Byna “rooi revolusie” aan die rand

Nasionale Party vorder
January 22, 2015
Hertzog wen ’n verkiesing
January 22, 2015

Die vernaamste moeilikheid waarmee generaal Smuts te doen sou kry, was ’n staking wat sterk verband gehou het met die sogenaamde “kleurslagboom”. Dit was ’n wet van 1911 wat bepaal het dat net blankes bepaalde soorte werk in Transvaalse en Vrystaatse myne mag verrig. Ná die Eerste Wêreldoorlog het die teenstand daarteen sterk toegeneem. Die wit mynwerkers het egter besef dat, as die staat die kleurslagboom in die myne afskaf, swart mense dan baie van hul werk teen laer lone sou oorneem. Die Rand Daily Mail het op 20 Mei 1920 geskryf: “Any effective elimination of the colour bar on the Rand would be followed by an influx of coloured workers from the Cape. The balance of numbers would move against the white race …” Die mynbase het, soos alle kapitaliste, net een oogmerk gehad, en dit is soveel as moontlik. Hulle wou nie net die bedryfskoste laag hou nie, maar ook hul verantwoordelikhede teenoor die werknemers verminder. Hulle was gekant teen ’n pensioen aan mynteringlyers. Terwyl die myne se posisie verswak het, het die Kamer van Mynwese aangekondig dat hy van 1 Februarie 1922 af nie meer die status quo waarop in 1918 ooreengekom is, verder gaan erken nie. Daarvolgens sou nie-blankes nie die werk van blankes oorneem nie.

Die vakverenigings, met Britsgebore sosialiste en kommuniste aan die hoof, het daarop tot ’n staking besluit. Dit moes ’n staking wees wat kan lei tot ’n revolusie. Om die wit werkers se steun te kry, het hulle die indruk gewek dat dit om die kleurslagboom gaan. GD Scholtz skryf: “Terwyl die Afrikaanse mynwerkers om hul brood gestry het, het die Sosialiste en Kommuniste om ideologiese oogmerke gestry.” Die mynbase, wat die steun van die Smuts-regering geniet het, was ontoegeeflik. Hulle sou die stakers terugneem as hul lone verlaag word, toestem tot ’n getalsverhouding van 10,5 swart teenoor 1 wit werker en Dingaansdag en Meidag nie langer betaalde vakansiedae bly nie. Die mynbase het geld gehad en kon wag, maar die stakers se posisie het benard geraak. Party, die scabs, het gaan werk, maar die stakers het hulle aangerand. Op 27 Februarie was daar ’n botsing met die polisie en is ’n paar stakers doodgeskiet. Smuts het verklaar: “I think we should let things develop.”

Sake hét ontwikkel. Die hele Rand was so goed as in die hande van die stakers voor die regering op 10 Maart krygswet afgekondig en die verdedigingsmag daarheen gestuur het. Twintigduisend man is na die Rand, voorsien van kanonne, gewere en bomwerpers. Vir baie het dit gelyk na iets soos die Russiese Revolusie; Smuts hét dit inderdaad die “Rooi Revolusie” genoem. Die revolusionêre lied, die “Rooi Vlag”, is gesing en daar is gepraat van die stigting van ’n swart republiek. Gevegte het tussen stakers en polisie en soldate uitgebreek. In Benoni, Boksburg, Brixton en Langlaagte het hewige slae gewoed. Die sleg gewapende stakers is met kanonne en vliegtuie bestook en dit het die laaste weerstand, in Fordsburg, laat verkrummel. Op 15 Maart 1922 het ’n paar stakerleiers selfmoord gepleeg. Sowat 800 mense is dood; van hulle was 239 wittes.