CHIRURGIESE BEHANDELING VAN GEWONDES TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG

BOEREGEÏNTERNEERDES IN PORTUGAL TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG (1899-1902)
February 27, 2017
DIE BRITSE BLOKHUISSTELSEL IN SUID-AFRIKA
February 27, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

 

deur Arnold van Dyk

Inleiding

Beide die Boere- en die Britse magte het gedurende die Anglo-Boereoorlog tot uiterstes gegaan om na hulle gewondes om te sien. Soldate het direk ‘gebaat’ by die feit dat gewere, in teenstelling met vandag se wapens wat só ontwerp word om maksimum besering te bewerkstellig, nie massiewe skade aangerig het nie.

Die effek van ’n koeël wat deur menslike weefsel beweeg, hang nie slegs van die trompsnelheid van die koeël af nie, maar ook van sy trajek en sy beweging deur die lug. Die trajek waarmee die ‘nuwe generasie’, hoësnelheidwapens geskiet het, was baie reguit en het gewoonlik baie gelokaliseerde wonde veroorsaak. Die tipiese wond is dikwels deur ’n klein kneusing met ’n sentrale opening gekenmerk. Die Duitse Mauser het veral vir baie ‘skoon’ wonde gesorg. Sogenaamde dum-dum koeëls is ook deur beide magte gebruik. Die koeëls is of van sagte lood gemaak, of die harde buite-omhulsel van die standaard koeël is gesny. Die Britte het ook die Boere daarvan beskuldig dat hulle hulle koeëls met gif behandel het. Hierdie persepsie het waarskynlik ontstaan na aanleiding van die groen was wat die Boere dikwels gebruik het om die gewere se lope en magasynkamers mee te smeer.

Mediese behandeling is meestal vinnig en effektief toegepas. Die Royal Army Medical Corps (RAMC) is as gevolg van die lyding van soldate tydens die Krimoorlog (1850-1853) gevorm. Die Mediese Korps se besoldiging is verhoog en hul opleiding is ook verbeter. Daarby is hulle rang en status ook verhoog en het die nuwe sogenaamde Army Medical School ’n groot rol in die opleiding van mediese offisiere gespeel.

Chirurgie het gedurende die laaste helfte van die negentiende eeu, dramaties verbeter en teen 1899 was dit op die mees moderne beginsels van die tyd gebaseer. Lister se antisepsis met karboliese oplossings wat bakterieë gedood het, is geleidelik deur aseptiese chirurgie met gesteriliseerde toerusting vervang. Algemene narkose was standaard praktyk vir alle operasies. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is ’n professor in Militêre Chirurgie naamlik Stevenson, as Geneesheer-generaal in Brittanje aangestel – ’n aanduiding van die erns waarmee dié oorlog bejeën is.

Teen 1899 was die RAMC reeds goed gevestig. Die meeste dokters was professionele soldate, maar die Britse leër het ook van heelwat burgerlike chirurge gebruik gemaak. Van die beroemde Britse chirurge onder hulle was sir William MacCormac, Watson Cheyne, William Stokes wat in Suid-Afrika oorlede is, Kendle Franks en G.L. Cheatle sowel as sir Thomas Fitzgerald van Australië. Die mees beroemde was waarskynlik sir Frederick Treves, ook as gevolg van die feit dat hy skuiling aan die beroemde Elephant man gebied het. Treves was ’n uitstekende chirurg en het sy ervaringe in The tale of a field Hospital opgeteken, wat gebaseer was op artikels wat hy in die British Medical Journal gepubliseer het. Chirurge was goed betaal. Volgens Amery het hulle ongeveer 5 000 pond per jaar verdien.

’n Ander chirurg wat vir hom groot naam gemaak het tydens die oorlog was George Henry Makins van St. Thomas Hospital. Sy handboek oor Militêre Chirurgie is in 1901 gepubliseer en was van onskatbare waarde. Hy publiseer onder andere interessante statistieke na die ontsetting van Kimberley. Van die vyftienduisend soldate, was daar ongeveer 12% ongevalle, terwyl slegs 2% aan hulle wonde beswyk het.

By die 22 000 soldate is gedurende die oorlog vir beserings behandel. Hulle kans op oorlewing het grootliks van die spoed waarmee hulle na ’n noodhulpstasie vervoer is, afgehang. So vroeg as 1883 het die Britse leër reeds ’n goed georganiseerde vervoerstelsel vir die afvoer van gewondes vanaf die slagveld, vir chirurgiese behandeling gehad.

Gewondes is in stadia afgevoer. Bataljondokters was op die slagveld gestasioneer. Elke divisie het twee kompanies van baardraers gehad om gewondes wat beweeg kon word, na ’n sogenaamde verbandstasie af te voer. Van daar af is hulle na een van vier nabygeleë veldambulanse, waar meer ingewikkelde operasies uitgevoer is, geneem. Pasiënte is hierna oorgeplaas na een van die agt permanente divisiehospitale wat met intervalle van twintig myl langs die lyn van kommunikasie geleë was. Indien moontlik, is die gewondes wat stabiel was, hiervandaan na ’n basis hospitaal afgevoer. Indien soldate as gevolg van hulle beserings nie na hulle eenhede kon terugkeer nie, is hulle na Portsmouth verskeep en in militêre hospitale in Brittanje opgeneem waarna hulle of ontslaan is, of na hulle eenhede teruggestuur is.

Die Britse leër het oor 28 veldambulanse, vyf permanente hospitale en sestien algemene hospitale beskik. Dan was daar ook die vrywilliger organisasies wat hospitale sowel as veldambulanse en noodhulpposte beskikbaar gestel het. Bo en behalwe die baardraerkompanies was daar ongeveer ’n duisend Indiërs, meestal van Natal, wat gehelp het om gewondes van die slagvelde te verwyder. Mahatma Gandhi, die bekende Durbanse prokureur, het homself vir dié diens beskikbaar gestel en was teenwoordig by die slae van Colenso en Spioenkop. Daar was ook ’n eenheid van Johannesburgse en Kaapstadse Jode wat die Boere sowel as die Britte ondersteun het.

