Deur die Dorsland na Duitswes

Generaals Beyers verdrink en Jopie Fourie gefusilleer
January 22, 2015
Dood van Generaal Beyers en Jopie Fourie
January 22, 2015

In Generaal J.C.G. Kemp en die epiese woestyntog beskryf M.C.E. van Schoor dié tog ondanks die militêre en politieke mislukking as “’n verrykende invloed op die Afrikanergees”.Die tog is ’n voorbeeld van blote menslike uithouvermoë en ’n openbaring van waartoe die mens onder folterende fisieke omstandighede in staat is, en ook van wat die mens bereid is om hom vir ’n hoë ideaal op te offer, hoe onbereikbaar ook al soms.

Die hele onderneming het van 2 November 1914 tot 3 Februarie 1915 geduur. Kemp, wat in Van Schoor se werk heelwat kritiek kry, het die tog aangepak met net 610 vrywilligers, wat later meer geword het. Dis aan veral twee mense te danke dat die tog geslaag het: Siener van Rensburg en die gids en spoorsnyer Cornelius van Rooyen.

Die tog het begin by Schweizer-Reneke, daarna langs die droë Hartsrivier, oor die Rhodesiese spoorlyn suid van Vryburg en tot by Kuruman. Die rebelle het Kuruman se forte tot oorgawe gedwing en die gesagvoerders was verplig om toe te stem tot ’n vrye deurtog vir die kommando. Van 9 November is hulle oor die Langeberg die Kalahari in.

Al langs die Langeberg is die kommando suidwaarts na die Oranje. Op 15 November is Witsand bereik, waar hulle ’n regeringsmag op die vlug gejag het. Van Kheis, halfpad tussen Prieska en Upington, het hulle stroom af getrek in die rigting van die Duitse grens. Water was moeilik te bekom, want suid van die rivier was Ben Bouwer en sy troepe gereed.

Van alle kante bedreig, het Kemp die rivier verlaat en noordwaarts oor Diepklip na Rooidam geswaai. Na ’n waterlose trek van 42 uur deur die sandduine het hulle Rooidam op 25 November bereik. Ben Bouwer en sy manne het dadelik opgeruk en die rebelle in die sandduine omsingel. So seker was Bouwer dat hy hulle het, dat hy aan Botha gesein het dat hy Kemp die volgende dag aan hom sou uitlewer. Maar daardie nag het die rebelle by ’n onbewaakte plek in die kring deurgeglip en die tog voortgesit. Hier, net soos by vorige kere, was dit “Siener” van Rensburg wat die regte pad aangewys het. Een van die manne het later gesê: “Siener moes altoos sê wanneer ons moes trek. Sowel in die dag as in die nag.” Hy was vir baie soos “die wolk van genade vir die Israeliete deur die woestyn”.

Die tog was vir mens en dier ’n marteling. Van die 1500 perde was net 250 oor. Die ruiters moes die perde naderhand lei. Die vuurwarm sand het die manne se voetsole laat opswel en blare veroorsaak. Party moes kaalvoet verder, maar het soms die vel van ’n pas geslagte bees in die vorm van die voet gesny en om die hak geheg. Sodra dit hard word en die voet skaaf, moes dit egter weer weggegooi word. Die honger was knaend en hul dors vreeslik. Die dorstiges het selfs vuil, troebel water gedrink as hulle dit kon kry.

Op 28 November het Kemp en Maritz mekaar die hand gereik naby die grenspos Nakob. Hulle het die regeringsmagte twee keer verslaan, maar Upington op 24 Januarie 1915 sonder welslae aangeval. Maritz het na Angola uitgewyk en na Portugal gevlug. Ná die vrede is hy Duitsland toe en het eers in 1924 na Suid-Afrika teruggekeer. Kemp en die ander het hulle op 3 Februarie oorgegee en is soos baie ander rebelle na die Johannesburgse Fort gestuur om hul straf af te wag.