Cornelis Vincent van Gogh in Transvaal

Vanaand dans ons weer – Die Ventertjies
Oktober 19, 2018
TO Honiball – ’n waardering
Oktober 19, 2018

Inleiding

Die doel van hierdie bydrae is om meer lig te werp op die Transvaalse jare van die jongste broer van die wêreldberoemde Nederlandse skilder Vincent van Gogh. Albei was seuns van ds. Theodorus van Gogh (Benschop, 8.2.1822 – Nuenen, 26.3.1885) en sy eggenote Anna Cornelia Carbentus (’s-Gravenhage, 10.9.1819 – Leiden, 29.4.1907).

Foto: Vincent van Gogh: Die Pastorie te Nuenen

Aan die hand van die VerzamAelde brieven van Vincent van Gogh (Amsterdam-Antwerpen, 1973, deel 1), en veral deur die inleiding tot hierdie publikasie deur J. van Gogh-Bonger (1914), is daar heelwat besonderhede bekend oor die geslag Van Gogh, die voorouers van ds. Theodorus van Gogh en die lotgevalle van die gesin van hierdie leraar in diens van die Hervormde Kerk van die Nederlande. Genoemde standaardwerk bevat ’n foto van die dorpsleraar sowel as ’n tekening van sy eggenote. Daarin is ook foto’s van die beskeie pastorie en die dorpskerkie van Zundert, albei in die suidelike Nederlandse provinsie Noord-Brabant, suid van die stad Breda en naby die Nederlands-Belgiese grens, in ’n landstreek met ’n oorwegend Katolieke bevolking.

Foto: Ds. Theodorus van Gogh (1822 – 1885) predikant Nederlands Hervormende gemeente Zúndert en Nuenen

In die Verzamelde brieven is, volkome tereg, die aandag op Vincent Willem die latere kunstenaar (Zundert, 30.3.1853 – Auvers-sur-Oise, 29.7.1890) en sy broer Theodorus (Theo) (Zundert, 1.5.1857 – De Bilt, 25.1.1891) gekonsentreer. Van Gogh-Bonger verwys skaars, en in die meeste gevalle nie eers by name nie, na die orige van die ses kinders. Wel genoem is Willemina Jacoba (Zundert, 16.3.1862 – Ermelo-Veldwijk, 17.5.1941); en, hoewel nie by sy naam nie, Cornelis Vincent, wat wel in die bekende Nederland’s Patriciaat-reeks (1964) genoem word: Gebore te Zundert, 17.5.1867, werksaam by die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatschappij (N.Z.A.S.M.), waarskynlik oorlede te Pretoria omstreeks 24.4.1900.

Uit die genealogie Van Gogh kan afgelei word dat Cornelis Vincent vermoedelik vernoem was na sy oom Cornelis Marinus van Gogh (Breda, 15.3.1824 – Leiden, 3.9.1908) en sy ander oom, Vincent van Gogh (Benschop, 28.3.1820 – Princenhage, 28.7.1888). Cornelis Vincent se ouer suster Anna Cornelia (Zundert, 17.2.1855 – Dieren, 20.9.1930) was in 1878 getroud met Joan Marinus van Houten, ’n lid van die firma Van Houten en Ledeboer, kalkbranders te Leiderdorp, naby die universiteitstad Leiden.

Foto: Mev. Anna Cornelia van Gogh (gebore Carbentus) (1819 – 1907)

Cornelis Vincent van Gogh en sy koms na Transvaal. Werksaamhede

Aangesien die argief van die reeds genoemde N.Z.A.S.M. in die Nederlandse Rijksarchief in Den Haag, Nederland, berus en die skrywer hom tot dié bronne beperk het wat in die Transvaalse Argiefbewaar-plek te Pretoria aanwesig is, is dit nie bekend op watter datum Cornelis Vincent in Amsterdam, waar die hoofkantoor van die N.Z.A.S.M. gevestig was, ’n verbintenis met dié maatskappy aangegaan het om in Pretoria diens by die N.Z.A.S.M. te aanvaar nie. Uit gegewens, waarna later verwys word, is dit bekend dat hy in 1898 agt jaar lank in Transvaal woonagtig was.