Die droë, skoon lug het veroorsaak dat wonde wat vinnig behandel is, gewoonlik sonder infeksie gesond geword het. Elke soldaat in die Britse leër het ook verbande by hom gedra. Verbande het bestaan uit gesteriliseerde gaas wat vasgewerk was aan ’n verband en verder met ’n waterdigte laag bedek was.

Soos in enige oorlog, was die risiko van infeksie uiteraard baie hoër indien ’n soldaat ver van sy naaste basis gewond is. So lees ons byvoorbeeld in die dagboek van Frederick Porter, ’n mediese offisier, die volgende:

Poor Stanley arrived at about 7pm. Was very excited and a bit delirious. We looked at the limb and found that the same sort of gangrene which had affected the hip had attacked this, and spread right up the leg and to the abdomen. There was no use in dressing it. I asked him if he would like to know the truth about the matter, and he said he would. I then told him that he would die in a few hours and that nothing could save him. He took it like a man and told Brook, his brother officer some messages to give to his mother and people. Up to this time he felt that he was going to get well, so that it must have come as a great blow to him…

Primêre chirurgie is in die veldambulanse gedoen. Faktore soos hitte, stof, wind en vlieë het dit bemoeilik, maar nie verhoed dat chirurge dikwels groot operasies uitgevoer het nie.

Volgens prosedure is die pasiënte vir moontlike chirurgiese behandeling in drie kategorieë verdeel:

  • Diegene wat geen onmiddellike behandeling behalwe pynverdowing nodig gehad het nie.
  • Diegene wat so ernstig gewond is, dat daar feitlik geen kans op oorlewing was nie. Hulle is slegs morfiene toegedien.
  • Die groep gewondes wie se lewens deur middel van chirurgiese behandeling wel gered kon word.

Dieselfde beginsels is basies vandag nog van toepassing. Hierdie besluitneming wat in die hitte van die oomblik geneem moet word, veroorsaak dikwels stres by die professionele chirurg en mag hom vir jare daarna nog bybly.

Behandeling van vleeswonde het berus op die beginsel van “debridement” waarby alle dooie weefsel verwyder is. Indien hierdie beginsel nie deeglik toegepas is nie, was infeksie gewoonlik onvermydelik en gangreen was dikwels dodelik. Algemene narkose is met verbasende sukses toegepas. Uit chirurgiese verslae blyk dit dat die gebruik van chloroform die mees praktiese vorm van narkose in die droë klimaat was. Volgens ’n verslag van die Sesde Algemene Hospitaal is daar vir tien maande geen komplikasies aangemeld nie. Chloroform narkose was wel die oorsaak van twee sterftes tydens een week in November 1900.

Die behandeling van hipovolemiese skok tydens bloedverlies was nog baie primitief gedurende die Anglo-Boereoorlog. Lancing het eers die hoofbloedgroepe in 1902 ontdek en bloedoortappings was dus baie gevaarlik. Strignien asook ’n oplossing van soutwater is dikwels gebruik. Laasgenoemde kon egter nie die lewe van ’n persoon wat baie bloed verloor het, red nie. ’n Brawe chirurg het gerapporteer:

Just as I had cut the posterior flap, his heart began to fail so I injected Strychnine in large dosis. I had to finish the operation in a hurry, but it was a good success as far as the shape and size of the flap go. In about an hour I had given him 13 drops of solution of strychnine, which would have poisoned an ordinary man, and he rallied in great style. I got a quart of Champagne from the Colonel of the unit for him, but he would not drink it.

Ortopediese behandeling daarenteen was reeds ver ontwikkel. In die geval van ’n oop fraktuur, is al die dooie weefsel verwyder waarna die wond gepak is en die ledemaat gewoonlik in ’n spalk geïmmobiliseer is. Die Franse het so vroeg as 1851 gips of “plaster of Paris” uitgevind en traksie-behandeling was reeds in gebruik.

X-strale is in 1895 deur Röntgen uitgevind. Die Britte het ten minste nege X-straalmasjiene tot hulle beskikking gehad. Bestraling het geweldig lank geduur (soms tot 6 minute per sessie), maar was van onskatbare waarde wat betref die behandeling van frakture en skrapnelwonde.

Die behandeling van hoofbeserings was baie suksesvol. So lees ons in ’n dagboek van Charles Veal wat tydens die slag van Paardeberg gewond is die volgende:

As the officers were only armed with a carbine, I luckily turned to borrow a rifle from Sergeant Phelps, when I received my quietus in the shape of a bullet through the head. Major Ball came to the rescue at once and was extremely good and by his smartness I believe I was saved from bleeding to death. Westmaccott who was further along the line, sent his stretcher and bearers over. They quickly and pluckily stood there whilst I was hustled onto the strecher and carried out of immediate danger. I was nearly suffocated with blood when I lay down and the sun did not at all improve matters.

After much halting and deliberation we struck a doctor who was very kind and advised me to push on to the main hospital.

A short time afterwards we reached the hospital which consisted of an operator marquee and a few wagons and bell-tents. A Wesleyan parson took me off the horse and produced some brandy and beeftea which I gulped down with the greatest relief.

Shortly afterwards I was taken into the operating tent and put on the table. Two doctors there shook their heads and thought my case was too bad to trouble about with the cases still waiting. But a remark, unfit for publication, from me changed their minds, and in a few minutes I was all patched up and I had great notches cut out of my beautiful scarlet head.

Behandeling van borskas- en buikwonde was minder suksesvol. Moeilike omstandighede, sowel as swak resultate, het waarskynlik die owerhede verplig om hulle beleid ten opsigte van noodoperasies op buikwonde te verander en later te verbied. So is Lord Roberts se eie seun Fred, tydens die slag van Colenso in die buik gewond toe hy probeer het om Buller se kanonne te red. Hy is vyf dae later oorlede.

