Die Andrew Geddes Bain-gedenkteken, Eceapas

Mooimeisiesfontein, Riebeek-Oos
September 12, 2019
Fort Brown, dist. Grahamstad
September 12, 2019

Vanaf Grahamstad loop die so bekende Queen’s Road reg noord na Fort Beaufort en Retiefspos. Links van hierdie pad, 16 kilometers vanaf Grahamstad, bo-op die Eccapas, staan ’n gedenkteken ter ere van die baaspadbouer en pioniergeoloog, Andrew Geddes Bain. ’n Gepaster plek met ’n gepaster naam ter herdenking van die tweeledige bydrae van hierdie merkwaardige persoon kon nie gevind word nie.

Andrew Geddes Bain is in 1797 in Thurso aan die noordkus van Skotland gebore. In 1816 op negentienjarige leeftyd kom hy saam met luit.-kol. William Geddes, ’n familielid, na Suid-Afrika. Twee jaar later tree hy met mej. M.E. von Backstrom in die Groote Kerk in Kaapstad in die huwelik, en in 1822 vestig hy hom in Graaff-Reinet as tuiemaker. Hy kry ’n lisensie om buite die grense van die Kolonie handel te dryf. In 1825 onderneem hy ’n reis na Kuruman; in 1829 gaan hy weer eens op reis en bereik die Molopo en in 1834 besoek hy die Umzimvubu. Van hierdie reise het hy baie noukeurige en interessante beskrywings nagelaat.

Bain het geleidelik ’n redelik welgestelde inwoner van Graaff-Reinet geword en het vir hom ’n pragtige huis in Napierstraat gebou. Hy het ’n lewendige belangstelling in openbare aangeleenthede getoon en dit was juis as gevolg hiervan dat sy natuurlike aanleg as padingenieur tot ontluiking gekom het. Eers het hy ’n groep persone gehelp om op eie koste die Onderbergpas te bou. Toe het hy gratis oor die bou van die Van Ryneveldspas toesig gehou.

Deur hierdie werke het Bain ’n reputasie as padbouer verwerf met die gevolg dat hy in 1837 deur die Royal Engineers aangestel word om paaie in die oostelike grensstreek te bou. Die eerste pad wat hy onderneem het, was dié van Grahamstad na Fort Beaufort en verder. Die moeilikste gedeelte van hierdie pad het dwarsoor die hoogte net noord van Grahamstad gegaan, en daarom het hy daar vir hom ’n huis gebou. Na sy voltooiing rondom 1842 is die pad, in opdrag van die goewerneur, Queen’s Road, genoem ter ere van die jong koningin Victoria. Die hoogte en die pas het na aanleiding van die Eccarivier, net noord van die hoogte, as Eccahoogte en Eccapas bekend geword. Ongelukkig het hierdie name totaal in onbruik geraak. Die Eccarivier het die Brakrivier geword en die Eccapas die Queen’s Pass. Maar die naam Ecca het, in weerwil van sy nederige oorsprong as die naam van ’n onbelangrike riviertjie, daarenteen as geologiese term internasionale bekendheid verwerf, en ook dit het ons aan Andrew Geddes Bain te danke.

Dieselfde jaar waarin hy tot Superintendent van Militêre Padkonstruksie aangestel is, het in sy besit gekom Charles Lyell se klassieke werk, Principles of Geology. Hierdie jong wetenskap het onmiddellik sy belangstelling gewek en sy verbeelding aangegryp en sy werk het hom ’n uitmuntende geleentheid gegee om dit te beoefen. Hy het die opeenvolgende geologiese formasies of stratifikasie vanaf die Eccahoogte tot by die Katberg noukeurig onderskei en hulle samestelling beskryf. Aldus het hy die blou skalie en moddergesteentes, wat hy onder aan die pas teengekom het, die Eccaserie genoem, en dit het dwarsdeur die wêreld bekend geword as die groot steenkoolhoudende laag in Suid-Afrika. Terselfdertyd ontdek hy ’n reeks Karoofossiele voorheen onbekend aan die wetenskap en lê so die geweldige paleontologiese rykdom van die Karoosisteem bloot.

Sy werk as padbouer aan die oosgrens het hom tot 1845 besig gehou. In daardie jaar word hy as Inspekteur van Paaie onder die Sentrale Padraad aangestel en begin hy met die bou van Michellspas oor die Heksrivierberge na Ceres. Drie jaar daarna voltooi hy ook die Bainskloof-pas by Wellington oor die Klein-Drakensteinberge. Sy laaste groot onderneming as padbouer was die Katbergpas. Op 20 Oktober 1864, terwyl hierdie pas voltooiing genader het, is hy in Kaapstad oorlede.

Bain het deur die jare heen sy geologiese waarnemings voortgesit en in 1852 kon hy die eerste geologiese kaart van Suid-Afrika opstel. Hy word dan ook dikwels die “Vader van die Suid-Afrikaanse Geologie” genoem.

Bain het ten slotte ook op ’n ander onverwagte en belangrike gebied ’n bydrae gelewer: Hy was die skrywer van Kaatje Kekkelbek in Hottentots-Afrikaans, en dus een van die vroegste skrywers van Afrikaans.

Tereg skryf Margaret H. Lister van haar oorgrootjie: “His personality is revealed as that of an observant, simple-hearted and lovable man whose originality, versatility and charm gained him many friends. .. He was a true frontiersman and rejoicer in the free life of the open veld …”

Deur die bemoeiinge van prof. JVL Rennie van Grahamstad is die gedenkteken op die Eccahoogte opgerig en is die name Eccarivier, Eccahoogte en Eccapas in ere en op ons kaarte herstel.

(Bronsplaat 1964)

Foto: A. H. Harkness • “Queen’s Road”, Eccapas 1867 • Africana-museum, Johannesburg

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 153-155.