By Balmoral-konsentrasiekamp is 400 mense binne ’n jaar dood

As Cullinan se sinkhuise kon praat …
June 22, 2017
Duisend Boeregesinne volg tref-en-trap oorlogleier na Mexiko
June 23, 2017

Die ingang na die Balmoral-kampkerkhof met die gedenknaald Foto: Werner Kruger

By Balmoral-konsentrasiekamp is 400 mense binne n jaar dood

In die ysige Junie-koue brand daar elke jaar kerse op die grafte in die Balmoral-konsentrasiekampkerkhof buite Bronkhorstspruit. Dié vlammetjies flikker ter herinnering aan die lewensverlies wat gevolg het op die afkondiging van Britse konsentrasiekampwetgewing op 16 Junie 1900.

Dié wetgewing, bekend as proklamasie vyf van 1900, is deur Lord Roberts in die Anglo-Boereoorlog afgekondig. Daarvolgens moes die Britte, as deel van die verskroeideaardebeleid, enige Boere wat weerstand bied se huise afbrand en hulle vroue en kinders as krygsgevangenes na kampe wegvoer. Op dié manier kon hulle die Boere weghou van die kos- en ander voorrade wat noodsaaklik was om met die stryd voort te gaan.

Meer as 30 tentekampe is teen die middel van 1900 geskep en teen die einde van daardie jaar was die meeste reeds werkend.

Die grafte in Balmoral se konsentrasiekampkerkhof
Foto: Werner Kruger

Dood 
Die kampe was glo nie as uitwissingskampe bedoel nie, maar die vroue en kinders van aktiewe Boerekrygers het kleiner voedselporsies as die res ontvang. Die gebrek aan higiëne, swak dieet, verhongering en blootstelling aan swak weersomstandighede het die weg gebaan vir aansteeklike siektes soos disenterie, ingewandskoors en masels. Met die tekort aan mediese versorging het dié toestande gelei tot die dood van ’n kwart van die mense in die konsentrasiekampe.

Ongeveer 22 000 kinders jonger as 16 jaar, en 6 000 vroue is in dié kampe dood. Minstens vierhonderd van hulle het in die konsentrasiekamp in Balmoral gesterf, waarvan die talle kindergrafte vandag nog getuig. Die gemiddelde ouderdom van die kinders wat op die Balmoral gedenkplaat genoem word, is vier jaar.

Net ’n paar name van dié kinders lui as volg: die twee-maande-oue Anthony JL Barnard, die ses-maande-oue Helena Bekker, een-jaar-oue Maria Combrink, twee-maande-oue Cornelius Duvenhage, vyf-maande-oue Johannes Jacobs en twee-maande-oue Elizabeth Van Rensburg. Baie van die babas is begrawe sonder dat hulle nog name gehad het en in hakies agter sekere name staan daar ‘ongedoop’, soos by die agt-dae-oue Hester Ferreira se naam.

Dié foto van Lizzie van Zyl, besoek deur Emily Hobhouse in die Bloemfontein-konsentrasiekamp, is een van die bekendste foto’s van verhongering in die konsentrasiekampe
Foto: Zuid-Afrikahuis

Balmoral 
Balmoral-kamp het relatief laat ontstaan, op 25 Julie 1901, en is ’n week later in gebruik geneem. Die kamp is geskep om die oorvloed mense vanaf die Middelburg- en Belfast-kampe te huisves. Later het uitgehongerde mans wat in die Bronkhorstspruit-distrik in die veld oorleef het, ook by die kamp aangekom. Teen November 1901 het mans begin inkom van die Lydenburg- en Barberton-distrikte en selfs so laat as 27 April 1902 het 125 mans en vrouens by dié kamp aangekom.

Balmoral-kamp was oorspronklik op die terrein van die ou militêre kamp, suid van die treinstasie. Die kamp was nie omhein nie, omdat die gebied beskerm is deur blokhuise.

