Afrikaans of Nederlands?
January 23, 2015
“Laat ’t ons toch ernst wezen!”
January 23, 2015

Nie net het Nederlands na die logiese wapen teen verengelsing gelyk nie, die enigste Afrikaanse koerant was polities verdag. Weens SJ du Toit se aanvalle op die republieke en sy verdediging van die Engelse was Di Patriot in diskrediet. Dié koerant is in 1904 gestaak, en Ons Klyntji in 1906. Du Toit het ná die oorlog selfs as woordvoerder van die “loyalists” opgetree, en was betrokke by die “Gereformeerde Kerken onder het Kruis” wat ’n seënende hand gehou het oor die national scouts.

Onder Kaapse Afrikaners was die gevoel teen Du Toit-hulle sterk. ’n Breuk met die verlede was nodig. Tog was dit die voorstanders van Hollands wat onbedoeld die eerste Afrikaansgesinde publikasie gestig het. De Goede Hoop, een Zuid-Afrikaansch maandblad voor Jongelieden, het in Julie 1903 in Kaapstad tot stand gekom onder beskerming van “Onze Jan” Hofmeyr, mevrou Marie-Koopmans-De Wet en ander. Die redakteur was ’n regsgeleerde, JHH de Waal, seun van DC de Waal (lid van die Kaapse Parlement) en susterskind van “Onze Jan”.

In sy “Inleidingswoord” het die redakteur oud en jonk uitgenooi om in Hollands of Afrikaans vir die blad te skryf. Die eerste nommer van 26 bladsye het sowat vier bladsye met stukke in Afrikaans bevat, maar ’n korrespondent van Stellenbosch was dadelik beswaard omdat daar te veel Afrikaans in die blad voorkom. Dit is immers opgerig “om jonge Afrikaners in Hoog-Hollandsch te helpen”? De Waal het geantwoord dat die redaksie nie ’n stuk sal afwys net omdat dit in Afrikaans is nie; dit was nie soseer die doel van die stigters om Hoog-Hollands (Nederlands) te help nie, as om leeslus op te wek. In die tweede nommer het De Waal ’n toneelstuk, Angelina, gehad onder die skuilnaam Janni, wat hy in die 1890er jare vir rympies in Ons Land gebruik het. Hy het gou agtergekom dat sy jong lesers die voorkeur aan Afrikaanse verhale gee, en omdat daar niemand was vir wie hy kon vra nie, het hy self geskryf. Sedert Januarie 1904 het hy Johannes van Wyk as vervolgverhaal geplaas – ’n roman van avonture en romanse in die tyd van WA van der Stel.

Een medewerker was Melt Brink, gewilde volksdigter van humoristiese gedigte, maar ook reëls soos: “Ik min myn volk, ik min myn land/ Ik min myn eigen taal.”

In die laaste maande van 1904 het De Waal openlik in die bresse getree vir Afrikaans. Aanleiding daartoe was ’n “Vereenvoudigde Spelling” wat die Taalbond voorgestel het. Voorstanders van suiwer Nederlands het dit afgekeur, maar ook De Waal het (in Nederlands) geskryf: “Het ons Afrikaners dit nie moeilik genoeg om sowel Nederlands as Afrikaans in hierdie Engelse land in stand te hou nie? Laat die liewe Taalbond ons tog nie met ‘n derde Hollandse taal kom lastig val nie.” Afrikaansgesindes het hul instemming betuig, maar De Waal moes baie versigtig optree, en rekening hou met sy oom, “Onze Jan” Hofmeyr, die Kerk, die Taalbond met gedugte manne soos professors WJ Viljoen en PJG de Vos, die gevestigde Hoog-Hollandse tradisie in die Kaap en “die Patriot-ruik wat daar nog aan Afrikaans gekleef het”. En De Waal was ’n produk van die Kaapse onderwysstelsel. Sy taal was erg Anglisisties.