25 OKTOBER
Oktober 23, 2015
24 OKTOBER
Oktober 23, 2015

Geskryf deur M Venter, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1958

“Ja kleinspan, die verhaal van die ontdekking van diamante is wonderlik,” sê oom Schalk van Niekerk. Toe ek op ’n dag by my buurman Daniël Jacobs gaan kuier, vertel sy vrou my dat haar seuntjie altyd met klippies speel. Ons plase was langs Oranjerivier naby die dorpie Hopetown. In die wit sand langs die rivier het die seuntjie ’n pragtige wit klippie opgetel. Ek was nuuskierig en wou dit graag sien. Sy het die seuntjie na die klippie gevra, maar dit was weg. Ons het oral gesoek en dit in die agterplaas in die sand gekry. Ek het dit mooi skoongemaak en toe het dit pragtig in die son geblink. Ek wou dit sommer koop. Die goeie gelag en gesê dat ek dit maar kon hou.

“’n Handelaar het daarna gekyk en belowe om vir my uit te vind of dit enige waarde het. Baie mense het daarna gekyk, maar niemand het gedink dat dit iets werd was nie. Die klippie is toe darem na dr. Atherstone in Grahamstad gestuur om na te kyk. Hy het gesê dat dit ’n diamant van 21¼ karaat was. Die waarde was £500!

“’n Rukkie later het daar eendag ’n Griekwa-skaapwagtertjie na my gekom. Hy het my ’n pragtige diamant gewys. Hy het dit glo naby Oranjerivier opgetel. Ek was nou nie meer so dom nie en het die wagtertjie 500 skape, 10 osse en ’n perd aangebied. Die skaapwagtertjie  se oë het groter en groter gerek. Hy kon dit beswaarlik glo. Ek het die diamant van 83½ karaat op Hopetown vir £11 200 verkoop. Dit is later vir £25 000 verkoop en het die naam ‘Die Ster van Suid Afrika’ gekry.

“Hierdie nuus het soos ’n veldbrand versprei. Duisende mense het gekom om diamante te soek. Na omtrent ’n jaar was daar 10 000 delwers besig om diamante in die spoelgrond tussen die Vaal en die Harts te soek. Die rivierdelwers het in die dag hard gewerk. Hulle het die gruis gesif, terwyl die wind baie gewaai het. In die aand het hulle doodmoeg in hulle tente gesit. Net die kerse het die donker nag effens verlig. Die delwers het baie gehad om hulle mee besig te hou. Hulle het die goeie en slegte mense leer ken. Soms het die rivier afgekom en het hulle kampe of siwwe weg gespoel. Dikwels het hulle baie swaar gekry. Soms het hulle egter gejuig oor ’n mooi diamant! Iemand het my van so ’n delwer vertel. Sy naam was Frans Roos. Het het een nag sommer groot geskrik. Toe hy wakker word het hy ’n Kotana by die tentdeur sien inloer. Hy het woedend gevra wat die Korana wou hê. Frans was baie verbaas toe die jong ’n skitterende diamant uithaal. Hy het hom gevra wat hy daarvoor wou hê. Die Korana was uitgeslaap en wou ’n wa en osse, twintig osse, honderd skape en dertig goue ponde hê. Roos was gewillig en het die diamant geruil. Die diamant het hom omtrent £280 gekos. Hy het die egter weer vir £10 000 verkoop!

“Daarna het daar eendag ’n paar prospekteerders langs die Vaal gedelf. Die naturelle het vir Richard Jackson vertel van ’n eensame witman daar in die suide wat sommer baie diamante uithaal! Hulle wou gaan kyk en het met twee skotskarre daarheen gery. Hulle het ’n wit tent tussen die bome gesien. ’n Man was besig om gruis te ondersoek. Dié man, Cornelis was sy naam, het aan Jackson vertel dat hy diamante soek. Hy moes ’n deel van sy wins aan die eienaar van die plaas Vooruitzicht gee. Terwyl hulle nog so praat het hy jou waarlik ’n diamant uit die gruis gehaal. Cornelis het verder ’n vuurhoutjiedosie vol diamante uit sy sak gehaal! Jackson en sy maats was verbaas om so baie diamante bymekaar te sien.

“Hulle is dadelik na die baas van die plaas. Hulle het lank met De Beer gesels en die reg gekry om vir hulle stukkies grond af te steek ongeveer dertig voet by dertig voer groot. Jackson en sy maats is toe terug en het die groot nuus aan hulle vriende gefluister. Dit het nie lank ‘n geheim gebly nie. Jackson en sy vriende het die volgende môre met agt waens na Vooruitzicht vertrek. Naderhand het hulle stofwolke agter hulle sien uitslaan. Dit was ‘n stormloop na die plaas! Baie ander delwers het ook besluit om na die wonderlike plek te gaan. Jackson het glo benoud begin raak dat die ander voor hom op die plaas sou kom. Daar aangekom het hulle vinnig met pik en graaf na hul stukkies grond gegaan. Die ander delwers het ook op die plek afgestorm en links en regs penne ingeslaan. Dit was ’n groot bedrywigheid. Die eensame plaas was nou in rep en roer.

“Cornelis het sy kleim vir €110 verkoop en in Lichtenburg gaan woon. Daar is hy glo later dood en ons het nie eers sy van verneem nie. Uit alle dele van Suid-Afrika en selfs van oorsee het delwers na hierdie plek gekom. Spoedig het ‘n hele tentdorp verrys. Dit was die begin van Kimberley.

“Die De Beers het die plaas vir £50 gekoop. Nadat diamante daar ontdek is, het hulle dit vir omtrent £60 000 verkoop. Dit het baie later eers tot De Beer deurgedring dat hy maar bloedweinig vir sy plaas gekry het. Die plek is nou miljoene werd. Die groot diamantmaatskappy in Kimberley het sy naam: die De Beersmaatskappy. Ek verstaan dis die grootste diamantmaatskappy in die wêreld!

“Het julle van hierdie verhaal gehou?” vra oom Schalk.