onafhanklik te wees.

In 1852 en 1854 is, ten opsigte van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrystaat, die ideaal van staatkundige onafhanklikheid verwesenlik nadat, in 1843, Natal ’n Britse kolonie geword het.

Foto: Staatspresident S.J.P. Kruger op die stoep van sy ampswoning, Kerkstraat, Pretoria

Tydelik is die Britse uitbreidingstrewe in Suid-Afrika onderbreek waar dit die twee Voortrekkerrepublieke betref, maar in 1877 het die Zuid-Afrikaansche Republiek Britse gebied geword om, na ’n kortstondige stryd, in 1881 sy onafhanklikheid gedeeltelik terug te kry. Hierdie kortstondige oorlog het die bande van saamhorigheid tussen Afrikaner en Afrikaner, in Transvaal, in die Oranje-Vrystaat en onder ’n deel van die Kaaplandse Afrikaners, versterk en sou, as gevolg van verdere wrywings en die weer opvlammende Britse drang om sy invloedsfeer in Suider-Afrika met hernude krag voort te stu, nuwe, groter afmetings aanneem. Transvaal het, veral na die ontdekking van goud aan die Witwatersrand (1866) die mikpunt van die reeds genoemde beleid begin word. Op oorlog is voorlopig nie aangestuur nie, maar reeds op dié tydstip was daar ’n doelbewuste Britse strewe om die Transvalers te belet om hul bestaande invloedsfeer in westelike en oostelike rigting uit te brei, terwyl in die begin van die jare negentig, met die Britse besetting van die huidige Rhodesië, ook in die noorde ’n gebiedende halt aan die Transvalers toegeroep is.

Deur omsingeling en isolering bedreig, het Kruger en die Vrystaters reeds in die jare tagtig nader aan mekaar kom te staan en het Kruger, afgesluit van ’n vrye toegang tot die see, met die Portugese owerheid om ’n spoorlyn van Pretoria na Lourenço Marques aan te lê om, op dié wyse, oor ’n gedeeltelik onafhanklike spoorwegverbinding met die buitewêreld te kan beskik, nadat besprekings oor gemeenskaplike spoorwegtariewe in Suider-Afrika misluk het. Transvaal het nou besluit om nie alleen sy gedeeltelik herwonne staatkundige onafhanklikheid te behou nie maar geIyktydig ekonomies onafhanklik te word.

Foto: Cecil John Rhodes, die voorstander van ’n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag. Standbeeld te Rondebosch, by Kaapstad

Ekonomies het, as gevolg van die ontdekking van goud, die posisie van die Zuid-Afrikaansche Republiek aanhoudend sterker geword, maar andersyds het hierdie toestand, gepaardgaande met die instroming van duisende vreemdelinge, die republiek se saamhorigheidsgevoel afbreuk gedoen. Verskillende agtergronde en uiteenlopende belange het ’n deel van die nuwe bevolkingselement in die regering van Pretoria ’n liggaam laat sien wat, sonder om hul belange, volgens hul mening, voldoende in ag te neem, meer ’n beletsel as ’n aanwins was. Politieke bewegings om meer invloed op die land se bestuur te verkry, soos die “TransvaaI National Union” (1892), het die stemregvraagstuk as een van dié twisappels Iaat ontstaan wat tot die ontknoping van die drama in 1899 sou bydra. Die volgende stap was ’n beroep van die ontevrede Britse bevolkingselement op die Britse regering (1894), gevolg deur Britse inmenging en die poging wat Cecil John Rhodes en ’n aantal leidende figure in 1895 in Johannesburg beplan het om die land se bestuur gewelddadig oor te neem.

Lesers is bekend met die verloop van die Jameson-inval (1895-896) wat, hoofsaaklik as gevolg van onenigheid onder die opstandige Johannesburgers, deur ’n ontoereikend bewapende en onvoldoend voorbereide republiek oorleef is.

Transvaal het, in die lig van hierdie gebeure, nie alleen begin bewapen nie, maar in 1897 ook ’n verdedigende verbond met die Oranje-Vrystaat gesluit.

Intussen het die spanning bly toeneem. Brittanje was vasberade om Suid-Afrika onder sy vlag te verenig; Kruger en Steyn was net so vasbeslote om die onafhanklikheid van hul republieke tot die laaste man te verdedig.

