Ooggetuie van Danie Theron se dood
October 20, 2015
21 OKTOBER
October 21, 2015

(Soos verskyn in Junior Historia, November 1965)

Deel I. Danie en sy maats

Danie het baie maats gehad. Daar was altyd ’n aantal seuns by hom waar hy by die skool gestaan of geloop het. Die dogters het ook soms gestaan en kyk waar die seuns speel. Danie was altyd aan die voorpunt waar die seuns gespeel het.

Hy kon baie goed albaster speel. Die seuns het geweet hulle moes hulle bes doen wanneer hulle saam met Danie speel. Hy kon baie goed korrel as hy met die groot albaster na die kleintjies gooi. Dit was altyd raak en dan het Danie die albasters in sy sak gesteek. Sy sakke was vol albasters wat hy by die ander seuns gewen het.

As dit tyd word om met knope te speel, was hy ook op die voorpunt tussen die seuns. Hulle het ’n klein gaatjie in die grond gemaak. Elke seun het ’n knoop gegee en dan het hulle elkeen ’n kans gekry om die knope in die gaatjie te gooi. Danie het gewoonlik goed na die gaatjie gekorrel en die meeste knope wat hy in sy hand gehou het, het hy in die gaatjie gegooi. Hy het altyd baie knope in sy sakke gehad.

Danie het vir hom ’n tuintjie gemaak. Dit was vir hom aangenaam om in die grond te werk en die walle in sy tuintjie was altyd netjies en mooi.

Danie Theron het daarvan gehou dat alles reg moes gaan. Hy was kwaad as een seun die ander onnodig seer maak. Die klein en swak kindertjies het hy altyd beskerm. Sy maats het ook geweet dat Danie goed met sy vuiste kan slaan as iemand kwaad doen of ’n ander kind seer maak.

’n Groot seun het eendag met Danie se klein sussie gelol en haar geterg. Danie het nie daarvan gehou nie en hy het dadelik vinnig nader gedraf en die groot seun het gevoel hoe hard Danie met sy vuiste kan slaan. ’n Hele aantal seuns het na die geveg gestaan en kyk en hulle het Danie geprys toe die groot seun gehardloop het.

Danie het in die klaskamer altyd sy bes gedoen en elke jaar het hy in sy standerd geslaag. Hy het met sy skoolwerk goed gevorder en later het hy matriek geslaag. Hy het besluit om ’n onderwyser te word en daardie eksamens het hy ook met sukses afgelê. Dit was vir hom aangenaam om die kinders te leer en hulle het van hom gehou. Hy het ook met die Sondagskool gehelp en hy was gereeld by die kerk om die kinders uit die Bybel te leer. Die kinders het soms om die kerk gespeel en gelag, maat as hulle vir Danie Theron sien, was almal stil. Dan het hulle na die kerkdeur toe geloop.

Toe Danie Theron ’n jong man was, het hy nie meer skool gehou nie. Hy het weer hard geleer en toe het hy ’n prokureur geword.

Een oggend het Danie in sy kantoor in die koerant gesit en lees en toe het hy baie kwaad geword. Die eienaar van die koerant het lelike dinge van Danie se mense geskrywe. Hy het besluit om dadelik na Johannesburg te gaan om die skrywer van daardie leuens omtrent sy mense ’n les te leer. Toe hy die gebou bereik waar daardie koerant gedruk word, het hy dadelik na die kantoor van die skrywer gegaan. Dit het nie baie goed met daardie man in sy kantoor gegaan nie.

Deel II. Danie word ’n verkenner

Daar het oorlog in hierdie land gekom en Danie Theron het besluit om sy vaderland teen die vyand te verdedig. ’n Klompie jong sterk manne het saam met hom gegaan. Hulle het besluit om met fietse oorlog toe te gaan, want dan kon hulle maklik deur slote en riviere, oor drade en rante kom. Waar hulle nie kon ry nie, sou hulle die fietse dra.