In Longland’s Pretoria Directory for 1899 (Pretoria, 1979; herdruk) kom C.V. van Gogh voor en is sy beroep as ‘Engineer’ (vermoedelik ingenieur of passer-draaier) aangegee. Sy posbusadres was bus 383, Potgieterstraat-Suid, Pretoria, m.a.w. dieselfde busnommer as dié van die N.Z.A.S.M. Ook is dit bekend dat Van Gogh, tydens sy Pretoriase jare, werksaam was in die sentrale werkswinkel van die N.Z.A.S.M., ’n gebouekompleks wat suid van die huidige Pretoria-stasie geleë was.

Hierdie geboue was dié vernaamste vervaardiging- en herstelsentrum van die rollende spoorwegmateriaal waaroor die N.Z.A.S.M. in Transvaal beskik het. In 1897 was 375 Blankes en 176 Swartes by hierdie werksaamhede te Pretoria betrokke. Op dieselfde terrein was, behalwe die werkswinkels, ook ’n administratiewe afdeling en voorrade gehuisves. In bevel van die ‘Centrale Werkplaats’ van die N.Z.A.S.M. te Pretoria was ir. C. Uggla.

 

Die huweliksbevestiging te Pretoria: 16 Februarie 1898

Foto: ’n Duplikaat van die huweliksakte van C.V. van Gogh en sy eggenote (Pretoria, 16.2.1898)

Op 16.2.1898 het, te Pretoria, die huweliksbevestiging van Cornelis Vincent van Gogh, 30 jaar oud, gebore in Nederland en woonagtig te Pretoria plaasgevind nadat die voorgenome huwelik vooraf afgekondig is en geen huweliksvoorwaardes opgestel was nie. Volgens sy eie vermelding op die trousertifikaat was die bruidegom agt jaar in Transvaal en het hy geen toestemming van sy moeder gevra nie. Die bruidjie was Anna Cathrine Fuchs (20), gebore in Duitsland, wat reeds sestien jaar lank in Pretoria woonagtig was. Sy het toestemming van haar ouers verkry. Die huweliksband is op die genoemde datum deur die Nederlandse priester Giles Joseph van Laar (oorlede te Klerksdorp, 9.1.1909) gelê, terwyl J.P. Koeberg en F. Fuchs as getuies opgetree het. Hierdie huweliksband was, om onbekende redes, nie stewig genoeg gelê om bestendig en langdurig te wees nie.

 

Die testament van 17.10.1898

Op 17.10.1898 het Cornelis Vincent van Gogh, van beroep amptenaar, verbonde aan die sentrale werkswinkel van die N.Z.A.S.M. te Pretoria, voor prokureur Steven Kornelis Hinno Lingbeek (geb. Veendam, Nederland, 1871 – Arnhem, Nederland, 12.3.1908) verskyn om sy ‘laatste en uiterste wil’, m.a.w. sy testament, te Pretoria te laat opstel.

Volgens die wilsbeskikking was Van Gogh op die genoemde dag ‘gezond … naar lichaam en geest’. Hy het as enigste erfgenaam van sy besittings, van watter aard en waar aanwesig en sowel roerende as onroerende goedere, toegewys aan sy moeder, die weduwee Anna Cornelia van Gogh, gebore Carbentus, woonagtig te Den Haag, Nederland, Prins Hendrikstraat 25. By ontstentenis van sy moeder, as gevolg van dood, onbekwaamheid of onbereidwilligheid om die nalatenskap te aanvaar, het die erflater sy suster, mej. Willemina Jacoba van Gogh, woonagtig aan dieselfde adres te Den Haag, aangewys. Tot eksekuteur van dié deel van sy nalatenskap wat in Europa aanwesig sou wees, is Joan Marinus van Houten, kalkbrander te Leiden, en by ontstentenis van hierdie eksekuteur, dr. Johannes Paulus Stricker, hoof van ’n ‘Rijks Hoogere Burgerschool’ (d.i. ’n hoërskool) te Amsterdam. In verband met die nalatenskap wat in Suid-Afrika aanwesig sou wees, is die bystand ingeroep van die weesheer van die Zuid-Afrikaansche Republiek te Pretoria. Albert Schilthuis en J. Wicherlink was, as getuies, by hierdie reëlings aanwesig.

