Die agteruitgang van Nederland

Eerste demokratiese opvattings
February 9, 2015
Gedenktuin vir ABO-kampslagoffers by Oorlogsmuseum geskep
February 10, 2015

Die Kaap kon ’n lang tyd Hollands bly omdat Nederland in die 17de eeu so ’n sterk seemoondheid was en omdat die Kaap nog nie veel waarde gehad het nie. Die Weste het nog nie die Ooste begin koloniseer nie. Toe dit egter begin gebeur, het die Kaap strategiese waarde verkry.

Dit het buitendien gebeur in ’n tyd dat Nederland sowel op see as op land agteruitgegaan het. Die landjie was in die 17de eeu byna onafgebroke in ’n reeks oorloë betrokke en het sy kragte ooreis. Ná 1713 het lande met klein bevolkings soos Nederland en Swede in die Europese staatkunde ’n kleiner rol begin speel as die getalsterkes soos Frankryk, Engeland, Pruise, Oostenryk en Rusland. Ook het die ekonomiese bloei van Nederland afgeneem, sodat sy oorlogsvloot verwaarloos is en dit in die 18de eeu as seemoondheid van betekenis verdwyn.

Twee Europese lande het in die 18de eeu met mekaar gewedywer: Brittanje en Frankryk. Hulle het ook in die Ooste teen mekaar gestry en daardeur het die Kaap nuwe belang gekry. Albei het besef dat wie die Kaap besit, sy teenstander in die Ooste ook kon baasraak.

In 1776 het die Britse kolonies in Noord-Amerika hulle vry van die Britse gesag verklaar en ’n oorlog teen Engeland begin. Frankryk het in 1779 ’n bondgenoot van die Amerikaanse kolonies geword. In 1780 het ook Nederland in die oorlog teen Engeland betrokke geraak, en die Franse gevra om die Kaap teen Engeland te beskerm. Die Franse onder admiraal Pierre André de Suffren het ná ’n seeslag teen die Britte by die Kaap Verde-eilande eerste hul skepe seewaardig gekry en kon hulle hulle ingrawe aan die Kaap voordat die Engelse in Julie 1781 daar kom.

Brittanje moes die Verenigde State van Amerika prysgee. Die oorlog wat in 1883 ten einde geloop het, het vir die Britte ongelukkiger geëindig as die voriges waarin hy met Frankryk betrokke was. Maar Nederland het ook kwaai verliese gely. Die land was bowendien verdeeld tussen die patriotte, aanhangers van die nuwe denkbeelde, en die Oranjegesindes, voorstanders van die bestaande politieke en ekonomiese toestand. Die oorlog het Nederland se ondergang as selfstandige groot moondheid beseël. ’n Vloot het dit feitlik nie meer gehad nie. Daarby het die VOC agteruitgegaan. Die Kompanjie, wat vroeër sulke hoë dividende betaal en bygedra het tot die welvaart van die land, het diep in die skuld geraak. Die Nederlandse historikus Pieter Geyl skryf: “Die nood van die Kompanjie was te wyte aan sy organisatoriese gebreke. Dit was nie dat die Oos-Indiese handel gekwyn het of dat die lande self niks werd was nie, ver daarvandaan. Dit was natuurlik ook nie alleen die amptenarekorrupsie nie; dit was […] ’n hopeloos verouderde, verwarde en onoorsigtelike boekhoudingsisteem. Die Kompanjie het sy eie rykdom nie geken nie.”

Ná hul neerlaag het die Britte besef dat as hulle hul besittings in Indië teen vyande wou beskerm, hulle die seeweg tussen die Ooste en die Weste moes beheers. Daarvoor was die Kaap onontbeerlik. In die laaste jare van die VOC-bewind is Britse handelskepe, waaronder skepe met slawe, in die Kaapse gebiedwaters toegelaat. Britse en Franse slawehandelaars het die slawehandel aan die ooskus van Afrika gemonopoliseer. Die Kaap het ’n begeerlike buit geword. En soos Nederland was die Kaap weerloos. Die einde van die Hollandse tyd was in sig.