Breytenbach kry gevangenisstraf

’n Taalmonument … en nuwe prestasies
January 26, 2015
Die lewe van die trekboere
January 26, 2015

Soos Van Wyk Louw voorsien het, het veral die skrywers al hoe meer krities begin raak teen die bewind. Sensuurbeslissings het die teenstand versterk. Kennis van die aand, ’n roman van André P Brink, is in 1974 verbied, wat ’n geestelike burgeroorlog tussen Afrikaner en Afrikaner veroorsaak het. Ander boeke is verbied, onder andere Magersfontein, o Magersfontein! van die Hertzogpryswenner Etienne Leroux in 1977. In 1975 moes Human & Rosseau die manuskrip van ’n Oomblik in die wind van Brink weier uit vrees vir sensuur.  Om dieselfde rede het die streeksrade vir uitvoerende kunste soms toneelstukke laat sny. In die toneelwêreld het bitterheid oor apartheid geheers. Bruin en swart spelers is nie toegelaat om saam met wittes op die verhoog op te tree nie, en is so van loopbane ontneem. Adam Small moes glad ’n permit kry toe hy in 1974 die opvoering van sy Kanna hy kô hystoe in die Alexander in Johannesburg wou bywoon!

Uit verset teen apartheid het protesteater, ook in Afrikaans, in die jare tagtig op die Kaapse Vlakte begin floreer. Maar eintlik het die Afrikaanse letterkunde selfs vroeër verpolitiseerd geraak. In ’n anonieme Broederbond-dokument, Verset-literatuur onder die Sestiger- en Sewentigerskrywers, is uitsprake van André P Brink en Breyten Breytenbach bespreek om te toon dat hulle die letterkunde as instrument van politieke verset gebruik.

In 1975 het Breytenbach by die VN-komitee oor apartheid vir groter steun aan die bevrydingsbewegings gepleit.  Op 1 Augustus 1975 het hy Suid-Afrika met ’n vals paspoort en visum binnegekom en is later die maand in hegtenis geneem. Sy verhoor het op 21 November 1975 begin. Hy is op 26 November skuldig bevind op aanklag van terrorisme en tot nege jaar tronkstraf gevonnis.

Aanduiding van die Afrikanerverdeeldheid was die skerp kritiek wat Die Volksblad op 28 November 1975 op party Afrikaanse koerante gehad het omdat hulle berigte blyke gegee het van “tranerige melodrama” en “stroperige emosies”. Die koerant se politieke kommentator het gesê dat, terwyl jong seuns aan die grens in die stryd teen terroriste sterf, een van die ander seuns van ons land skuldig bevind is aan die maak van terroristiese planne. “Hoe kan ons aan die een kant verwag dat ons jong mans in die stryd teen geweldenaars moet sterf en aan die ander kant word ’n selferkende oortreder van die Wet op Terrorisme met ’n gesnuif en geslobber opgebou tot tragiese held?” Dié verdeeldheid is verskerp toe Breytenbach in 1977 weer in die hof moes verskyn – dié keer op sewentien aanklagte, onder meer ingevolge die Wet op Terrorisme en die Wet op Gevangenisse (hy sou probeer ontsnap het). Hy is op 15 Julie 1977 tot R50 boete of drie maande gevangenisstraf gevonnis op die ontsnappingsaanklagte, maar onskuldig op die ander.

Skrywers en belangstellendes in die letterkunde het individueel en deur die Afrikaanse Skrywersgilde oproepe om sy vrylating gedoen. In 1982 is hy vrygelaat (ná sewe jaar van sy vonnis uitgedien is) en is hy terug na Parys.

Vir baie Afrikaners was Breytenbach ’n martelaar. Veral die bewind, maar daarby mettertyd ook Afrikanernasionalisme is al hoe meer krities bekyk. Vir party mense het die klem te sterk op ras geval, ander was ongemaklik oor outoritêre trekke, die engheid van party kultuurleiers en ’n mate van ongevoeligheid vir moderne Westerse opvattings oor waardes soos veral menseregte.