Ofskoon Van Gogh die reg voorbehou het om sy testament te herroep, die testamentêre beskikking van 17.10.1898 gehandhaaf. Na sy dood sou hierdie testament tot sekere verwikkelinge lei.

 

Van Gogh en die oorlog (1899 – 1900)

Reeds voordat, in Oktober 1899, die langverwagte oorlog tussen die Boere-republieke en Engeland uitgebreek het, het Nederlanders en oud-Nederlanders, wat in die Zuid-Afrikaansche Republiek woonagtig was, onder leiding van dr. Hermanus J. Coster, die gewese staatsprokureur van Transvaal, te Pretoria begin vergader om te besluit wat hulle houding in geval van oorlog sou wees. Op ’n vergadering wat op 7.9.1899 gehou is, is besluit om ’n korps van Nederlanders en oud-Nederlanders te stig en om daarna dié korps se dienste aan die Transvaalse owerhede aan te bied. Tydens ’n onderhoud, wat op 22.9.1899 met die Uitvoerende Raad gevoer is, is dié aanbod aanvaar. ’n Lid van die Eerste Volksraad, kmdt. Johannes Petrus la Grange Lombard, is as bevelvoerder gekies van die korps, wat uit twee afdelings (veld- en garnisoensdiens) bestaan het. Die aanvanklike sterkte van die eenheid was ongeveer 450 (velddiens: 150, garnisoensdiens: ongeveer 300). In die korps se argief, wat gedeeltelik bewaar gebly het, en in die Transvaalse Argiefbewaarplek (Pretoria) berus, kom die van Van Gogh nie voor onder hulle wat hulle vir militêre diens aangemeld het nie. Is Van Gogh, wat die Nederlandse nasionaliteit besit het, deur die N.Z.A.S.M. as ’n onmisbare werknemer teruggehou, of het hy, op dié tydstip, hom nie met die gevoelens en strewe van sy medelandgenote of vroeëre landgenote vereenselwig nie? Dit is nie bekend nie. Het hy, in die gewapende konflik, kant gekies?

 

Van Gogh kies kant

Aan die begin van Desember 1899 het in die regeringsgesinde ‘Standard and Diggers News’ (Johannesburg) sowel ad in ‘De Volksstem’ (Pretoria) ’n berig verskyn waarin ’n aantal firma’s, soos Harvey Greenacre en Kie., Robert Hamilton, P. Henwood en Seun, Soutter en Kie., die ‘South African Mutual Life Society’, Payne Broers, H. Eckstein en Kie., die Consolidated Goldfields-maatskappy, Reunert en Lenz, adv. W.S. Webber e.a., bydraes sou gegee het om ’n vyandiggesinde ‘Corps van Guerilla Vrijwilligers’ uit te rus en om ’n ander militêre eenheid, ‘The South African Light Horse’, te onderhou.

Hierdie persberigte het daartoe gelei dat meer as 700 Pretorianers hul handtekeninge onder ’n aantal gelykbewoorde petisies geplaas het. Hierdie petisies is aan die Staatspresident en die Uitvoerende Raad gestuur. Die ondertekenaars het versoek

dat die plaatsen van bezigheid onmiddelijk zullen worden gesloten, en Bestuurders, en bedienden daarvan, zonder enig verzuim, over de grenzen zullen worden gezet; daar alreeds genoeg bewys van verraders in ons midden bestaat.

Cornelis Vincent van Gogh het sy handtekening onder een van hierdie petisies geplaas en op dié wyse bewys gelewer aan watter kant hy gestaan het.