Die gebeurtenisse het nou vinnig op mekaar begin volg met die Britse Minister van Kolonies, sir Joseph Chamberlain, en Hoë Kommissaris sir Alfred Milner (sedert 1897) aan die Britse kant van die politieke skaakbord, as vasberade teenstanders die presidente van die twee republieke met Kruger aan die voorpunt en as eerste mikpunt van die teenparty. In Mei 1899 het Kruger en Milner mekaar in Bloemfontein ontmoet en al die hangende vraagstukke bespreek sonder om tot ’n vergelyk te kom en op 2 September 1899 het Chamberlain aan Milner geskryf:

“lt is a great thing to say that the majority of the people have, as I believe, recognized that there is a greater issue than the franchise or the grievances of the Uitlanders at stake, and that our supremacy in S. Africa and our existence as a great Power in the world are involved in the result of our present controversy.”

Vir die twee republieke was hierdie stryd ’n lewenskwessie en, na gelang dit duideliker begin word het dat al die diplomatieke middels gefaal het en daar geen militêre bystand van bevriende moondhede sou kom nie, het die twee staatjies se burgers gesien dat meer en meer Britse militêre versterkings na die grensgebiede van hul state gestuur word.

’n Britse ultimatum is, in die loop van September 1899 wel opgestel, maar nie versend nie; Transvaal het aan die begin van Oktober 1899 sy ultimatum opgestel wat wel afgelewer is. Daarin is o.m. geëis dat die Britse troepesametrekkings van die grense verwyder moet word en dié Britse militêre versterkings wat op pad na Suid-Afrika is, nie toegelaat word om in Suid-Afrika aan land te gaan nie.

Tewens is daarop aangedring dat al die bestaande geskille aan ’n skeidsgereg voorgelê word.

Op 11 Oktober 1899 het die Britse agent, Conyngham Greene, dié antwoord van sy regering te Pretoria afgelewer wat die oorlogsvlam laat opskiet het. Die voorwaardes van Transvaal was onaanneemlik!

Op dieselfde dag het sir Alfred Milner aangeteken:

“War dates from today, I suppose … We have a bad time before us and the Empire is about to support the greatest strain put upon it since the Mutiny … But we are all working in good heart, and having so long foreseen the possibility of this Armageddon, we mean to do our best in it, though it begins rather unfortunate for us. After all, have not the great struggles of England mostly so begun?”

En in die Vrystaatse hoofstad het die Vrystaatse staatshoof, wat met sy burgers hul belofte gestand gedoen het, ’n verklaring uitgereik waarin o.m. gesê is:

“Aan den God onzer Vaderen dragen Wij ootmoedig de recht- vaardigheid onzer zaak op. Hij bescherme het recht; Hij zegene onze wapenen; …”

Staatsekretaris F.W. Reitz het, namens die Transvalers, die Vrystaatse wapenbroers toegeroep:

“De oorlogszon is gerezen! Wat zal het zijn? Een verwoest en geknecht Zuid-Afrika, of — een vrij Vereenigd Zuid-Afrika?”

 

DIE OORLOG

In Suid-Afrika

Ja, wat sou die uitslag van die komende militêre kragmeting wees? ’n Suid-Afrika onder die Britse of ’n verenigde Suid-Afrika onder die vlag van sy eie, vrye keuse?

Foto: Britse onderdane vertrek van Johannesburg nadat die ultimatum verstryk het (Okt. 1899)

Reeds voor die uitbreek van die oorlog het die Britse militêre deskundiges hul planne gereed gehad. Op 1 Oktober 1899 was daar, aldus dr. J.H. Breytenbach in die eerste deel van Die geskiedenis van die Vryheidsoorlog in Suid- Afrika, 1899-1902 (Pretoria, 1969) ruim 22 000 Britse troepe in Suid- Afrika of op pad soontoe. Hierdie mag is as voldoende beskou om die Britse kolonies in Suid-Afrika teen ’n offensief, van Boerekant onderneem, te beskerm. Terselfdertyd het die toenmalige Britse wêreldryk oor minstens 1 000 000 weerbare mans beskik. Die twee republieke se Strydmagte het in totaal uit ongeveer 54 000 tot 57 000 dienspligtiges bestaan, terwyl ongeveer 2 000 vrywilligers (vreemdelinge) bereid was om die Boere te help.

Foto: ’n Foto van ’n Boerelaer by Mafeking

Ten tye van die uitreiking van die ultimatum was 32 000 tot 35 000 burgers oor vier fronte verdeel, t.w. 17 500 aan die Natalse front, 6 000 aan die Wes-Transvaalse front, ongeveer 5 000 in Noord-Transvaal en 2 500 in die suide. Kleiner afdelings was aan die Transvaals-Portugese en die Vrystaats-Basoetolandse grens opgestel.

Uit bostaande gegewens kan afgelei word dat die Boere Natal as die vernaamste front gesien het en daar was hulle van plan om die Britse sametrekkings onskadelik te maak.

