De Wet-huis, Tulbagh

Die Ou Kerk-museum, Tulbagh
January 19, 2018
Die Biblioteek, Tulbagh
January 19, 2018

(Geen toegang)

Ds. Arnoldus M. Meiring (1743-1757) het sy pastorie ongeveer een km noord van die ou kerkie gebou wat hy hier in die Land van Waveren in die helfte van die 18de eeu opgerig het. Vanselfsprekend het daar ’n pad tussen die kerk en die pastorie ontstaan. Langs hierdie pad, later bekend as Kerkstraat, het die kerkraad in die loop van jare in besit van groot grond gekom. In 1796 is die kerk vergroot en om die koste te dek, het die Kerkraad sy grond langs Kerkstraat in vyf erwe verdeel en verkoop. Op een van hierdie erwe, aan die oostekant van die straat, is vandag een van Tulbagh se waardigste ou geboue, De Wet-huis, geleë.

Catherina Magaretha de Wet het hierdie huis rondom die jaar 1812 laat bou. Sy was die weduwee van Jacobus de Wet, eienaar van die plaas Straatskerk, enige kilometers wes van Tulbagh. Hy is rondom die jaar 1807 oorlede en sy het op die dorp gaan woon. Die huis het ’n dubbelverdieping en vertoon ’n sprekende ooreenkoms met Grosvenor-huis op Stellenbosch. Hoog op sy fondamente toring hy bokant die omliggende geboue uit en dit verleen aan hom ’n besondere skoonheid.

Die huis word toegeskryf aan die bekende argitek Louis Michiel Thibault. Hy was ’n gereelde besoeker aan Tulbagh, waar familie van sy vrou woonagtig was. Bowendien is daar in die gebou onmiskenbare trekke van sy boustyl aanwesig – die hoë stoep, die pragtige skerp omlynde pleisterwerk, die fasade en die gewelfde dak bokant die trap.

Na die dood van die weduwee De Wet is die eiendom in 1822 deur Pieter Francois Theron gekoop en daarna het dit die opeenvolgende eienaars gehad: Frederik L.C. Engels, David J. de Vaal, Bernardus J. de Vaal, Adriaan Moorrees, J.P. Moller, A.J. van Wyk, C.A. Myburgh en G.C. Theron. Teen 1949 was die ou huis reeds aanmerklik vervalle en daar was gevaar dat dit onherkenbaar verander sou word. Op aandrang van die bekende dr. Mary Cook het sir Alfred Beit die huis gekoop en gerestoureer.

(Geproklameer 1954)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 96.