Cissie (1912-1989) en Willie (1897-1975) Cooper

Hennie Muller (1922-1977)
July 1, 2019
Drie geslagte Van den Berghs
July 1, 2019

Pioniers van ligte Afrikaanse musiek

Baie mense dink dat daar nie eintlik oorspronklike Afrikaanse liedjieskrywers en komponiste was voordat die Musiek-en-Liriek-beweging in 1979 ontstaan het nie.

In die 1930’s het die publiek egter kennis gemaak met ’n egpaar wat verantwoordelik was vir ’n aantal liedjies wat nie net volksbesit geword het nie, maar wat tot vandag toe nog gesing word. William Schreiner (Willie) Cooper is op 28 Januarie 1897 in Pretoria gebore en het hom gevestig as ’n skrywer wie se gedigte en prosa teen die 1930’s reeds gepubliseer is. Mathilde Cornelia Maria (Cissie) Budke is op 27 Junie 1912, ook in Pretoria, gebore en sy het grootgeword in ’n huis waarin daar gedurig musiek gemaak is en sy was van kleins af bewus van die feit dat sy die vermoë gehad het om te komponeer. Sy was 14 jaar oud toe sy vir Willie ontmoet het en hulle is in 1937 getroud. Cissie het die liedjies gekomponeer terwyl Willie die woorde geskryf het.

Hulle het omtrent in 1927 saam liedjies begin skryf en hul eerste poging was ’n Engelse liedjie wat hulle sonder sukses aan ’n Engelse uitgewery voorgelê het. Hul deurbraak het egter in die vroeë 1930’s gekom. Cissie het by Southern Life begin werk, en Chris Blignaut, wat op soek was na oorspronklike liedjies met ’n komiese inslag, was ook aan dié versekeringsmaatskappy verbonde. Sy het haar en Willie se komposisies vir hom gewys en hy het dadelik belanggestel. Hul bekendste komposisies wat Chris opgeneem het, was sekerlik “Die donkie” en “Petronella”. Dawid de Lange het ook begin om hul komposisies op te neem en later is hulle deur Columbia en His Master’s Voice gekontrakteer om eksklusief vir hulle te komponeer. Cissie het ook sanglesse geneem en is ’n studiebeurs van vyf jaar in Londen aangebied, maar omdat sy Suid-Afrika nie wou verlaat nie, het sy dit van die hand gewys.

Sommige van hul komposisies is later jare deur ander kunstenaars ook opgeneem. “Jy is my liefling” was veral in die 1960’s ’n groot treffer. Nie net het Virginia Lee dit opgeneem en dit van voor af gewild gemaak nie, maar selfs Jim Reeves het dit in Afrikaans gesing. Hy het dit ook in Engels vertaal, onder die titel “You’re my love”. In 1968 was dit die temaliedjie van die gelyknamige rolprent waarin Franz Marx en Min Shaw te sien was; Min Shaw het dit opgeneem en dit het weer ’n treffer geword.

“Jakkalsdraai Polka”, ook bekend as “Kêrels Kêrels”, asook “My hartjie my liefie”, is in die volkspele-sangbundel Ons Volkspele-erfenis ingesluit en die Alabama-studentegeselskap se opname van “Kêrels Kêrels” het baie gewild geword. Hul komposisie “Vaalhaar toe” het die rugbyliedjie “Pale toe” geword; Groep Twee se opname het verskyn net voordat die Britse Leeus in 1980 deur Suid-Afrika getoer het, en Leon Schuster het later die refrein vir sy liedjie “Ek sê Pale toe”, wat op sy gelyknamige debuutalbum verskyn het, gebruik. Lucas Maree het sy eie, komiese woorde vir “My hartjie my liefie”, wat in die oorspronklike FAK-Sangbundel ingesluit is, geskryf en dit op sy album Blouberg, wat verskeie FAK-liedjies met komiese woorde bevat het, ingesluit. Gé Korsten het “Jy is my liefling” en “Meisie van my drome”, nog een van hul bekendste komposisies, onderskeidelik vir sy albums Seeman en Die hartseerwals, opgeneem.

Willie is op 20 Oktober 1975 oorlede en Cissie op 3 Julie 1989. Na Willie se dood het Cissie opgehou om liedjies te skryf. Hulle was pioniers van ligte Afrikaanse musiek soos ons dit vandag ken, en onder die min destydse komponiste wie se musiek regtig die toets van die tyd deurstaan het.