Casparus de Wet (1887-1959)

Laurika Postma (1903-1987)
August 14, 2020
Dan Pienaar (1893-1942)
August 17, 2020

deur Dirk Marais

Prof. dr. Casparus Jan Hendrik de Wet (Ladybrand, 23 Maart 1887 – Pretoria, 18 Oktober 1959) was van 1916 tot 1925 ’n leraar in die Gereformeerde Kerk en van daardie jaar tot 1946 ’n professor in die teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys toe hy as sowel hoogleraar dan lidmaat van die Kerk bedank het weens ’n leergeding.

 

Herkoms en Anglo-Boereoorlog

De Wet was die sewende geslag van die stamvader, Jacobus de Wet, wat in 1693 uit Amsterdam na die Kaap gekom het en die vierde van die sewe kinders van Johanna Marthinus de Wet, oudste broer van die Boeregeneraal CR de Wet en Lasya (of Lazya) Christina Kruger, ’n niggie van pres. Paul Kruger van die ZAR. Hy het grootgeword in die rustige, landelik atmosfeer van Oos-Vrystaat op die plaas wat sy vader, ’n gesiene inwoner en veldkornet van sy wyk, ná die Tweede Basoeto-oorlog (1865) in die Verowerde Gebied as beloning vir kommandodiens ontvang het. De Wet het die gebrekkige skoolonderrig gekry wat kenmerkend van sy tyd was, maar is “getoë in ’n Calvinistiese ouerhuis waar vaderlandsliefde en ’n diepgewortelde trots in die republikeinse staatspraktyk van jongs af by hom ingeskerp” is. In die politieke opset van die Oranje-Vrystaat het die De Wets onverbiddelik standpunt ingeneem ten gunste van nouer vereniging met die susterrepubliek, die ZAR.

Vir die tienerjarige Casparus de Wet se gesin het die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) groot smart gebring. As waarnemende kommandant van die Ladybrandse kommando het sy vader op 11 Desember 1899, presies ’n maand nadat die vyandighede begin het, tydens die Slag van Magersfontein gesneuwel. Sy moeder en drie van sy sibbes is oorlede in ’n konsentrasiekamp, terwyl ’n broer as krygsgevangene op die eiland St. Helena aan maagkoors beswyk het. Die dertienjarige De Wet het saam met sy ouer broers by die Ladybrandse kommando aangesluit, maar omdat hy nog so jonk was, is hy nie tot die gevegslinies toegelaat nie en moes hy diens doen in die voorrade-afdeling. In April 1901 is hy en sy drie broers krygsgevangene geneem en na St. Helena gestuur, waar ook hy ernstig siek aan maagkoors geword het, maar kon oorleef danksy ’n sterk gestel en onverbiddelike gees.

 

Opleiding

Vier maande ná die vrede het De Wet in September 1902 teruggekeer na die Vrystaat as vyftienjarige weeskind, feitlik ongeletterd en afhanklik van familielede se sorg. Net drie van die sewe sibbes het die oorlog oorleef. Eers het hy ingewoon by ’n ouer broer, JJ (Kootjie) de Wet, naby Sannaspos. Deur die verkoop van hul geboorteplaas kon De Wet bekostig om op eie inisiatief vir onderwys Boland toe te gaan, eers na die Blauwvlei-skool van meester Stucki by Wellington en toe na die geskiedkundige Franschhoek-skool, waar hy in 1908 op 21-jarige leeftyd matrikuleer het.

In 1911 behaal hy sy BA-graad aan die Victoria-kollege op Stellenbosch. Hy was van plan om vir predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk te studeer, maar het hom in 1912 laat inskryf as student aan die Gereformeerde Kerk se Teologiese skool op Potchefstroom toe hy ook lidmaat word van die Gereformeerde Kerk. Dis nie bekend hoekom hy ’n Dopper geword het nie, net dat sy hart na die Gereformeerde Kerk toe getrek het, hoewel sy moeder moontlik voor haar troue tot dié Kerk behoort het waarvan haar neef pres. Kruger en sy gesin getroue lidmate was. In 1915 het hy die kandidaatseksamen in die teologie geslaag en is toe beroepbaar gestel in die Gereformeerde Kerk.

 

Predikant op Steynsburg

As proponent is hy na die Gereformeerde kerk Steynsburg beroep, waar hy in 1916 in die amp bevestig is as opvolger van dr. Flippie Snyman, wat die jaar vantevore in die ouderdom van 38 jaar aan longontsteking oorlede is. As predikant het ds. De Wet met groot ywer die bedieningswerk aangepak en veral deur sy prediking die gemeente gestig. Onder sy leiding is begin met gereelde herdenking van die Hervorming en besonderse aandag is ook geskenk aan katkisasie. Hy het groot ywer aan die dag gelê met die insameling van geld vir die Teologiese Skool se Jubileumfonds, waardeur die 50-jarige bestaan van die Skool in 1919 herdenk sou word. ’n Bedrag van £850 is in die gemeente ingesamel, destyds ’n aardige bedrag.