Van Boerekant is, soos uit die troepe-opstellings gesien kan word, optrede aan vier fronte verwag. Mafeking, Kimberley en Colesberg is as verdere kontakpunte van belang beskou, terwyl troepe in Noord-Transvaal saamgetrek is, om die opmars van Britse versterkings uit Rhodesië te probeer keer.

Foto: Genl. sir Redvers Buller, V.C., eerste opperbevelhebber van die Britse krygsmag in Suid-Afrika

Van Britse kant is ’n opmars uit die Kaapkolonie, oor Bloemfontein en vervolgens na Pretoria, beplan. Hier was dus, op papier altans, geen sprake van versnippering van die militêre slaankrag nie, maar, soos bekend, het die aanvanklike militêre suksesse van die Boere dié plan in die war gestuur. Natal het een van die slagvelde geword waar, tot tydens die beleëring van Ladysmith, die Boere aanmerklike suksesse behaal het. Tewens is dit, deur die Britse militêre leier in Suid-Afrika, genl. sir Redvers Buller, nodig geag om pogings aan te wend om die beIeërde Kimberley te probeer ontset.

Foto: Genl. P.J. Joubert, kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek

Stormberg, Magersfontein en Colenso sal in die Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis tot in lengte van dae as groot oorwinnings bekend bly. Dieselfde geld vir Spioenkop (24.1.1900), terwyl die verloop van die daaropvolgende Britse deurbraakpoging by Vaalkrans in dieselfde lig gesien kan word. Maar Ladysmith is nie ingeneem nie, terwyl, op 27 Februarie 1900, genl. P.A. Cronje se burgers by Paardeberg moes oorgee en Kimberley deur die Britse magte ontset is. Lord Roberts het genl. Buller vervang, genl. P.J. Joubert is oorlede en sy mantel het op die skouers van genl. Louis Botha geval en kort vantevore, op 13 Maart 1900, het lord Roberts se troepe in Bloemfontein aangekom … Vir die Boeremagte het die krygskanse begin keer en in Maart 1900 het Staatspresident S.J.P. Kruger tevergeefs ’n beroep op ’n aantal bevriende moondhede gedoen om as bemiddelaars in die geskil op te tree.

Foto: In die loop van Maart 1900 het, onder die Republikeine, die hoop ontstaan dat een of meer buitelandse moondhede as bemiddelaars in die stryd sou optree. Om so ’n moontlike poging te help bevorder, is ’n afvaardiging van Transvalers en Vrystaters na Europa gestuur onder leiding van mnr. Abraham Fischer. Op die foto verskyn voor (van links na regs): Mnre. C.R. Wessels (O.V.S.), A. Fischer (voorsitter van die deputasie; O.V,S.), A.D.W. Wolmarans (Z.A.R.). Agter, in dieselfde volgorde: Mnr. J.G. Bolman, privaatsekretaris van dr. W.J. Leyds; dr. Hendrik P.N. Muller, konsul-generaal van die O.V.S.; dr. Willem J. Leyds, gesant van die Z.A.R.; mnr. J.M. de Bruyn, sekretaris van bogenoemde deputasie

Intussen het lord Roberts, nadat hy sy krygsmag op Bloemfontein aan ’n ingrypende reorganisasie onderwerp het, sy noordwaartse opmars voortgesit. Weliswaar het genl. Christian R. de Wet, deur sy optrede by Sannaspos en Reddersburg, reeds legendariese roem begin verwerf, maar die Boere-magte kon die Britse aanslag nie stuit nie. Na Johannesburg het die Transvaalse hoofstad op 5 Junie 1900 in Britse hande gekom en is die langs die spoorlyn na Lourenço Marques voortgesit. Hier het genl. Louis Botha, o.m. by Donkerhoek, gewys uit watter hout hy gesny was en het die Zuid-Afrikaansche Republiek Politie (Z.A.R.P.) dade van moed by Berg-en-Dal verrig, maar dit het duidelik geword dat die tydperk van grootskaalse krygsverrigtings aan Boerekant tot die verlede behoort. Die patroon het verander, die kleinkryg- of guerilla-taktiek het sy intrede gedoen en hier sou die Boere tot ongekende hoogtes uitstyg.

Foto: Magersfontein, Stormberg en Colenso; drie Boere-oorwinnings in Desember 1899. ’n Britse kunstenaar se voorstelling van die bestorming van Stormberg deur die NORTHUMBERLAND FUSILIERS

Foto: Burgers op brandwag by Ladysmith

Maar inmiddels, in die winter van 1900, was daar ’n ware krisis in die geledere van die Boere. In dié verband het genl. J.C. Smuts, aan die begin van Januarie 1902, in ’n verslag wat hy uit Van Rhynsdorp (K.K.) aan Staatspresident Kruger gestuur het, die toestand soos volg geskets:

“Duizenden legden de wapenen af in de beide republieken en wy werden door den vyand teruggedrongen in den engen oostelyken hoek der Z.A.R., terwyl Hoofd Comdt. de Wet verplicht werd, met zyne commando’s den O.V.S. te ontruimen en naar het boschveld van Waterberg de wyk te nemen.”