 

Van Gogh trek ten stryde

In die loop van 1900 het daar in Transvaal roering onder vreemdelinge ontstaan wat die saak van die Boere-republieke gunstig gesind was, om aktief aan die stryd deel te neem nadat, na die slag van Elandslaagte (21.10.1899), die Transvaalse regering nie meer te gretig was om vreemdelinge-eenhede te steun nie. In sy werkie Met den Mauser (Gorinchem, 1902) vertel die oud-Nederlander Cornelis Plokhooy van sy ervarings onder die Russiese kolonel Maximoff, ’n militêre aanvoerder wat in bevel van ’n groepie pro-Boer-vreemdelinge was. ’n Ander bekende voorbeeld is die groepie vreemdelinge en ander wat onder genl. De Villebois-Mareuil ten stryde getrek het. Op watter wyse Van Gogh, op ’n onbepaalde tydstip in die eerste helfte van 1900, in die Vrywilligerkorps van genl. J.S.F. Blignaut beland het, is onbekend. In April 1900 was hierdie eenheid in die omgewing van Brandfort bedrywig en op 12.4.1900 is Van Gogh op of in die omgewing van hierdie Vrystaatse dorp oorlede.

Foto: Sterfkennis van Cornelis Vincent van Gogh

In ’n doodsertifikaat, wat op 22.11.1900 deur ’n verteenwoordiger van die Inligtingsburo van die Transvaalse Rooikruis, E.M. Ellenberger, opgestel en uitgereik is, is vermeld dat Van Gogh, behorende aan ‘Blignaut’s Vrywilliger Corps’

op den 12 den April 1900 te Brandfort door een ongeluk gedurende zijn ziekte (koorts) het leven verloren heeft.

Inspekteur Ellenberger was, aan die begin van April 1900 te Brandfort om sy amptelike werksaamhede daar te verrig.

Nader aan die dag waarop Van Gogh heengegaan het, staan sy sterfkennis, wat deur oud-veldkornet Melt Marais, van Pretoria, en die weduwee van die oorledene, mev. A.C. van Gogh, onderteken is. In hierdie kennisgewing is vermeld dat Cornelis Vincent van Gogh, gebore te Zundert, ouers onbekend, van beroep N.Z.A.S.M.-amptenaar, getroud met Anna Cathrina (moet wees: Cathrine) Fuchs, in die ouderdom van 32¾ jaar, op 14 April 1900 te Brandfort, O.V.S., oorlede is en dat daar ’n testament aanwesig was. Van Gogh se geboortedatum is as 17.5.1867 aangedui.

In ’n brief van 20.4.1900 het H. van Someren, in sy hoedanigheid as kommissaris van genl. Blignaut, ’n pakkie met persoonlike, ongespesifiseerde besittings van Van Gogh aan die reeds genoemde Inligtingsburo gestuur. In ’n skrywe van hierdie instansie, waarin die ontvangs van die pakkie erken is, is 12 April 1900 as Van Gogh se sterfdatum genoem en verder verklaar dat hy naby die dorp Brandfort oorlede is. Hierdie datum is ook vermeld in jonkheer P.L.A. Goldman se na-oorlogse register van gesneuweldes, sterfgevalle in konsentrasiekampe e.d.m., ’n opgaaf wat as die resultaat van jarelange, nougesette navorsing beskou kan word. In dié gedeelte wat aan dood as gevolg van ongelukke gewy is, kom die volgende inskrywing in die register voor:

Van Gogh/Cornelis Vincent/32/Pretoria ZASM/ by Brandfort/12 April 00/zelfmoord gedurende koorts/Volgens RK ( = Rooi Kruis).

Uit hierdie gegewens meen ons te kan aflei dat die sterfdatum van Van Gogh 12.4.1900 was.

Dit is minder duidelik of hy op die dorp Brandfort of in die omgewing oorlede is. Tot vandag toe kon die plek waar hy ter ruste gelê is, nie opgespoor word nie. Oorvermoeidheid, oorspanning en neerslagtigheid het daartoe gelei dat die skilder Vincent Willem van Gogh op 27.7.1890 ’n poging aangewend het om met ’n rewolwer ’n einde aan sy lewe te maak en twee dae later heengegaan het. Was dié ooreenkoms toevallig? Was daar ’n gesamentlike familietrek? Die min gegewens wat ons oor die heengaan van Cornelis Vincent van Gogh kon vind, bied geen antwoord op hierdie vrae nie. Die laaste aardse rusplek van die skilder is bekend en na sy dood het sy broer Theo in ’n brief aangeteken:

Een van zijn laatste woorden was: “it wilde dat it zóó heen kon gaan” … Hij ligt op een zonnig plekje midden in de korenvelden.

