Bruin mense van Afrikanernasionalisme vervreem

Verskillende houdings oor swartes
January 23, 2015
Afrikaanse Bybelvertaling
January 23, 2015

“Ons volk was baie verlate,/ Van vele min geag,/ Hul kyk nou dieper in sake,/ En lees wat ons vermag”. So lui ’n strofe van ’n vers, “Ons ‘Son’”, wat op 13 April 1934 geplaas is in The Sun. Dit was ’n lofgedig vir dié weekblad as “bron van lig en lewe”, wat “skyn oor ons kleurling volk”. The Sun het van 1932 tot 1956 verskyn. Die vers was in daardie jare een van die min Afrikaanse bydraes. The Sun was sterk teen die 1936-wetgewing oor die swartes, en veral die skeidingsbeleid van die Gesuiwerdes. Die blad het trots by gekleurdes probeer wek deur te wys op die prestasies van mense wat nie wit was nie. ’n Hoofberig op 7 September 1934 is gewy aan “revolusionêre historiese feite” dat Simon van der Stel en Willem Adriaan van der Stel in werklikheid kleurlinge was. Op 21 Augustus 1936 is ’n lang artikel van KM Jeffreys geplaas onder die veelseggende opskrifte: “Simon van der Stel was a Man of Mixed Blood/Coloured family who left a noble heritage.” Die Kleurlingleier Abdul Abdurahman, wat hoogs krities was teenoor die Voortrekkers, het op 23 Desember 1938 dit betreur dat met die herdenking van die Groot Trek geen melding gemaak is van die baie bruin mense wat lojaal aan die kant van die Trekkers gestaan het nie.

Dikwels het berigte verskyn oor onreg wat blankes elders teen swartes pleeg. Baie aandag is veral aan die Amerikaanse swart bevolking gegee. Op 31 Julie 1936 het John Gomes ’n artikel gehad oor die les wat die National Negro Congress vir Suid-Afrikaanse nie-blankes inhou. Dit was “the greatest achievement yet in the history of the Negro in the United States”.

Dit was te verstaan dat die Gesuiwerdes, wat ten gunste was van aparte kieserslyste en skeiding, nie steun van die bruin mense sou kry nie. In 1924 was daar ’n mate van steun vir die party, waarvan generaal Hertzog toe nog die leier was. Die “Kleurling-komitee” van Swellendam het laat weet dat die Nasionale Party die enigste party is wat werklik simpatiek teenoor die kleurling staan. In die voorafgaande jare het Hertzog meermale laat blyk dat bruin en wit mense dieselfde politieke en ekonomiese regte moet geniet. Voor die Vrystaatse NP het hy op 13 Oktober 1921 gesê die bruin mense “is deel van ons”, en ook: “Ons kan die stemreg van die Kleurlinge nie weerhou nie. Ons wil hulle eerlik behandel en hulle as ons vriende behou.” Ook Die Burger was ten gunste van politieke regte vir bruin mense.

Ná 1924 het Hertzog en Malan voorstanders van gelyke regte vir wit en bruin gebly, en het dit in die openbaar gesê. Die Afrikaanse nasionalisme was dus nog taamlik breeddenkend oor bruin mense. Hierin sou daar in die jare dertig by Nasionaliste soos doktor Malan ’n verandering kom. Reeds in 1919 het JHH de Waal ’n keer gepleit vir afsonderlike kieserslyste vir Kaaplandse bruin mense. Die Kaaplandse NP-kongres het die regering in 1932 gevra om die wenslikheid van aparte kiesafdelings vir wit en bruin te oorweeg. Daarmee wou die kongres dus ’n einde maak aan ’n toestand wat sedert 1854 bestaan het. Dit is nie vreemd dat die bruin mense so ’n party nie sou steun nie.