In 1919 is hy, soos sy voorganger, met toestemming van die kerkraad na Europa vir verdere studie en in 1921 het hy die doktorsgraad verwerf aan die Vrije Universiteit van Amsterdam met ’n proefskrif oor die kollegiale kerkreg. Gedurende die afwesigheid van dr. en mev. De Wet is ’n nuwe pastorie op Steynsburg gebou sodat die gesin dié gebou ná hul terugkeer kon betrek.

 

Hoogleraar

In 1923 is hy beroep na die destydse Gereformeerde kerk Bloemfontein, waar hulle nie lank was nie, want in 1924 is hy tot professor aan die Teologiese Skool benoem met sy hoofverantwoordelikheid die dogmatiese vakke. Hy het in dié tyd egter ook in ander rigtings begin studeer en behaal agtereenvolgens die grade BEcon en MA (Staatsleer) en het slegs ’n paar vakke kortgekom vir LLB. Hy was ’n onvermoeide student met byna onuitputlike werkkrag. Sy dogmatiekklasse was insiggewend en geeneen vervelig nie, volgens dr. GCP van der Vyver. Hy was ’n oorspronklike denker en het met eie insigte en dikwels flonkerende gedagtes nuwe bane oopgetrap. Van 1925 het hy daar gearbei tot hy in 1946 weens ’n leergeding as professor en as lidmaat van die Gereformeerde Kerk bedank het.

Die eerste naoorlogse sinode, op Potchefstroom in 1945, is oorheers deur die “moeilikhede aan die Teologiese Skool”, wat rondom uitsprake van prof. dr. De Wet sentreer het. Vrae het ontstaan insake sy leer aangaande die leerstuk van die Filioque. Hy sou geleer het, strydig met die N.G.B. art. 8 en 11, Nicea en Athanasius, dat (1) die Heilige Gees alleen van die Vader uitgaan en nie ook van die Seun nie; (2) dat t.o.v. die nature van Christus strydig met die N.G.B. art. 19 en H.K., Sondag, in Christus twee persone en een wese is; (3) dat t.o.v. die verkiesing en verwerping die Heilige Skrif geen “direkte bewyse vir ‘n ewige verkiesing en verwerping gee nie ….” wat strydig met Dordtse leerreëls c.1 en art. 16 N.G.B. sou wees; (4) dat die erfsonde nie “deur God toegereken word in die weg van die verbond nie”, strydig met C.3 en 4 Dordtse leerreëls en art. 15 N.G.B. en Sondag 3 H.K.; (5) dat die gesag van die Belydenisskrifte twyfelagtig is; (6) dat Job (strydig met die Skrif) eers op die ashoop wedergebore is; (7) dat Jakob by Bet-el die Here as ‘n lokale Here beskou het; (8) dat Melgisedek nie priester van die Ware God was nie; (9) dat die kerk gedagtes geopenbaar het wat strydig sou wees met die Openlike Verklaring van die Gereformeerde Kerk en N.G.B. art. 27 – 29. (Handelinge 1945; p. 56 en 57).

Die Sinode het op die klagte van die Kuratorium deeglik ingegaan en bevind dat dit wat prof. De Wet geleer en geskryf het, in stryd was met die Skrif en Belydenis. Hy het sy instemming met die Belydenis betuig en sy spyt uitgespreek. Die Sinode was daarmee nie tevrede nie en het aan hom ’n bedenktyd van drie maande gegee waarna hy “’n skriftelike verklaring sal doen voor die Kuratorium, waarna die Kuratorium volgens gegewe sinodale mandaat verder as gevolmagtigdes van die Generale Sinode sal optree”.

Die Kuratore kon geen oplossing in die saak vind nie. Daar het op 6 Februarie 1946 ’n “buitengewone generale sinode” byeengekom. Terwyl die saak nog onder behandeling was, het prof. De Wet bedank as professor aan die Teologiese Skool sowel as lidmaat van die Gereformeerde Kerk. Die Sinode verklaar daarna: “Aan die einde van ’n lang en sorgelike leerstryd wil die Gereformeerde Kerk opnuut bely dat hy staan op die grondslag van die Heilige Skrif as die onfeilbare Woord van God, dat hy van harte die Drie formuliere van eenheid omhels en wel in die letterlike en historiese sin, terwyl hy aanneem dat alles in hierdie belydenisskrifte ooreenkom met die Woord van God, solank as die teendeel voor die bevoegde kerklike vergaderinge nie bewys is nie.”