Daar moet onthou word dat die lyn van kommunikasie geweldig lank was en dat die hantering van gewondes dus logistiese probleme veroorsaak het. Meeste van die verpleegsters, wat deur vrywillige organisasies gewerf is, was uitstekend opgelei.

Die mediese behandeling van gewondes aan Boerekant was van dieselfde hoogstaande gehalte. Met die uitbreek van die oorlog is mediese toerusting, dokters en verpleegsters deur vrywillige ambulanse vanaf Frankryk, Holland, Duitsland en Rusland verskaf. Heelwat van hulle het hulle ervaringe te boek gestel. Baie Britse soldate is ook deur hierdie chirurge behandel. So is Lord Methuen vir ’n oop fraktuur van die dybeen, deur dokter Von Rennenkampf wat op genl. De la Rey se staf was, behandel. Ambulanse is aan betrokke kommando’s toegesê.

Die omstandighede van die Boeregewondes het met verloop van die oorlog versleg en meeste van hulle is deur Britse geneeshere behandel. Die Boere het dit geweet en dikwels ook hulle gewondes na ’n Britse kamp gestuur.

Dokter Freemantle gee in sy dagboek, op Vrydag, 17 November 1899, ’n interessante beskrywing van veldkornet Pretorius wat in een van die sale van die Portland-hospitaal gelê het waar hy ’n amputasie ondergaan het. Hy sê dat die Veldkornet ’n uiters godsdienstige man is. Hy is meestal besig met die Bybel terwyl hy sy pyp met Magaliesberg tabak stop. Hy is ’n aangename persoon, maar baie agterdogtig. Volgens die geneesheer is daar ’n spesifieke bevel vanaf Kaapstad dat die Boere in luukse behandel moet word. Die Boeregevangenes kry ’n spesiale dieet met ook rantsoene van twak en sigare sowel as vrugte, selfs blomme, kussings en koerante. Volgens hom was hulle beter behandel as hulle eie manne. Die Boeregevangenes is hoofsaaklik na Elandslaagte gevange geneem. Veldkornet Pretorius was in bevel van 250 man en is deur die knie geskiet waarna hy later ’n amputasie moes ondergaan.

Ongelukkig was die voorkoming en behandeling van siektes maar baie primitief. Gevolglik het heelwat meer mense aan siektes omgekom as wat werklik op die slagveld gesneuwel het. Die ergste tragedie van die oorlog was egter die sterftes van Boerevroue en -kinders as gevolg van verskeie siektetoestande in die konsentrasiekampe.

Hier volg die bevindinge van George Henry Makins, die senior chirurg by St. Thomas-hospitaal in Londen:

 

  1. Algemene- en statistiese oorwegings aangaande die aantal sterftes en gewondes.

Makins se statistieke is hoofsaaklik op die sogenaamde Kimberley Relief Force gebaseer en sluit die gevegte by Belmont, Graspan, Modderrivier en Magersfontein in. Tydens die eerste twee veldslae het die Boere die hoërliggende grond beset, maar by die slae van Modderrivier en Magersfontein is die gevegte hoofsaaklik op gelyke grond beslis. By Magersfontein was daar wel enkele Boere wat aan die kante van Magersfonteinkop, op hoër grond ingegrawe was. Volgens Makins het die skrapnel van artillerie, minder as 10% en selfs so laag as 5% van die wonde veroorsaak. Die hoeveelheid wonde wat deur Martini-Henry-gewere veroorsaak was, was laer as 5% en die res van die wonde, dus kleinkaliber, is hoofsaaklik deur Mauser-koeëls veroorsaak.

Die gemiddelde persentasie ongevalle was 12.43%. ’n Totaal van 19.92% van dié wat gewond is, het aan hulle wonde beswyk. Die statistieke is effens laer as dié van die Krimoorlog en stem min of meer ooreen met dié van die Franko-Germaanse oorlog. Belmont en Magersfontein was uiteraard die veldslae met die meeste slagoffers. Ongeveer 1.5% van die gewondes het later in basishospitale gesterf. Indien die statistiek met dié van vorige oorloë vergelyk word, is dit interessant dat die verandering van wapens nie werklik ’n invloed op die sterftesyfer van die oorlog in die algemeen gehad het nie.

Die twee grootste faktore wat die sterftesyfer beïnvloed het, was: a) die vervoer van gewondes en b) die standaard van hospitaal-akkommodasie.

Interessante statistieke aangaande hospitaaltreine:

  • 24 November: die no. 2-hospitaaltrein vervoer 152 gevalle na die permanente veldhospitale by die Oranjerivier waarna die trein terugkeer vir ’n verdere 130 gevalle. Die meer ernstige gevalle is afgelaai terwyl die ander direk na Wynberg vervoer is.
  • 26 November: ’n verdere 90 van die minder ernstige gevalle waaronder 20 Boere, word vervoer.

Makins praat met groot lof van lede van die Nederlandse en Duitse ambulanse wat hy by verskeie geleenthede ontmoet het. Hy verwys spesifiek na die hoë standaard van hulle werk in die algemeen en dat die Britse Chirurgie by hulle geleer het.

Sepsis het weens die droë klimaat nie algemeen voorgekom nie. Septisemie is meestal by abdominale wonde, en osteomelitis by frakture waargeneem. Makins het self slegs in twee gevalle akute traumatiese gangreen teëgekom en een geval van tetanus gesien.

 

  1. Tipe wonde wat deur moderne kaliber gewere en projektiele veroorsaak word.

Dié groot verandering in wapentuig voor die Anglo-Boereoorlog, was die ontwikkeling van die kleiner kaliber koeël met ’n hoër trompsnelheid en ’n relatiewe reguit trajek.

Sedert 1889 het die Britse leër die Martini-Henry met die Lee-Metford-gewere vervang. Die kaliber van die koeël is van .45 na .309 duim verminder en die gewig van 480 na 215 grein. Die mantel is ook van ’n dikker metaal vervaardig.

Dit is egter moeilik om definitiewe afleidings te maak vanweë variërende afstande en hoeke van die koeëls wat die soldate getref het.