Hulle het met die fietse gegaan, omdat hulle spioene of verkenners wou wees. Danie en sy manne wou altyd uitvind waar die vyand was en dan het hulle die inligting aan die generaals gegee. Die groot kommando van elke generaal het dan geweet waar hulle die vyand kon aanval. Danie en sy manne het maklik tussen die vyand se mense beweeg.

Later het Danie Theron en sy manne die fietse laat staan en met perde gery. Die fietse het hulle baie moeg gemaak. As die verkenners met perde ry, bly hulle nog sterk en gesond. ’n Perd is ook sterker as ’n man wat ’n fiets moet trap as hy vinnig wil ry.

Die verkenners van Danie het baie goeie werk gedoen en die generaals van die Transvaal en die Vrystaat het hulle inligting hoog waardeer. Danie se manne moes soms baie vinnig jaag om van die vyand af weg te kom. Hulle het party keer baie naby aan die vyand gekom om hulle planne uit te vind. Danie was soms tussen hulle en dan het hy hulle taal gepraat sodat hulle nie geweet het nie dat hy ’n spioen was.

Die vyand het geweet dat Danie hulle planne uitgevind en dit aan sy generaals vertel het. Hulle wou hom baie graag vang en in die tronk sit, maar kon dit nooit reg kry nie.

Danie het geweet dat sy manne hard moes werk en soms na gevaarlike plekke moes gaan om naby die vyand te kom. Hy was jammer vir sy manne en het gesorg dat hulle genoeg voedsel kry en gereeld moes slaap en rus om met hulle gevaarlike werk aan te gaan. Die manne het gewoonlik teen ’n randjie of tussen bome geslaap. Wanneer hulle die perde by so ’n plek afsaal, nadat hulle ver gery het, het Danie soms ongemerk van hulle af weg gegaan. Na ’n rukkie kom hy dan weer by hulle aan met ’n skaap wat hy op sy rug dra. Dan braai hulle vleis en het weer genoeg om te eet.

Dit het ook gebeur dat Danie lang afstande alleen ry om te verken. Die vyand kon hom dan nie sien nie, wanneer hy waardevolle inligting vir sy generaals kry.

Eenkeer het Danie in die donker nag alleen tussen ’n klomp soldate deur gekruip om ’n boodskap aan generaal Cronje te gaan gee. Die vyand het hierdie generaal met ’n paar duisend burgers omsingel. Hy kon nie uit kom nie. Generaal De Wet het vir hom ’n boodskap saam met Danie gestuur hoe hy tussen die vyand moes deur jaag. Generaal de Wet sou hom dan help.

Danie Theron het so stil soos ’n muis tussen die soldate gekruip. Soms was hy so naby hulle dat hy hulle kon hoor asem haal. Dan lê hy doodstil. As die soldaat dan weer verder loop, kruip Danie verder. Toe hy tussen hulle deur was, het elke knie van hom gebloei. Danie het ’n lang afstand gekruip en toe geloop. Hy het die boodskap aan generaal Cronje gegee, maar hy wou nie na hom luister nie. Daarna het Danie weer na generaal De Wet gegaan. Hy moes ’n lang afstand weer in die nag tussen die soldate kruip. Generaal De Wet en sy burgers kon dit amper nie glo nie, toe hulle Danie weer sien. Generaal De Wet was dankbaar en het Danie bedank en geprys.

Deel III. Danie is jammerhartig

Danie Theron wou altyd aan ander mense goeie dade bewys. Hy het nie aan sy eie gerief gedink nie maar ander persone het hy eerste gehelp.

Een nag het hy weer alleen in die donker gaan ry om inligting vir sy generaals te kry. Sy manne het reeds gaan slaap om goed uit te rus vir die harde werk van die volgende dag. Hulle het die perde afgesaal op ’n plek waar daar huise was. In een van die kamers het ’n goeie vriend van hom die bed goed reg gemaak, sodat Danie lekker kon slaap as hy weer by hulle kom. Die vriend het toe op ’n kombers op die grond voor die bed gaan lê en vas aan die slaap geraak.

