Vordering vir Afrikaans
January 22, 2015
Die Huisgenoot word opgerig
January 22, 2015

Die eerste Afrikaanse ondernemings het in die Kaap tot stand gekom. Aan die Rand was so iets onmoontlik; die Afrikaners daar was te arm. Nêrens anders was die afsku teen Afrikaans en die Afrikaner so sterk as daar nie. In dié omstandighede is na ’n ander uitweg gesoek om mekaar te help – in ’n soort teenhanger van pro-Engelse organisasies. Carroll Quigley skryf in Tragedy and Hope dat daar ’n “international Anglophile network” van “Round table”-groepe bestaan het met die oogmerk “to coordinate the international activities and outlooks of all the English-speaking world into one”. Volgens Quigley, wat die netwerk simpatiekgesind was, was die geld afkomstig uit die Rhodes Trust en Abe Bailey Trust. Die netwerk was lank ’n groot mag in die Engelse wêreld.

In die tyd van vyandigheid teen die Afrikaner het HW van der Merwe op Sondag 14 April 1918 sy boesemvriend Henning Klopper besoek by Boksburg-stasie waar hy gewerk het. Hulle het besluit dat hulle iets moes doen om jong mense te organiseer. Van der Merwe, Klopper en Danie (DCH) du Plessis het mekaar later die dag weer ontmoet in die pastorie van dominee JF Naudé in Malvern. Naudé het in 1902 by Vereeniging teen die vredesvoorwaardes gestem en was ’n onvermoeide kampvegter vir moedertaalonderwys en die gebruik van Afrikaans as kanseltaal. In Mei het hy onderneem om die ander drie met hul beplanning te help.

Aanvanklik is ’n “loge” Jong Suid-Afrika oorweeg, wat dui op ’n Vry-messelaaragtige beweging. Op 5 Junie 1918 is die eerste vergadering van Jong Suid-Afrika in Danie du Plessis se huis gehou. Veertien jong manne uit die hele Rand het dit bygewoon. Klopper en Du Plessis is tot voorsitter en sekretaris gekies. Die voorlopige bestuur het die grondreëls aan ’n ander bekende Randse predikant, dominee WM Nicol, voorgelê. Hy het skaafwerk daaraan gedoen en ook aangesluit. Op die tweede ledevergadering op 2 Julie 1918 het dominee Naudé hulle toegespreek en is hy gekies tot “president” daarvan. Die vergadering het op aanbeveling van die bestuur die benaming Afrikaner-Broederbond aanvaar.

Aanvanklik was dit nie ’n vertroulike organisasie nie (later wel), en die AB het selfs in die “Sap”-koerant, De Volkstem, inligting verstrek oor sy doel. LT Erasmus, sekretaris van die uitvoerende bestuur, skryf op 17 Mei 1921 in De Burger: “As die Vrymesselaars in byna elke dorp hulle eie geboue kan oprig, dan is daar geen rede waarom nie ook die Broederbond dit kan doen nie. En waar sulke fabelagtige rentes deur geldsmouse ge-in word van mense wat in die meeste gevalle daardeur van die wal in die sloot gehelp word, daar is dit by uitstek ’n ‘Broederbond’ wat op waardige en meer humane wyse hulp kan en behoort te verleen.”

Die Bond het gestreef na ’n gesonde vooruitstrewende eensgesindheid onder alle Afrikaners, die opwekking van nasionale selfbewussyn, asook liefde vir taal, godsdiens, tradisies, land en volk, en die bevordering van alle belange van die Afrikanernasie. Binne ’n paar dekades was die AB betrokke by baie soorte nasionale aktiwiteite.