Die aftakeling van Afrikaans

Weer Afrikaners in diaspora
January 26, 2015
Halwe waarhede
January 26, 2015

Die versekerings wat die maghebbers oor Afrikaans gegee het, het op baie terreine waardeloos geblyk. Van 1994 af is Afrikaans afgetakel en Afrikaans-taliges gemarginaliseer deur die beleid van regstellende aksie. Sommige geleerdes het van die verandering ná 1994 as ’n “gekoopte revolusie” begin praat, waarin groot bedrae bestee is om mense uit hoë ampte in die staatsdiens te verwyder. Tot in Februarie 1999 is buite die Weermag 56 985 uittredingspakkette teen ’n totale koste van R856 035 908 toegestaan. Terselfdertyd is regstellende aksie meedoënloos toegepas. Waar wit mense in 1994 nog 44% van alle staatsdiensposte gevul het, was dit aan die begin van 1999 17,71%. Dit was vir die regering nog te veel, aangesien die blankes net 11% van die bevolking uitmaak. Regstellende aksie word ook op die private sektor afgedwing deur die Wet op Billike Indiensneming van 1998.
Op alle terreine is Afrikaans benadeel. Vier dae na sy aanstelling as nuwe Direkteur-generaal van Openbare Werke het mnr Sipho Shezi in 1995 in ’n brief amptelik beveel dat alle offisiële korrespondensie in die departement voortaan net in Engels moet geskied. Doktor Zola Skweyiya, Minister vir die Staatsdiens en Administrasie, het aan die begin van Junie 1995 in ’n brief aan die Sekretaris van die Parlement, mnr Robin Douglas, geskryf: “Ek dring daarop aan dat alle verdere korrespondensie aan my in Engels, Xhosa of Zoeloe moet wees.” Daar is honderde sulke voorbeelde. Soms ondanks proteste, maar meestal stil-stil is Afrikaans uit die staatsapparaat uitgeskakel.
Afrikaans het ’n onderrigmedium gebly, maar dit is in party Afrikaanse skole veral bedreig deur die verpligting om dubbelmediumklasse aan te bied indien daar nie-Afrikaanse leerlinge inskryf. Verskeie gewese Afrikaanse skole is omgeskakel na dubbelmedium. Meneer HP Smit, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersfederasie, het gesê daar is ’n “openlike aanslag” op Afrikaans-mediumskole.

Min sake het soveel ontevredenheid veroorsaak as die vermindering van Afrikaans oor televisie nadat ’n nuwe ANC-gesinde SAUK-raad oorgeneem het. In ons tyd is die televisie met sy vermaak, inligting en opvoeding feitlik die beliggaming van die moderne lewe. So ’n impak het dit op mense dat geleerdes wat ’n studie maak van bedreigde tale, meen dat televisie as ’n dodelike wapen teen tale van nie-dominante groepe gebruik kan word.

Engels het die SAUK se “ankertaal” geword en kry sedert Februarie 1996 meer as 50% van die uitsaaityd, teenoor Afrikaans, Zoeloe en Xhosa se iets meer as 5%. Ander tale kry minder. Vir die berekenings is sport nie in aanmerking geneem nie – dié is hoofsaaklik Engels. Afrikaanse vollengterolprente word nie meer vertoon nie. Afrikaanse jeugprogramme is verminder. Oorklanking, waarin die SAUK ’n wêreldleier was, is afgeskaf.

Uit reaksie het ’n Afrikaanse televisiekanaal kykNET in 1999 tot stand gekom, asook Afrikaanse radiostasies soos Kosmos Digitaal wat wêreldwyd uitsaai, en daarby Radio Pretoria en ander stasies op kleiner plekke.