Pomphuis, Princestraat
December 12, 2017
1806-Verdragsterrein, Woodstock
December 12, 2017

Bokant Kampstraat, tussen Moltenoweg en Bo-Oranje-straat, lê De Waalpark, ’n informele, rustige oase vir die moeë stadsbewoner. Die groot grasperke, die hoë, skaduryke denne- en sipresbome skep ’n behaaglike landelike atmosfeer, waarin die gees tot rus en die liggaam tot ontspanning kom.

Hierdie park was oorspronklik ’n deel van die Van Breda-landgoed, Oranjezigt, wat vir ’n 170 jaar in besit van hierdie familie was en gestrek het van Platteklipkloof teen die hang van Tafelberg tot aan Moltenoweg en Kampstraat. In 1877 het die stadsraad van Kaapstad hierdie grond gekoop. Dit was 10,3 hektaar groot en is op sy beur in drie verdeel. Die boonste gedeelte sou gebruik word vir die bou van die Molteno-reservoir en op die klein stukkie onderkant Kampstraat sou kleiner reservoirs kom. Die stuk grond wat daartussen gelê het, d.w.s. vanaf Molteno-reservoir tot aan Kampstraat, was ’n natuurlike park. Bo in die regterhoek aan Moltenoweg was daar ’n dennebos, waarvan sommige bome reeds 80 jaar oud was, terwyl hier ook die graftombe van die bekende Hofmeyr-familie was. In die koopakte is dan ook ’n servituut op hierdie grond geplaas dat daar nooit enige geboue opgerig of grond vervreem sou word nie. In die jare tagtig het daar by David Christiaan de Waal die gedagte ontstaan om hierdie terrein doelbewus en sistematies tot ’n park te ontwikkel. Hy was destyds stadsraadlid asook lid van die Wetgewende Vergadering van die Kaapkolonie. Hy het bykans ’n aanbidding vir bome gehad want, sê hy, “’n boom, in sy verhewe waardigheid en met sy takke wat gedurig hemelwaarts wys, is ’n simbool van gebed.” Deur sy toedoen is daar dan ook nie slegs duisende bome in Kaapstad geplant nie, maar ook begin met die aanplant van bome in die park. Tydens sy burgemeesterskap van Kaapstad in 1889-1890 het hy die verdere ontwikkeling van die park doelbewus bevorder. In 1895 is dit vir die publiek geopen, en na sy stigter vernoem.

DC de Waal is in 1909 oorlede. Hy het in vergetelheid geraak maar met verloop van tyd het die park ’n besondere plek in die harte van die Kapenaars verower. Terselfdertyd, egter, het ’n nuwe voorstad rondom die park tot teen die berg tot stand gekom. Druk is op die Stadsraad begin uitoefen om ’n stukkie van die park af te sonder vir die aanlê van rolbal- en tennisbane. Dit sou die verwydering van byna ’n honderd van die oudste bome meebring. ’n Gedeelte van die publiek gesteun deur die Historiese Monumentekommissie het hierteen in verset gekom. Roerende pleidooie vir die behoud van die park in sy geheel is veral gelewer deur die bekende dr. J Luckhoff. Vir hom is die park nie slegs ’n historiese erfenis, mooi en nuttig nie, maar het dit ’n geestelike waarde. Daarom is daar in sy briewe ’n filosofiese onderstroming. Oor die bome skryf hy: “Alle bome is simbole van die edele vervulling van die majesteit en misterie van die lewe. Die gees het hierdie bome deur baie jare van geduldige arbeid gevorm, elke deeltjie in geordende ritme en in voortreflike volmaaktheid voltooi. Hulle staan daar selfstandig as persoonlikhede, maar in harmonie saam gegroepeer, om ’n voller geheel en ’n ryker karakter te skep. Die toppunt en genot van die opperste vervulling kom so tot uitdrukking.”

Om die park teen enige skending te vrywaar, het die Stadsraad en Historiese Monumentekommissie dus in 1965 ooreengekom dat hierdie park altyd as ’n openbare tuin beskou sal word en dat geen gedeelte daarvan vir enige ander doel gebruik sal word nie.

(Geproklameer 1968)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 24-25.