In die loop van die winter van 1901 het, aldus assistent-kommandant-generaal J.C. Smuts, weer ’n soortgelyke krisis ontstaan wat tydens ’n Vrystaats-Transvaalse konferensie te Waterval, distrik Standerton, besweer is deur die Vrystaters.

“Beide regeeringen hebben toen te zamen met de hoofdofficieren onze zaak omstandig besproken, en namen ten slotte op 20 Juni te Waterval, dst. Standerton een vastgesteld besluit waarin werd, dat er geen vrede zou gemaakt worden of zelfs onderhandelingen tot vrede aangeknoopt worden, dan alleen op grond van de onafhankelykheid der beide republieken en de hand-aving der belangen onzer koloniale ondersteuners; en dat de Stryd krachtdadig zou worden voortgezet totdat wy ons einddoel zouden bereikt hebben,” aldus genl. Smuts in sy reeds genoemde verslag.

Inmiddels het, met hierdie oogmerk as ’n rigsnoer, die stryd voortgeduur. Genl. Smuts het die sterkte van die burgers te velde omstreeks dié tyd op ongeveer 20 000, nou geharde en gedissiplineerde krygsmanne, geskat.

Foto: Oorlogskaart, waarop o.m. ’n gedeelte van die latere blokhuislinies voorkom

En terwyl hierdie Gideonsbende staande gebly en selfs die Kaapkolonie ingeval het, is die landstreke deur blokhuise in kampe verdeel, plaashuise verwoes, die Boere se veestapel afgeslag en het die Britse militêre verskroeide aarde-beleid en die plasing van vroue en kinders in kampe onbeskryflike leed en ellende veroorsaak.

Die oorlog het, met wisselende suksesse aan albei kante, voortgewoed. In sy verslag het genl. Smuts, te midde van hierdie gewelddadige stryd, geskryf dat die Britte wel die spoorwegnetwerk en die hoofstede en omgewing beheer, maar ongeveer 250 000 troepe benodig om hulle posisie te handhaaf. Die Boere het, soos hy dit stel, ook van die Britse skatkis leef deurdat hulle al hul krygsbenodigdhede buit, en optimisties het hy geskryf:

“De politiek van uitroeiing en uitputting waarvan de vyand zooveel verwacht is dus klaarblykelyk een ydele droom: wy zullen niet uitgeput zyn van alle krygsbehoeften voor dat de Britsche War Office uitgeput is, en dan is het haas tyd dat de oorlog ophoudt.”

En aan die slot van sy verslag het die assistent-kommandant-generaal getuig dat hy in die Stryd die hand van die Here sien:

“Die Hand welke geslacht na geslacht zoo krachtig aan onze geschiedenis heeft gevrocht en nu, langs onbekende en donkere wegen, ja door het dal der schaduw des doods zelf, ons volkje naar een nieuw leven en een beter dag voert. Hem alleen zy al de eer dat wy nog staande zyn gebleven tegen den overmacht van een vyandin, die haar oude zelf niet meer is, maar bezeten en gedreven door een demonische geest, al haar oude beginselen en tradities heeft vaarwel gezegd, alle gevoel van recht en deugd heeft verloren en die in, blinde vervoering vreeselyk oordeel te gemoet snelt.”

Foto: Legendariese roem is, aan Boerekant, deur genl. C.R. de Wet, hoofkommandant van die Oranje-Vrystaat, veral tydens die kleinkrygtydperk van die oorlog verwerf

Op 30 Oktober 1901 het genl. Botha die oorwinning by Bakenlaagte behaal, op 30 September 1901 het genl. J.H. de la Rey die vyand by Moedwil verslaan, op 25 Desember 1901 het genl. De Wet die Yeomanry-kamp by Tweefontein verras; in Oktober 1901 was 118 000 blankes en 43 000 nie-blankes in die kampe opgesluit waar die sterftesyfer aanhoudend gestyg het.

Aan die begin van 1902 het genl. De la Rey die Stryd in Wes-Transvaal voortgesit waar hy, op 7 Maart 1902, genl.-lord Methuen tydens die slag van Tweebosch gevang het, terwyl genl. Smuts die dorp Springbok, in die verre suide, beset en in April 1902 O’Kiep ingesluit het.

