Siegfried Mynhardt (1909-1996)
January 15, 2019
Droomvrou
January 16, 2019

Singende beesboer die pionier van country

Daantjie Dinamiet

Daar is baie mense wat beweer dat Lance James die eerste kunstenaar was wat country-musiek in Afrikaans gesing het.

Lance het wel in 2017 sy sestigste jaar in die vermaaklikheidsbedryf gevier, maar ’n beesboer wat op die Vrystaatse dorp Reitz gebore is, kon eerder hierop aanspraak maak. Nie almal tree op ’n jong ouderdom tot die musiekbedryf toe nie, soos Charles Jacobie bewys het toe hy sy debuutlangspeler, Die singende beesboer, in 1961 op 33-jarige ouderdom vrygestel het. Charles het, soos dit ’n cowboy betaam, op die rug van ’n perd deur die strate van Johannesburg gekry om die album bekend te stel. Dit het vrugte afgewerp aangesien dié album ’n groot sukses was. Op hierdie album het Charles ’n aantal bekende snitte ingesluit, onder meer “Ou ryperd”, “Maanlig op die Vaalrivier se walle”, “Die wapad”, “Tienduisend myl”, “Die ou Kalahari” en “Die Drakensberge”, die Afrikaanse weergawe van Claude King se treffer “Wolverton mountain”. Die volgende jaar het hy sy tweede album, Die veelsydige Charles Jacobie, vrygestel. Benewens inheemse komposisies soos “Bootjie na Kammaland”, “Boereseun”, “Nagtyd in die Bosveld” en “Saal en ryperd” was daar ook Afrikaanse weergawes van “Devil woman” van Marty Robbins (“Duiwelvrou”), “It’s a pity what money can do”, nog ’n Marty Robbins-treffer (“Dis jammer wat geldjies kan doen”) en Dickey Lee se treffer “Patches”, wat Jody Wayne later ook opgeneem het en wat  Charles onder die titel “Lena” in Afrikaans gesing het.

Charles het egter nie net in Afrikaans gesing nie, en seker sy grootste treffer is in 1963 vrygestel. “The mockingbird song”, waarop hy sy jodel-vernuf ten toon gestel het, was ’n reuse treffer; dalk die heel grootste van sy loopbaan. Hy het ook Jim Reeves se treffer “Have I told you lately that I love you” op hierdie album ingesluit. Daar is meer as 25 000 eksemplare elk van The best of Charles Jacobie, asook Die singende beesboer, verkoop en dit het aan hom twee goueplaattoekennings besorg. Charles het hom ook onderskei as komponis van snitte soos “Headin’ for Old San Antone”, “Cowboy rock and roll” en “Lonely song”.

Die album Sing swerwer sing het snitte soos “Ruiter in die nag”, “In die skadu van ou Tafelberg”, “Daar doer in die Bosveld” en “Van ’n seun tot ’n man”, sy Afrikaanse weergawe van Ned Miller se treffer “From a jack to a king”, ingesluit. Hy het dit opgevolg met die langspeler U eie keuse, wat hy saam met die destydse tydskrif Die brandwag vrygestel het. Hy het altesaam meer as twintig langspeelplate en net soveel kortspelers uitgereik en verskeie versamelings van sy musiek is later jare op CD vrygestel.

As gevolg van sy agtergrond het Charles gereeld by landbouskoue opgetree en was hy hoog in aanvraag op die platteland. Hy het homself met sy optredes op die kitaar begelei. Aangesien hy groot bewondering vir Amerikaanse cowboys gehad het, het hy geleer hoe om perd te ry en toertjies met ’n vangtou te doen. Hy het verskeie pare ingevoerde cowboy-stewels en hoedens besit en sy vrou het vir hom ’n aantal cowboy-monderings gemaak wat hy tydens sy vertonings gedra het. Hy het konserttoere saam met bekende kunstenaars soos Eve Boswell, Nico Carstens en die klavierspeler Ken Espen onderneem. Hy het ’n orkes gestig om hom tydens sy optredes te begelei; onder die orkeslede was Percy Sauerman op kitaar, James Vermeulen op trekklavier, Johan Nienaber op klawers en Kosie Botha op konsertina. Saam het hulle as die Silwerklawers bekendgestaan.

Teen 1981 was Charles al ’n veteraan in die musiekbedryf; hy het sy twintigste jaar in die bedryf gevier met ’n optrede by die Randse Skou, waartydens 45 000 mense hom staande toegejuig het. Hy het vyf jaar later tydens Clive Bruce se televisieprogram Sing country opgetree en as gaskunstenaar in ’n Jim Reeves-huldigingsprogram, bekend as Welcome to my world, opgetree. Hy het later na Nelspruit verhuis en vir die plaaslike munisipaliteit gewerk.

Charles is op 5 Junie 1988 in die ouderdom van sestig jaar aan hartversaking oorlede.