24 NOVEMBER
November 23, 2015
’n Verhaal omtrent die held van Bloedrivier
November 23, 2015

Soos verskyn in Historia Junior, Mei 1958

Hierdie twee broers, seuns van Wynand Bezuidenhout, was die nageslagte van daardie twee Bezuidenhout-broers wat die hoofrol gespeel het in die Slagtersnekopstand.

Saam met hulle ouers het Daniël en Pieter Bezuidenhout met Gert Maritz uit die Kolonie getrek. In die nag van die groot moorde, 16 op 17 Februarie 1838, het die Bezuidenhouts met hulle waens en drie tente op ’n ruie bult wat met doringbome begroei was, gestaan. Daar was behalwe die vader Wynand Bezuidenhout, ook sy getroude seun Daniël en die jonger Petrus van ongeveer 14 jaar. Daar was ook nog Roelof Botha, ’n swaer van Daniël Bezuidenhout.

Om eenuur daardie stikdonker maanlose nag word Daniël wakker deur die lawaai van hulle honde wat ’n endjie van die waens af kwaai tekere gaan. Omdat hy gedink het dat die honde besig was met ’n luiperd, het hy opgestaan en met slegs hemp en broek aan, na die honde gestap. Toe hy ongeveer driehonderd tree geloop het en dig by die honde was, steek hy vas om te luister. Op daardie oomblik besef hy dat daar kaffers was want hy hoor hoe daar asgaaie gegooi word na die honde. Hy spring om en hardloop na die waens om sy geweer in die hande te kry en om alarm te maak. Voor hy nog die waens bereik, loop hy hom vas in die kaffers wat reeds besig was om die mense dood te steek. Deur die donker slaag hy daarin om deur te dring tot by die waens. Hy hoor sy vader ’n smartkreet uitroep “O, God!” en die volgende oomblik het hy geweet dat sy vader in sy bloed versmoor. Sy swaer Roelof Botha kon nog drie skote skiet en toe is hy ook doodgesteek.

Toe Daniël sy eie wa bereik waarin sy vrou met ’n baba van drie dae oud gelê het, gee sy hom die kindjie en smeek hom om met die kindjie te vlug. Wat kon hy doen? Hy voldoen aan haar versoek en met die kindjie in sy arms beur hy na buite. Onder skuiling van die donker en deur die verwarring wat daar heers, slaag hy daarin om ’n endjie te vorder. Orals loop hy hom teen kaffers vas. As die kindjie huil, steek die barbare in daardie rigting. Terwyl hy bukkend sy weg probeer vind, word hy in die linkerskouer gesteek. ’n Oomblik later kry hy nog ’n steek en daarna nog ’n derde. Eindelik is hy uit en beland tussen die beeste. Hy steek vas om te luister. Daar was geen mensestemme meer te hoor nie. Al die familie was uitgemoor. Hy hoor hoe die kaffers die honde en hoenders doodsteek, die tentseile skeur en die watente afruk. Nou merk hy ook dat die kindjie in sy arms doodgesteek is met sy vlug. Met verskeurde hart lê hy die lykie onder ’n bos neer en hardloop die donker veld in met wonde waaruit die bloed stroom. Al langs Bloukransrivier hardloop hy voort om die ander Trekkers as dit moontlik is, te waarsku. Omstreeks twee-uur die nag kom hy by die Van Dyks aan. Al langs die Bloukrans vlug hulle en maak die mense wakker, die Scheeperse, Roetse, Van Vuurens en vir Karel Geer. Toe dit lig word, merk hierdie vlugtende mense dat die Zoeloes besig was om voor hulle langs die rivier die Prinsloo’s en ander aan te val. Hulle swenk nou links in ’n westelike rigting by die teenswoordige Chieveley-stasie verby in die rigting van Retief se laer by Doringkop. Terwyl Daniël nog besig was om die ontsettende nuus aan die mense daar mee te deel, het Heila Roberts, die vrou van Isak Roberts wat saam met Retief vermoor is, te perd daar aangejaag gekom vergesel van haar twee dogters en seun op perde. Toe sy die skote in die ooste hoor het sy opgestaan en kort daarna is hulle deur vlugtelinge gewaarsku. Haar perde was byderhand en sy en haar kinders het toe langs die rivier opgejaag om die mense hoër op te waarsku.

Maar wat het van Daniël se jong broertjie Petrus geword? Toe Daniël na sy vader roep dat die kaffers besig was om toe te slaan, het die seun uit die tent waar hy by sy vader geslaap het, gespring onder die indruk dat daar iets by die skaapkraal aan die gang was. Toe hy by die tent se deur uitkom, was die Zoeloes reeds by. In die donker steek ’n Zoeloe na hom. Die asgaai tref hom skrams langs die rug af maar hy slaag daarin om in die donker deur die kaffers te dring. Hy hoor nog net die smartkrete van sy vader en moeder. Sal hy teruggaan? Dit sou niks baat nie. Hy moet vlug en ander Trekkers gaan waarsku. Maar hoe? Skielik dink hy aan sy eie perd. In die donker pyl hy reguit na die takkraal waar die perde snags gehou is. Hy slaag daarin om sy eie ryperd in die hande te kry, maak sy kruisbande los en sit die perd tou in die bek. Hy wip op die rug van sy perd en skraap die ander perde al langs die rivier op. Toe die dag breek, was hy verplig om van koers te verander en het teen die middag ook by die mense by Doringkop aangekom. Hy en Daniël was die enigste twee van die groot familiekring wat aan die dood ontkom het. Hulle moedige optrede het honderde lewens gered en die mense by Doringkop in staat gestel om ’n teenaanval teen die Zoeloes te loods en die vyand terug te slaan.

Saam met Tienie Oosthuizen moet die name van Daniël en Petrus Bezuidenhout, verteenwoordigers van ’n heldegeslag, in ere gehou word.