En tog? Die aanhoudende druk van die Britse militêre oormag het swaar begin druk. Die Boere het, aldus die Britse militêre historikus maj. John Selby, hul oorwig as skuts en kenners van die veld dwarsdeur die oorlog behou teenoor ’n Britse oormag wat meer as 200 000 man sterk was. Die skrywer Wennie du Plessis het, in sy genl. J.B.M. Hertzog-gedenklesing “Die Boeregeneraals” (1971), verklaar dat die generaals behoudens ’n paar uitsonderings, skitterend opgetree het. Moed en deursettingsvermoë het ’n groot aantal burgers op hul poste gehou. Maar die aanhoudende oorwig in getalle en die aanhoudende ontberings was onder die faktore wat begin tel het.

Die Boereberaadslagings te Vereeniging, soos te boek gestel deur ds. J.D. Kestell en D.E. van Velden (Pretoria — Amsterdam 1909) het aangedui dat, in verskillende sektore, die volgehoue verset ’n kwessie van tyd geword het

Foto: Staatsekretaris, vanaf 1898 gesant, dr. Willem Johannes Leyds, van die Suid-Afrikaansche Republiek

Vredesonderhandelings het hierdie toestand deurkruis. Allereers ’n mislukte poging van die kant van die toenmalige Nederlandse Eerste Minister dr. Abraham Kuyper met die Britse regering te Londen, sonder medewete van die gesant van die Z.A. Republiek in Nederland, dr. Willem Johannes Leyds. Dit het gelei tot ’n verbinding tussen lord Kitchener en die Transvaalse regering te Balmoral en die optrede van vise-president genl. Schalk Willem Burger wat, op sy beurt, nou met lord Kitchener in verbinding getree het, sy bereidwilligheid verklaar het om oor vrede te onderhandel en tewens versoek het om met Staatspresident M.T. Steyn in verbinding te kan tree.

Foto: Staatspresident M.T. Steyn, staatshoof van die Oranje-Vrystaat

Van 9 tot 11 April 1902 het die twee Boere-regerings te Klerksdorp onderhandel oor die koers wat ingeslaan moes word. Eenstemmigheid is nie bereik nie, maar nietemin is besluit om, op 10 April, Staatspresident M.T. Steyn en genl. Schalk W. Burger na Pretoria af te vaardig om ’n bespreking met lord Kitchener te Pretoria te hou. Van 12-17 April 1902 is dié besprekings voortgesit en op 15 Mei 1902 het die Boere-afgevaardigdes die voorwaardes, wat die Britse regering gestel het, te Vereeniging begin bespreek. Hier het genl. Schalk Willem Burger o.m. verklaar:

“Er zijn mannen onder U, die niet willen hooren van opgeven. Zij spreken naar mijn hart, maar niet naar mijn verstand. Hoe pijnlijk ook, ik moet het zeggen: – met de feiten, die vóór ons zijn, moeten Wij den Strijd opgeven. Het spijt mij zeer, dat terwijl onze bondgenoot, de Oranje-Vrijstaat, zijn lot met ons inwierp, de Transvaal heden de meeste zwakheid aan den dag moet leggen en moet zeggen, dat zij niet meer kan voortgaan, terwijl velen van onze broeders van den Oranje-Vrijstaat nog willen volhouden … Hoe pijnlijk het ook voor mij is, zegt mijn verstand mij, dat wij niet verder kunnen gaan, maar dat het beter is, onder een vreemde vlag te bukken en ons volk te redden dan om voort te gaan en ons volk geheel te laten uitdelgen.”

Van genl. C.F. Beyers is die volgende woorde afkomstig:

“Daar wordt gesproken van ons volksbestaan, maar de Heer zal daarvoor zorgen. Dit is onze zaak niet. Onze zaak was recht en is recht en zal recht blijven en macht zal niet over recht triomfeeren. Daarom wil ik volharden in den strijd om te zien, dat recht triomfeer, al moet dat triomfeeren eerst na mijn dood plaats vinden.”

Foto: Lord Kitchener het, as Britse militêre opperbevelhebber in Suid-Afrika, as opvolger van lord Roberts opgetree

Toe die Britse vredesvoorwaardes bekend geword het en die Boere-afgevaardigdes self “ja” of “nee” kon stem, is hulle met 54-6 stemme aanvaar. Staatspresident Steyn, ’n oortuigde voorstander van volgehoue verset, is op 29 Mei vir mediese behandeling na Krugersdorp en het nie aan die stemming deelgeneem nie. Op 31 Mei 1902 is die “Vrede van Vereeniging” in die Melrosehuis te Pretoria onderteken. ’n Belangrike hoofstuk in die geskiedenis van Suid-Afrika is afgesluit, nl. die tydperk van die wapengeweld ter wille van die vryheid en onafhanklikheid van die twee Boererepublieke – Die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrystaat! Die Britse oorlogsuitgawes het, volgens ’n toentertydse skatting, meer as £200 000 000 bedra, meer as 300 000 soldate is na die Suid-Afrikaanse oorlogsterrein gestuur en op 2 Junie 1902 het, onder die opskrif “Peace in South Africa”, die Londense “Times” o.m. geskryf:

“There is one point, above all others, on which we may feel confident, that no compromise has been made, for it is the point on which the future pacification of South Africa turns.”