Vincent Willem van Gogh is begrawe in Frankryk, sy jongste broer Cornelis Vincent van Gogh rus êrens in die Oranje-Vrystaat in die sonryke Suid-Afrika. Is sy lewe oorskadu deur ’n onvolkome huwelik? Was hy ’n vereensaamde stryder in vredes- en in oorlogstyd? Wie sal, na tagtig jaar, antwoord op hierdie en ’n menigte ander vrae omtrent sy lewensloop kan gee?

 

Bates en laste

Op 27.4.1900, ongeveer twee weke na die dood van Cornelis Vincent van Gogh, het jonkheer J. Kretschmar van Veen, namens die N.Z.A.S.M. te Pretoria, die ontvangs van ’n skrywe van die Weesheer van die Zuid-Afrikaansche Republiek, gedateer 21.4.1900, erken. Hy het, in sy antwoord, bevestig dat Van Gogh in diens van die Maatskappy was en dat hy ’n testament nagelaat het. Sy moeder was, aldus Kretschmar van Veen, sy universele erfgenaam en sy broer was deur hom as eksekuteur in sy boedel benoem. Dié broer was, sover bekend, in Nederland woonagtig en verder het Kretschmar van Veen van die hoof van die materiale-afdeling verneem dat ’n sekere Meek die boedel van Van Gogh te Pretoria sou reël.

Hierdie inligting was gedeeltelik korrek. Die inligting was gedeeltelik korrek. Die inligting as sou ’n broer van Van Gogh as eksekuteur optree, was foutief. In werklikheid was Van Gogh se swaer, Joan Marinus van Houten, met hierdie taak belas.

Voorlopig het die afhandeling van die boedel in Transvaal bly rus. Aan die begin van Junie 1900 het die Britse Troepe Pretoria beset en het die hoofstedelike administrasie van die republiek tot stilstand gekom. Die oorlog het voortgewoed en vermoedelik het daar, onder die Britse administrasie, ’n groot vertraging in die afhandeling van boedels ontstaan. Burgers te velde was van hul gesinne geskei, krygsgevangenes was in die Kaapkolonie of op St. Helena, in Indië of elders, ’n deel van die vroue en kinders het in konsentrasiekampe beland. Vreemdelinge is uit die republieke verwyder. Die krygsgevangenes van oorsee het in die tweede helfte van 1902 teruggekeer, die laaste konsentrasiekampe is aan die begin van 1903 gesluit. Langsamerhand kon daar weer ’n mate van oorsig oor ’n langdurige ontwrigte samelewing verkry word. Op 4.6.1904 het die Meester van die Hooggeregshof te Pretoria Anna Cathrine van Gogh (gebore Fuchs), van Markstraat (nou: Paul Krugerstraat) 17, te Pretoria, as eksekutrise aangestel om die boedel van haar heengegane eggenoot Cornelis Vincent van Gogh te administreer.

Foto: ’n Gedeelte van ’n dokument wat in 1904 deur die weduwee van C.V. van Gogh onderteken is

