De Wet laat skep nuwe moed

Eerste verskille oor vrede
January 22, 2015
Op moedverloor se vlakte
January 22, 2015

Hoewel die burgers by tye dapper weerstand gebied het, veral by die Slag van Driefontein, het lord Roberts Bloemfontein op 13 Maart 1900 ongehinderd binnegetrek. In die oorwegend Engelse hoofstad het die stemming sterk pro-Brits geraak. Toe Roberts se troepe die stad nader, het die burgemeester, doktor BO Kellner, landdros Papenfus en JG Fraser, ’n politikus en oom van mevrou Tibbie Steyn, die Britse opperbevelhebber tegemoetgery en die sleutels van die staatskantore aan hom gegee. Afrikaners, Hollanders en ander pro-Boerse buitelanders was bitter oor die Engelse stadsgenote wat vroeër gespog het met die modelrepubliek; ook omdat die regering nie teen die vyandelike elemente opgetree het nie. President Steyn en sy regering het op 12 Maart na Kroonstad vertrek. Die burgers was gedemoraliseer. Maar generaal de Wet het gemeen dat as hy sy burgers ’n ruskans gee, hulle tot verhaal gaan kom en voortveg. Hy het die offisiere dus gevra om die manskappe af te dank, tot 25 Maart. Generaal Piet Joubert was baie ontevrede daaroor. De Wet het aan hom gesê: “U kan nie met onwillige honde ’n haas vang nie. Keer kon ek die burgers nie. U ken die Afrikaner langer as ek, Generaal. Ek kon niks anders doen nie as om hulle af te dank en ’n bietjie verlof gee. Nou is daar kans dat ek my burgers op 25 Maart sal terughê by Sandrivier.” “Ons saak is verlore!”, het Joubert geantwoord.

Op 17 Maart het die Boere op Kroonstad ’n krygsraadvergadering gehou wat van groot betekenis was vir die toekoms. Teenwoordig was Kruger en Steyn, Joubert, De la Rey, De Wet en ’n paar ander generaals. Hulle het besluit om die oorlog voort te sit, net van perdekommando’s gebruik te maak en geen waens meer toe te laat nie. So kon die kommando’s groter mobiliteit verkry. Generaal Joubert, wat geruime tyd siek was, is tien dae later, op 27 Maart 1900, oorlede. Hy is opgevolg deur die briljante jong Louis Botha. Hy, De Wet en De la Rey het hierna die vernaamste oorlogsleiers geword. Soos De Wet verwag het, was sy burgers op 25 Maart terug. Kort daarna het hy ’n glorieryke oorwinning behaal oor ’n afdeling Engelse onder generaal RG Broadwood. Hy en sy troepe is ooswaarts gestuur, maar het gevaar geloop om afgesny te word en het besluit om terug te keer na Bloemfontein.

By Sannaspos, sowat 30 km oos van Bloemfontein, het De Wet met 400 man hulle in die vrywel droë loop van Koringspruit ingewag. Die res van sy burgers het Broadwood bestook om hulle in dié rigting te dryf. Toe die eerste Britse kar die spruit deurgaan, het ’n gewapende burger skielik verskyn, langs die drywer gaan sit en beveel om in ’n bepaalde rigting te ry. So is met alle waens en karre gedoen. Ná ’n rukkie het 200 voetsoldate aangekom. Hulle is gevang en ontwapen voordat hulle mooi kon besef wat aangaan. Ook die bemanning van vyf kanonne is gevang. Naderhand het die res van die kolonne onraad gemerk, en moes die burgers begin skiet. Die Britte was verras. Broadwood het ’n derde van sy mag van 1800 man verloor. De Wet se skitterende oorwinning het die burgers nuwe moed gegee en baie wat ná die val van Bloemfontein huis toe is, het weer begin veg.