Debat oor ’n nuwe bedeling

“Die totale aanslag”
January 26, 2015
FW vervang PW
January 26, 2015

’n Debat oor die onaanvaarbaarheid van die óú bedeling is veral van die einde van die jare sewentig af op alle terreine gevoer. Die NG Sinode van Wes-Kaapland het in 1979 sy standpunt herbevestig dat rassediskriminasie wat in stryd is met naasteliefde en die gelykheid van mense voor God, strydig is met die Bybelboodskap. In 1982 het die NG Sendingkerk ’n besluit van 1978 herbevestig dat apartheid ’n sonde en die morele en teologiese regverdiging daarvan ’n bespotting van die Evangelie is. Die Sendingkerk het die NG Kerk van teologiese kettery en afgodery beskuldig. Oortuig dat apartheid die wese van die Evangelie aantas, het die Sendingkerk in 1986 ’n nuwe belydenis aanvaar – die Belydenis van Belhar. Ook die Gereformeerde Ekumeniese Sinode het in 1984 besluit dat apartheid sonde is. By ’n kerkeberaad in Rustenburg het professor Willie Jonker van die Kweekskool op Stellenbosch in 1990 die NG Kerk se skuld aan apartheid bely.  Op die ou end het selfs die Algemene Sinode in 1998 apartheid tot sonde verklaar.  Reeds in 1986 het die sinode besluit dat lidmaatskap van dié Kerk oop is en dit het in 1987 gelei tot die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk. Die APK met professor WJG Lubbe as leidende figuur het sowat 40 000 lidmate en 100 predikante getrek.

Ook die Afrikaanse pers het apartheid al hoe meer aangeval. Dit het later geblyk dat die bekende sakeman Anton Rupert op 24 Januarie 1986 ’n beroep op PW Botha gedoen het om af te sien van apartheid. Apartheid “kruisig ons, dit vernietig ons taal, dit maak ’n eens heldevolk die melaatse van die wêreld. Verwyder die vloek van die misdaad teen die mensheid van ons kinders en kindskinders se rûe af”. Die beroep was egter tevergeefs.

Die meeste Afrikaners was nog teen ’n ANC-regering; in 1989 wou 44% van die Afrikanerstudente weerstand bied teen so ’n regering, terwyl 32% sou emigreer. Maar teen dié tyd het al hoe meer groepe en individue met die ANC gaan onderhandel, eers in die geheim soos twee prominente Broeders (prof Pieter de Lange en mnr Tom de Beer), later openlik. Die AB het sedert die jare 70 al hoe meer staatkundige verandering gepropageer.

Aktief in die pogings om die land te verander, was die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (IDASA). Dis gestig deur doktor Alex Boraine en doktor Frederik van Zyl Slabbert, wat in 1986 onverwags as parlementslid en leier van die Progressiewe Federale Party bedank het. In 1987 was hulle twee deel van ’n groep wat in Dakar die eerste keer openlik met die ANC gaan praat het. Dit het groot opspraak verwek toe sowat veertig Afrikaanse skrywers in Julie 1989 saam met ’n afvaardiging van die ANC, onder andere Breytenbach, by die Victoriawaterval in Zambië beraadslaag het. Die skrywers het ’n ANC-dokument van steun aan die akademiese en kulturele boikot verwelkom. Hulle sou hulle vir die wettiging van die ANC beywer, en het ’n beroep gedoen op alle skrywers en “kulturele werkers wat hulleself binne staats- en ander Establishment-strukture bevind, om hul teenwoordigheid te gebruik om die doelwitte van die breë demokratiese beweging te bereik”.