David Baird (1757-1829)

Maria van Riebeeck (neé de la Queillerie) (1629-1664)
December 7, 2020
Zacharias Wagenaer (1614-1668)
December 7, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Sir David Baird was ’n Britse Weermagoffisier wat later goewerneur van die Kaap geword het.

Hy is op 6 Desember 1757 in Haddingtonshire, Skotland, as seun van William Baird en Alicia Johnston gebore en het hom in 1772 by die Britse Weermag aangesluit. Hy is in 1779 na Indië gestuur en was vier jaar lank ’n krygsgevangene nadat hy in ’n militêre operasie gewond is. Hy is in 1787 tot die rang van majoor bevorder en in 1791 na Indië teruggekeer. Hy het daarna as brigadier-generaal in die Kaap die Goeie Hoop gedien. Vroeg in 1801 was hy die bevelvoerder van ’n Anglo-Indiese operasie wat in Bombaai (deesdae Mumbai) uitgevoer is. Hy het saam met Sir Ralph Abercromby gewerk om Frankryk uit Egipte te verdryf. Abercromby het daardie jaar in ’n skermutseling gesneuwel.

In 1804 is Baird tot ridder geslaan en in 1806 was hy die bevelvoerder van die besetting van die Kaap; waarin generaal Janssens van Nederland gedwing is om oor te gee, maar toe het die ongeluk hom getref. Commodore Sir Home Popham het hom in 1807 omgepraat om vir hom troepe beskikbaar te stel vir ’n veldtog teen Buenos Aires. Daar was verskeie mislukte pogings om Buenos Aires te beset; dit het gemaak dat Baird in daardie jaar na Brittanje teruggeroep is. Met sy terugkeer is hy as afdelingsgeneraal in Kopenhagen aangestel, maar tydens die Slag van Kopenhagen is hy gewond. Dieselfde jaar is hy aangewys as kolonel van die 24th Regiment on Foot; hy sou hierdie pos tot met sy dood beklee.

Kort nadat hy van Kopenhagen af teruggekeer het, is hy na die Skiereiland-oorlog gestuur; in bevel van ’n aansienlike mag wat na Spanje gestuur is om met Sir John Moore saam te werk. Hy was Moore se tweede-in-bevel. Baird was effens jonger as Moore, asook Lord Cavan, sy bevelvoerder in Alexandrië. Daarom kon hy nie as bevelvoerder optree nie. Hy het wel by die Slag van Corunna tydelik as bevelvoerder opgetree nadat Moore gesneuwel het, maar kort daarna is sy linkerarm erg beseer en Sir John Hope moes as bevelvoerder oorneem. Die parlement het hom vir sy heldhaftige optrede vereer deur die titel van Grand Knight Cross of the Bath aan hom toe te ken. Hy is egter nooit weer in die militêre veld in diens geneem nie en vyandskap op persoonlike en politieke gebied het gemaak dat hy gereeld afgeskeep en oor die hoof gesien is.

Hy is op 18 Augustus 1829 in die ouderdom van 71 jaar sonder nasate oorlede, maar oorleef deur sy weduwee Anne Preston Menzies Campbell Preston. Sy naam het daarna telkens in populêre literatuur voorgekom. Een voorbeeld is die Richard Sharpe-reeks romans, waarin daar op sy Mysore-veldtog in 1799 en die Slag van Kopenhagen gefokus is. Hy is onder meer beskryf as iemand wat in hoë kringe van die samelewing kon beweeg. Hy het ook voorgekom in die fiktiewe vloot-roman The only victor, geskryf deur Alexander Kent, wat afgespeel het in die tyd voor die suksesvolle Britse besetting van die Kaap in 1806, toe Baird goewerneur geword het.