Dr. De Wet is later toegelaat as predikant in die NG Kerk en het ’n tyd lank hulpdiens in die gemeente Ventersdorp gelewer, maar sy gesondheid het van 1947 af vinnig agteruitgegaan weens rumatiek.

 

Skrywer

Prof. De Wet wou ’n algemene Calvinistiese tydskrif sien verwesenlik. Daartoe het hy doelbewus gewerk. Hy het van die begin af artikels oor opvoeding, natuurwetenskappe, wysbegeerte, geskiedenis ens. verwelkom. Met die negende nommer het hy die blad ’n tweemaandelikse uitgawe gemaak en ’n hele lys van vaste medewerkers betrek: Teologie, Opvoedkunde, Wysbegeerte en Sielkunde, Geskiedenis, Ekonomie en Staatsleer, Natuurwetenskappe, Taal en Lettere. Met die 21ste nommer word die blad weer kwartaalliks en word die redaksie ingrypend aangevul deur by die teoloë ook ’n opvoedkundige en ’n natuurwetenskaplike te voeg. Die lys van vaste medewerkers het egter bly staan. Toe het die blad in sy oë sy hoogste vorm bereik. In die 24ste nommer (Junie 1933) kondig prof. De Wet aan dat die blad nou tot ’n nuwe blad georganiseer word. In Augustus 1933 verskyn die eerste nommer van Koers. Die organisasie is uitwendig-formeel; prinsipe, grondslag en doel bly onveranderd. Prof. De Wet, al het hy uit die redaksie getree, het bly saamwerk.

Prof. De Wet het ook talle boeke geskryf. Sy doktorale proefskrif (1921) het gehandel oor die Kollegiale Kerkreg en het bekendheid verwerf. Maar dit was veral as skrywer van predikasies en meditasies dat hy gelief geraak het onder gelowige Afrikaners. Sy bekendste bundels is Die Bergpredikasie I (1922), II (1927), Dit is die Here! (1934) en Het jy my Lief? (sonder jaar). Twee ander werke getuig van sy erns: Filosofiese en Vulgêre Christendom (1925) en Die Bybel en die Christus van die Bybel (1931). Hy was saam met JC Coetzee verantwoordelik vir Die Beginsels, metode en geskiedenis van die kategetiese onderwys (1943).

 

Gesinslewe

Tydens sy studiejare, op 14 Desember 1914, is hy getroud met die weduwee Maria Magdalena Wessels, gebore Wentzel, en uit dié huwelik is vier seuns en een dogter gebore. Mev. De Wet het ’n seuntjie uit haar eerste huwelik gehad. Op 19 Maart 1943 is sy eerste vrou oorlede en is hy later getroud met mej. ASM Erasmus, wat hom oorleef het. ’n Seun uit sy eerste huwelik was die latere prof. JM de Wet, rektor van die Universiteitskollege Fort Hare en vroeër professor in wiskundige statistiek aan die PU vir CHO. Nog ’n seun uit die eerste huwelik was prof. CL de Wet, hoogleraar in wiskunde aan die Universiteit van Pretoria.

 

Waardering

Prof. De Wet was ’n vurige kampvegter vir die vryheidsideaal van die Afrikaner en ’n man wat geen kompromis geken het nie. In die vroeë jare dertig, nadat genls. Barry Hertzog en Jan Smuts die Verenigde Party gevorm het, sluit dr. De Wet aan by die Nasionale Party. Hy was hierna ’n tyd lank saam met mev. Mabel Jansen en adv. JG Strijdom, medehoofleier van die Nasionale Party van Transvaal, die bekende “driemanskap” van daardie dae wat die party ná die samesmelting van 1934 moes heropbou. Sy uitgesprokenheid en patriotiese opvattinge oor die republikeinse strewe, waarin hy sy tyd, soos ook in talle ander opsigte, ver vooruit was, het sy pad laat wegswenk van die Nasionale Party toe hy oor die republikeinse vraagstuk gebots het met die NP-leier, dr. DF Malan. Hy het die Republikeinse Beweging in 1936 gestig en sy kragte daaraan gewy. Hy wou toe al gryp na ’n republiek omdat hy gemeen het dat die tyd toe reeds ryp was daarvoor. Dit het hom in eensaamheid laat beland.

Hy word, volgens die Gereformeerde geskiedskrywer dr. GCP van der Vyver, veral onthou vanweë sy begeesterde preke, klinkklare gedagtes en voedingsryke dieptes. Op die preekstoel was hy in sy element, ’n gevoelvolle vertolker van die evangelie.