Die wapens wat mees algemeen deur die Boere gebruik is, het die Mauser, Lee-Metford, die Guèdes en die Krag-Jorgensen, ingesluit. Die wonde wat deur die verskillende wapens veroorsaak is, het nie veel van mekaar verskil nie. Wanneer ’n koeël egter in sy vlug blootgestel is aan ander invloede wat deformiteit mag veroorsaak, het dit sekerlik ’n invloed op die aard van die wonde gehad.

Kinetiese energie word uitgedruk as die helfte van die gewig van die koeël vermenigvuldig met die vierkant van die snelheid (F=1/2mv2 ). Volgens Makins wat natuurlik meestal Mauserwonde behandel het, was daar nie werklik ’n verskil tussen Mauser- en Lee-Metford-wonde nie. Makins het wel beweer dat die Mauserkoeël meer onstabiel was. Die dikte van die mantel het egter gevarieer en was so ontwerp om die stabiliteit asook die kinetiese energie van die projektiel in stand te hou.

Die mantel van die Lee-Metford het bestaan uit allooi terwyl die Mauser en die Krag-Jorgensen uit staal met ’n dun bedekking van allooi, bestaan het. Dit blyk dat die Boere hulle lope met was gesmeer het om die effek van die staal op die groewe te verminder en dat dit die sogenaamde groen verkleuring veroorsaak het. Dit is waar die legende van die sogenaamde vergiftigde koeëls vandaan kom. Volgens Makins is daar bewys dat die staalmantel van die Mauser baie maklik skeur indien dit iets hard tref. Dit was nie die geval met die koper-nikkel mantel van die Lee-Metford nie. Hy maak dan die stelling dat die Mauser in die klipperige koppies meer gevaarlik was as die Lee-Metford. Volgens hom het die allooi op die staalmantel ook makliker verweer of stukkend gebreek vanweë die druk in die Mauserloop.

 

Algemene kenmerke van wonde deur klein kaliber koeëls veroorsaak

Die effek van die besering is eerstens die gevolg van die direkte weefselbeskadiging en tweedens, verdere besering weens die induksie van turbulensie deur die projektiel in naasliggende weefsel of organe veroorsaak.

Die ingangs- en uitgangswonde in ongekompliseerde gevalle het baie min verskil. Die ingangshoek sowel as die weerstand van die weefsel, byvoorbeeld baie oppervlakkige been, het wel ’n verskil gemaak. ’n Reghoekige ingangswond was gewoonlik rond terwyl ’n skuins ingangswond ’n meer ovaalvormige voorkoms gehad het. Uitgangswonde het meer in voorkoms gevarieer. Faktore soos omliggende weefsel sowel as die trompsnelheid van die projektiel, is uiteraard van belang. Met ’n hoë trompsnelheid op ’n kort afstand was dit dikwels moeilik om te onderskei tussen ingangs- en uitgangswonde. Indien die trompsnelheid op ’n hoë afstand afgeneem het, was die uitgangswond dikwels stervormig of liniêr in voorkoms. Die algemene maagliggende posisies van soldate gedurende die oorlog, het dikwels tot longitudinale en baie lang wonde van die liggaam sowel as die skedel tot gevolg gehad. Makins sê dat hy dikwels deur die algemene voorkoms van wonde kon aflei of die soldate besig was om aan te val. By Belmont en Graspan was daar heelwat frakture van die bobeen terwyl die soldate by Modderrivier in liggende posisies was en daar heelwat longitudinale wonde van die romp en skedel was.

Soos reeds vantevore genoem, het sekondêre sepsis nie baie algemeen voorgekom nie. Indien wel, was dit dikwels as gevolg van onreëlmatige impak of deur induksie van sekondêre materiaal soos kledingstukke in die wond. Die droë klimaat het sekerlik ’n invloed gehad.

Die onreëlmatigheid van wonde is dikwels vererger deur turbulensie van ’n koeël weens reflektering vanaf ’n ander voorwerp of weens onstabiliteit in vlug van die koeël self.

Verder is daar die sogenaamde sagteneus (dum-dum) koeël waarvan ’n gedeelte van die mantel gewoonlik verwyder is. Die groot kaliber Martini-Henry-koeël, sonder ’n mantel, was waarskynlik, weens die weerstand op impak, veral op ’n kort afstand, verantwoordelik vir ernstige beserings wat die skrywer self waargeneem het. Hierdie beserings was, wat betref die abdominale organe, veral kenmerkend.

 

Behandeling

Sagteweefsel-wonde is eerstens op die slagveld met antiseptiese verbande verbind nadat ’n salf, bestaande uit kwik en sink-sianied gemeng met karbolsuur en steriele water, aangewend is. Sodra die pasiënt die veldhospitaal bereik het, is die verband verwyder en die wond skoongemaak met ’n oplossing van perchloried of karbolsuur. Hierna is die wond weereens met ’n verband met dubbelsianied of kwik en sianied verbind. Daarna is dit met ’n laag wol bedek en met ’n verband vasgebind. Verbande is nie dikwels omgeruil nie.

Operasies in die veldhospitale is slegs uitgevoer in gevalle waar beseerdes in lewensgevaar verkeer het. Sulke gevalle het die behandeling van frakture van die skedel, die stop van bloeding deur die afbind van arteries asook die uitvoer van amputasies, ingesluit. Gefiltreerde water wat saam met steriele sponse gekook is, asook klein handdoeke wat in ’n antiseptiese vloeistof behandel is, is gebruik.

Agtergeblewe koeëls is, indien nodig, dikwels eers op ’n later stadium verwyder. Dit was hoofsaaklik die oppervlakkige koeëls of dié wat sekondêre infeksie veroorsaak het, wat verwyder is. Dié koeëls wat drukking op naasliggende strukture soos veral senuwees veroorsaak het, of wat in ’n gewrig vasgesit het, is uiteraard ook verwyder.