En in verband met die “Imperial mission” is, aan die slot van dieselfde hoofartikel, verklaar:

“We come out of the war to prosecute that mission with renewed spirit, younger in the consciousness of our might and younger in our hopes than when the brave foes we now welcome as fellow-subjects forced it upon us.”

Foto: Ook genl. C.R. de Wet se opstal het, as ’n uitvloeisel van die Britse verskroeide aarde-beleid, in ’n puinhoop verander (Rhenosterrivier, naby Kroonstad)

Oorkant ons landsgrense

Oorkant die toenmalige landsgrense van die twee Boere-republieke het ’n gedeelte van die Afrikaners in die Kaapkolonie die Boere-saak met die wapen in die hand ondersteun, terwyl ander die nood en lyding in Transvaal en die Vrystaat help verlig het. Die oorlog het die Afrikaner-saamhorigheid, met die oog op die toekomstige gebeurtenisse in Suid-Afrika aanmerklik versterk. Oorkant ons teenswoordige landsgrense, m.a.w. in die buiteland, en wel hoofsaaklik in Europa en die V.S.A., het die oorlog ’n groot mate van simpatie en daadwerklike hulp verwek. Hierdie hoofstuk in ons geskiedenis is nog nie ten volle beskryf nie, maar verdien nietemin ons aandag. Dit het nie alleen die strydbaarheid onder die Boere versterk nie, maar terselfdertyd ook die heersende nood gelenig. Teleurstellend, maar verstaanbaar, was dat die heersende politieke en staatkundige konstellasie in Europa, nie een van die werklike gesaghebbende state tot werklike optrede of bemiddeling kon beweeg nie. Andersyds kan opgemerk word dat sekere lande in Europa, sowel groot as klein, wat hul bevolkings betref, ’n sterk pro-Boeraksie ontketen het. Ook in Engeland en die V.S.A. het, onder sekere politieke partye en, in Iaasgenoemde land veral onder afstammelinge van Nederlanders en Duitsers ’n soortgelyke gees tot uiting gekom. Tot intervensie was die pro-Britse McKinley-administrasie nie bereid nie, terwyl die Roosevelt-administrasie te Washington, D.C., Suid-Afrika buitekant die grense van sy invloedsfeer beskou het. Maar veiligheidshalwe kan daar gesê word dat daar, in die onderskeie lande, van San Francisco tot in Moskou en Konstantinopel, skakerings van pro-Boergesindheid bestaan het en aktief opgetree is.

Die man wat, as Transvaalse gesant in Europa, saam met sy Vrystaatse kollega konsul-generaal dr. H.P.N. Muller, hierdie toneel noukeurig bespied het, was dr. Willem Johannes Leyds (1859-1940).

Terwyl die belangstellende leser aangaande dr. Muller se werksaamhede na die studie van prof. dr. F.J. du Toit Spies, ’n Nederlander in diens van die Oranje-Vrystaat (Amsterdam, 1946) verwys word, volg hier ’n paar besonderhede aangaande dr. Leyds en sy veelsydige bedrywighede in die oorlogsjare.

Dr. Leyds se Transvaalse loopbaan het in 1884 as Staatsprokureur van die Zuid-Afrikaansche Republiek begin, in 1888 is hy as staatsekretaris benoem en tien jaar later na Europa gestuur om, as buitengewone gesant en gevolmagtigde minister, die belange van Transvaal aan verskillende Europese howe te behartig. Voor die oorlog het dr. Leyds hom veral beywer om die gesindheid van die regerings te pols in geval oorlog in Suid-Afrika sou uitbreek. Leyds se bevindings was dat die Boere, in die geval van ’n gewapende konflik, geen hulp sou kan verwag nie. Hy het selfs ’n amptelike besoek aan Tsaar Nikolaas II, in St. Petersburg (Leningrad) gebring en tydens sy reise ’n Duitse Departement van Buitelandse Sake aangetref wat die groeiende Britse seemag te veel gevrees het om iets ten gunste van die bedreigde Boere-republieke te durf onderneem. Die Franse Minister van Buitelandse Sake, Delcassé, het hom nie bemoedig nie, in Rusland was die Tsaar sterk pro-Boer, maar het die tradisionele patroon van die Russiese Departement van Buitelandse Sake geen positiewe optrede in die guns van die Boere-republieke gedoog nie. Dit was, ’n paar jaar nadat dr. Leyds en sy personeel hul intrek in Brussel geneem het, nog die geval. Geen daadwerklike hulp in die oorlog nie en tewens, as gevolg van dieselfde faktore, ook geen daadwerklike intervensie nie, soos President Kruger o.m. in Maart 1900 persoonlik ondervind het. Dr. Leyds het hom, dwarsdeur die oorlogsjare, sonder sukses in die rigting bly beywer.

