Chris Blignaut (1897-1974)

JP Toerien (1859-1930)
April 22, 2021
CR Swart (1894-1982)
May 13, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Chris Blignaut was die eerste Afrikaanse sanger wat ’n platekontrak kon losslaan.

Christian August Blignaut is op 27 April 1897 in Johannesburg gebore en sy pa is ’n maand voor sy geboorte aan ’n hartaanval oorlede. Hy het in Johannesburg skoolgegaan en musiek was reeds op skool deel van sy lewe. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Suid-Afrika ’n droogte van internasionale kunstenaars beleef en toe Chris op agtienjarige ouderdom op ’n advertensie vir sangers gereageer het, het hy ’n kontrak gekry om onder die skuilnaam Harold Wise in Engeland op te tree.

Op 20 Maart 1930 het Chris se loopbaan as Afrikaanse sanger in alle erns begin toe hy ’n kontrak met die Columbia-platemaatskappy onderteken het. Die Amerikaanse hillbilly-musiekskat het ’n groot invloed op sy musiekloopbaan gehad en hy het verskeie liedjies in daardie genre in Afrikaans vertaal.  Hy was ewe tuis met die vertolking van sentimentele ballades en humoristiese liedjies, en veral laasgenoemde het groot byval by die publiek gevind, al was sommige van sy vertalings blote rymelary. Sy aanhangers het hulle min daaraan gesteur, en te midde van die depressie is byna 55 000 eenhede van sy plate verkoop. Hy was ook die eerste Afrikaanse sanger wie se musiek oor die radio gespeel is.

Hy het in 1949 besluit om die vermaaklikheidswêreld te verlaat, en ’n reeks afskeidskonserte wat stampvol sale getrek het, gehou. Te midde hiervan was hy deurgaans werksaam by  die versekeringsmaatskappy Southern Life. Hier het sy pad met dié van die komponis-egpaar Cissie en Willie Cooper gekruis. Chris was op soek na nuwe Afrikaanse liedjies met ’n humoristiese inslag, en Cissie het haar werk vir hom gewys. Hy het dadelik belanggestel en hul komposisies “Die donkie” en “Die apie sit en droom” opgeneem. Met die koms van langspeelplate het hy opnuut tot die musiekbedryf toegetree en hoewel sy stemkwaliteit nie meer dieselfde was nie, was hy steeds in aanvraag.  Die kitaarspeler Chris du Toit en die klavierspeler Jim Muller het hom dikwels op sy konserte begelei. Onder sy grootste treffers was “Ou ryperd”, “Bosveldbul”, “Jan asseblief tog squeeze my”, “Tannie met die rooi rokkie”, “Stukkie van die melktert” en “Groen blare”.

Hoewel hy in sy later jare graag rolbal gespeel het, het hy steeds aangehou om plate op te neem. Hy is op 21 Julie 1974 in die ouderdom van 77 jaar oorlede.