 

Besering van bloedvate

Aard van beserings het gewissel van kneusing of laserasie sonder perforasie van ’n groot bloedvat, tot werklike perforasie van bloedvate. Die belangrikste komplikasie van laasgenoemde is uiteraard bloeding. Bloeding kan natuurlik uitwendig of inwendig wees en dit is belangrik om hier op die algemene kliniese simptome te let. Dit is merkwaardig dat die geneeshere reeds in daardie tyd ’n geweldig hoë kliniese standaard gehandhaaf het. Ernstige bloeding was verantwoordelik vir ’n groot hoeveelheid sterftes aangesien die behandeling van hipovolemiese skok nog relatief primitief was. Primêre amputasie was selde nodig behalwe indien die been erg beskadig was.

Sekondêre bloeding, veral van die groot organe, naamlik lewer en buik, was dikwels fataal. Sekondêre bloeding het eers relatief lank na die aanvanklike besering plaasgevind en meestal gebeur as gevolg van sekondêre sepsis met verettering. Bloeding is óf deur die direkte aanwend van ’n drukverband, óf andersins deur die afbind van die vloeiende arterie, gestop. Indien daar egter sprake van sepsis was, (afhangend van die graad van sepsis), is daar ook dikwels besluit om die ledemaat te amputeer om sodoende die verspreiding van gangreen of ander infeksies te verhoed.

Sogenaamde arteriële hemtoom en traumatiese aneurismes is behandel deur insisie en afbinding van die voorsienende arteries. Die besef dat komplikasies soos gangreen kan intree, het daartoe aanleiding gegee dat hierdie letsels meer konserwatief behandel is.

 

Beserings van die benige skelet

Volgens Makins was daar ’n duidelike verskil in die aard van die beenbeserings tussen die vroeëre konvensionele en die latere guerrilla-fase van die oorlog. Tydens die konvensionele fase was die persentasie van skoon breuke wat voorgekom het baie hoog. Die rede hiervoor was dat daar tydens die guerrilla-fase meer Martini-Henry’s in omloop was as voorheen. Volgens die skrywer is ’n verdere rede, die verwering van die Mauser namate die oorlog gevorder het. Hierdie afleiding maak hy deurdat hy statistiek gehou het van die voorkoms van die koeëls wat verwyder is. Later in die oorlog was daar aansienlik minder en vlakker groewe op die koeëls sigbaar. Dit het gewoonlik op laer snelheid en akkuraatheid in vlug, met hoër turbulensie gedui.

Eksplosiewe wonde het meer gereeld voorgekom waar die been naby die veloppervlak geleë is, soos byvoorbeeld aan die skeenbeen of hand. Bene wat met dikker sagteweefsel bedek is, het heelwat kleiner uitgangswonde gehad. Volgens Makins was ’n groot persentasie van die ernstige skeletbeserings die gevolg van sogenaamde ekspansiewe koeëls.

Kroniese osteïtis of kroniese beeninfeksie het relatief min voorgekom. Makins beskryf twee gevalle waar frakture van die bobeen in akute beeninfeksie ontwikkel het en in amputasie geëindig het. Langtermyn prognose is dikwels deur sekondêre beserings aan senuwees of bloedvate en komplikasies soos sekondêre infeksie, bepaal. Volgens Makins was die sterftesyfer weens frakture van die bo- sowel as onderbeen, waar komplikasies soos sekondêre infeksie of bloeding voorgekom het, redelik hoog. Behandeling is gewoonlik deur die aard van die meegaande sagteweefselskade bepaal. In die geval van ’n klein wond, is die pasiënt konserwatief behandel. As die uitgangswond en die sagteweefselskade, groot was, is die wond geëksploreer en alle dooie weefsel en los beensplinters is verwyder. Dit is interessant dat interne frakture selfs in die tyd van die Anglo-Boereoorlog deur middel van skroewe of drade geheg is. Skoonmaak van die primêre wond is dikwels voor die eksplorasie deur middel van seep en water gedoen. Na die eksplorasie is daar van spiritus en karboliese suuroplossing gebruik gemaak.

Gips of ‘plaster of Paris’ is gebruik om ledemate te immobiliseer – alhoewel dit nie altyd maklik in die veld was nie.

Die beleid oor vervoer van pasiënte met frakture het van die omstandighede afgehang. Min pasiënte met frakture kon destyds sonder komplikasies, vervoer word. Hulle is gevolglik vir ’n periode van drie of meer weke in die permanente hospitale opgeneem.

Die pelvis het baie selde as gevolg van ’n fraktuur verbrokkel vanweë die feit dat dit sponsbeen is.

Makins verskaf interessante statistieke oor die behandeling van frakture van die bobeen of femur by No 1 Algemene Hospitaal. Ongelukkig kon hy nie algemene statistieke insamel nie, maar uit 32 pasiënte het ses (of 18,7%) amputasies ondergaan. Vyf van die 32 pasiënte is oorlede. Drie van die vyf is deur Martini-Henry koeëls gewond waarna ernstige komplikasies ingetree het. Soldate wat oor lang afstande van tussen 500 en 600 myl vervoer moes word gedurende die eerste paar dae na hulle beseer is, het baie swaar gekry.

In gevalle waar dit noodsaaklik was om beseerdes te vervoer, is lang stukke gips met ’n buitespalk gebruik om ledemate te spalk. Dit was die beste metode en die spalke is aan die Britse leër deur die Royal Engineers voorsien. Die Nederlandse ambulanse is van prof. Mooi se noodspalke voorsien. Laasgenoemde was ’n uitstekende tydelike spalk wat tydens vervoer van pasiënte gebruik is. Pasiënte wat binne die eerste week nadat hulle ledemate geamputeer is, vervoer moes word, se toestand het versleg.

’n Ander interessante opmerking was dat die Lee-Metford koeël gewoonlik, vanweë sy groter volume en gewig en stomper punt, meer ernstige beenbeserings veroorsaak het.

Verder het die grootste persentasie sogenaamde eksplosiewe beserings in die kuit voorgekom. ’n Primêre amputasie van die onderbeen was selde nodig en is meestal eers na langdurige infeksie gedoen.

