Debat oor volk se voortbestaan

Onderhandelinge oor taal
January 22, 2015
Einde van die republieke
January 22, 2015

Kitchener het op 21 Mei die nuwe ontwerpverdrag aan die Britse regering getelegrafeer. Die gewag van ’n week was nie bevorderlik vir die eenheid nie. Vandat hulle in Pretoria gekom het, het Kitchener private gesprekke met Smuts en Botha gevoer. Aan Smuts het hy gesê dat die liberale in Brittanje waarskynlik oor twee jaar aan bewind sou kom en dat die Afrikaners dan selfbestuur kan kry. Dit het vir Smuts die deurslag gegee. Ook Botha het ’n gesprek met Kitchener gehad – waarna daar ’n harde woordewisseling was tussen Botha en De Wet. Laasgenoemde het gemeen die afsonderlike gesprekke is verkeerd.

Die Britse regering het die nuwe ontwerpverdrag aanvaar, maar aangedring op ’n spoedige antwoord. Daar is toe ooreengekom dat die Boere voor 31 Mei sou antwoord.

President Steyn het op 29 Mei sy teenkanting teen die verdrag uitgespreek en aangekondig dat hy weens siekte as president aftree. De Wet sou as president waarneem. Dieselfde dag is Steyn saam met sy geneesheer, dokter W van der Merwe, weg na Krugersdorp om daar verpleeg te word. Met groot droefheid het die Vrystaters van hom afskeid geneem. Die twee regerings het hom £700 vir sy onderhoud gegee – byna alles wat die twee regerings oorgehad het. Steyn was hulle baie dankbaar, want hy het niks gehad nie – “die laaste jare het die president en die burgers die staat gratis gedien”, het hy later gesê.

Intussen het die afgevaardigdes die vredesverdrag bespreek. Kommandant T Stoffberg van die Soutpansberg-kommando, as burger ’n onderwysman, het gevra of artikel 5 in die verdrag bepaal dat Nederlands die medium van onderwys sou wees. Generaal Smuts: “Daar is in dié artikel niks daarteen nie. Volgens hierdie artikel sal die Hollandse taal onderrig word, maar daar word nie gestipuleer dat Hollands die medium van onderrig sal wees nie. My eie opvatting is dat die taal in die skole Engels sal wees, maar as die ouers dit wil hê, dan Hollands.” Stoffberg: “Dit beteken dus dat die taal Engels is, maar Hollands sal ook toegelaat word.” Hertzog: “Lord Milner het verklaar dat hy net één taal in Suid-Afrika wil hê, en dit is Engels. Engels sal die medium wees.” Stoffberg: “Dus ’n vreemde taal.” JF Naudé het verwys na die taalregte “wat van soveel betekenis vir die volk is en ’n kanaal waardeur die volk weer volk kan word”. Maar dit is in die aangebode terme heeltemal opsy gesit.

Een van die treffendste toesprake was dié van Smuts: “Ons verteenwoordig nie alleen onsself nie, maar ook die duisende ontslapenes wat die laaste offer vir hul volk gebring het; die gevangenes versprei oor die hele wêreld; die vroue en kinders wat in die gevangeniskampe van die vyand by duisende uitsterf; ons verteenwoordig die bloed en trane van ’n ganse volk. Hulle roep ons almal toe vanuit die gevangenisse, die kampe, die graf, die veld en die skoot van die toekoms om tog wyselik te beslis en alle stappe te vermy wat kan lei tot die ondergang en uitroeiing van die Afrikaanse volk en wat dus die opofferinge wat deur hulle gemaak is, verydel.[…] Ons moenie die Afrikaanse volk vir die onafhanklikheid opoffer nie.”