Op ’n navraag van mev. Van Gogh het M.P. Barendsen, namens die N.Z.A.S.M., aan haar geantwoord dat die spoorwegmaatskappy se hoofkantoor te Amsterdam aan die familie van die oorledene, in Nederland, £16:18:- uitbetaal het. Hierdie bedrag het die boedel toegekom, aldus Barendsen op 22.9.1904. Met hierdie optrede het die Meester van die Hooggeregshof te Pretoria nie saamgestem nie. Volgens hom was die oorledene voor sy dood in Transvaal gevestig en was die eksekutrise van die in Transvaal aanwesige boedel die aangewese persoon om die reeds genoemde bedrag te ontvang. Barendsen is dan ook gevra om sy direkteure te Amsterdam dusdanig in te lig en die bedrag, wat onregmatig betaal was, terug te kry. Reeds op 3.6.1904 was daar ’n inventaris te Pretoria opgestel met die betwiste bedrag as enigste bate. Op ’n ongenoemde datum is, in dieselfde verband, ’n borgakte opgestel met Jacob Lievaart, Schubartstraat 92, Pretoria, en Theodore Cato Cornelius Glaeser, Markstraat 21, Pretoria, as borge, terwyl hierdie dokument deur Fred. C. (?) Kraamwinkel en Joh. Sluyter as getuies onderteken is.

Terwyl H. Zagt in September 1904 ’n pleidooi aan die wetlike instansies gerig het om, op grond van mensliewendheid die weduwee in besit van die genoemde bedrag te stel, is Van Houten deur die N.Z.A.S.M. te Amsterdam in kennis gestel van die sienswyse van die Meester van die Hooggeregshof te Pretoria. Van Houten het die betwiste bedrag as agterstallige salaris bestempel en verder die volgende toeligting verstrek: nadat Cornelis Vincent van Gogh se eggenote hom vrywillig verlaat en die grootste deel van sy meubels saamgeneem het, het Van Gogh ’n testament deur prokureur Lingbeek laat opstel.

Die leser is met die inhoud van hierdie wilsbeskikking bekend en op grond van dié testament het, so vervolg Van Houten, die nog lewende moeder van Cornelis Vincent die herhaaldelik genoemde bedrag van die spoorwegmaatskappy ontvang. Maar, aldus Van Houten, in 1897 het hy ’n bedrag van Ned. fl. 1500 (toentertyd ongeveer £125) aan sy swaer geleen om sy huishouding in te rig. Hierdie skuld was vir ongeveer een-derde afgelos en Van Houten het hom verplig gevoel om dié skuld op die bates van Van Gogh te verhaal. Verder was Van Houten van oordeel dat die weduwee geen aanspraak op die agterstallige salaris kon maak nie.

Op dieselfde tydstip het die N.Z.A.S.M. te Amsterdam op 11.11.1904 aan M.P. Barendsen geskryf dat die maatskappy niks met die aangeleentheid te doen het nie en dat Barendsen nie verder in die saak betrek moet word nie. In sy antwoord aan Van Houten, op 14.11.1904, het die Meester van die Hooggeregshof sy vroeëre standpunt gehandhaaf dat die weduwee die enigste geregtigde persoon was om die betwiste bedrag te ontvang. Van Houten kon sy eis in die boedel maar aan die weduwee voorlê en dan sou hierdie aangeleentheid ooreenkomstig Wet afgehandel word. Ten slotte het die Meester van die Hooggeregshof opgemerk dat, aangesien die egpaar in gemeenskap van goedere getroud was, die helfte van die bates aan haar toekom en dat die feit dat sy haar man verlaat het, niks aan die saak verander nie.

Op 30.1.1905 het J.M. van Houten die skrywe van 14.12.1904, afkomstig van die Weesheer, beantwoord en op dieselfde dag ook ’n brief aan die weduwee van Cornelis Vincent van Gogh opgesteI.

In die eersgenoemde brief het Van Houten, wat regskundige advies ingewen het, toegegee dat die helfte van die bedrag wat deur die N.Z.A.S.M. in Nederland uitbetaal was aan die moeder van Cornelis Vincent van Gogh, aan die weduwee te Pretoria toegekom het. Andersyds het daar, ooreenkomstig ’n bestaande skuldbekentenis, nog ’n lening-skuld van meer as £80 bestaan. Van Houten het, nadat hy alles oorweeg het, tot die oortuiging gekom dat dit die beste sou wees om die aangeleentheid met rus te laat.