 

Beserings van die gewrigte

Uiteraard is los beensplinters in ’n gewrig wat beweging belemmer het, primêr verwyder. Dit het egter oor die algemeen gepaard gegaan met meegaande beenbesering. Volgens Makins was primêre verettering in gewrigte ’n uitsonderlike komplikasie. Tog noem hy ’n geval van ’n man wat by Paardeberg gewond is. Hy het ’n ingangswond aan die binnekant van die onderbeen, 3 duim onder die knie, met ’n uitgangswond 2 duim bo die knie aan die buitekant, opgedoen. Hy is in die bed gesit en gewaarsku om nie te beweeg nie. Volgens Makins het die pasiënt egter opgestaan waarna hy erge pyn ervaar het. Die knie het begin swel en ’n dag later het die pasiënt rusteloos geword, ’n koors ontwikkel en pyn ervaar. Makins is geraadpleeg, waarna hy die knie aan beide kante gedreineer het. Een opening is toegemaak en die tweede met behulp van gaas ingeplaas. ’n Groot hoeveelheid etter is gedreineer. ’n Amputasie is deur die dy uitgevoer waarna die pasiënt na ’n paar dae sekondêre bloeding tesame met sepsis opgedoen het. Die pasiënt is hierna oorlede. ’n Lykskouing het getoon dat die koeël deur die gewrig is.

In sy persoonlike ervaring van verettering van die enkelgewrig het slegs twee uit die sewe pasiënte, na ernstige siekte hulle voete behou. Daar moet onthou word dat antibiotika nog nie beskikbaar was nie.

 

Kop- en nekbeserings

Hoewel die beserings waarskynlik die algemeenste oorsake van sterftes was, is daar gevalle opgeteken wat na breinbeserings, merkwaardig herstel het. Die graad van versplintering van die skedel het dikwels die aard van die breinbesering bepaal.

Die prognose van die pasiënt is bepaal deur die lewensbelangrikheid van die liggaamsdeel wat beseer is.

Die turbulensie van die koeël, veral op lang afstande, het gewoonlik groot ingangswonde veroorsaak.

Makins beskryf vervolgens die wond van ’n pasiënt wat by Belmont in die laagliggende posisie raakgeskiet is. Dit was ’n ingangswond by die anterior grens van die haarlyn aan die linkerkant. Die koeël het die brein deur die voorste gedeelte van die linker frontale lob, deur die dak van die linker oogkas binnegedring. Die optiese senuwee, sowel as die agterste gedeelte van die oogbal, die vloer van die orbit sowel as die maksillêre sinus, asook die harde verhemelte van die tong is deurgedring. Die uitgangswond was onder die maksillêre sinus. Geen neurologiese tekens is opgemerk nie. Op die vyfde dag is die pasiënt na ’n basishospitaal oorgeplaas. Hy was relatief stabiel en hoewel die pasiënt blindheid in die oog ervaar het, was sy oogbewegings normaal. Verettering van die oogbal het plaasgevind waarna die oog verwyder is. Die pasiënt is huis toe gestuur en het daarna as ’n verwer in die dokke van Portsmouth-hawe gewerk.

’n Volgende pasiënt is by Paardeberg, op ’n afstand van ongeveer 600 tot 700 treë gewond. Die ingangswond is by die haarlyn net bo die middel van die regter wenkbrou waargeneem. Die koeël is deur die voorste gedeelte van die regter frontale lob van die brein, die dak van die oogkas, die voorste gedeelte van die oogbal met die uitgangswond op die vlak van die bolip. Volgens getuies het die pasiënt dadelik opgestaan nadat hy getref is en ongeveer een myl na ’n veldhospitaal gestap. Vandaar is hy vir drie dae en drie nagte na ’n basishospitaal vervoer. Na ’n paar dae, is die oogbal vanweë verettering verwyder. Die fraktuur is hierna geëksploreer. ’n Opening waardeur serebrospinaalvog gelek het, is in die bedekking van die brein gevind. ’n Gedeelte van die binnetafel van die skedel wat in die brein vasgesteek het, is verwyder en die pasiënt het sonder komplikasies herstel.

Die besering van nog ’n pasiënt wat tydens die slag van Paardeberg gewond is, word beskryf. Hy het op sy hurke gesit toe hy getref is. ’n Ingangswond aan die een kant van die pasiënt se slaap met ’n uitgangswond aan die teenoorgestelde kant, is opgedoen. Die pasiënt was vir ’n ½ uur bewusteloos waarna hy opgestaan en ’n ½ myl na die veldhospitaal geloop het. Die wonde is verbind en na drie dae in die hospitaal is hy na Modderrivier oorgeplaas. Na twee dae te Modderrivier, is hy ongeveer 120 myl per trein na De Aar gestuur. Hier het hy vir ’n maand gebly waarna hy terug is na sy regiment. Hy het simptome van duiseligheid en hoofpyn na fisiese inspanning ervaar. Geen ander afwykings is opgemerk nie. Hy is na Brittanje toe teruggestuur, maar het later weer na Suid-Afrika teruggekeer. ’n Ander pasiënt wat feitlik die identiese besering opgedoen het (slegs die afstand van die koeël het verskil), was feitlik dadelik bewusteloos en is na vier dae oorlede. Tydens die postmortem is gevind dat ’n hele paar beenfragmente ekstensiewe breinskade veroorsaak het.

Oppervlakkige skade deur beenfragmente aan die korteks, is dikwels in pasiënte met oppervlakkige wonde van die skedelbeen waargeneem. Hierdie pasiënte het selfs na behandeling en genesing van die ou wonde, dikwels epileptiese aanvalle gekry.

Dokter Dolby van Portland-hospitaal beskryf ’n geval van ’n oppervlakkige wond wat deur ’n Guedes-koeël veroorsaak is. Na aanvanklike herstel, is die pasiënt ses dae later oorlede. Die postmortem het aangetoon dat subdurale bloeding, waarskynlik na die aanvanklike eksplorasie, ontstaan het.