Prof. JC Coetzee, ’n rektor van die PU vir CHO, het in 1959 onder meer van prof. dr. De Wet geskryf: “Ek het prof. De Wet vir eerste maal ontmoet toe hy aan die begin van 1912 student geword het aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op Potchefstroom. Ek was toe student aan dieselfde inrigting en in my laaste jaar vir die graad BA. Hy was onder ons studente bekend as ’n hardwerkende en baie begaafde jongman. In ons studenteverenigings en -samekomste het hy hom openbaar as iemand met ’n breedheid van insig en ’n helderheid van formulering wat kenmerkend gedurende sy hele latere optrede sou wees. Na die dood van ds. PC Snyman, predikant van die Gereformeerde Gemeente van Steynsburg, is ds. De Wet daarheen beroep. Ek was destyds onderwyser aan die Gereformeerde Gimnasium aldaar, die enigste oorblywende CNO-skool. Ek het hom daar geleer ken as ’n geïnspireerde en inspirerende prediker. In die organisasie van die Gereformeerde jeug van die Steynsburgse gemeente het hy en ek innig saamgewerk. Vir die jeug was hy ’n aantreklike leier.

“Dr. De Wet en ek het saam professore in Potchefstroom geword. In Februarie 1925 het hy professor aan die Teologiese Skool geword, en is hy gelyktydig ook benoem as spesiale lektor in die Teologie aan die PUK. Toe die Fakulteit van Teologie aan die PUK in 1930 in werking getree het, het hy professor geword, en wel in die vakke Ou- en Nuwe-Testamentiese Teologie en Dogmageskiedenis. In die akademiese lewe van die PUK het hy ’n belangrike plek ingeneem. Behalwe vir sy kolleges aan studente vir die graad in Teologie, het hy as lid gedien op verskillende komitees van die Senaat, veral die Komitees vir Leerkursusse, vir Lesings en vir Koshuise. Hy was ook Dekaan van die Fakulteit van Teologie vir die jare 1933 en 1934 en was toe ook lid van die hoofkomitee, die Komitee van Algemene Sake.

“Met die groei van die PUK en die benoeming van meer teologiese professore oor die jare het sy leeropdrag van tyd tot tyd gewysig: van 1935 het hy Dogmageskiedenis en Bybelse Teologie gedoseer, van 1942 was hy professor in Dogmatiek, Dogmageskiedenis, Bybelse Teologie en Christelike Etiek (prakties) en van 1944 tot sy uittrede in 1945 was hy verantwoordelik vir Dogmatiek, Bybelse Teologie en Christelike Etiek (prakties). Sy studente getuig eenparig van sy besondere gawes as dosent. Sy kolleges was gekenmerk veral deur die omvattendheid van sy aanbieding; van besonderhede het hy min gehou; hy was die man vir die hooflyne en beginsels.

“Ek het professor De Wet in die besonder geleer ken as skrywer. Kort na ons benoeming as professore het hy met sy kollegas planne begin beraam vir die publikasie van ’n populêr-wetenskaplike tydskrif vir die bevordering van die Calvinisme. In Julie 1928 kon die eerste nommer verskyn van Die Wagtoring onder redaksie van die drie teologiese professore met prof. De Wet as hoofredakteur. Dit was ’n kwartaalblad en die redaksie het as ideaal gestel ’n maandblad. Die hoofinhoud sou teologies van aard wees maar ook ander artikels is verwelkom.

“Prof. De Wet het besonder diep en gevoelvol belang gestel in die politiek. Van 1926 het hy die voortou geneem in die stryd vir Christelik-republikeinse politiek in Suid-Afrika. In Maart 1940 publiseer hy ’n weldeurdagte pamflet Ons Christelike Republiek. Vir die politiek was prof. De Wet egter te vierkantig en kompromisloos. As student, as prediker, as professor, as skrywer het prof. De Wet uitgeblink in drie dinge: diepte van insig, verte van visie, vastheid van oortuiging.”

 

Boeke uit sy pen

Die kollegiale kerkreg (1921)
Die Bergpredikasie: ’n verklaring van Mat. 5-7, ook vir gebruik as preekbundel (1922)
Die Bergpredikasie II (1927)
Die beginsels, metode en geskiedenis van die kategetiese onderwys (1943, saam met J.C. Coetzee)
Die Bybel en die Christus van die Bybel (1931)
Ons Christelike Republiek (1940)
Het jy my lief?: meditasies (1957)
Wagter, hoe laat is dit? Jes. 21: 11 en 12; die wêreldgebeure beskou in die lig van die Skrifprofesie (1951)
Filosofiese en vulgêre Christendom (s.j.)
Die republikeinse konstitusies van Suid-Afrika (1936)