Daardie nag toe Danie by sy manne kom, het hy sy vriend op die grond vas aan die slaap gekry. Danie het hom baie versigtig opgetel en op die bed gesit en hom met komberse toegemaak. Hy het toe self op die grond gaan lê waar hy gou aan die slaap geraak het. Hy was baie moeg. Die volgende oggend was sy vriend baie verbaas, toe hy in die bed wakker geword het.

Deel IV. Danie en die stasiemeester

Gedurende die oorlog het Danie Theron ’n stasiemeester ’n goeie les geleer.

Dit het op Germiston plaasgevind. Danie Theron en Barnie Enslin was op weg na Pretoria.

’n Trein het gereed gestaan om oor ’n paar minute na Pretoria te vertrek. Daar was baie mense op die stasie. Al die plekke op die trein was reeds beset. Daar was veral baie vrouens en kinders wat nie sitplek gehad het nie, want die trein was vol.

Danie kon dit nie verdra dat vrouens en kinders soveel ongerief moes verduur nie. Hy roep vir Barnie en hulle stap na die stasiemeester se kantoor toe. Baie beleefd vra hy die meneer om nog ’n passasierswa te laat aanhaak ter wille van die vrouens en kinders.

Die stasiemeester antwoord dat hy nie bevele ontvang nie en nie verder voorsiening vir die gerief van die passasiers sou maak nie.

Weer herhaal Danie sy versoek baie beleefd. Toe is die stasiemeester net warm en hy beduie dat hy nie sou toelaat dat ander mense hulle met sy werk bemoei nie. Hy sou nie nog ’n wa aanhaak nie.

Beslis maar beleefd vra Danie weer dat nog ’n passasierswa aangehaak moes word en hy verduidelik dat hy nie sou toelaat dat moeders en kinders soveel ongerief verduur nie. Daarby sê hy dat hy kommandant Theron is.

“Og, wie is kommandant Theron? Ek laat my nie beveel nie en ek weet wat my werk is. Ek sal nie verdere voorsiening vir die gerief van die passasiers maak nie.” So raas die meneer en swaai met sy arms.

Toe is kommandant Theron kwaad en sê baie beslis: “Kyk hier, ek beveel jou nou om nog ’n wa te laat aanhaak, en as dit nie gebeur nie, sal die trein nie die stasie verlaat nie.” Hy en Barnie Enslin stap toe reguit na die masjinis wat die volgende bevel ontvang: “Sien jy hierdie man met sy gelaaide geweer! Nou ja, probeer jy net hierdie trein laat wegtrek sonder my bevele, dan kry jy ’n koeël deur die kop.” Danie sit Barnie daar op wag, wat sy geweer intussen van sy skouers afgehaal het. Die masjinis het dadelik besef dat hy nou versigtig moes wees, want hy het met kwaai manne te doen.

Daar blaas die stasiemeester die fluitjie en gee die sein dat die trein moes vertrek.

Maar die trein staan doodstil.

Die fluitjie blaas weer en die stasiemeesters waai met die arm dat die trein moes vertrek.

Maar die masjinis verroer nie ’n spier nie.

Die stasiemeester stap vinnig langs die trein na die masjinis toe, wat ewe ongeërg die toedrag van sake afwag.

“Waarom laat jy nie die trein vertrek nie? Die fluitjie het al twee keer geblaas en die trein moes al vertrek het. Waarom luister jy nie?” en met baie lawaai stap hy weg.

Ewe kalm wys die masjinis net na die gewapende burger wat hom in die oog hou.

Raas-raas stap die stasiemeester terug en beduie hoe hy sal laat afreken met die loslopers wat sy treindiens in die war stuur. Hy loop ’n paar mense ook daar raak by wie hy teen kommandant Theron uitvaar. Terwyl hy nog so beduie, kom Theron ook daar by hulle aan.