’n Balmoral-gedenksteen ter ere aan die onbekende Boerekind
Foto: Werner Kruger

Die tente het misvloere gehad en rommel het oral rondgelê. Daar was gereeld sandstorms en die hewige reënstorms het beteken dat stormwater dwarsdeur die tente gestroom het. In ’n stadium is tien tente omgewaai. Met ’n storm op 18 September 1901 het een van die drie hospitaaltente aan die brand geraak terwyl die nagverpleegster, Hester Vermeulen, na kinders in die tweede tent omgesien het. Die vuur is eers opgemerk toe die derde hospitaaltent omgewaai het. Vier kinders is in dié voorval dood.

Teen September 1901 was daar tien hospitaaltente met ’n 18-stuks personeel om na die pasiënte om te sien. Tog wou vrouens nie hulle kinders hospitaaltente toe stuur nie, omdat daar geen besoektye was nie. Die vrouens het ook in hulle eie tente geboorte geskenk en daar was menige septiese komplikasies ná die geboortes.

 

 

 

Skuif
Op 14 Januarie 1902 het die militêre bewindvoerder, generaal Maxwell, die kamp besoek en aanbeveel dat dit na hoër grond geskuif moet word, ongeveer ’n myl verder weg. Alhoewel die hospitaal reeds in April geskuif het, is die kamp eers in Junie 1902 geskuif, blykbaar weens ’n tekort aan osse, muile en vervoermiddels.

Toe daar in April 1902 na die nuwe hospitaalterrein getrek is, was toestande steeds primitief met miershoop-vloere. Die tente was nie warm genoeg nie en ’n baksteen en sinkplaat-saal met 12 beddens is later opgerig vir mense met borsprobleme.

’n Kwarantynkamp is geskep om die maselepidemie onder beheer te bring en teen die einde van Augustus 1902 was 11 gesinne daar geïsoleer. Geen besoekers is toegelaat nie. Met die koms van die somer het ingewandskoors uitgebreek.

’n Tipiese Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekamp
Foto: Zuid-Afrikahuis

Emily 
Emily Hobhouse, ’n afgevaardigde van die ‘South African Women and Children’s Distress Fund’, het van die konsentrasiekampe in die Vrystaat besoek en die haglike omstandighede wêreldwyd bekend gemaak.

Haar verslag van vyftien bladsye het ’n opskudding in Brittanje veroorsaak en het tot die stigting van die Fawcett-kommissie gelei. het Dié kommissie het Emily se bevindinge aan die einde van 1901, ná ’n besoek aan Suid-Afrika, bevestig.

Die toepassing van die kommissie se aanbevelings het die jaarlikse sterftesyfer in die kampe in Februarie 1902 reeds na 2% laat daal.

Op 31 Mei 1902 is die Vrede van Vereeniging geteken, maar dit het nie beteken dat vrouens en kinders die konsentrasiekampe kon verlaat nie. Hulle kon nie huis toe gestuur word voor hulle nie met hul mans herenig is nie. Van dié mans was in oorsese krygsgevangekampe. Baie weduwees moes op die ou einde alleen teruggaan na verwoeste plase en afgebrande huise.

Teen die einde van Oktober 1902 was daar slegs 87 mense in Balmoral se konsentrasiekamp oor. Die kamp is klaarblyklik teen die einde van November 1902 toegemaak.

Kerse aan die voet van die gedenknaald waar die name van die gestorwenes gegraveer is met ’n herdenkingseremonie
Foto: Ankoren

Brandende kerse op die Balmoral-grafte Foto: Ankoren

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Vandaal 
Die Balmoral-kampkerkhof word vandag in stand gehou as ’n erfenisterrein. Die gedenknaald in dié kerkhof is egter deur Günter Jurgens Kotzé, wat homself ’n “Boere-Viking” noem, beskadig. Hy het gesê dat hy die gedenknaald se boonste deel vernietig het omdat dit ’n falliese simbool is.

Günter is op 1 Desember 2010 skuldig bevind aan opsetlike saakbeskadiging by ’n verhoor in die Witbankse Magistraatskantoor. Hy het skuldig gepleit en is tot ses maande gevangenisstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is. Die gedenknaald is reeds herstel.

Die ingang na die Balmoral-kampkerkhof met die gedenknaald
Foto: Werner Kruger

 

Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.