In 1900 het die Deputasie, afgevaardig deur die twee republieke en bestaande uit Abraham Fischer (O.V.S., voorsitter), C.H. Wessels (O.V.S., lid) en A.D.W. Wolmarans (Z.A.R., lid) na Europa oorgekom om pogings in die rigting van bevriende tussenkoms te onderneem.

Foto: President Kruger se laaste verblyfplek, Clarens, SwitserIand

Staatspresident S.J.P. Kruger het op 29 Mei 1900 van Pretoria vertrek en in Oktober van dieselfde jaar, met ’n klein gevolg, die Transvaals-Portugese grens oorgesteek om, op sy beurt, gedurende ’n verlof van ses maande en nadat genl. S.W. Burger as sy plaasvervanger aangewys is, hulp vir die Boere in Europa te probeer kry. Aan boord van die Nederlandse pantserkruiser Gelderland het die vergrysde Transvaalse staatshoof op 22 November 1900 te Marseille, Frankryk, aangekom. Daar het Paul Kruger se tog deur Europa begin. Dit het, uiterlik altans, gelyk of dit die reis van ’n oorwinnaar was wat, met uitbundige toejuigings, ’n ware oorwinnaarsreis deur Frankryk onderneem het en daarna in Keulen, Duitsland, ingelig is dat keiser Wilhelm van Duitsland hom nie kan ontvang nie. Vandaar is die Staatspresident na Nederland waar hy, net soos in Frankryk, besonder gasvry ontvang is.

In Den Haag het dr. H.J. Gerrisen geskryf:

“Van morgen zag ik Kruger, De Boeren winnen het. Die man heeft een roeping, die man is van God aangewezen om zijn land, om Afrika door de geweldige crisis henen te leiden waarin het nu verkeert … Ik zie hem altijd door nog. Hij zit midden in mijn ziel. Een groot man, een vorst.”

Duisende het die Staatspresident gesien en bewonder … Duisende het gejubel, maar hul regerings het die stilswye bewaar. Die Staatspresident het in April 1901 met sy gevolg in die villa “Casa Cara”, te Hilversum, Nederland, gaan woon, die lede van die Deputasie het hul kantore in Villa Nuova”, Scheveningen, Nederland, betrek, en dr. Leyds was dan weer te Brussel, dan weer in Parys Den Haag, Berlyn, Hilversum of waar sy hande werk gevind het. Dikwels het hy met Abraham Fischer beraadslaag, dan was hy weer in briefwisseling met C. van Boeschoten, die Staatspresident se “Hoofd van Dienst.”

In die Dagboek van H.C. Bredell 1900-1904 (Pretoria, 1972) kry die leser indrukke van die Staatspresident en sy naaste omgewing, in die resente herdruk van Met Paul Kruger in Europa. Zijn laatste dagen (Staatsbiblioteek, Pretoria, 1973) kan die jare van ballingskap van Kruger gevolg word. Maar laat ons terugkeer na dr. Leyds.

Dr. Leyds het hom, behalwe in die rigtings wat reeds aangedui is, veral beywer om die Europese pers in te span ten opsigte van die oorlogsberiggewing (pro-Boer), die opwekking om steun aan die Boere te verleen en om, sover dit kontroleerbaar was, dieselfde oorlogsberiggewing waarheidsgetrou te laat verloop.

In hierdie verband het sy Belgiese joernalis-medewerker Edgar Roels onskatbare dienste bewys. Tewens het dr. Leyds die hulp en medewerking verkry van die Dordrechtse perskantoor van die “Algemeen Nederlandsch Verbond”, waar o.m. Frederik Rompel werksaam was, en ’n aantal goedgesinde koerante en buitelandse persverteenwoordigers.

Invloedryke organisasies soos die “Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging”, die Franse “Comité pour l’ Indépendance des Boers”, die “Deutsche Buren Centrale” het Leyds in sy aksie gesteun. In Engelse kringe, soos dié van die “S.A. Conciliation Committee” en die “Stop-the-War-Committee” is regstreekse of indirekte verbindings met dr. Leyds in die lewe geroep. In Duitsland het vooraanstaande pro-Boere soos A. Schowalter en Freiherr von Reibnitz dr. Leyds gehelp, in Nederland het o.m. dr. H.J. Kiewiet de Jonge, G.A.A. Middelberg en P.A. Nierstrasz steeds gereed gestaan. In Brussel was o.m. die redakteur van die dagblad “Le Petit Bleu” op sy hand en in Frankryk was Senator Pauliat een van dr. Leyds se vertrouelinge.