Hy verduidelik hoe hy die stasiemeester drie keer beleefd gevra het om beter voorsiening vir die gerief van die vrouens en kinders te maak. Hy vervolg verder: “Ek beveel jou nou vir die laaste keer dat hier binne vyf minute nog ’n passasierswa moet aangehak word of anders sal jy voel hoe smaak vyf en twintig houe van die sambok.”

Toe skrik die stasiemeester.

Binne ’n paar minute was daar nog ’n wa aangehaak. Danie het veral vir vrouens en kinders daarin goeie plekke aangewys.

Toe het die trein vertrek!

Deel V. Danie veg alleen

Danie en sy manne het een dag by ’n koppie afgesaal, die manne het vleis gebraai en die ete gereed gemaak. Daarna het almal in die warm son lekker gesit en genoeg geëet. Die manne het met Danie gesels en hulle het hom altyd Kappie (Kaptein) genoem.

Na die ete het Danie na sy perd toe gestap en dit opgesaal. Hy het aan die manne gesê dat hy endjie verder tot by die hoofweg tussen Johannesburg en Potchefstroom wou ry. Danie het geweet dat daar ’n groot aantal soldate sou verbytrek en hy wou gaan verken en kyk waar hulle langs gaan.

Toe Danie op ’n galop daar van hulle af wegry, het sy manne nie geweet dat hulle nie weer vir Kappie lewendig sou sien nie. Een van sy manne het saam met hom tot by ’n rantjie naby die hoofweg gery. Danie het toe aan hom gesê dat hy aan die voet van die rantjie met die perde moes bly, terwyl hy tot bo-op die rant sou stap.

Die man het na Danie gestaan en kyk wat met sy geweer in sy hand gestap het. Die verkenner het versigtig geloop en gedurig oral gekyk waar hy die vyand verwag het. Die dapper Danie was naderhand amper op die rantjie.

Skielik het Danie geskiet. Hy het van die vyand se soldate gesien en hy het aangehou skiet. ’n Endjie van die rantjie af was daar honderde soldate wat in die rigting van Potchefstroom getrek het, met hulle geweers en met ’n kanon na die rantjie geskiet. Hulle het gedink dat daar ’n groot getal van die burgers op die rantjie was, want hulle het baie geweerskote gehoor. Die soldate het toe ook stof op die rantjie gesien soos die bomme daar gebars het. Die geveg het ’n hele rukkie geduur en die kanonskote het gebulder. Toe het dit op die rantjie stil geword. Die soldate het nie meer die geweervuur gehoor nie.

Hulle het na die rantjie toe gegaan en daar by ’n boom het die soldate net een burger gesien lê. Dit was Danie Theron. ’n Stuk van ’n bom het hom in die gesig en teen sy voorkop getref. Sy geweer het by hom gelê en ’n groot aantal patroondoppies het getoon hoe hard hy geveg en hoe vinnig hy geskiet het. Hy het met sy geweertjie teen ’n kanon en baie ander gewere geveg.

Die soldate het vir Danie ’n graf naby die hoofweg gegrawe en hom daar in ’n kombers begrawe.

Die verkenners was verbaas en baie treurig toe hulle gehoor het wat met hulle Kappie gebeur het. Hulle het sy eensame graf in die veld gekry en hom weer in ’n kerkhof op ’n plaas daar naby die rantjie gaan begrawe.

Na die oorlog het Danie Theron se manne hom weer in die kerkhof langs die hoofweg tussen Johannesburg en Vereeniging begrawe. Hy rus nog daar op Eikenhof langs die graf van sy beste vriendin.

Daar staan vandag ’n hoë monument op die rantjie langs die hoofweg tussen Johannesburg en Potchefstroom. Die boom waar Danie Theron sy lewe vir sy vaderland gegee het, staan ook nog daar.

’n Mens kan met ’n goeie pad uit die hoofweg tot op die rantjie en by die monument ry.