Die volgende pasiënt wat hy bespreek, is by Spioenkop gewond. Hy het ’n skedelwond, 3 duim in lengte oor die linker patriële gedeelte van die skedel opgedoen. Hy is op ’n afstand van ongeveer 50 meter getref terwyl hy gekniel het. Hy was vir ongeveer 1 ½ uur bewusteloos waarna hy duidelike tekens van hemiplegie aan die regterkant getoon het. Die wond is skoongemaak en geheg en na drie dae het die swakheid in die arm en been verbeter. Drie weke later is hy steeds met geringe swakheid na Wynberg oorgeplaas. Hy is na Brittanje teruggestuur en het daarna spontaan twee stukkies been deur die wond gedreineer. Hy is later terug na Suid-Afrika vir aktiewe diens.

Drukking op die brein was dikwels die gevolg van bloeding in verhouding tot die bedekking van die brein (die dura) en het indien dit nie gedreineer is nie, dikwels noodlottige gevolge gehad.

Vervolgens is die wond aan die agterste gedeelte of oksipitale gedeelte van die brein van ’n pasiënt wat by Belmont beseer is, beskryf. ’n Enkele transvers wond, ongeveer 2 duim lank deur die agterste gedeelte van die skedel en brein met breinweefsel in die wond, is waargeneem. Die pasiënt was deurmekaar en het van hoofpyn gekla. Hy was totaal blind na die besering. Die blindheid het vir drie dae geduur waarna sy sig stadig maar volkome herstel het. Die wond is 56 uur na besering oopgemaak en skoongemaak. Klein fragmente lood sowel as been is verwyder. Ongeveer ’n vierkante duim been met oppervlakkige breinweefsel is hierna verwyder waarna die wond uitgespoel is. Die pasiënt was stabiel en is daarna na die basishospitaal oorgeplaas. Drie weke later het dit voorgekom of die wond genees het. Die pasiënt het steeds hoofpyn gehad en was baie sensitief vir lig. Na ses weke is hy na Brittanje teruggestuur.

Na ’n jaar het hy as ’n portier in ’n hospitaal gewerk. Die pasiënt het steeds van duiseligheid gekla. Sy spraak was ietwat stadig en sy gesigsveld beperk. Nog ’n voorbeeld van ’n wond wat ’n persoon by Paardeberg opgedoen het, is beskryf. Dit was regs van die midlyn en is deur ’n Mauser veroorsaak. Geen uitgangswond was sigbaar nie, maar ’n swelsel agter die oor het min of meer die posisie van die koeël aangedui. Die pasiënt was onmiddellik bewusteloos en het vir ’n paar dae so gebly. Hy was totaal blind. Na ’n paar dae het sy sig gedeeltelik teruggekeer. Hy het ook aan totale geheueverlies gely en is na No 3 Algemene hospitaal in Rondebosch oorgeplaas. Tydens ’n ondersoek is vasgestel dat hy op ’n afstand, slegs ’n skaduwee kon identifiseer – totdat jy sy bed bereik. Na twee weke is die wond geëksploreer en die koeël wat redelik oppervlakkig geleë was, verwyder. Na tien maande het dokter Makins ’n brief ontvang waarin die pasiënt hom bedank het en ingelig het dat sy geheue verbeter het. Met tye het hy egter nog vergeet waaroor hy gepraat het. Soms sou hy plekke verkeerde name gee. Sy sig het nie dramaties verbeter nie, maar min of meer dieselfde gebly. Geen pyn is ondervind nie. Daar was ’n aanhoudende geraas maar ook ’n mate van doofheid in die linker oor.

Wat diagnose en behandeling betref, is dit duidelik dat meeste wonde wel geëksploreer is en dooie weefsel en been verwyder is. Langtermyn komplikasies het van die skade wat aangerig is, sowel as sogenaamde traumatiese epilepsie en ook infeksie soos absesse, afgehang. Dokter Makins vertel van vier gevalle wat in Brittanje aan breinabsesse gesterf het, lank nadat hulle hul beserings opgedoen het.

 

Nekwonde

’n Aansienlike persentasie van sterftes op die slagveld was die gevolg van nekwonde. Dit was veral ten opsigte van die groot bloedvate waar komplikasies waargeneem is. Makins beskryf ’n wond wat deur die mond plaasgevind het. Die sagte verhemelte sowel as die agterste grens van die nasofarinks is geperforeer en die uitgangswond is tussen die basis van die skedel en die transversproses van die eerste vertebrata, naamlik die atlas, aangetref. Hierdie pasiënt het volledig herstel.

 

Beserings aan die werwelkolom en spinale koord

’n Lid van die Black Watch wat by Magersfontein op ’n afstand van ’n duisend tree gewond is, is hier as voorbeeld gebruik. Die ingangswond was een duim regs van die werwelkolom op die vlak van die tweede lumbale werwel en die uitgangswond, een duim mediaal van die regter bekkenbeen se bopunt naamlik die anterior superior spina iliaka. Daar was tekens van besering van die nier met retensie van die uriene, asook motoriese en sensoriese verlies van die regter onderbeen (m.a.w. hy was verlam in die — regter been).

Op die tiende dag het hy hiperestesie in die lumbale voorsieningsgebied ontwikkel en stadig begin om motoriese krag te herwin. Hy het egter nie kontrole oor sy blaas en rektum gehad nie. Na 28 dae het ander komplikasies, waarskynlik vanweë dermperforasie ontwikkel, en hy is drie dae later oorlede.

Kneusing van die spinale koord as gevolg van ’n koeël wat teen ’n hoë snelheid naby die koord verby is, of die werwelkolom wat deur die koeël gepenetreer is, is dikwels waargeneem. Dit het dikwels ligte, sekondêre bloeding en swelsel aan die koord tot gevolg gehad. Hierdie pasiënt het wel, na ’n aanvanklike neurologiese defek, herstel.