Tewens het Leyds, waar nodig, gebruik gemaak van die bestaande konsulêre organisasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek, terwyl hy die voormalige konsul-generaal in Engeland, Montagu White, na die V.S.A. afgevaardig het as sy verteenwoordiger-waarnemer.

Leyds het hom, met wisselende sukses, toegelê op onderwerpe soos die pogings om lewering van krygsmateriaal deur neutrale state aan Engeland te probeer verhinder, om arbitrasie te bevorder, om die gestaakte uitsending van ambulanse en mediese personeel na die Boere weer aan die gang te kry, om steun aan verbanne amptenare te verleen, om publikasies te behartig en aan te moedig en om finansiële hulp vir die noodlydendes in Suid-Afrika te verkry. Om al die suksesse wat in dié verband deur dr. Leyds behaal is, op sy rekening te skryf, sou onregverdig wees sonder om melding te maak van wat hy van ’n groot aantal geesverwante ontvang het. Soms lê die inisiatief by dr. Leyds, dan is dit sy steun en dryfkrag!

Na dié mening van die skrywer lê sy grootste suksesse op die gebied van daadwerklike noodleniging, sowel gedurende as na die oorlog.

Soos die Boere in die veld slaggereed gebly het tot die einde, so het dr. Leyds ook op sy pos gebly. Hy het, tot die laaste dag, vas bly glo in ’n Boere-oorwinning en – ook na die oorlog – daarin bly glo dat, eendag, Suid-Afrika as ’n vrye staat, sy regmatige plek onder die volke van die wêreld sou inneem. In dié opsig het hy, net soos sy groot leidsman en medestryder, Staatspresident Kruger, bly glo in die gedagte wat deur mev. Marie Koopmans-De Wet so gevoelvol in die volgende woorde omskryf is:

“Maar de Koning van hemel en aarde — Hij die Zijn tijd kent, Hij heeft nooit meer getoond dat Hij menschenmacht en paardenkracht niet van noode heeft, en ik geloof, en ik bid, en ik wacht, want Zij die gelooven haasten niet.”

Met hierdie gedagte, die Tweede Anglo-Boereoorlog en die bepalings van die Vrede van Vereeniging in gedagte, word die volgende datums en besonderhede as mylpale uit die na-oorlogse tydperk genoem:

1906-1907            Toekenning van verantwoordelike bestuur aan die voormalige Boere-republieke.

Foto: In 1901 het kommandant-generaal Louis Botha op Middelburg, Transvaal, met die Britse militêre leiers onderhandel sonder dat tasbare resultate behaal is. Die finale vredesonderhandelings het in 1902 te Klerksdorp, Pretoria en Vereeniging plaasgevind. In 1910 het genl. Louis Botha die eerste Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika geword

1910                       Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika.

1926                       Die Rykskonferensie; die Balfourverklaring.

1927                       Die Unie-vlag.

1931                       Die Statuut van Westminster.

1934                       Die Statuswet.

1949                       Die Unieburgerskap ingevoer.

1953                       Die koningstitel geskei.

1961                       Die Republiek van Suid-Afrika kom tot stand.

Die leser kan hierdie gebeurtenisse aanvul en daardeur steeds duideliker besef op watter wyse die pad na staatkundige vryheid en onafhanklikheid, nou in ’n alomvattende, landswye betekenis Suid-Afrika tot die jaar 1961 en verder, gelei het.

Soms is die vergesig helder en onbewolk, dan is dit of die mens, in miswolke gehul, sukkel om sy koers te bepaal en te hou. Vyf-en-sewentig jaar na die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog kan ons herhaal wat oud-Staatspresident M.T. Steyn by geleentheid van ’n kongres van die Orangia-Unie (1908) gesê het:

“Watter gebruik gaan ons van die voorreg maak? Gaan ons dit gebruik tot bestendiging van ons volk, tot seën van ons land en tot Sy eer? Of sal die geskiedskrywer van hierdie periode moet neerskrywe: ‘geweeg, geweeg en te lig bevind.’”

Hierop het die spreker laat volg:

“God verhoede dit!”

 

Foto: Historiese foto van die eerste uniale kabinet, met genl. L. Botha as Eerste Minister en die handtekeninge van al die kabinetslede.

Bron: Ploeger, Jan. 1974. Lantern, September: 2-25.