In sy brief aan die weduwee te Pretoria, wat nie deur die Meester van die Hooggeregshof deurgestuur is nie, het hy ’n soortgelyke uiteensetting oor die aard van die wedersydse skuld gegee en aangebied om, in ruil vir betaling van die gedeeltelik afbetaalde lening en – van sy kant – die betaling van die helfte van die N.Z.A.S.M.-gelde, ’n ontvangsbewys en ’n skuldbekentenis aan mev. Van Gogh, te Pretoria, te stuur.

Op 9.3.1905 het die Meester van die Hooggeregshof aan Barendsen gevra wat die N.Z.A.S.M. sedert 22.9.1904 aan die saak gedoen het. In sy antwoord van 24.3.1905 het Barendsen ’n afskrif van die antwoord gestuur wat hy van die hoofkantoor van die N.Z.A.S.M. te Amsterdam ontvang het. Dit was ’n skrywe van 11.11.1904 waarin Barendsen aangeraai is om hom nie verder met die aangeleentheid te bemoei nie. Die laaste aantekening in verband met die boedel, ’n vraag wat nie beantwoord is nie, dateer van 8.9.1905. Dit was dan, eindelik, die einde van die geskiedenis van die boedel van Cornelis Vincent van Gogh, ’n boedel met meer laste as bates.

Foto: Die gedenkplaat in die kerkgebou van die Ned. Hervormende kerk, Du Toitstraat, Pretoria

Aan een van die mure van die kerkgebou van die Ned. Hervormde gemeente, Du Toitstraat, Pretoria, kom – op ’n gedenkplaat ter gedagtenis aan Nederlanders en oud-Nederlanders ‘gevallen voor die Republieken in den oorlog 1899 – 1902’ – C.V. van Gogh voor. Onder twee kolomme met name, is  gebeitel: ‘Zij Rusten in Vrede’. Onder hierdie Nederlanders en oud-Nederlanders was ’n aantal N.Z.A.S.M.-amptenare wat, in tyd van vrede en oorlog as vreemdelinge of Transvaalse burgers getroue diens gelewer het.

By geleentheid van die onthulling van die N.Z.A.S.M.-gedenksteen te Waterval-Boven, op 28.8.1934, het die destydse spoorwegkommissaris Albert Kuit, namens genl. J.B.M. Hertzog ’n woord van hulde en waardering voorgelees waarin die eertydse Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika – veral met betrekking tot die Delagoabaai-spoorlyn – o.m. van die N.Z.A.S.M. personeel getuig het:

‘Dit is dus gepas en onvermydelik dat op ’n dag soos hierdie, dankbare hulde gebring word nie alleen aan diegenes wat hulle lewe aan die werk opgeoffer het nie, maar ook aan al diegenes wat deur hulle kragsinspanning en toewyding die bou van die lyn – ’n monument van hulle kunde en deeglikheid – voltooi het, en die ook op menig ander gebied ’n bevrugtende invloed uitgeoefen het op ons volkslewe. Ek wens aan al hierdie manne en hul nagedagtenis, namens die Regering, waardering en hulde toe te breng!’

By dieselfde geleentheid het mnr. Kuit van die N.Z.A.S.M. verklaar:

As ’n gesonde besigheidinrigting was jy die eer van Nederland en die eer van die ou Transvaal.

Daar ontbreek, noodwendigerwys, heelwat in hierdie besonderhede oor Cornelis Vincent van Gogh, die jongste broer van ’n kunstenaar van wêreldformaat, ’n amptenaar in diens van die N.Z.A.S.M. en ’n vrywilliger onder genl. Blignaut. Die begeerte van die skrywer is dat ander navorsers, sowel in ons eie land as in Nederland, meer gegewens mag vind om ’n beeld van die lewe van Cornelis Vincent van Gogh te verkry wat vollediger is as wat tans die geval is. Die skrywer dra hierdie poging op aan Sy Eks. dr. Jan van den Berg, oud-ambassadeur van die Nederlande in ons land, as ’n bewys dat ’n vraag wat hy jare gelede aan die skrywer gestel het, tans gedeeltelik beantwoord is.

 

Bron: Ploeger, Jan. 1981. Cornelis Vincent van Gogh in Transvaal. Lantern, Desember, pp. 51-59.