’n Soldaat van die Yorkshire Light Infantry is by Modderrivier gewond. Die ingangswond was tussen die 11de en 12de ribbes net posterior van die midaksillêre lyn. Die uitgangswond was aan die regterkant, in lyn met die posterior aksillêre vou. Op die tweede dag na sy besering het hy fleksie van sy bene en heupe ervaar, gevolg deur ’n volledige motoriese sowel as ’n sensoriese paraplegie en retensie van uriene. Twee dae later het hy begin om normaal water te passeer. Hy het geleidelik, sensories sowel as motories herstel. Na veertien dae was daar geen simptome of tekens meer nie en is die pasiënt huis toe gestuur.

Die volgende pasiënt was ’n korporaal van die Black Watch wat by Magersfontein op 400 tot 500 treë gewond is. Die ingangswond was links oor die verstandtand en die uitgangswond regs, by die bladbeen. Kort na sy besering was daar motoriese sowel as sensoriese paralise in die boonste ledemate sowel as in die linker onderste ledemaat en kort daarna is retensie van die uriene waargeneem. Die spiere aan die regterkant van die borskas het goed gefunksioneer, maar links was daar geen sametrekking nie. Na ’n paar dae het hy begin herstel. Drie weke later was die beweging van die borskas simmetries. Sensasie en motoriese krag in die onderste ledemate het baie verbeter. Sensoriese herstel, hoewel nog nie volledig nie, is ook in die boonste ledemate waargeneem. Na ’n maand het die blaas weer heeltemal normaal funksioneer. Die linkerduim kon ook geringe bewegings uitvoer.

Na tien weke kon hy staan en stap hoewel hy nie vanuit ’n sittende posisie kon opstaan nie. Die regter boonste ledemaat het redelik herstel, maar aan die linkerkant was hy steeds swak. Hy is kort hierna terug na Brittanje.

In die geval van dorsale werwelbeserings, was die graad van ileus gewoonlik opvallend. Prognose het dus uitsluitlik afgehang of die koord direk beskadig is en of daar slegs kneusing plaasgevind het. Meegaande bloeding en ander faktore het uiteraard ook ’n rol gespeel.

Wat die behandeling betref, was daar slegs drie redes vir chirurgie, naamlik: ernstige pyn in die deel van die liggaam bo die verlamming; in gevalle van gedeeltelike verlamming veral waar dit klinies aangedui het dat daar sekondêre drukking was en; waar daar retensie van ’n koeël was met aanduiding van direkte drukking van die koeël op neurale strukture.

 

Beserings van die borskas

Die algemeenste komplikasies van dié beserings was hemotoraks en pneumotoraks. Penetrerende wonde aan die borskas was algemeen vanweë die feit dat baie soldate aangeval is terwyl hulle in die maagliggende posisie was. Baie geneeshere het hierdie wonde met ’n longitudinale traktus behandel. Ribfrakture het algemeen voorgekom en was dikwels die oorsaak van pneumotoraks waar ’n skerp rib die long gepenetreer het. Bloeding in die borskasholte en dikwels vanaf die vate van die borskaswand, het ook algemeen voorgekom. Wonde aan die hart was feitlik altyd fataal.

Wat betref longbeserings, was pyn slegs ’n prominente simptoom indien die ribbes getref is. Beseerdes was selde kort van asem. Die pasiënte het dikwels bloed gehoes, maar indien die grootvate nie getref is nie, het hierdie wonde baie selde verdere komplikasies opgelewer. Ingangswonde deur Martini-Henry koeëls veroorsaak, was oor die algemeen baie groot en was die oorsaak van pneumotoraks. Infeksie het selde voorgekom, maar versameling van etter in die pleurale holte, naamlik empieem, is soms wel waargeneem. Komplikasies soos longontsteking is ook soms waargeneem.

Hemotoraks en pneumotoraks is dikwels klinies gediagnoseer, hoewel X-strale uiteraard gehelp het. Dit was egter nie altyd geredelik beskikbaar nie. Bloed is dikwels deur middel van ’n buis gedreineer as daar druksimptome aanwesig was.

 

Beserings van die buik

Wonde van die soliede organe was minder belangrik as dié van die dermkanaal en het op die ou end ’n baie beter prognose gehad. Wonde van die sogenaamde eksplosiewe aard is meestal deur groot loodkoeëls soos byvoorbeeld dié van die Martini-Henry, veroorsaak. Gevolge van besering van die dermkanaal was as volg:

1) Besmetting van die peritoneale holte en derminhoud het peritonitis en infeksie tot gevolg gehad. Dit het veral by beserings van die kolon voorgekom. By nadere bestudering van die prognose, was dit duidelik dat die vyf pasiënte wat Makins behandel het en wat gesterf het, ook beserings aan die dunderm gehad het.

2) ’n Verdere interessante statistiek is dié van die chirurg, mnr. Watson Cheyne, wat die volgende berig het. Van die 154 gewondes na die slag van Karee (29 Maart), het vyftien buikwonde gehad. Vyf is binne 24 uur oorlede en ’n verdere vier is binne die volgende 24 uur oorlede. Een pasiënt is geopereer, maar is op 22 April oorlede. Dus: 73,3% van die pasiënte het gesterf. Dit is duidelik dat die presiese indikasies vir chirurgiese intervensie nog nie gestel was nie. Makins stel dit dan ook dat die sukses van chirurgie deur die hele veldtog glad nie duidelik was nie. Hy beskryf ’n geval waar ’n pasiënt ’n gedeelte van ’n Mauser-koeël per uriene gepasseer het. Oor die algemeen het wonde van die blaas ’n relatiewe goeie prognose gehad.

 

Bronne

Freemantle. A Doctor in Khaki.

The Imperial Yeomanry Hospitals in S.A. 1900-1902 (Vol 1-3)

Isedinova, Sophia. A few months with the Boers.

Lee, Emanoel. To the Bitterend.

Makins, G.H. Surgical Experiences in S.A. 1899-1900.

Marks, Bullets Expansive, Explosive and Poisoned.

Staff, prof. A Civilian War Hospital.

Treves, Frederick. The Tale of a Field Hospital.