Die agteruitgang van die Khoi-Khoin

‘n Krisisjaar vir Nederland en Afrikaans
January 9, 2015
Die koms van die Hugenote
January 11, 2015

Teen 1679 was die Kaap nog nie aantreklik vir die amptenare nie; niemand het lus gehad om hom blywend aan die Kaap te vestig nie. Maar die meerderheid vryburgers het ondanks hul moeilikhede geen verlange gehad om na Nederland of Batavia te gaan nie. Wanneer een van hulle sterf, het die weduwee selde gevra om na die vaderland terug te keer. Vir die vryburgers het die land reeds húl land begin word. Hulle was ook nie meer saamgetrek in die omgewing van Tafelberg en die Liesbeek nie, maar het al meer uitgebrei.

Die eerste werklike skool vir die Kaapse kinders, wit sowel as gekleurd, is in 1663 geopen met twaalf wit, vier slawe- en een Khoi-Khoi-kind. ’n Jaar daarna was dit 29, maar die sieketrooster, wat tegelyk skoolmeester was, was te lief vir die wyn en is in 1666 na Batavia verban. Die volgende sieketroosters en fiskaal het daarna onderwyser gespeel, maar weens talle onderbrekings sonder veel sukses. Teen 1677 is ’n vaste skool weer ingestel, en in 1679 was daar 32 wit, 11 “gemengde” en vyf slawekinders op die skoolbanke. Amptenare het die AB-boekies, evangelieboekies, “Historiën van Dawid, Tobias en andere”, psalmboekies en “lode pennetjes” (potlode) uit Nederland bestel.

Ook op kerklike gebied was daar vordering. Aanvanklik moes die sieketrooster ’n deel van die predikantspligte verrig, maar in 1665 het die Kompanjie ds. Joan van Arckel as eerste predikant aan die Kaap aangestel.

Terwyl die Nederlanders al meer gevestig geraak het, het die Khoi-Khoi-samelewing langsaam begin verbrokkel. ’n Tweede Khoi-Khoi-Nederlandse oorlog, van 1673-1677, het in ’n nederlaag vir die invloedryke kaptein, Gonnema, geëindig. Die sterkste en mees anti-Nederlandse Khoi-Khoi-kaptein is voor vriend en vyand verneder. Hy moes jaarliks dertig stuks vee aan die Kompanjie betaal. Daarby het die Kompanjie meer beheer begin kry oor sy bondgenote in die stryd teen Gonnema. Die Kompanjie het ook vir die eerste keer homself die reg gegee om op te tree as bemiddelaar in geskille tussen Khoi-Khoi-groepe.

Terwyl die gesag van die kapteins afgeneem het, het al hoe meer Khoi-Khoin vir die koloniste begin werk. Reeds van Van Riebeeck se tyd af was party in diens as koksmaats, knegte, bouarbeiders en boodskappers. Die uitbreiding van die kolonie ná 1679 het die behoefte aan Khoi-Khoi-arbeid laat toeneem, veral onder vryburgers wat nie slawe kon bekostig nie.

Die Khoi-Khoin se rykdom het vinnig verminder – van 1652 tot 1699 het hulle sowat 36 000 skape en 16 000 beeste aan die Kompanjie verruil. Hulle het veral sedert die 1690erjare in groot getalle op die plase gaan werk, maar ’n paar het ook in Kaapstad ’n karige bestaan gevoer as kruiers vir matrose en bodes vir die eienaars van eet- en drinkhuise. As loon het hulle nie vee gekry sodat hulle nuwe troppe kon opbou nie, en so het hulle vir goed vir die Khoi-Khoi-samelewing verlore gegaan. Die opname van die Khoi-Khoin in die Kaapse ekonomie is versnel deur die uitbreiding van die blanke gemeenskap aan die Kaap onder ’n nuwe kommandeur, Simon van der Stel.