Britse reaksie op “Black week”

Magersfontein
January 22, 2015
Die grootste waagstuk van die oorlog
January 22, 2015

In die Kaapkolonie het talle Afrikaners hulle by die republikeine aangesluit. Daarby het nie-vegtendes hul stem teen Brittanje laat hoor. Onder hulle was dominee Andrew Murray. In Februarie 1900 het predikante en professore van die NG Kerk in ’n manifes geprotesteer teen die wanvoorstellings wat gelei het tot die bitterheid tussen Boer en Brit. Hulle het onder meer beskuldigings teen die Afrikaner en die NG Kerk ten opsigte van sendingwerk weerlê, en gekonstateer: “No Church in South Africa, we confidently assert, takes a keener interest and is more heartily engaged in mission work than ours.” Onder die geestelikes wat met die Boere gesimpatiseer het, was ’n Rooms-Katolieke Afrikanergeestelike, doktor FC Kolbe.

Na die “Black Week” het miljoene Britte so vernederd gevoel soos maar selde in die geskiedenis van hul volk, skryf GD Scholtz. In hul imperialistiese oë het die Britte hulleself gesien as die uitverkorenes van die beginsel van “the survival of the fittest”; diegene wat hulle wou teëgaan, was van die “lesser breeds”. En by Stormberg, Magersfontein en Colenso het ’n handjie vol veeboere die Britse magte die gevoeligste neerlae van die 19de eeu toegedien. Daarop het nog die Slag van Spioenkop op 23 Januarie 1900 gevolg, waarin Botha Buller verslaan het en die Britte meer as 2000 aan gesneuweldes en gewondes moes afstaan teenoor 200 Boere.

Nog nooit sedert die Amerikaanse Vryheidsoorlog in die agtiende eeu is die Britte so smadelik verneder op die slagveld nie. Wat dit erger gemaak het, was dat die Britte die oorlog uitgelok het om aan die res van die wêreld te toon dat hulle nog net so sterk, fier en kragtig as in die verlede was. Die neerlae het die Britte diep in hul nasionale eer en trots gekwes. Die Britse regering het dadelik nuwe soldate gestuur, sodat daar in Februarie reeds 180 000 Britse soldate in die land sou wees. Buller is as opperbevelhebber deur lord Roberts vervang. Lord Kitchener sou sy stafhoof wees.

Hulle het op 10 Januarie in Kaapstad aangekom met ’n nuwe krygsplan: eers moes hulle Kimberley ontset en dan op Bloemfontein aanruk. Sedert Magersfontein was daar aan die wesfront gebrek aan aktiwiteit. Christiaan de Wet, wat op 9 Desember 1899 deur president Steyn tot generaal benoem is, het gemeen dat hulle die vyand nooit met rus moes laat nie. Hy het Cronjé verlof gevra om ’n mag te vorm wat die vyand voortdurend kon aanval en verbindingslyne afsny, maar Cronjé het geweier.

Die nuwe Britse offensief was vir Cronjé ’n volkome verrassing. Op 15 Februarie 1900 het generaal JDP French met sy manne Kimberley binnegery. Die Boerekommando’s het haastig na die noorde uitgewyk. Cronjé se posisies by Magersfontein was onhoudbaar en hy moes so vinnig moontlik padgee. Omdat sy burgers honderde waens by hulle gehad het, het die terugtog stadig gegaan. Cronjé kon net in ’n koers trek waarin daar genoeg water was en daarom moes hy langs die Modderrivier bly. Toe die tyding die bekwame French bereik dat Cronjé langs die Modderrivier optrek, het hy Kimberley met sy perderuiters verlaat en ooswaarts getrek om sy teenstander in die pas af te sny.